Hier’s ek nou!
Januarie 5, 2014 in Uncategorized
Ek het die berg met my oudste uitgeklim en ons het op die rand van die krans gaan sit om ons asems terug te kry. Links van my na die weste kant toe het Hartebeespoortdam gele, voor my het Johannesburg kop uitgesteek deur die dynserigheid en suidoos van ons af het Pretoria vir ons geloer (Voortrekkermonument en al!). “Pappa, gaan jy Mawana mis?” Daniel het my gedagtes gelees. Tog is hierdie uitsig ook vir my mooi, net op ‘n ander manier wat moeilik is om te verduidelik.
Ek is weg uit Zoeloeland uit en het myself nou herplant hier teen die suidhelling van die Magaliesberg. Groot was my verbasing toe ek die eerste nag die jakkals hoor roep het net agter die kliphuisie wat ek huur. Eers het ek gedink ek droom maar hy het weer geroep ek ek het met ‘n glimlag omgedraai en verder geslaap. Ek bly nou in ‘n vreemde ekotoon waar ontwikkeling en natuur oorvleuel in ‘n yin/yang patroon. Ek het selfs weer vinnige internet toegang!
Nou is ek aan die gang om my nuwe lewe op te start! Vandag ‘n facebook blad geskep om Perception Travel bekend te stel (die webwerf vat so bietjie langer as wat ek gedink het!). Na ure voor die skerm het ek vir Yster gevat om gou ‘n draai in die nuwe omgewing te gaan maak. Ek is amper twee keer van my fiets afgery! Dis gevaarliker hier as in die bos! Ek en die CRF is duidelik nie verkeer gewoond nie…
Ek wens julle almal ‘n baie mooi 2014 toe (al is dit ‘n bietjie laat) en sal nou meer aktief kan wees en meer van myself laat hoor (en julle meer kan lees!)
Vrede
Zeppie - @zephur het gesê op Januarie 6, 2014
Hartebeespoortdam omgewing is mooi en interessant
Vloei het gesê op Januarie 6, 2014
Ja, ek het gister by Tannie Margeret Roberts se kruietuin verby gery!
tina10 het gesê op Januarie 6, 2014
Welkom tuis
Hoop die jaar hou vir jou baie mooi dinge in
Vloei het gesê op Januarie 6, 2014
Dankie Tina
perdebytjie het gesê op Januarie 6, 2014
Hopelik hoor ons nou meer van jou.Onthou om te ping,as jy antwoord,anders kry ons nie jou boodskappe nie.Myne is @perdebytjie, Tina is @tina10 Zeppie is @zephur
Vloei het gesê op Januarie 7, 2014
Verduidelik tog die “ping” ding. Nog nie so tegnologies gevorderd soos die res van julle nie!
Henry @kompethenry het gesê op Januarie 6, 2014
Dankie vir die wense – selle daar!
Godiva het gesê op Januarie 6, 2014
Ek is bly daar is ‘n jakkals wat roep naby jou kliphuisie. Hier by my baljaar die vosse snags rondom die huis in die woud en soms sommer in die tuin ook.
Hulle het egter ‘n freaky roep en nie so mooi soos jakkals geluide nie.
Versigtig wees daar in die Big Smoke om nie omgery te word nie.. Ek vind ook as ek hier uit die platteland stad se kant toe ry moet Black Betty(my motor..hehe) ekstra rats wees om idiote te vermy.
Vloei het gesê op Januarie 7, 2014
Dankie,ek sal!Padvarke is gervaarliker as bosvarke…:-)
Rina Willemse het gesê op Januarie 7, 2014
Geniet die vinnige internet toegang. Die kranse en jakkalse ook, natuurlik.
Vloei het gesê op Januarie 7, 2014
Dankie!