Luister
Januarie 24, 2010 in Sonder kategorie
Ek hou van musiek. Baie keer vul dit die leemtes wat woorde laat. Die kitaar is nog altyd my gunsteling gewees. Daar is tye wat niemand my gevoel beter kan beskryf as Led Zeplin, Hendrix of Garry Moore nie. Mark Knofler sal altyd vir my groen bly met sy eie soortige styl en stem en ou “Slow Hand”is vir my ‘n lewende legende! Blues, rock en metal is wat my hart vinniger laat klop en daar was ‘n tyd in my lewe wat ons vierman garageband die bure laat verlang het na ‘n ander woonbuurt. My kitaarloopbaan het nooit verder gestrek as my puberteit nie, maar die liefde vir ‘n aansteeklike ritme gemeng met rou-eerlike lirieke het gegroei.
Maar vannaand luister ek klavier. Om meer spesifiek te wees, Chopin. Sondagaande is nie die beste van tye nie en veral nie as ek weer die seuntjies moes terug vat na hulle ma toe nie. Vannaand is hierdie musiek salf vir my gemoed en ek gaan dit ‘n onreg aandoen om dit te probeer beskryf. Ek weet nie eers watter overtures of watookal dit genoem word is nie. Al wat ek weet is dat dit onuitspreeklik mooi is! Ek weet nou wat ek die volgende keer gaan opsit as die donker my weer in ‘n hoek probeer dryf. Vrede
Onlangse kommentare