by

Vloek

November 6, 2009 in Sonder kategorie

Dit was weer ek, die Miskruier en die langpad terug na…, durf ek dit huis noem? ’n Week weg om met mense te praat (ek haat die woord “vergaderings”), ‘n troue van ‘n vriend se dogter by te woon en my versuim met die familie te probeer regmaak. Chris Rea se “Curse of the Traveller” iewers naby Gluckstad ,het my gedagtes in ‘n rigting laat vloei. Is daar nog mense wat Chris Rea luister?

Dit begin so:

“‘On the restless road to nowhere

There’s no certain peace it seems

Desire to keep on moving

‘till the river of dreams

Is it just ’cause someone told you

Is it just because you found

Old freedom feels uneasy

When duty is around”

Vars uit Pretoria se geblokte paaie met verstreerde motoriste, het díe woorde met my gepraat. Die eindlose gemaal in die mall, oë verskuil agter donkerbrille en, glo dit as julle wil, die honde wat vinniger blaf as  kleindorpshonde! Die gejaag na drome al is ons nie altyd seker wat ons droom is nie. Droë, dors, naamlose hunkeringe……

 Twee dae voor Pretoria was ek vir ‘n paar dae op ‘n  reservaat waar ek 15 jaar lank gewerk het. Ek het my tentjie langs die as van een van my ou kampvure opgeslaan en die bos ingedrink. Een aand op pad na my tentjie toe  het ‘n luiperd voor die Miskruier se ligte in die gras, nie 50 meter van my tentjie af nie, verskyn! Daar was sterre, daar was stilte en daar was vrede, net buite bereik.

En Chris Rea sing verder;

and you cry for the harbour lights

But you’ll never be free

Of the craving for refuge

And the call of the sea

Always wanting to sell up but always needing to buy

So ‘till the road leads to somewhere and that river runs dry

‘n Jaar gelede het ek van Richardsbaai af na Port Elizabeth geseil. Dertig seemyl suid van Durban het ons in ‘n laagdruk sel vasgeseil wat wat die see opstandig gemaak het soos net die Wildekus kan. Ons het omgedraai en gehardloop vir Durban hawe en vir ses ure is die 38 vt boot wat maklik sewe ton weeg rondgegooi soos ‘n kurkprop. Ons het in deinings van 8 meter of meer  soos ‘n branderplank afgeskiet en vreesbevange gesien hoe die golf onder ons deur rol net voor ons ‘n wawiel onder in die trog sou maak. My verligting was nog nooit so groot soos daardie oggend om twee uur toe ons Durban se haweligte sien wink het nie! Na ‘n week in die hawe met die storm verby, kon ons nie wag om weer op die oop see te wees nie.

Dis die letterlike vertolking van Chris Rea se woorde. Voorbeelde van die figuurlike vertolking is legio. ( Ek is seker Chris moes self geseil het om daardie woorde te kon skryf.) Ek word altyd aangegryp deur die teenoorstaandes (paradoks is ‘n snaakse woord) in die lewe en hoe dikwels dit voorkom. Hoe naby haat aan liefde is of hoe naby ver aan naby kan wees.

Hoop julle het ‘n lekker naweek. Vrede!

3 antwoorde op Vloek

  1. Jy klink na een van daardie denkers en dromers wie se voete stewig op die grond is. Ek het lekker gelees en hou baie van jou uitdrukkings.

  2. aa3cher het gesê op November 6, 2009

    Dankie, Sanseveria

  3. aa3cher het gesê op November 6, 2009

    Man, jy’t goeie smaak!Dankie

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.