Son(de)dag
Augustus 31, 2009 in Sonder kategorie
Dit sit net hier iewers op die krop van jou maag, amper soos honger maar heeltemal anders. Dit kom saam met Sondae en dis soos ‘n ou skeet, so half in die agtergrond maar jy bly bewus daarvan. Ek kan nie regtig onthou wanneer die Sondaggevoel homself aan my voorgestel het nie, maar die laaste 3 jaar het hy ‘n nuwe betekenis gekry…..dis wanneer ek die mannetjies moet terug vat na hulle ma toe.
Ek was een van daais wat selfvoldaan gesê het skei is nie die antwoord nie ensovoorts, ensovoorts! Nog ‘n slagoffer van die Engelse holruggeryde perdjie, Never say never. Ek kan dit nog nie waag om die gevoel te verwoord as ek hom eenkant kry hy waar hy oor die water staar in plaas van rond te hardloop en speel soos ‘n agtjarige seuntjie moet nie!
Ons maak grappies, vertel stories, vlieg ons papiervliegtuie en vang vis en dan is dit Sondag middag. Oppad terug vra die jongste: “Pappa, waarom koop jy nie die huis langs Mamma s’n nie?”Dis dan dat ek wens vir die eenvoud van ‘n vyfjarige se wêreld………dan kan ons sommer Sondag ‘n “skip” gee!
Onlangse kommentare