‘n Woensdagoggend Moord
Julie 25, 2012 in Sonder kategorie
1
‘n Half-gerookte twak plak onder sy stewel vas. Die klank van gruis weergalm in die vroegoggend donker-stil soos die gloeiende stompie ‘n nare dood sterf. Dik, wit bolle rook borrel uit sy mond en neusgate. ‘n Soet geur van pruime en vinielje vul sy mond. Sy lippe tuit om ‘n fles en ‘n koue vuur vloei af in sy keel. Stil is die kopseer soos sy maag vlam vat.
‘n Duif koer en verklap sy tuiste. Laag in ‘n tak en opgepof teen die koue, skud hy homself reg vir nog so paar minute se uiltjie knip. Die stad is ‘n besige plek om rond te pik vir kos. Die stad is ook ‘n vuil en gevaarlike plek om rond te pik vir kos. Hy weet self.
Star, staar hy die donker diepte in en wag. Gedienstig, gedweë. Vanoggend is stil, geen briesie wat eens ‘n blaar laat ritsel nie. Selfs die paaie is dood. Niemand. Dit pas hom so, stil, donker met net homself en sy ysige gedagtes wat die oggend-paaie vervuil. Iets wat hy weet is, iemand gaan dit berou.
‘n Rooi lig verskyn en ‘n motor tru uit een van die huise. Helder ligte draai in sy rigting en hy verdwyn vinnig agter ‘n Jakaranda. Stil, hou hy sy asem op om die wasem te keer en hy kyk hoe die persoon verby ry, onbewus van hom. Hy sal nooit weet hy was daar nie. Hy sal tien-teen-een nie eens weet wat gebeur het nie. Mense is tog so in hul eie wêreld vasvegang. ‘n Duur les om te leer as jy uitvind jy is nie alleen nie.
Dit is 04:15. Tyd stap aan.
2
Anna lees pligsgetrou die boodskappe wat flikker op die alarm se sleutelbord.
Sy glimlag half en haar gedagtes dwaal. Soos ‘n rolbos-romtomtalie sien sy Wikus se spierwit glimlag. ‘n Glasie droeë wit wyn klingel teen sy glas en hulle altwee lag. Regte lag, soos daardie wat vanuit jou maag kom; jou hart laat hop en jou oë vol trane laat. Daardie opregte oomblikke wat jou wil laat huil van blydskap bloot omdat jou lewe so gemors geword het en elke dag ‘n emosionele worsteling is. ‘n Stukkie geluk. Wikus se blou oë glinster soos hy sèlf die trane moet keer. Ysblou oë wat jou vinnig laat wegkyk want jy voel hoe jou gesig opvlam en alles in jou inmekaar sak. Oë sag, wat deur jou kyk en jou laat steier. Hy is ‘n lang, sportiewe man. Laat dertigs met ‘n vel van goud. Donker hare wat blink in die kroeg se warm lig. Sterk hande maar sag, skoon. Netjies geklee in ‘n donker denim; wit T-Hemp; ‘n Bruin Cardigan en ligbruin, toeryg skoene. Sy kurwes laat haar senuweeagtig en sy kyk vinnig na die tyd. Kan hierdie aand nie net nog ‘n bietjie langer wees nie.
Die “Bleep” laat haar skrik en sy besef sy moes al gery het. Sone 4 flikker oop. ‘Ag hel.’ Met duidelike frustrasie vir haar eie misnoeë. ‘Wakker word Anna.’ Praat sy met haarself soos sy die trappe klim. Sy is op die boonste vloer en net die gang se flou ligte verlig die kamer. Sone 4 is die balkondeur. ‘Nou hoe die..?’ Sonder om tweekeer te dink – druk sy hom toe, sluit en draai terug, gisteraand was sy nie heeltemal nugter nie sy moet erken. Paar glasies wyn en die beste geselskap in jare het sy tol geëis. Haar kop draai nou nog as sy aan Wikus se oë dink. Sy glimlag weer.
Af met die trappe loop sy versigtig. Haar Chalany’s is die laaste paar hakskoene wat sy die trappe mee af wil rol. Opgetof in swart Chalany hoë hakke; Swart sykouse van “Secrets in Lace”; ‘n deftige potloodromp; wit satyn bloes en gepaste swart onderbaadjie. ‘n Sagte oorjas teen die koue, net vir ingeval sy moet stop by ‘n vulstasie. Haar grimering het haar ‘n goeie uur geneem. Sy moes haar beste gee. Wikus is ook in dieselfde gebou en wel, sy wil haar beste lyk. Miskien diè keer sal sy hom nader en soen. Net miskien.
Hy was bedag. Selfs saam met haar tot by die deur geloop. ‘Dankie vir die aand. Dit was besonders Anna, jy is besonders.’ Haar oë glinster, haar hande klam. Haar hart klop so hard sy is seker hy kan dit hoor. Hy kan, dink sy. ‘Dankie vir jou Wikus, ek weet nie wanneer laas ek soveel pret gehad het nie. Jy het my regtig verras.’ Sy huiwer.
‘My plesier. Wel, dan is dit totsiens.’ Sy oë vra iets, sy weet dit. Hy leun half vorentoe en die oomblik is te groot. Sy lippe is sag en roep na haar, maar sy moet huiwer. Dit is veels te vroeg. Sy wil – maar die pyn van verwerping is te veel.
‘Ongelukkig ja. Totsiens Wikus.’ Sy steek haar regterhand uit as troos, hy lyk half verstar maar oombliklik vat hy haar hand. Hy verstaan. Hy is die een wat verstaan.
‘Nou toe, gaan klim in die bed en lekker slaap, weereens dankie.’ Sy stem streel sag oor haar en sy wens hom ‘n lekker aand toe.
Sy wens sy het hom gesoen.
3
04:20
Uit in die onderste portaal, links deur die kombuis na die agterdeur wat direk uit na die motorhuis toe beweeg. Sy staar weer na die flikkerende paneel en wag totdat al die sones toe is. Die huis is stil en alleen. Sy weet. ‘Ek is laat, kom nou.’ Sê sy in die stilte.
“System Ready” sy skrik half en begin die vier-kode wagwoord intik. “Bleep” Sone 2 verskyn op die skerm. Voor sy kon huiwer, flikker die stelsel weer “System Ready”. ‘Regtig?’ vra sy die skerm. Weereens voor sy die derde sleutel kon druk, “Bleep” Sone 2.
4
Dit is weer stil. Meeste mense hier rond slaap nog snoesig. Al het hulle nie, wie gee om? Hy doen nie. Niemand sal eers weet wat gebeur het nie, meeste sal eers jare hierna uitvind. Want niemand gee werklik om nie. Dit is wat dit soveel pret maak. Soveel, makliker. Niemand gee om nie.
Rustig stap hy oor die pad en sy stewels is geruisloos. Sagte rubber is ‘n moet as jy slinks in huise wil glip. Hy sal weet, die is nie sy eerste keer nie.
Diè een is maklik, sy is voorspelbaar. Elke oggend 04:25 gly die motor uit na Sandton. Elke middag 18:00 is hy weer terug in die motorhuis. Klassieke musiek streel dan die agtergrond en sy is vinnig in die stort. Ligte etes volg, dan, normale akitwiteite. Lees iets, loer op die internet. Teug aan ‘n glas wyn. Die gewone enkelvrou-sindroom. Leef in hul eie droomwêreld. Haar droomwêreld.
Hy het haar lankal in sy visier. Die een is net meer spesiaal. Iets meer as net ‘n stukkie wat hy wil geniet. Hulle het hoeka die vorige aand ‘n paar glasies geklink. Te oulik vir woorde.
Sy het hom geweier, hom soos ‘n hond weggestoot. Teef.
Die heining is laag, groot fout. Haar tuin is netjies uitgelê, niks tierlantyntjies nie. Gras en plaveisel wat as voetpad om die huis dien. ‘n Kleurryke rangskikking geskik vir die winter. Alyssums, Dianthus, Gazanias, en ‘n gunsteling, Petunias verf die ligte groen agtergrond ‘n pragtige prentjie.
Geruisloos sluip hy regs om, daar waar haar balkon is. Hy weet sy het ‘n alarm en geen ander nonsens nie. Die staalhek bo wat die houtdeur beskerm is stukkend. Wys jou hoe vertroulik hy kan wees. Sy het hom alles vertel. Alles, elke fyn detail. Dit is donker – maar hy kan sien. Hy seil op tot bo sonder om ‘n geluid te maak. Oor die reelings tot voor die deur. Sy hart is op gemak, koulik glimlag hy. Hy weet wat hy doen, sonder skroom trek hy die staalhek oop. Sy ou hand, vroetel rond met ‘n maakpas sleutel. Net toe die sensor in die slaapkamer afgaan, “Klik” sluit hy die deur oop. Hy is in, maar los die deur effe oop net om te verseker sy kom terug. So klein verassing vir haar.
5
‘Wakker word Anna.’ Hoor hy haar soos sy die trappe op stap. Hy staar haar aandagtig aan vanuit die badkamer toe sy half verward voor die houtdeur stop, ‘Nou hoe die..?’ Sy sluit en stap onwetend terug af met die trappe. Sy lyk asemrowend, selfs in diè flou lig. Die skoene, die bene. Anna is ‘n pragstuk. Kort, fyn vrou met vol borste. Lang bruin hare en donker oë. Haar kurwes maak hom mal. Haar reukweerder tref hom in die krop en hy voel die honger grom.
Hy volg haar af teen die trappe en gaan staan doodstil in die sitkamer. Hy gewaar een infrarooi sensor in die hoek net bokant die gordyne. In die donker is daar ‘n ligte sitkamerstel, geen koffietafel. ‘n Klein kas met ‘n hoëtroustel in plaas van ‘n Televisie. Vars blomme op ‘n hoektafel en ‘n dik mat. Klavier. Netjies dink hy. Sal sorg dat dit so bly, of net probeer.
Hy hoor haar die sisteem aanmoedig. Eerste knoppie, tweede knoppie. Vinnig beweeg hy sy arms en staan weer stil. “Bleep” en so oomblik later. “System Ready”. ‘Regtig?’ vra sy. Hy wil skater van die lag maar hou hom in. Vrees in ander is sy forte. Sy begin weer die wagwoord in sleutel. Eerste knoppie, tweede knoppie. Weereens swaai hy sy arms. Hy weet sy gaan kom inloer by hom. Hy ruk homself reg.
‘Komaan, wat gaan nou aan?’ Frustreerd, sit sy die kombuis lig aan en stap hard uit sitkamer se kant toe. Sone 2.
Vlugtig, voor sy hom gewaar sluip hy regs uit in die gang. Die sitkamer het twee ingange, een vanuit die gang en die ander ‘n entjie af tot in die kombuis. Hy skiet soos ‘n koeël uit na die kombuis soos sy dieper die sitkamer in gaan om inspeksie te doen.
Hy laat sy arms langs sy lyf insak. ‘Kom Anna, pappa is honger.’ Fluister hy.
Anna kyk rond opsoek na enige teken van ‘n oop venster. Die gordyne hang doodstil. So half teleurgesteld stap sy terug kombuis toe.
Haar voetstappe weergalm oppad kombuis toe. Sy hartklop nog stil, geen verandering nie. Geen toon dat hy senuweeagtig is nie. Net koud.
6
Sy skrik groot, maar skree nie. Sy is verward, heel verward en stotter aan haar woorde. ‘Ww.. W. Wikus? Wat. Wat die. Wat maak jy hier?’ Haar keel droog op, haar mond trek toe. Haar hart klim uit haar bors en sy weet iets is nie reg nie.
‘W. W. Wat Anna, jou vokken soetsappige mond vol kots, of het jou tong geknoop? Verras sien ek. Dit is so mooi as julle skrik, verward daar staan en stotter.’ Hy besef sy gaan enige oomblik of skree, of probeer wegkom. Maar hy weet dit, hy verwag ‘n goeie teenstand. Dit maak hom mal.
‘Wikus, jy’s dronk, kan ons. Kan ons net hieroor praat.’ Sy moet uit. Sy moet hier uit en vinnig. Skree gaan nie help nie. Hardloop Anna, hardloop!
‘Dronk? Nee Anna, seergemaak. Baie seer. Al wat ek wou hê is jou, jou warm teen my. Jou verstaan. Net ‘n bietjie in jou wees Anna. Is dit so moeilik?’ Vra hy met ‘n glimlag. Hy lyk wreedaardig met sy koue, blou oë wat deur haar staar. Sy kan sien hy is besope.
‘Hardloop Anna, hardloop!’ fluister hy, die stilte laat sy fluister weergalm en Anna raak lam van vrees.
Sy vlieg om en hardloop die sitkamer in, links om in die gang. ‘n Chalany aan haar linkervoet gee mee en die dun hak breek morsaf. Haar voet swik en die steier laat haar momentum verloor. Wikus is vinnig, en voor sy die trappe kon haal is hy op haar. Sy skree maar hy is sterk en gryp haar hare – trek haar kop terug en slaan haar gesig-eerste in die teelvloer vas. Die klap geluid laat haar ore sing en sy voel warm teen haar gesig afloop. Daar is geen pyn nie, die adrenalien sluit alles uit. Sy is deurmekaar. Hy gryp haar nek vas en mis ‘n kans. Sy spartel en skop en draai in die gespartel om. Haar hande swaai woes en tref hom in die gesig. ‘n Lang, rooi sny strek van net onder sy oog tot bo sy lip en bloed begin stadig vloei. Wikus se sterk regter gryp altwee haar arms vas. Sy wil skree, maar hy strek sy linkerhand om haar keel en sy hoor hoe die leerhandskoen kraak soos hy harder druk. Sy roggel en voel siek. Sy snak na haar asem en voel hoe haar oë wil ontplof soos die drukking meer word. Haar kop klop en duiseligheid groet haar vanuit die gang. Hy lag, en voor sy haar bewyssyn verloor los hy haar. Donkerrooi merke strek oor haar nek. Hy wieg vorentoe en agtertoe en lag kliphard.
‘Anna, Anna!’ Mok hy terwyl sy verstik aan ‘n amper vergruisde larinks. ‘n Leerhandskoen gevul met kneukels tref haar hard teen die oogbank en sy kreun, sy kan nie skree nie want hy sit op haar bors. Hy is swaar. Nog ‘n vuis. Toe nog een. Sy kreun van die pyn en haar arms is moeg gestry teen sy houvas. Wikus voel haar meegee en los. Twee hande, gryp hy haar gesig vas en byt haar oor af. Sy voel die skokkende steek deur haar kop en verloor bewussyn.
Wikus voel trots soos die stilte nog heers. Vier minute van pret het hom uitgeput en dit voel asof hy die hele dag besig is met haar. Hy staan langs haar en besigtig sy handewerk. Haar bloes is in flarde. Hy het netjies haar bra losgemaak en langs haar neergesit. Net die een bors steek uit en haar tepel is hard. Stywe, vol borste. Dit moet plastiek wees, dink hy by homself. Hy voel hoe hy hard word en sy kop begin sing soos hy klaar voel hoe hy binne haar ingly. ‘Nee nee NEE!’ Sê hy. Sy het hom geweier, sy sal haar wat verbeel dat hy homself so laag sal laat daal. Sy het hom weggestoot. Verwag sy ‘n jammer? ‘n Lekker spyker om te wys hy is man genoeg? Met ‘n twee-pond hamer in sy hand hoor hy haar hard asemhaal.
Anna snik en sy ontwaak. Sy skrik groot en wil gil maar haar keel is aan die brand. Haar oë is skielik vol trane en Wikus staar doodstil na haar. ‘Wikus, asseblief Wikus.’ Sukkel sy met die woorde en huil.
‘Vok jou!’ Gil Wikus en ‘n hamer tref haar in in die middel van haar oë. ‘n Klapgeluid skok Wikus en voor hy verder kon dink, bring hy die twee-pond hamer in volle vaart weer af. Dit tref haar en hy hoor die skedel bars. Wikus skater en hou aan swaai. Hy vergruis haar kop. Hygend staan Wikus langs Anna se lyk en kyk die gedoente aan met ‘n haat in sy oë. Dit is stil. Die gang stink van harsing, bloed en sweet. Hy is uitasem en naar. Hy ruk vorentoe en braak. ‘Vok.’ Sê hy soos hy gly-gly deur die bloed op boontoe drentel.
06:33
7
Café 41 se brousel knus en ‘n geurige swart koffie verwelkom hom. ‘n Lekker plek om te rus en nuus te besigtig, net oorkant die Gautrain Stasie in Sandton is die sy tweede kantoor. Wikus teug rustig soos ‘n vurige joernalis op die toneel nuus lewer.
“Burns Straat, Colbyn in Pretoria is nogsteeds gesluit na afloop van ‘n brand. Die brand is vermoedelik met opset gestig nadat die verminkte lyk van ‘n jong vrou gevind is. Haar besonderhede sal eers bekend gemaak word sodra haar naasbestaandes in kennis gestel is. Die brand het plek-plek skade aangerig en was vermoedelik beplan om die moord toneel te vernietig, maar het nie daarin geslaag nie. Die slagoffer het moontlik haar aanvaller geken. Daar is geen teken van inbraak nie en sy is vermoedelik gedood met ‘n stomp voorwerp. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is op die toneel en nog geen verdere inligting is beskikbaar nie. Vera Nortjè, RSA Nuus, Pretoria.”
“Dankie, Vera en nou…”
“Nie geslaag nie…?” Dink hy terwyl hy rustig aan sy koffie drink. “Nie geslaag nie. Want dit is presies wat ek wou hê.” Dink hy verder. Hy kyk rustig voort en trek die koerant nader. Hy voel vars na die oggend se stort by Anna se huis. Sy klere is skoon en netjies. Die pak wat deurdrenk is met Anna se harsings en bloed is in as. Niks sal hiervan kom nie. Daarvan is hy te seker. Hy glimlag.
Mumford & Sons se “White Blank Page” speel sag in die agtergrond.
Sy iPhone flikker ‘n boodskap: “Mnr. Taljaard. Vriendelike herinnering aan die vergadering met Mnr. Motswaledi om 9:00 vm. Groete, Karliena.”
©
Onlangse kommentare