by douwe

Fundamentalisme, woede en skuld

Junie 18, 2012 in Sonder kategorie

Ek het onlangs ‘n interessante ervaring gehad. Ek het besluit om ‘n bietjie op die NHN (Nuwe Hervormingsnetwerk) se Facebook-blad te gaan speel. Watter ervaring!

Vir ‘n hele Saterdag was dit asof ek in ‘n oorlog betrokke was. Sodra jy iets sê wat nie in die ateïstiese denkwyse pas nie, word jy van ‘n kant af aangeval. En dis nie ‘n kwessie van dialoog of eers argumentering nie: wat jy ookal sê, word onmiddelik afgekraak of afgeskiet. En dit bly nie daarby nie. Jy word persoonlik aangeval en sleggesê. Nogal interessant hoe dikwels hierdie aggressie in die vorm van vergelykings met vroulike geslagsdele verwoord word.

Voorts word jy, wanneer jy enigsins probeer te kenne gee dat daar dalk wel ‘n vorm van ‘Hoër Wese’ kan wees, onmiddelik as ‘n ‘kreasionis’ uitgekryt word. Dit het ‘n paar keer gebeur dat ek daarvan beskuldig is dat ek wat ek gesê het van ‘kreasionistiese webwerwe’ af ‘gekaap’ het. Hoogs wetenskaplike stellings.

Presies dieselfde gedrag, met ander woorde, as wat baie godsdienstige fundamentaliste op die Internet openbaar. Heelwat van die briewe op Abel Pienaar se webwerf, byvoorbeeld, kom op ‘n soortgelyke vergelyking met ‘n laer deel van die menslike anatomie neer as die ateïste s’n.

Wat vir my ook interessant was, was toe ek een van die skrywers vra of sy verbitterd is nadat sy my aanhoudend persoonlik aangeval en uitgekryt het, sy geantwoord het dat ek haar afgekraak het.

Daar is ook die stelling gemaak dat ateïste in beginsel nie fundamentalisties kan wees nie. So iets soos swartes wat nie rassisties kan wees nie!

Ateïsties beteken letterlik ‘sonder God’ of ‘geen God’. Dit teenoor agnosties, wat beteken ‘om nie te weet nie’. Die verskil in betekenis is enorm. Om te sê “God bestaan nie” is in beginsel ‘n dogmatiese standpunt gebaseer op ‘n sekere interpretasie van wat as ‘bewyse’ (al dan nie) aanvaar word. Met ‘dogma’ bedoel ek enige siening of opinie wat met die oortuiging gepaard gaan dat daar geen moontlikheid bestaan dat daardie opinie ooit verkeerd kan wees nie. Daarteenoor is agnostisisme ‘n baie eerliker standpunt. Dit laat die moontlikheid dat jy dalk verkeerd kan wees.

Een ding wat vir my sonder uitsondering uitstaan in sowel die godsdienstige as die ateïstiese ‘argumente’ in die Internet-‘debatte’ oor die algemeen is die geweldige agressie. Dis net eenvoudig nie aanvaarbaar as jy anders dink nie. Dan is jy ‘n poephol. Daarmee saam gaan natuurlik die wedersydse weiering om enigsins die geldigheid van mekaar se argumente te oorweeg. Wat op die NHN se blad gebeur het is effektief dat die ateïste oorgeneem het en dat baie mense wat dalk werklik iets het om by te dra eenvoudig nie meer deelneem nie. Dit het ‘n ateïstiese mondstuk geword. Ek glo nie dis wat Sakkie oorspronklik in gedagte gehad het nie.

Saam met die aggressie gaan dus die absolute oortuiging “Ek is reg en jy is verkeerd”. Presies soos in die godsdiens, met ander woorde. ‘n Aantal van die ateïste op die NHN FB-blad maak dit duidelik dat dit spesifiek hulle doel is om godsdienstige mense “van die waarheid te oortuig”. ‘n Soort sendingwerk.

Soos altyd, is my vraag, “Hoekom?”

Ek dink wat my ‘n bietjie begrip van die situasie gee is dat ek self daar was. Ek het myself ook op ‘n stadium ‘n ‘ateïs’ genoem en ja, ek het BAIE aggressie in my gehad. En vra maar vir dié wat my destyds geken het: Ek het alles geweet!

Deur ‘n jarelange proses, waarin A Course in Miracles (ACIM) ‘n belangrike rol gespeel het, het ek geleidelik van my ontkenning bewus geword. Ek was nogal geskok toe ek begin besef hoeveel aggressie ek werklik gehad het. Ek was dan so ‘n rustige, vredeliewende mens!

Deur ACIM het ek begin besef dat my aggressie direk aan ‘n onderliggende skuldgevoel toegeskryf kan word. Ek het moerse skuldgevoelens gehad. Ek is bevrees ek is nog nie heeltemal daaroor nie.

Ons leer dat dinge ons “skuldig laat voel”. ACIM maak dit duidelik dat dit nie so is nie. Destdys het die bekende psigiater Erich Fromm al in sy boekie The Art of Loving (wat nog steeds op die boekrakke is) geskryf: “The awareness of human separation, without reunion by love – is the source of shame. It is at the same time the source of guilt and anxiety.” Dis presies wat ACIM sê. Skuldgevoel is universeel, en die oorsprong daarvan is ons ervaring van vervreemding met die geestelike werklikheid wat baie ‘God’ noem.

Toe Jesus die onderskeid tussen die ‘wêreld’ en die ‘koninkryk van die hemel’ getref het, het hy vermoedelik hierna verwys. Waar die godsdiens al die jare gesê het dat ons “in sonde ontvang en gebore” is, en dat ons daarom skuldig voel, sê ACIM dat ons van God vervreem is, en dat die onvermydelike skuldgevoel wat daarmee gepaard gaan ons laat dink het dat ons ‘sondig’ moet wees. Ons het oorsaak en gevolg omgeruil.

Vandag sien ons hierdie omruiling nog verwesenlik in ons verwarring oor wie ons is: is ons ‘n liggaam met ‘n geloof in Gees (al dan nie) of Gees wat as ‘n liggaam manifesteer?

As jy vir baie ateïste net die woord ‘Jesus’ noem, word hulle pienk en rooi en pers van woede. ACIM noem dat een van ons grootste ‘take’ is om Jesus/God te vergewe. Hoekom? Omdat die ego (wie ons dink ons is) homself in stand hou deur projeksie. Ons projekteer ons onderliggende skuldgevoel op ander, en op God.

Dink net ‘n bietjie na oor die implikasie van wat ons al die jare geleer het: Jesus het vir ons sondes gesterf. Dit beteken God kan nie beter oor homself voel sonder om moord te pleeg nie. Dis soos mishandelde kinders wat diere opsetlik seermaak. Op een of ander vlak glo hulle dat, as hulle die diere seermaak, hulle van hul eie pyn bevry sal word. Natuurlik werk dit nie, en hou hulle aan om diere seer te maak. Op een of ander vlak beséf ons dit, en dus weet ons dat, as God nodig het om sy eie seun te vermoor (en dit liefde noem!), hy een of ander tyd weer die behoefte gaan hê om iemand anders te vermoor! En so word ons skuldgevoel in stand gehou.

Dis as klein kinders dat ons van nature weet dit kan nie so werk nie (“aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”), maar omdat ons van ander se liefde afhanklik is wat daarop aandring dat ons dit moet glo, onderdruk ons ons intuïtiewe sin vir waarheid en ‘glo’ maar. Dis presies dáár dat ons woede sy ontstaan het! Sowel woede teenoor ons ouers as woede teenoor God. En dit het te doen met ons gevoel van magteloosheid.

My vermoede is dus dat, toe die teoloë begin uitwys dat ons interpretasie van die Bybel as die ‘Woord van God’ dalk verkeerd kan wees, en die wetenskap terselfdertyd skynbaar uitwys dat baie dinge wat in die Bybel beskryf word nie letterlik waar kon wees nie, dit die innerlike onsekerheid wat ons al die jare onderdruk het, na die oppervlak gebring het. Ek dink baie van ons het ‘n intense gevoel van verraad beleef. Ons het verraai gevoel – deur sowel ons ouers en onderwysers as God. En daarmee saam kom woede.

Woede op sigself is nie n slegte ding nie. Wanneer ons werklik met ons woede in aanraking kom en dit ten volle beleef deur ons projeksies ‘terug te trek’, ‘n verskynsel nie onbekend aan die ‘sielkunde’ nie, gaan ons ook met ons onderliggende skuldgevoel in aanraking kom. Die enigste manier om van daardie skuldgevoel ontslae te raak wanneer ons ophou om dit op ander (of God of Jesus) te projekteer, is om dit werklik te erken en te beleef en te besef dat ons dit nie vanuit onsself ongedaan kan maak nie. Iets soos die AA (Alcoholics Anonymous) se ‘rock-bottom’ besef. Wanneer ons dít besef, verdwyn dit vanself! Of soos ACIM dit stel, deur die werkling van die ‘Heilige Gees’.

Totdat dit gebeur, gaan ons aanhou om sowel ons woede as ons skuldgevoel te ontken, en gaan ons met absolute sekerheid glo dat ons, en nét ons, die waarheid beet het, of ons nou Christene, ateïste, Mohammedane of wat ookal is. Dis belangrik om te benadruk dat hierdie ‘n onbewuste proses is. Toe ek ‘alles geweet’ het was ek absoluut oortuig dat ek alles gewéét het! Dit het die pyn van de lewe self geneem om my te laat besef: “Daar móét ‘n ander manier wees!”

Skynbaar is dit vir meeste van ons so dat ons slegs deur pyn tot gewilligheid gedryf word om eers die moontlikheid te oorweeg dat daar dalk tog wél ‘n ander manier kan wees. Is dit dalk wat met die bekende ateïs Anthony Flew gebeur het toe hy na ‘n leeftyd van oortuigde en militante ateïsme openlik erken het dat daar net ‘n groter Intelligensie agter alles móét wees?

Terloops, op die stadium waar die ‘skriba’ van ACIM, Helen Schucman, vir die eerste keer die ‘stem’ begin hoor, “This is a Course in Miracles, please take notes,” het sy haarself as ‘n oortuigde en militante ateïs beskou . . .

by douwe

Winde van verandering

Junie 7, 2012 in Sonder kategorie

Daar’t nogal amazing goed met my gebeur die laaste ruk. Toe ek en Letterdash mekaar nie kon vind nie besluit ek om WordPress te probeer, en die uiteinde is die nuwe webwerf. En dit voel absoluut reg.

As ‘n mens A Course in Miracles gedoen het is jy veronderstel om jouself ‘n ‘teacher of God’ te kan noem, maar al die jare het ek nooit regtig die vrymoedigheid gehad om dit te doen nie. Ek het geweet ek wil genesingswerk doen, maar het nooit regtig geweet hoe en hoe ek dit moet formuleer nie. Ek het geweet dat daar in die speel genesing plaasvind, maar hoe bring ek dit oor?

En skielik voel dit vir my reg. Ek dink die probleem was basies dat ek iewers diep in myself self nog nie werklik oortuig was nie. 

Ek het bedenkings gehad oor die boek wat ek geskryf het (The Power of Childhood) en gewonder of ek dit nie maar moet los nie, maar toe ‘n vriendin my ernstig aanspreek omdat dit nog nie gebeur het nie besluit ek om maar voort te gaan. En toe val alles in plek. My vorige uitgewer sê hy sal die boek vir my regkry vir publikasie, en letterlik ‘n uur voordat ek sy kwotasie kry word presies daardie bedrag in my rekening inbetaal. Geen verwysing nie; niks nie, en die bank het ook nooit laat weet dat dit ‘n verkeerde inbetaling was nie. Ek sou seker kon gaan uitvind, maar besluit toe opsetlik om dit nie te doen nie. 

‘n Aantal mense het die boek gelees, en die terugvoer was baie positief. Met dié dat die webwerf nou aan die gang is het ek nou ook ‘n bemarkingsplatform, hoewel ek gaan begin deur dit op Kindle te sit en deur CreateSpace (Amazon) te publiseer. Dis ‘n opsie wat nie voorheen beskikbaar was nie.

Dis net asof alles nou in plek begin val; sowel uiterlik as innerlik. Die vrede wat ek by tye ervaar het begin al hoe dieper en meer permanent word. En dit ten spyte van my finansies wat eintlik alles behalwe goed lyk. Iewers besef ek net die waarheid van die woorde in A Course in Miracles: “Let me recognize that all my problems have been solved”. 

En dit lyk asof hierdie blog ook nou werk!

Ek het besluit om op enkele uitsonderings na nie meer wildernisstaptoere te doen nie, maar toe hulle in April nie ‘n gids kon kry vir ‘n staptoer in Pilanesberg nie, het dit onmiddelik vir my reg gevoel en ek gaan doen dit toe. Dit was ‘n klomp seuns van St John’s Skool in Johannesburg. Hoewel ek die kapelaan wat saam was nou al goed geken het van vorige staptoere, was hy nog nooit in my groep nie, en dié keer was hy. Wat ‘n belewenis! Hy’s ‘n Anglikaanse priester, maar ek kon sien hy is een van daardie mense vir wie die Liefde ‘n werklikheid is en wat dit leef. Die seuns was mal oor hom, en ek kon sien hoekom. In pleks daarvan dat die seuns hom kritiseer of bevraagteken, het hy húlle ‘geloof’ op ‘n Sokratiese manier bevraagteken! As hulle vir hom sê, “The Bible says so,” vra hy: “So? What makes the Bible so special?” en dwing hulle so om hul eie geloof te ondersoek. Ek was mal daaroor! 

So terloops, ek het nou die dag vir Monica gaan kuier. Dis amazing wat sy op daardie stukkie barre klipgrond reggekry het. En baie kreatief gedoen. Ek was mal oor haar tuin!

En dan natuurlik die onvermydelike kelkie wyn in Gauteng!

Die wind huil en van tyd tot tyd wonder ek hoe lank ek (letterlik!) nog ‘n dak oor my kop gaan hê, maar dis reg. Ek hou daarvan. Winde van verandering. Blykbaar gaan dit bietjie koud word. Nie dat dit nie al is nie.


by douwe

Probeer weer

Junie 6, 2012 in Sonder kategorie

Ek het toe WordPress toe gegaan en dinge uitgekyk, en toe sommer besluit om my eie webwerf te begin. Eers self geprobeer, maar besef toe dit gaan my jare vat om WordPress ordentlik te leer. Toe kry ek maar professionele mense in om dit te doen. Ek’s nie spyt nie. Vir die wat belangstel, dis www.douwevanderzee.co.za. Ek het die titel ‘Shadow of Love’ netso van hier af oorgeneem.

Sal nou sien wat gebeur met hierdie blog. As ek dit hier uitgesorteer kry dink ek gaan ek my Afrikaanse blogs tog meestal weer hier by my Afrikaanse familie plaas! Die webwerf het Engelse en Afrikaanse afdelings, maar tog.

Dit kan natuurlik alles verander!

Kom ons kyk wat gebeur!

by douwe

Nie meer nie

Maart 15, 2012 in Sonder kategorie

Baie dankie aan almal vir die hartlike welkom laas week, maar ek het my besluit verander. Sien regtig nie kans vir hierdie gesukkel nie. Miskien gaan dit anderdag weer beter.

by douwe

Toets

Maart 12, 2012 in Sonder kategorie

Toets een, twee, drie …

Ek het vergeet om my openingstelling “Ek het weer besluit om te begin blog” te kwalifiseer met “L.V” – Letterdash Volente. Blykbaar is alles nog nie uitgesorteer nie.

Ha. dit werk! En die toolbaar ook! Dankie Letterdash

by douwe

‘n Nuwe begin

Maart 5, 2012 in Sonder kategorie

Ek het besluit om weer te begin blog. Ek gaan maar deur sulke siklusse.

 

Van die ou bloggers weet nou al dat ek nie eintlik vreeslik sosiaal blog nie. Die blogs is vir my meer

die verwoording van my eie insigte en soeke na waarheid en vrede. Van die goed wat ek gesê het, het skynbaar al baie vir ander beteken, soos ander se skrywes vir my ook al baie beteken het. Ons sal egter nooit kan weet wat ons vir mekaar beteken nie. Ek skryf dus in die vertroue dat dié wat dit lees, dit moet lees en daaruit sal kry wat hulle nodig het, op die beginsel van “You teach what you most need to learn”.

 

Die titel van my blog is met opset gekies. Diesoeke na en verstaan van Liefde is vir my die kern van my lewe. Helaas het die Liefde ‘n skadukant.

 

Aan die een kant word die woord geweldig misbruik, en sou baie dinge wat as ‘liefde’ bekend staan eerder beskryf kon word as manipulasie of misleiding. “Ek is lief vir jou” kan dinge beteken soos: “Ek het jou nodig”; “Ek wil seks hê”; “Jy moet al die slegte goed wat ek jou aandoen vergeet”; “Jy moet doen wat ék wil hê jy moet doen” en nog baie meer. In haar boek Indescribable vertel Candice Derman hoe haar stiefpa gereeld vir haar vertel het hoe lief hy vir haar is terwyl hy haar van agtjarige ouderdom af al verkrag het. Terselfdertyd sê hy ook dat dit eintlik God se wil is.

 

Ons sidder as ons hoor dat God tot gebruik word om verkragting te regverdig, maar is ons soveel beter? Watter soort liefde is dit wat nodig het om ander – en spesifiek sy seun – te vermoor sodat Gód beter kan voel? Hoeveel van ons dink regtig daaroor na? Ewe onskuldig sing die kindertjies, “Watter vriend het ons in Jesus; hy wat in ons plek wil staan.” Teen die tyd dat hulle groot is, is hulle (ons) al so geïndoktrineer dat die implikasie van die liedjie ons geheel en al ontwyk: in pleks van om ons dood te maak het God maar vir Jesus doodgemaak. Maar waarom – waarom ?! – het God enigsins nodig om enigiemand dood te maak? En dit noem ons liefde?!

 

Op die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit webwerf het ek ‘n artikel geskryf waarin ek hierdie waansinnige idee in verband bring met ‘n geskiedenis van kindermishandeling. Wat klein kinders ervaar gaan lê diep in hul onderbewuste en bepaal later weer hul eie gedrag.

 

Dan is daar die ander tipe skadu van die liefde; die Liefde wat almal van ons in werklikheid IS, netsoos God Liefde IS. (Dis nou die een wat nie nodig het om sy seun te vermoor nie.) Daardie Liefde staan lynreg teenoor die persepsies van die wêreld soos ons dit ken, en dis vir sommige van ons ‘n lang proses om daar uit te kom. Skynbaar vind dit ook nie sommer plaas sonder dat ons deur diep waters gaan nie – wat Johannes van die Kruis die “donker nag van die siel” en Jesus die “nou pad” genoem het.

 

Daarom dat ek in my blogs nie net oor wonderwerke en allerhande wonderlike dinge skryf nie, maar veral ook deur die pyn en onsekerheid van die soeke na ware Liefde worstel.

 

Maar dan is daar nóg ‘n betekenis wat ons aan ‘skadu’ kan heg: lafenis. Soos wat ek gereeld lafenis ervaar wanneer ek boeke soos  A Course in Miracles en Letters from Christ lees, vertrou ek dat die Liefde soms ook deur my blogs die effek van lafenis sal hê.

 

Terloops, sedert my laaste blogs het ek ontdek dat A Course in Miracles, wat vir my ‘n groot bron van inspirasie is, reeds geruime tyd gelede al in Afrikaans vertaal is deur Henri Theron. Daar was skynbaar nie genoeg belangstelling om dit in boekvorm uit te gee nie, maar dit is op CD beskikbaar gemaak deur dieselfde Foundation for Inner Peace wat die Engelse en ander uitgawes uitgegee het. Dit kan deur Henri self bestel word.

 

Ek haal redelik baie uit A Course in Miracles aan, en sal dus voortaan uit die Afrikaanse weergawe, ‘n Kursus in Wonders, aanhaal.

 

Dis nou vir eers genoeg; ek moet nou eers weer in oefening kom!

by douwe

Geloof

Augustus 5, 2011 in Sonder kategorie

Ek dink ek is nou reg. In my laaste blog het dit nog om die onderwyseres gegaan – hoe haar pyn die groep en my geaffekteer het. Daar is egter niks wat ons in ander sien wat nie in onsself is nie.

 

Ek was oortuig dat ek teen dié tyd al meeste van my pyn deurwerk het. In ‘n sekere sin het ek; in ‘n ander sin nie. Vrees bly maar altyd daar.

 

Dis eintlik geruime tyd al daar, en is een van die redes hoekom ek die laaste tyd maar min blog. Seker al vir die laaste drie jaar of so sê ek ek gaan ophou met wildernisstaptoere. Dis nie dat daar enigiets mee verkeerd is nie; dis net dat ek nie meer die bevrediging daaruit kry wat ek vroeër daaruit gekry het. Maar elke keer as ek gevra word sê ek maar weer ja. En dan, as ek van tyd tot tyd ‘n fantastiese toer het, besluit ek maar weer om aan te hou.

 

Want sien, as ek ophou met staptoere, wat gaan ek dan doen? Waarvan gaan ek leef? Ek wat al die jare geloof verkondig het, het weer op ‘n stadium gekom waar my geloof skynbaar soos mis voor die son verdwyn het. Waar is die geloof waarmee ek 24 jaar gelede so vol vertroue my werk bedank het en ewe beterweterig vir die pastoor geglimlag het wat vir ons gesê het: “Wat gaan julle eet?”.

 

Soos die onderwyseres haar pyn, het ek hierdie onderliggende vrees heeltyd onderdruk. Met hierdie laaste staptoer het dit tot uiting gekom. Ek was gespanne, en nie die beste geselskap nie. Met die sneeu-episode het ek op ‘n stadium op mense geskree. Waar is die vrede wat ek so dikwels in die verlede ervaar het? Op hierdie toer het ek besef hoe geweldig oorverantwoordelik ek vir mense in my groep voel. Ek dink nie ek het dit ooit regtig besef nie. Volgens ‘wêreldse’ norme is dit ‘n goeie ding. Vir my is dit ‘n teken van gebrek aan vertroue.

 

In groepsproses het ek destyds keer op keer gesien hoe die proses in ‘n soort spiraal verloop: Pseudogemeenskap – negatiewe gevoelens – leegheid – positiewe gevoelens (ware gemeenskap). Dan, as die groep nog bymekaar is begin die proses weer van vooraf, maar skynbaar op ‘n dieper vlak. Met elke sirkel van die spiraal ervaar die groep dieper kohesie.

 

Lyk my met geloof werk dit ook so. ‘n Mens gaan deur die beproewinge en besef dat dinge altyd uitwerk. Jy raak rustiger, vriendeliker en meer vergifnisgesind. Maar dan, veral as jy finansieel meer stabiel raak, raak ‘n mens gerus. In pleks van vrede neem die vrees dan weer toe. Ek dink dis wat met my gebeur het. Dis wat met die permakultuurprojek ook gebeur het. Uiteindelik moés ek net gaan.

 

Uiteindelik maak die vrees seker sin. Want is wat ek gedoen het volgens alle normale ‘wêreldse’ begrippe nie maar uiterste waansin nie? Ja, ons kan in die kerk sit en van geloof praat en sê Jesus is lief vir ons en so meer, maar jou werk bedank en net vertrou God sal voorsien? En hoeveel van die sendelinge wat so ‘glo’ word nie tog maar deur die kerk onderhou nie? En om dan nog te sê jy glo nie Jesus het vir jou sondes gesterf nie?!

 

We invariably build religions around our spiritual giants or use them to support a religion in order to avoid the radical shift of mind and disruption of culture these rare people bring about, shifts we interpret, ironically, as threats to our survival and thus instinctively reject. (Joseph Chilton Pearce, The Biology of Transcendence).

 

Met hierdie toer het ek besef: nou moet ek ophou. Dis asof ‘iets’ net vir my gesê het: “As jy nie wil hoor nie, moet jy voel.” Nie op ‘n lelike manier nie, maar tog. Ek het nog ‘n paar toere waartoe ek kontraktueel verbind is, en ook ‘n paar met vriende (wat iets heeltemal anders is), maar daarna hou ek op.

 

En dan? Ek weet nie. Maar het ek nie twee dekades gelede met my hele hart, my hele siel en my hele verstand al (in elk geval in die mate waartoe ek daartoe in staat was) die volgende woorde onderskraag nie? “The Peace of God is everything I want. The peace of God is my one goal, the aim of all my living, the end I seek; my purpose, my function and my life while I abide where I am not at home.”

 

My vriend Peter en ek het destyds dikwels vir mekaar gesê: “As God nie bestaan nie, het ons ‘n probleem!” Toe was ek 33 en kon ek nog maklik werk gekry het as ek wou. Nou is ek 57. Benewens die feit dat dit nou nie meer so maklik is nie, is ek eenvoudig nie meer in staat om werk te doen wat nie vir my diep bevrediging gee nie.

 

Ek voel al lank soos ‘n Jonas van ouds. Op een of ander vlak wéét ek A Course in Miracles is reg en dat daar niks is om voor bang te wees nie. Ek weet ek het ‘n ‘roeping’ as ‘Teacher of God’. Op ‘n ander vlak is ek nog maar blerrie bang en vlug dan elke keer stil-stil in ‘n posisie in waar ek skynbaar ‘n mate van wêreldse sekerheid het. Maar geleidelik is dit asof die ‘Heilige Gees’ al hoe meer gereeld vir my sê: “Nee, daar is ‘n ander roeping wat vir jou wag. Moenie nou opgee nie.”

 

“You have used the world to cover your love, and the deeper you go into the blackness of the ego’s foundation, the closer you come to the Love that is hidden there. And it is this that frightens you.”

 

Ek voel nou beter.

by douwe

‘n Paar fotos

Augustus 4, 2011 in Sonder kategorie

Ai, toe so eenvoudig. Dankie Kelkiewyn. Lyk my die lewe werk so: as jy nie die regte knoppies druk nie is jy in jou moer. Hier’s die fotos wat ek by die vorige blog wou sit. (Met goedgunstiglike toestemming van die fotograaf Martin McGowan)

by douwe

Die krag van pyn

Augustus 4, 2011 in Sonder kategorie

  

Die wildernisstaptoere is nie altyd lekker nie. Die laaste een was maar moeilik.

 

Dit was ‘n klomp skoolkinders van Engeland met hul onderwysers. In my groep was daar’n onderwyseres met wie ek van die begin af absoluut geen aanklank kon vind nie. Ek het af en toe geprobeer om ‘n bietjie met haar te gesels en uit te vind oor haar persoonlike lewe en so meer, maar dit was asof daar ‘n muur tussen ons was.

  

Eers was ons vier nagte in iMfolozi, daarna drie nagte in isiMangaliso (St Lucia) en toe vier nagte in die Drakensberg. iMfolozi en St Lucia het min of meer normal verloop. Die swart gids saam met my was reeds drie jaar by die Wilderness Leadership School, en ek het die leiding van die groep aan hom oorgelaat. Hoewel ek dit gereeld doen, was dit nou anders. Dit was asof ‘iets’ my van die groep afgesonder gehou het. Ek kon net nie my vinger daarop lê nie, en kon ook nie wag dat dit moes verby gaan nie.

  

Ons kom toe saam met die koue front in die Drakensberg aan. Toe ons begin stap, het dit sag gereën. Toe ons omtrent halfpad op na die grot was waar ons sou slaap, begin dit saggies kapok. Teen die tyd dat ons by die grot aangekom het, het dit ernstig gesneeu en was die omgewing al wit.

  

Daar aangekom, was een van die ander groepe in die grot. Hulle sou hoër op gegaan het, maar het besluit dat dit nie veilig sou wees nie. Gevolglik is daar toe twee van die drie groepe in hierdie grot. Daar was genoeg plek.

  

Toe ons die volgende oggend wakker word, sneeu dit nog steeds, en die sneeu lê al omtrent 60cm diep. Ons besluit toe ons gaan wag tot 9 uur, en as dit dan nog nie opgehou het nie, gaan ons terug. Al problem was dat die huis by Cobham vol seuns van ‘n ander skool was en ons dus nie daar sou kon oorbly nie. As ons teruggaan, sou ons iewers verblyf vir die nag moes soek waar ons almal warm en droog sou wees. Nege uur het dit nog net so hard gesneeu. Hoe meer dit sneeu, hoe moeiliker word dit om daardeur te ploeter. Daar was lankal geen tekens van paadjies meer nie. Ons besluit toe ons gaan ons groot maaltyd eet en stap.

  

Dit was min of meer waar die probleme begin het. Hierdie mense was nie voorberei op die moontlikheid van sulke swaar sneeu nie. Die onderwyser saam met ons in die grot was ‘n ervare bergklimmer met ‘n grondige kennis van sneeu- en ystoestande, maar ook hy was nie heeltemal bewus van die verskil tussen Engeland en Suid-Afrika nie. Hulle’t net aanvaar ons gaan onder deur reddingspanne ingewag word en dat daar onmiddelik akkomodasie vir ons beskikbaar gestel gaan word. Ons was nie so seker daarvan nie. Ons besluit toe maar om die kans te vat.

  

Dit was nie die eerste keer dat ek in die Drakensberg met groepe deur sneeu geploeter het nie. In 1999 al het ek gesweer ek doen dit nooit weer nie. Daar was geen paadjies nie, en ons moes op gevoel gaan. Die ervare onderwyser sou voorloop omdat hy die beste sneeuklere gehad het en dus die pad sou kon baan. Toe hy van die staanspoor af egter in die verkeerde rigting loop het ons hoofgids maar die voortou geneem. Ek het agter geloop. Ek het uit ervaring geweet hoe bedrieglik dit kan wees om in sulke omstandighede bergaf te loop. As jy nie oppas nie land jy elke nou en dan bo-op ‘n krans en moet jy teruggaan en weer ‘n nuwe pad soek. Gelukkig was ons hoofgids baie goed.

  

Die problem van agter loop is dat, teen die tyd dat jy loop waar 19 ander al geloop het, jy op ys loop, en ys is glad. Ander het ook daardie problem gehad, en die afklim was ‘n aanhoudende gevallery en geglyery en gebotsery. Die kinders het dit nogal geniet. Ek was te gestres om dit te geniet. As iemand daar te ver gegly het en seergekry het sou ons ‘n enrstige problem gehad het, en met die gebrekkige kleding het die swaard van hipotermie heeltyd oor ons hoofde gehang.

  

Maar ons het dit gemaak. Die onderwysers het egter begin paniekerig raak en probeer oorneem. Hulle het soos koplose hoenders begin rondhardloop en ons gidse geïgnoreer. Ons het blyplek gekry, maar dit was baie basies. Die groep het geweier om daar oor te slaap. Die hoofgids is so geïntimideer om ander verblyf te kry dat hy die pad na Himeville aangedurf het wat amptelik gesluit was. Hy’t dit gemaak, maar nie sonder ‘n hewige geglyery nie. Ons het in Himeville oorgeslaap en is toe met ‘n plaaslike taksie terug Durban toe.  Dit kos die WLS ‘n fortuin. Dit het nie meer om veiligheid gegaan nie, maar om die feit dat die groep geweier het om in die kamers te slaap wat ons aangebied is.

 

 

 

Die vervreemding tussen my en die onderwyseres het intussen erger geword. Die feit dat ek op haar geskree het toe sy begin paniekerig raak het seker ook nie gehelp nie. Ek vermoed dat sy my met die kinders bespreek het, want skielik praat die kinders omtrent nie meer met my nie.

  

Toe hulle uiteindelik weg is uit Durban, het hulle nie eers kom groet nie. Dis die eerste keer in my lewe dat dit gebeur, en ek was baie ontsteld. Hulle het my swart medegids opgehemel by die bestuur, maar nie ‘n woord oor my gesê nie.

  

Ek het geweet dis ‘n les in vergifnis, maar o donner, dit was moeilik.

 

 

 

 

Toe val dit my by dat hierdie onderwyseres op ‘n stadium iets belangriks laat glip het. Sy’t iets gesê van “If my French children were still alive, they would …”. “Your French children?” vra ek. “Yes, I lost three children,” sê sy lighartig. “That must have been deeply painful,” sê ek. “Oh yes, shit happens,” sê sy weer ontkennend en sny daarmee enige verdure kommunikasie af. Toe besef ek: haar hele kommunikasiestyl was een van ontkenning. Dis hoekom ek nie tot haar kon deurdring nie.

  

Dis waarskynlik ook waarom my kiommunikasiestyl vir haar so ‘n bedreiging was. Aan die begin van die toer het ek oor die simboliek van die WLS logo gepraat, en verwys na die belangrikheid van die ‘skadu’. Tydens die toer het ek af en toe ‘n soort meditasie gedoen om ons met ons gevoel in aanraking te bring. Ek vermoed dat hierdie dinge op ‘n baie diep vlak haar desperaatheid om haar pyn te ontken bedreig het.

  

Toe ek dit besef, was dit asof ‘n swaar gewig van my rug afgeval het. Want hier was ‘n voorbeeld van wat kan gebeur as ons ons pyn (die ‘skadu’) ontken. Dit word na buite geprojekteer (in hierdie geval op my), waar dit chaos veroorsaak. Sy het volgens my letterlik die hele atmosfeer op die toer – en daarmee ook haarself – vergiftig.

 

 Ek is nog nie heeltemal daar nie, maar met behulp van die Course in Miracles beginsels begin ek nou, ‘n week later, vergifnis ervaar en weer rustig word. Dit was nie ‘n lekker les nie, maar wel ‘n belangrike een. Dit het my passie vir ‘pynwerk’ weer na die oppervlak gebring. Ek het weereens besef hoe geweldig belangrik dit is om met ons eie pyn in aanraking te kom en daardeur te leer vergewe. Soos Carl Jung gesê het: “If we do not make the Unconscious conscious, life will keep happening to us and we will call it fate.”

 

 

 

 

 

 

 

 

by douwe

Sonde, evolusie en godsdiens – ‘n antwoord aan Neander

Julie 8, 2011 in Sonder kategorie

Neander, ek lees met belangstelling jou blog oor die sewe ‘doodsondes’.

 

Ek stem heeltemal saam met jou en Erik Holm dat sowel ons godsdiens as ons ‘beskawing’ ‘n sterk anti-natuur inslag het – tot ons eie nadeel. Die godsdiens het die mens bo die natuur verhef (pride!) en met die wetenskap het die idee ontstaan dat die mens die natuur kan onderwerp en beheer. Die gevolge daarvan begin nou nogal duidelik word.

 

Jy maak die volgende stelling: “Aggressie en woede teenoor jou vyande en mededingers is nodig vir evolusionêre sukses. Vriendelike toegeeflikheid is evolusionêre selfmoord en daling in rangorde.” As daar een ding is wat die onwaarheid van daardie stelling vir my bewys, is dit JY! Ek ken jou as ‘n baie aangename, vriendelike en nie-aggressiewe mens, en dis altyd vir my heerlik om jou weer te sien. Beteken dit dat jy ‘n evolusionêre mislukking is?

 

In haar boek The Continuum Concept beskryf Jean Liedloff hoe daar in die twee jaar dat sy tussen die Yequana in die Amazone geleef het absoluut geen geweld of aggressie voorgekom het nie. Die kinders het nie eers ‘tantrums gegooi’ nie. Sy het dit direk in verband gebring met hoe hulle hul kinders behandel. Daar is in die laaste paar dekades genoeg navorsing gedoen om ook wetenskaplik te bevestig dat kinders NIE inherent aggressief is nie, maar dat aggressie grotendeels toegeskryf kan word aan die mate waarin daar nie aan die natuurlike behoeftes van kinders voorsien word nie – iets wat in ons ‘beskawing’ met sy anti-natuur lewensbeskouing onvermydelik is. Ek het vroeër al heelwat hieroor geblog.

 

In The Selfish Gene skryf Richard Dawkins: “Be warned that if you wish, as I do, to build a society in which individuals cooperate generously and unselfishly towards a common good, you can expect little help from biological nature. Let us try to teach generosity and altruism, because we are born selfish.” Min of meer dieselfde boodskap, dus, as die godsdiens se “Jy moet goed wees, maar jy kan nie, want jy is inherent sleg.”

 

Beide Dawkins se geloof en die tradisionele Christelike geloof in die inherente ‘boosheid’ van die mens word deur sowel die Yequana en soortgelyke kulture se gebrek aan aggressie as moderne wetenskaplike navorsing weerspreek.

 

Volgens die evangelies in die Bybel het Jesus gesê dat die ‘koninkryk van die hemel’ aan kinders behoort. As ‘n mens Jesus uit die konteks van die menslike interpretasie van die Bybel as die ‘Woord van God’ neem en bloot wat hy gesê het probeer verstaan, klink dit vir my of Jesus eintlik dieselfde ding gesê het. (Of wie ookal. Selfs as, soos Timothy Freke beweer, Jesus nooit werklik bestaan het nie, moes iémand dit nog gesê het.) 

 

In hierdie skakel van Neander word die strawwe vir die sewe ‘doodsondes’ beskryf. Klink nogal nie so lekker nie. Waarom sulke verskiklike strawwe vir dinge wat op die ou end maar redelik moeilik is om te kwantifiseer, en waar juis dié wat hulle die meeste daaraan skuldig maak dit altyd op ander blameer? As ‘n mens Paulus se briewe in die Bybel lees, weereens nie as die ‘Woord van God’ nie, maar as dié van ‘n man met baie wroegings, dan is dit duidelik dat hy voortdurend teen sy eie ‘sewe sondes’ baklei het en by tye maar net opgegee het en die duiwel die skuld gegee het (“Ek doen wat ek nie wil nie …).

 

Hoe rym ‘n mens dit met Jesus se klem op vergifnis? Jesus sê: “Dis okei, deur ander te vergewe, is jou eie ‘sondes’ ook vergewe. Jy hoef nie teen jou eie natuur te baklei nie, want jy is inherent volmaak.” Die kerk sê “NEE, jy is inherent SONDIG!” Die groot kampvegter vir evolusie deur lukraak natuurlike seleksie sê: “NEE, jy is inherent AGGRESSIEF en SELFSUGTIG!” Albei sê: “Hoewel jy inherent sleg is, moet jy tóg probeer goed wees.” So rasioneel.

 

Die ‘dieptesielkundige’ Carl Jung het gesê: “What you resist, persists”. Is vergifnis nie juis om op te hou weerstand bied teen ‘sonde’ nie? Jesus het gesê: “Die koninkryk van die hemel is binne-in julle.” Soos die Oosterse ‘godsdienste’ het die orakel van Delphi gesê: “Mens, ken jouself”. Het ons nie hier te doen met iets in die mens – ons ego – wat in sowel die godsdiens as die wetenskap tot uiting kom en wat dus deur geen van beide ‘verklaar’ kan word nie?

 

Wesnwew skryf in haar kommentaar op Neander se artikel oor die godsdiens: Vertel vir hulle die waarheid en verdraai dit net genoeg om hulle bang te maak daarvoor… En skuldig te laat voel.” Joseph Chilton Pearce skryf in sy boek The Biology of Transcendence: “We invariably build religions around our spiritual giants or use them to support a religion in order to avoid the radical shift of mind and disruption of culture these rare people bring about. This we interpret, ironically, as threats to our survival and thus instinctively reject.” Sou die teorie van ‘survival of the fittest’ dalk iets hiermee te doen hê?

 

Om eers die moontlikheid te oorweeg dat ons inherent volmaak en een met God is, is inderdaad seker die mees radikale verandering in denke moontlik.

 

Jean Liedloff skryf in The Continuum Concept: “So we are not inherently bad, but we can make our children bad. Ironically, the reason it’s possible to make these profoundly social animals [people] bad or anti-social is because we are so social. Our parents, our tribesmen, our authority figures, clearly expect us to be bad or anti-social or greedy or selfish or dirty or destructive or self-destructive. Our social nature is such that we tend to meet the expectations of our elders. Whenever this reversal took place and our elders stopped expecting us to be social and expected us to be anti-social, just to put it in gross terms, that’s when the real fall took place. And we’re paying for it dearly.”

 

Jammer, dis weer ‘n bietjie lank. Dis nou maar my ‘doodsonde’! Die verskillende fonte is Letterdash se doodsonde.