Jy blaai in die argief vir 2009 Mei.

Idolatry

Mei 11, 2009 in Sonder kategorie

Die Idools oorheers (byna) al die onlangse nuus.

Die jongste is nou dat Jason reken sy wen is te danke aan ‘n ingryping deur God.

Nou vra ek my af, wat het die Liewe Jesus teen Sasha-Lee? Hou Hy dalk meer van seuntjies?

Bonjour tristesse

Mei 10, 2009 in Sonder kategorie

Bonjour Tristesse

Triest is die nagte nou
met alle boeke al gelees.

Woorde in woede geloods
snel die ruimte in.

Word gebeitel in graniet
en herroeping is verniet.

Met alle boeke nou gelees
is triest die nagte nou.

                  vuurklip

Drome

Mei 10, 2009 in Sonder kategorie

drome

freud sê die drome van slapenstyd
vervul die wense van wakenstyd!

is dít waarom ek slaap dan vrees
weens drome wat daar dan mag wees

en die wakkerword wat agterna
die kort vervulling weer verja?

sodat die wakkerwees daarna
dubbel swaar is om te dra …

                                vuurklip

Die Vierde Wet

Mei 9, 2009 in Sonder kategorie


Die Vierde Wet van Termodinamika:

In elke staatsdeprtement waar mense toustaan, bly die tou ten minste 34 mense lank.

Nes jy dink dat die grap van ‘n departement, naamlik Binnelandse Sake, nie snaakser kán word nie, gebeur die volgende:

[

Johannesburg, 8 May 2009


] – As the United
Nations gave the Department of Home Affairs (DHA) an award for the use
of ICT in service delivery, the US slammed the ministry, labelling it
“corrupt and poorly administered”.

Lees die berig hier.

Spotprent:
http://www.immigration-south-africa.co.za/media/caricature%20-%20DEPARTMENT%20OF%20HOME%20AFFAIRS.jpg

Teflon Prez

Mei 7, 2009 in Sonder kategorie


Bill Clinton was bekend as die Teflon President – niks het aan hom vasgesit nie – maar onse JZ sit vir hom ore aan!

Storm!

Mei 6, 2009 in Sonder kategorie

Lees in News24 die Zunami het ons getref …

Breindood

Mei 6, 2009 in Sonder kategorie


Is daar enige iets meer breindood (dis nou buiten die meeste Afrikaanse musiek) as RSG se groeteprogrammetjies?

“En aan Tannie Annie, veels geluk met u agt-en-tagtigste verjaarsdag, God’s rykste seën word u toegewens deur bla bla bla …”.

En dan word Tannie Annie natuurlik weke voor die tyd as aangesê om tog na die programmetjie te luister.

En dan sit Tannie Annie dae lank al voor die radio om tog nie die ou boodskappie te mis nie.

Kan die mense dan nie sélf vir Tannie besoek/’n kaartjie stuur/bel nie?

Verdomp.

Kontraste

Mei 6, 2009 in Sonder kategorie

Die Burger wy die afgelope drie dae twee voorbladberigte aan die nuwe Idollie en ‘n halwe bladsy drie aan ‘n vorige idol.

Ek het gister die voorreg gehad om La Sonnambula met Natalie Dessay (en ander) te sien. Die kontras kan sekerlik nie groter wees nie.

Dit sou onregverdig wees om die Idollies met Dessay te vergelyk en dis ook nie wat ek hier wil doen nie.

Wat my aan die besigheid hinder is dat die koerant (en die media in die algemeen) hoofsaaklik net aan die behoeftes van die lowest common denominator voldoen.

Op die vier oop TV kanale is daar bitter min wat kykbaar is – BBC reekse is uit, films met onderskrifte is uit – reality TV is in. Al wat ek deesdae kyk is die nuus – maar soms het al drie tydens die seweuur nuus tegelyk advertensies. Gisteraand het al vier senders tegelyk advertensies gewys.

Soos Kerkorrel destyds gesing het: Sit dit áf!

Kultuur?

Mei 4, 2009 in Sonder kategorie

Intellektuele vervlakking – vandag se voorbladnuus in Die Burger.

Gróót foto – neem ‘n halwe bladsy in beslag.

Krauts?

Mei 2, 2009 in Sonder kategorie


Gisteraand op ESYBIESIE se nuus sien ons hoe die Duitse werkers op Werkersdag amok maak – sê die nuusleser in effe non-standaard Engels: “… and the krauts broke windows …” bedoelende “crowds”