Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

Profile photo of VozSola

by VozSola

Now you see me….now you don’t…but then again…

Augustus 26, 2017 in Uncategorized

Hola daar…..

Eendag lank lank gelede… hier ek baie baie gereeld hier geblog…maar dinge het my bietjie van spoor gegooi…soos dinge soms nou maar gaan… maar as deel van ‘n oorbegin het ekke myse blog oorgeskuif na WP …  vozsola.wordpress.com.

Maar na ‘n bierjie oordenking – besef ek niks verhoed my om beide blogs op datum te hou nie.

Ek sal binnekort weer kom inloer.

Groetnis

Profile photo of VozSola

by VozSola

Drie-dimensionele onvrugbaarheid

Mei 19, 2015 in Uncategorized

Hoe is dit dus moontlik vir my siel om my gees te verorber?

Soos my siel die bogrond van my lewe bewerk, staan my gees op wag…wagtend vir daardie oomblik van twyfel, wagtend vir daardie oomblik van verwagting, daardie oomblik van die besef van die onvrugbaarheid, daardie oomblik van moedeloosheid omdat ondanks alles, niks in hierdie siel sal groei nie! Dit is dan wanneer my siel vir die hart en gees sal lieg!

Hoe is dit dan moontlik om die lewe dag na dag te bewerk, te verwerk en te belewe in die absoluut vryheid van gemoed as ek, my en myself as drie-eenheid nie die lewe dieselfde ervaar nie? As my hart, siel en gees in konstante konflik is oor hoe en wat die lewe werklik is!

Hoe is dit dus moontlik om in totaal volmaak drie-dimensioneel te lewe sonder om die algehele prentjie te verniel en uitmekaar te skeur? Om daadwerklik die opbrengs vanuit vrugbaarheid van elk voort te bring vir die wêreld om te geniet? Om in harmonie met myself ten volle te lewe sodat ander my as normaal te mag ervaar?

Nee, hierdie stryd is ‘n oorlog in my kop, in my hart en binne my gemoed waarmee ek gebore is en my lewe lank voor veg – meestal sneuwel die hart eerste… Die hart verdrink in die moeras van ervaringe in die stryd om liefde uit haar vrugbare grond voort te bring. Te veel liefde gee sonder om water en versorging te ontvang – maak my met die tyd sieker en sieker en my liefde word die einste gif wat my versmoor.

Die eie ek en die ek wie ek wil wees en wie ek moet wees verdring mekaar om spasie en erkening en om te weer die lig te sien. Net sodra een die lig sien, dwing die ander sy swart wortels dieper en dieper dat ek nie meer weet wie ek is nie. My wortels word gevoed deur die swart are van wie ek moet wees…en my siel verarm, ondervoed deur my eie wortel sisteem – oorgeneem deur die parasiet van moet wees en nie wil wees nie!

Dit is dan wanneer die gees sy eie deuntjie neurie – “wees net…wees net…wees net wie jy is!”

Ek skree en skree maar dit is net ‘n gefluister in my gemoed…”ek kan nie…ek kan nie…ek kan nie – want ek weet nie wie ek is nie!”

Vertel my dan wie ek is!

Alles wat bevryding bied laat my vryloos gebonde aan dit wat so deel van die eie ek geword het. Dit is al wat ek ken en wie ek is! Soveel so, dat selfs die vryheid self my gebonde hou teen dit wat vir altyd vryloos in my siel is en my gees kelder – My hart is lankal dood en haar stof verblind die weg!

Hoe ongenaakbaar wreed dan hierdie drie-dimensionele onvrugbaarheid wat die sielswater brak maak en die grond dom?

Saad skiet net om te verwelk en die fluisterstem roep my naam! Kreatiwiteit blom net om nog ‘n droeë rangskikking in ‘n hoek te word. Om vir ‘n oomblik te lag tot die trane loop en loop en loop om weer met die alombekende innerlike hartseer te versoen – soos altyd.

Om vir ‘n oombkik in die son te staan – om net weer deur verduistering met die alomteenwoordige donker te dans – ‘n wals teen die muur van tyd!

Hoe vertel mens dit alles, dat selfs jou stomheid die lewe -wat kan hoor met tydelike doofheid slaan en jou skreeuende hulp krete ‘n klankdigte gehoor tref – en mense net terugstaar deur die eenrigting glas?

Hoe vertel ek dat hierdie oorlog nooit ‘n vredeslied sal opper nie?

Die wreedheid en moorde is alomheersend en dit is slegs in my kop – die soldate elk ‘n stukkie van myself. Dit is ‘n oorlog wat niemand ken nie, diegene naaste aan my weet nie watter stryd ek voer nie. Diegene wat dink hulle verstaan verwag enige oomblik ‘n triomflike oorwinning. Dit sou beteken ek moet verloor om te oorwin, en te wen om te verloor. Dit is ‘n oorlog wat lewe, dood, lewe – keer op keer, en dit is net ek met myself. Tussendeur skree die stemme my naam – maar ek weet nie of die, die wen of verloor ondersteun nie!

Begryp jy dan nie?

Verstaan jy dan nie dat hierdie oorlog nie beheer word deur daaglikse gebeure in my lewe nie? Die lewe beinvloed nie die oorlog nie. Want hoe versmoor jy dit wat reeds dood is?

Ek kan biddend uitroep na God – Jy mag dalk vra waar God is – Hy is daar. Hy het my vryheid in keuses gegee. Hoe dan – hoekom God gee U my dan nie ‘n goeie en swakker keuse in my lewe nie?

Hoekom word ek met blindheid geslaan as ek net die oorlog binne myself kan sien, omring deur swak keuses? Selfs sou ‘n beter keuse voor my staan – ek siende-blind staar en dit nie aanraak  nie – want dit is onbekend en die waagstuk te groot want ek ken nie hierdie keuse nie.

Dit is ‘n mynveld van wrede lewensbomme wat my omring. Elke bom is gevaarlik al is hulle almal reeds deur God onskadelik vir my gestel.

Hierdie onwerklikhede is vir my elkeen ‘n werklikheid wat uitgeleef word. Begryp jy dan nie my onwerklike werklikheid nie?

Ek loop gepanser deur die dag – niemand sien my kaal-naaktheid raak nie!

Daar woed ‘n woorde en gedagtes-oorlog in my kop. Die monsters en donker-mense loop deur my drome. Ek smeek om hulp – veg teen hulle gees, veg om net nog ‘n dag te sien.

Die dag kom wel – dag na dag, maar die donkerte in my gemoed sien nooit meer die lig nie…

As die donker droom mense my slaap terug gee – kom hulle altyd môre weer terug.

Die donker dinge in my verlede laat my nie met rus  nie, ondanks die vergifenis – Die hoekom, waarom en wat is en wat as…gedagtes word sterker en sterker totdat die tornado van totale duisternis weer toeslaan en uitwis wat voorkom…selfs ek myself…vir ‘n wyle,

Dan is dit weer opstaan en herbou…altyd vanuit die verlede en dit wat oorgebly het…nooit van nuut af met nuwe gedagtes nie – die vashou aan onthou is sterker as die wil en krag om voor te begin en nuwe gedagtes voort te bring.

My hart sal nooit aanvaar wat sy nie ken nie – my eens vernielde hart bly dood!

Verstaan jy die nood van stilte? Begryp jy dat ek nooit die pad van hierdie gedagtes-tornado kan peil nie? Ook nie die sterkte en graad van verwoesting nie?

Hierdie tornado van donkerte woed ongenaakbaar voort. Hierdie oorlog woed ongenaakbaar voort. Hierdie hart is lankal dood en die gees het steeds die siel verloën en sou hierdie liggaam waarin dit alles woon tot niet sou gaan – selfs dan sou hierdie oorlog nooit gewonne wees nie. Verstaan jy dat ek nou weet dat selfs die dood sou my nie kan bevry nie!

Sou ek vir ‘n oomblk my liggaam kon verlaat en na myself sou kyk – sou ek ‘n oomblik biddend stilstaan en vra; “Help haar” – maar my oorlog is nie verby nie – dit het nou net weer begin!

Op ‘n stille dag wanneer ek die son kan sien en die warm strale voel , die koelte van ‘n pragboom geniet…voel ek opreg skuldig dat ek soms dit alles met ondankbaarheid laat verby gaan en ek dus nie daarop mag aanspraak nie. Dat ek weer terugkeer na die lewensoorlog in my gemoed waar hartseer my son word. Trane die warmte van die strale en die geveg binne my gemoed die koelte waaronder ek kan rus!

Begryp jy wat jy hier lees?

Dit is my depressie,

Dit is my gewonde hart, siel en gees.

Dit is ook ek…my…en myself vir wie ek is en sal wees. Net soos in “Die maskers van die erns” deur NP van Wyk Louw, skryf hy en stel  opreg die vraag gestel in sy  die artikel “Filosofeer” en  ek haal aan…”Hierdie proses waarby on gees die verhoog is waarop idees hulle rolle kom speel en verdwyn…” en dan sê hy…:dink – streng dink en omvattend dink…”

Ek het streng en omvattend gedink… en weet nou Depressie is ‘n doodsvonnis vir die siel.

Dis al.

 

 

Profile photo of VozSola

by VozSola

As prentjies kon somme doen…

Augustus 27, 2014 in Uncategorized

is hierdie een se antwoord…?

Picture1

Profile photo of VozSola

by VozSola

Laagmenslikheid

Augustus 13, 2014 in Uncategorized

Ongelooflik hoe die mensdom in sy emosionele en intelektuele status as die koning op aarde, so uiters laagmenslik kan optree!

As daar wel sin in hierdie waansinnige lewe van ons is, is ons werklik te onintellegent om dit ooit raak te sien en te beleef. Indien alles in hierdie lewe wel rede het…is ons tè mens om dit te waardeer. Indien alles wat is, reeds was en niks regtig nuut is nie, is ons regtig te dom om te leer? Of lewe ons met ‘n afwesige sin van werklikheid…dat ons nou-net vergeet het wat ons sopas geleer het? Ervaar het? Geweet het? Selfs om te vergeet wie ons is?

Wysheid, insig en kennis is net mooi woorde op papier. Dis al.

Ons vergeet onmiddelik dat sulke dinge wel diep binne ons bestaan…want ons het vergeet om te onthou dat alles in werklikheid wel ‘n antwoord het…en dat alle vrae al lank reeds gevra is…en die antwoord reeds gegee is…

Met vastrap plek soek in die afdraende wêreld van spoed…het ons vergeet dat tyd soms kan stilstaan solank as jy wil hê dit moet… maar tyd kan nie gejaag word nie.

Maar tyd kan stilstaan…as jy wil onthou.

Is dit nie ironies dat “justice for one” glad nie meer “justice for all” is nie. Een se moord, nie meer dieselfde is as ‘n ander se dood nie? Hoekom is dit so? Want…

…lees maar weer my eerste sin…

Dis al.

En al dus.

Profile photo of VozSola

by VozSola

Waar is almal?

Julie 21, 2014 in Uncategorized

Kan skaars vir ‘n paar maande my rug draai en almal op Litnet Blogs is weg?

Waa’s julle?

Snik-snik….

Profile photo of VozSola

by VozSola

Die Skurweberg het een helse draai…

Julie 17, 2014 in Uncategorized

 

… ongeag of jy dit verwag of nie… jy staan ‘n tien uit tien kans om een of ander tyd nie daardie draai te maak nie…en ploeter jy en jouself julle in jul moer in… afgrond af… af… en dit kan jare duur voor iemand die onderdraai omry en opkyk om te sien waar jou siel ten gronde geloop het.

So loop almal die gevaar om ook om ‘n draai skielik van die pad te loop. Min gee om. Niemand stop meer om hulp aan te bied nie. Dit is te gevaarlik – want jy word emosioneel bloodgestel… en niemand het meer die krag en tyd en stamina om ander te help nie. Sulke soort van charity begins at home…and ends at home…sommige het moerse groot huise en neem hulle ‘n leeftyd en langer om hul-self te help. Om emosioneel alles te bemeester in hierdie oerwoud van ‘n fok-omgee…vir jou, en jou, en julle en sommer vir myself ook, aan ons bied.

Hoe doen ons dit? Hoe gee ons bloot nie om nie? Is dit moonlik? Is dit regtig moonlik om nie deur gebeure in onse wêreld geraak te word nie? Loop ons maar almal stroomop in ‘daai-nyl’ rivier? Wat het ons so absoluut gehard gemaak? Waar lê die crux van hierdie soort van afgestompte mentaliteit? Het ons ‘n fout in die najaag van ons eie evolusie gemaak? Het ons die skakel gemis? Het ons dalk inderdaad die werklikheid van die lewe gemis?

Nes Dr Frankl ook in die mees onwerklike omstandighede die werklikheid begin bevraagteken het…wonder ek of hy regtig by ‘n regte antwoord uitgekom het… Net soos Jonker ook in haar eie onwerklikheid eerder besluit het om haar werklikheid na te jaag…en diegene wat dit dalk kon verstaan en hoe om die totale onwerklikheid te kon aanvaar… is totaal onwerklik uit die lewe geneem…en dit het vir ons hul werklikheid geword. Dit is al wat hulle agtergelaat het.

Soms kom jaag gedagtes jou in jou drome, meestal sonder antwoorde… soms steek jy vas by ‘n sin wat jy êrens in ‘n boek raakgelees het, net soos ek vroeër die week gelees het… “There is nothing in this world smaller than a closed mind” Dit het my in my drome kom jaag… die rakke van my kreukelkamers deursoek en uitgegooi…net soos daai ou se brein in “The dreamcatcher” Is dit nie ironies dat dit gewoonlik die random dinge is wat die grootste impak op ‘n mens los nie?

Dit is om soos vroeër vanaand skielik die eerste krieke te hoor in maande? Dit gooi mens se gedagtes skeilik uit ritme… dit is koud buite..en die krieke sing… Wat het ek gemis? Is somer dan om die draai? Of is daar ‘n vreemde natuur verskynsel oppad? ‘n Ramp? Of het Meneer Gore se warm-maak-teorie dalk werklik ‘n mussie gekry? Of is die bloot die onwerklikheid van krieke se sang in die middel van winter wat te duidelik en te onverwags ‘n werklikheid geword het?

Dit is duidelik dat my waarheid en my werklikheid vir ander ‘n totale onverstaanbare onwerklikheid is, en steeds bevraagteken hulle my sanity binne my werklikheid. En ek staan hul nie teen nie…want hul ongeloof in my waarheid is vir my ook ‘n onwerklikheid wat soos kakiebos in my hart groei en oorgroei en verdruk…soos my gees en siel se waarheid vir hulle soos ‘n spook wandel deur die gange van hulle ongeloof…

Het Eugene ook nie juis die onwerklikheid van die siel van die mier in ‘n ander soort van werklikheid aan ons probeer verklaar nie…en toe sy siel self in morfien vir ons begrawe.

Het die geskiedenis van onse eie land se leiers ons nie deur die dekades hul onwerklike werklikheid op aan afgedwing nie? Doen ons se huidige leiers dit steeds nie? Nie net in SA nie, maar wêreldwyd! Of jy nou dink dit is daadwerklik die werk van geheime agente of dalk steeds net die ooms om die ronde tafel agter die skarlanken-ingebloeide gordyn soos elk hul hande afvee voor hul aan daardie tafel gaan sit…of dalk die oom my sy skarlaken oorpak…en ‘boots’ sodat hy nie sy tone teen die menige klein klippies kan stamp nie…

Wie weet? Wie sal regtig weet?

Is dit omdat dit so totaal onwerklik is dat iemand so belangrik op ‘n onwerklike brutale wyse moes sterf, om my waarheid ‘n vrye werklikheid te maak. Net soos joune?

And then another plane went down… en iemand anders het sopas daai draai gemis…. en ‘n  ander een het sy mind gesluit…

Groetnis

Sue

(Ja, daar is regte ‘n helse draai op daardie bergpas…die mooi pad tussen Machadodorp en Badplaas – die wat weet, slaak gewoonlik van verligting en kan nie help om na die onderdraai op te kyk en te sien watter ysterlyke daar begrawe lê nie)

Profile photo of VozSola

by VozSola

Moer-by-pot

Junie 20, 2014 in Uncategorized

 

Jy sê dis net jou eie spook wat hier in die hede loop, maar…

Hulle fluiter diè woorde agter jou rug, dis slegs nèt jy, jouse gedagtes-moord… Die pilleboks bepaal jou nood, letter-beloftes op vou-papier, die waarskuwing daarop word afgeskuur met elke oopmaak weer en weer.

Moeder fluister ‘ n woord van troos. Pappa dink homself voos. Sussie sluk net nòg een weg, sy’s nie lus vir ‘n bekgeveg.

Jou groot dors na iets word bitter droog. ‘n Helse hunkering na iets los jou ongeanker. Die hitte van binne brand verdomp so seer en verdwaalde druppels op jou wimpers, die spieël bestoom.

Kyk maar voort, kyk maar deur jou blinde oog, die siende een kyk meestal skeef. Luister, luister maar met jou dowe oor want die ander een wil niks meer hoor. Strompel, strompel maar die stofpad af al sit jou spore in die modder vas.

Sing jy ook breëbors saam – al het die woorde in die vacuum opgegaan? Bevryding bring benyding van wat bevryding vir ander bring. Dit laat jou gedagtes onvry.

Jy en jouself is nie wipplank bevriend en hierdie speelgrond wat jou so is verniel, so onverdiend.

Dat ‘n wasem-gedagte soos ‘n rots kan weeg en die tweede gedagte ‘n berg kan wegsteek en ‘n wasem-woord ‘n moord kan pleeg. As slaap eers jou wakker word, jou helder gedagtes, slaapwandel word. Bedrieg jy vinnig die langpad kort, met jou GPS is daar weinig skort, dis net jy en nog ‘n nuwe adres aan’t word.

Mettertyd word jy siende blind en hoor jy doof terwyl net jou eie wiel bly draai al het die speke lankal daai wiel verraai.

Miskien is hierdie net die brabbel van ‘n malle mens of dalk net uitbindig ‘n babbel van ‘n malle wens om dalk eendag ten volle soos ‘n mens te wens.

Dat ware woorde uit ‘n pen sal bloei en nie soos stof binne ‘n klip te stoei. Sand is sand en stof is stof…intussen sit jy binne ‘n hart wat bloei met ander se oë wat jou bietjie-bietjie gedagtes met hul sonskyn skroei. Hierdie gedagtes is unstoppable en die detour soms forcible. Dis alles so unbelievable!

Meestal skuldig bevind aan gedagtes-moord wat hierdie baster-siel ontbloot, om dit nou anders te bewoord maak hierdie insanity swaader as lood.

‘n Nuwe galaxy met ‘n opgefokte wentelbaan wat alles buite balans aan jou siel ophang. En skielik is jy alleen in daai donker gang waar gister se spoke jou maar weer kom vang. Elke keer is jy weer-weer bang.

Hoe leef jy dan as ander jou woorde deur ‘n sif opvang en elke tweede woord met niks vervang? Meng my oor, vrugbaar smooth, want hiedie woorde-cocktail lyk bra boos! Maak my woorde onvrugbaar nou, voor ek ‘n woordemonster baar, maar ‘n woord-aborsie laat die hart onwaar!

As is skynbaar verbrande hout maar die kruis wat ons dra is soms gemaak uit goud. Te duur om te bêre en te gevaarlik om weg te steek. Miskien word dit die monument van ons legacy.

Koester en kasty is ‘n tweeling van die hart. Soos liefde en haat aan die weegskaal hang – een met ‘n boetie van reg en ‘n sussie van verkeerd. Hierdie saak gaan die skaal verniel want dit dra ‘n vrag, onweegbaar swaar.

As swaartekrag net ‘n fraksie swig sal almal anders ook opdraande loop en die res teen die afdraande kruip. As die wind van voor en agter jou gelyk tot stilstand dwing, sal die hemel nou jou aarde word?

Die woord het mag en lê al sluimerend op wag, maar ‘n gedagte wat tref slaan jou waarheid morsdood. So word die dood alomteenwoordig in jou gedagtes-nood, soos ‘n hoeksteen gelê – slegs vir ‘n ander se daagse brood.

Soos ‘n hartelose kreet vanuit ‘n vlamlose brand is dit net dit – niks anders as niks. ‘n Vloek in ‘n vreemde-verdwaal-wêreld na trappe van donker en duister, lê jy veragtelik onselfstandig in die kamer van jou gemoed met mure van wit, gloelampe van swart. Sal jy dan met ‘n wit skadu jouself probeer vang? Of sal jou skadu binne in jouself verdwyn?

Die weemoed knaag en word ‘n lofgedig. Soos Simon sing, “Hallo Darkness” toe eers het Van Gogh se ster geblink, maar die kraaie…wel die kraaie, hul sit nog steeds.

Soms dink ek dat God toe-oog staar, met ‘n gesuis in Sy ore slaap. Dalk is ek slegs deurskynend sigbaar en bid ek net te hoorbaar sag – waar ek hier geduldig maar vlambaar wag…

Nog ‘n woord is dood. Hierdie pen se bloed word droog, gestol op ‘n bladsy uit pure nood. Die slikdam-lewe het nou-net nog ‘n droom ‘n vesteek!

© SueEè (June 2014)

Profile photo of VozSola

by VozSola

August 1990

April 21, 2014 in Uncategorized

Susann_Grobler

En hier kom ek vandag op my matriek rekord eksamen se Afrikaanse Essay inskrywing af. Ek het altyd die gewoonte gehad om ‘n rowwe draft te skrywe en dan ordenklik in lesende handskrif oor te skryf.

Hieronder het ek dit sommer getik vir die wat nie my oorspronklike kan lees nie.

Wie sou dink dat sulke woorde 24 jaar later, steeds in my are bruis…

ps. Hallo aan almal wat gedink het ek is verlore vir die blog-wêreld…ek is nie. Ek is steeds hier, soos Skadu’s teen die muur.

Susann Grobler                 Standard 10A                                     Augustus 1990

Essay:    Ek, die Mens

Ek is ‘n mens in volle reg, die reg om te bestaan, die reg om lief te hê, die reg om myself te wees.

As ek, die mens sou seerkry, dan laat dit ‘n letsel op my. Tyd genees, maar tog nie te volle.

My lewensverloop is soos die groei van ‘n boom. Van kleins af word ek gevoed met kosbare lewenswater – liefde. Namate ek groter geword het, is ek gesnoei deur harde lewensondervindinge – wat ook letsels nagelaat het. Hoe ouer ek geword het, begin op my eie voete staan – hoe minder van die liefde het ek gekry en nou was dit my beurt om liefde te gee. Dit wat ek ontvang het weer aan ander uit te deel.

Ek, die mens het die reg om gevoelens te openbaar, my emosies. Ek mag soms ongelukkig wees, ek mag vol vreugde en blydskap wees. Maar hoe dra mense emosies van een mens na ‘n ander oor? Hoe kan een mens ‘n ander gelukkig of ongelukkig maak sonder woorde?

Die mens is die mees komplekse wese op aander. Hy was van die begin af so geskape. Tog kan een mens nie ‘n ander te volle verstaan of ken nie.

Ek, die mens is uniek. Niemand kan hulle met my vereenseldig nie. Ek het dalk meer lewensletsels, meer ondervinding, meer hartseer, meer verdriet as die persoon naaste aan my.

Maar ek, die mens het nie die reg om ander van hul geluk te beroof nie. Alles wat hulle gelukkig maak. Ek het ook nie die reg om aan die Skepping te verander nie. Of dit nou aan die natuur of myself is. Ek mag nie, want die mens is ook ‘n belangrike wese in die skepping.

Alhoewel ons in ons uniekheid die gawe besit om te kan redeneer en verstaan, mag ons nie sommer doen wat ons wil om ons lewe meer leefbaar te maak nie. Dan oortree ons tog om ander wesens in die natuur se geluk weg te neem.

Verstaan, dat ek die mens, is ‘n wese in eie reg. Met gevoelens en verstand. Ek, die mens is ‘n unieke wese.

Profile photo of VozSola

by VozSola

Deep impressions into nothingness

Julie 29, 2013 in Uncategorized

Sou ek dalk vanaand of dalk môre onder die groot boom daan lê en finaal met my oë toe gaan slaap – Wie sou weet? Sou ek lank genoeg kan slaap dat die mos sy kombers oor my groei? Lank genoeg vir die somerson om my in die grond te brand? Lank genoeg sodat die volgende herfs my met haar geel, bruin en goue trane te bedek? Wie sou weet? Teen volgende winter sal niemand weet – Rondloop besoekers sal op my trap. Waar ek sou lê sal verdoemde en blinde mense steeds bly trap al is dit was ek was, nou net stof.

Wat sal die mense sê? Wat sou hulle dan sê? Sou hulle weet wie ek was? Sou hulle weet wie ek graag wou wees? Sou  hulle weet van die drome? Sou hulle weet wat verlore hoop is? Wie sou my regtig verstaan? Sou hulle verstaan van ongeregtigheid? Van selfsug? Van skuldgevoelens wat soos bloed deur jou are bruis?  Sou hulle verstaan wan die ewige soeke…soeke na dinge van jou eie self? Soeke na die antwoorde in jouself? Die soeke na jouself? Die soeke na die kind binne jou – wat jy êrens te midde van selfsug lank gelede self vermoor het? Sal hulle verstaan dat die skuld van skuldgevoel is die doods-engel binne jou? Sou hulle werklik dit alles verstaan? Of sal hulle hul rug weereens op my draai, sug en sê; “Ja-Nee”

Sou hulle my naam op ‘n bordjie grafeer en vir my “send in the clowns” speel, of sal iemand eerder “I’ve been this way before” speel? Of sal hulle bid en prewelend ‘Amazing Grace” neurie? En steeds niks verstaan?

Wie sal al my gedigte lees – hierdie keer vir die lees om te verstaan? Wie sal al die half-geskrewe gedagtes op stukkies papier en in die hoeke van blanko bladsye by mekaar sit om ‘n woorde skildery te maak? En steeds, wie sal my woorde ooit verstaan?

Sou hulle weet dat ek daagliks op die rand van ‘n diep donker gat loop – meestal loop ek maar in die gat rond, om en om en om en om – net soos die dooie gedagtes wat by my kom spook – oor en oor en oor en oor – net soos die najaag van ‘n droom wat slegs ‘n illusie was – net soos geluk ook maar net ‘n mirage is – ‘n oase van sand! Elke korrel ‘n stukkie verlore hoop. ‘n Stukkie seer. ‘n Stukkie van ‘n droom. ‘n Stukkie van my wese!

Sou hulle verstaan wat donker regrig is? Hierdie soort van donker wat jou lewe van binne vul? En as die donker begin uitsyfer van binne en jy in die gat van buite beland – Sou hulle verstaan wat hierdie soort van donker is? Sou hulle verstaan die harde baklei met jouself om weer by die lig uit te kom? Dan, weereens roep die mirage van hoop jou nader – net om weer sand te kry?

Sou hulle verstaan dat hierdie siklus onbeheerbaar is? Dat die tydsduur van elke siklus geheel onbepaald is – net soos wolke wat op ‘n sonnige dag ‘n skadu kom gooi – soms – soms word dit skielik donker, blou-swart en die hemel huil.

Sê my, wie sou dit tog werklik verstaan?

 As die stof eendag onder daardie boom gaan lê, sou dit steeds ‘n storie vertel? Sou selfs die stof weet wie ek was? Miskien sal stof verstaan – juisd omdat stof ook eendag sal vergaan…

Sou hulle ooit vertstaan hoe dit voel om te pyn van pyn? Om hartseer te wees oor hartseer? Om bang te wees uit vrees? Om bang te wees vir bang wees? Om in die donker vir die donker weg te kruip?

Sou hulle wee twat dit is om vir ander se geregtigheid te veg – vanuit jou eie ongeregtigheid? Om selfsug te kelder weens jou eie selfsugtigheid?

Sou hulle verstaan wat ‘n halwe mens is? Om net half te lewe want die ander helfde lê  al lankal onder daardie boom en wag!

Sou hulle ooit regtig weet wat hierdie donker monster aan jou doen? Hiedie monster wat jou naam dra!

Maar – niemand sou verstaan en niemand sou weet – en niemand sou vra nie en niemand sou bid nie. Want niemand sien die stof as die eers weg gevee is nie.

Meeste woorde lees meestal leeg. Hierdie woorde ook.

Die wat dit verstaan sal daar by boom – gans te laat – kom sing. Dalk ook aan “Vincent” dink en ‘starry starry night’ kom sing – gans te laat.

Die lewe gaan nie oor keuses nie. Soms is daar nie keuses  nie. – Nie voorafgaande nie – altyd eers daarna – ‘n keuse om ‘n keuse te maak vanuit die oogpunt van hindsight – en al keuse wat daar is – is skuldgevoel – soms nie eers vir jouself nice, maar ‘n skuldgevoel oor ‘n ander se skuldgevoel. Dis ‘n helse doolhof – eindelose paaie na innerlike hel. Daair is nie keuses nie. Elke pad lei na nêrens en jy stap daardie pad vir altyd. In hierdie doolhof van skuld is daar nie ‘n reg en verkeerd nie. Dit is net.

Jy word nie ‘n keuse gegee as jy verkrag word nie. Jy word net. Jy word nie ‘n keuse gegee om mishandel te word nie. Die keuse is nie joune nie. Net die skuldgevoel is – en die skuldgevoel van die oortreeder ook. Daar is geen balans nie. Net soos in hierdie donker gat. Daar is geen bo of onder nie – geen keuse van reg of verkeerd nie. Dit is net.

Soos verlore hoop – Dit is net.

Soos ‘n onvervulde hartsteer – Dit is net.

Soos ek – Is net.

Soos God – Wat IS.

‘n Keuse is om te lag as jy wil huil? ‘n Keuse is om te sing as jy wil skree? Vir ons is die keuses verdraai – soos om dood te lewe terwyl oms lewe?

Wie sou verstaan wat dit is om soms niks te voel nie… en dan weer te veel te voel? Wie sou weet hoe dit voel om elke wakker oomblik net te wil slaap – dae aaneen en selfs san steeds nie die wil het om op te staan nie? Om te lê en eerder te vrek van die dors, maar te moeg is om op te staan om water te drink?

Hoe verwoord mens die stryd as die swart wolk jou omvou? Die stryd om eenvoudige normale dinge te doen? Die stryd om hare te borsel, om jou gesig te was, om aan te trek, om kos te maak, om te eet? ‘n Stryd om normale denke te opper? Die stryd is weereens verlore as jy eerder net opkrul onder die kombers en slaap. Maar dan is die stryd nie gewonne, want dan kom die drogbeelde by jou spook! Bangmaak drome wat so werklik is dat dit fisies in en teen jou lyf kom lê – waar elke sintuig elke sensasie  van die droom herlewe. By nugter denke alles onverklaarbaar laat en jy vir die res van die tyd wonder wat dit alles beteken? Daardie drome beheer soms jou wakker-tyd. Drome wat bly spook. Drome wat aanhou droom om jouself nog verder in die gat ted wing – Drome wat jou begrawe!

Wie sou verstaa hoe onkeerbaar die kortstondige tye van bliss is? Die tye van groot inspirasie, tye van kreatiwiteit. Tye waar energie so hoog brand dat slaap nie meer belangrik is nie – net die taak wat voltooi moet word. Maar dan word dit alles oornag gesteel om weereens energieloos die niks in die gesig te staar. Die men swat weer met donker van binne gevul word. Oor en oor en oor en oor.

Dat kennis en logika nie hierdie denke kan verhoed nice – maar slegs toelaat dat juis jou eie kennis en sin vir logika jou net tot skuldgevoelens dryf want jy weet niks hier binne jouself is normaal nie. Nie jou lewe, drome of denke nie. Tog met al die kennis, insig en geloof – bly dit dieselfde. So asof hierdie donker gat ‘n soort van verslawing is. En jy steeds die getroue dienende slaaf vir die donker is! Bevryding kom soms aan die deur klop – maar die kuier is van korte duur. Want die ketting van selfsugtigheid is te kort en te sterk en skuldgevoel hou die deur dop. Geluk word summier by die deur weggewys.

Wie sou dit alles werklik kan verstaan?

Word mens so van kleintyd deur die lewe tot ‘n skewe mould gedruk? Of word ons slegs sommer so aan die donker kant geskape?

Dan vold die skewe insig van liefde en die dinge wat mooi is – gevolglik onverdiend maar met skuld. Niks kom onverdiend. Daar is altyd ‘n prys aan gekoppel. Liefde en geluk is onbekostigbaar te duur. Die prys te hoog. Die seer te veel. Die skuldgevoel oorheersend. Dit is my nie beskore nie. Soos altyd word elke bietjie geluk, deur hierdie donker monster ingesluk en tot niet verklaar…en dan word die seerkry kussing weer nat gehuil en die kombers word weer stywer teen die wêreld gedraai.

Sê my, wie sou dit verstaan?

Wie sou daar by die boom kom sit en met ‘n takkie in die stof teken en sê; ‘ek weet wie jy was?’

Wie sou weet dat elke skuldgevoel oor alles eintlik maar net woede en haat is wat deskundig en oordeelkundig deur skuldgevoelens verbloem word!

Wie sou verstaan hoe dit voel om werklik alleen te wees? Wie sou verstaan hoe groot die begeerte is om verstaan, vasgehou en gekoester toe word? Iets so simplistiek en normaal, wat geen deel van hierdie donker lewe is nie?

Wie sou verstaan hoe dit voel om onaantasbaar deur die lewe te gaan? Om onvervuld te wees? Om net half mens/vrou te wees? Om moreel nugter te wees, ter wille van…en ten spyte van…

Nou vra ek weer? Wie sou dit ooit alles weet of verstaan?

En so sal nog ‘n blaar na my graf val. Terwyl ‘n ander nog dartel in die wind.

Sou hulle ooit verstaan dat alles wat in die lewe gebeur het, alls net erger gemaak het. Dinge wat reeds verkeerd was. Two wrongs only made everything worse!

Sou hulle weet dat ek nie gemaak is om lief te mag hê nie? Om gelukkig te wees nie, want hierdie donker companion van my is selfsugitg en ongenaakbaar. Dat omstanfighede dalk net ‘n verskoning is vir die dinge wat in die donker groei – dinge wat my lewe geword het?

Weereens, niks in die lewe is onverdiend nice. Niks. Selfs geluk het ‘n prys. Liefde se prys is onbekostigbaar en vryheid se prys is jou eie sanity!

Maar daar is God. Sy genade. Dit is te groot vir my om werklik te begryp. Ons glo dit. Aanvaar die. Maar selfs dan is Sy genade werklik onbeskryflik groot! En dat vryheid binne Hom my ook met skuldgevoel en hartseer vul.

En dan bly ek vra; “Hoe liewe Here, hoe moet ek ten volle lewe as hierdie dinge binne my gedurig teen my stry – Wat is U wil met my?”

Daar waar ek onder die nat koue grond onder die boom lê, was dit ook U wil? – Nie ter wille van my nie, maar ter wille van ander?

Ter wille van ander wat nie kan verstaan wat dit is om lig na te jaad maar in die donker te lewe nie? “Het U Here God, ook nie die donker geskape nie?”

En dan, wat sou hulle sê: “Hier lê ‘n skadu-kind van God”

Want die donkerte het gewen?

Selfs die duiwel wandel nie in die donker nie, hy soek na die mense van die lig, nie diegene wat hulself reeds verdoem het nie!

Selfs na alles, weet ek dat niemand iets sou kom sê nie. Hulle sal verby loop, na die boom kyk en sug met ‘n ‘Ja-nee’

Want niemand sou ooit kan verstaan wat die donker aan jou doen nice. Nie eers die mag van die donker self nice.

Ek wil net onder daardie groot boom gaan lê.

Kan JY dit verstaan?

Wat my die seerste maak. Die bangste maak is dat hierdie twee-stryd altyd gelykop eindig. Die kennis, insigte en wysheid wat ek in my nugtere denke tot my beskikking het, net so waardevol is – teenoor die kennis, insig en wysheid wat ek aangaande die donker het.

Hierdie donker dra vele name, comes in all shapes and forms;

Illusies, drome, kreatiwiteit, oordrewe gevoelens, geen gevoel, passief, negatief, onbeheersd, selfsug, haat, woede, afwykbaar, onverstaanbaar, onlogies, siek, dood…

Depressie – die rollercoaster van versugting,

Wat sou hulle kom sê?

Niks, absoluut niks. Die algehele totaliteit van niks.

“She only left a deep impression into nothingness”

 

Diep                                                                       Deep

Eindelose                                                            Eternal

Pynvolle                                                               Pain

Realiteit                                                               Reality

Eggo                                                                      Echo’s

Stille                                                                      Silent

Stomheid                                                            Songs

Innig                                                                      Into

Eg                                                                           One’s

                                                                                Nothingness

Profile photo of VozSola

by VozSola

amper…

Julie 8, 2013 in Uncategorized

amper…amper…amper daar waar ek mens woed