Jy blaai in die argief vir 2015 Mei.

Profile photo of VozSola

by VozSola

Drie-dimensionele onvrugbaarheid

Mei 19, 2015 in Uncategorized

Hoe is dit dus moontlik vir my siel om my gees te verorber?

Soos my siel die bogrond van my lewe bewerk, staan my gees op wag…wagtend vir daardie oomblik van twyfel, wagtend vir daardie oomblik van verwagting, daardie oomblik van die besef van die onvrugbaarheid, daardie oomblik van moedeloosheid omdat ondanks alles, niks in hierdie siel sal groei nie! Dit is dan wanneer my siel vir die hart en gees sal lieg!

Hoe is dit dan moontlik om die lewe dag na dag te bewerk, te verwerk en te belewe in die absoluut vryheid van gemoed as ek, my en myself as drie-eenheid nie die lewe dieselfde ervaar nie? As my hart, siel en gees in konstante konflik is oor hoe en wat die lewe werklik is!

Hoe is dit dus moontlik om in totaal volmaak drie-dimensioneel te lewe sonder om die algehele prentjie te verniel en uitmekaar te skeur? Om daadwerklik die opbrengs vanuit vrugbaarheid van elk voort te bring vir die wêreld om te geniet? Om in harmonie met myself ten volle te lewe sodat ander my as normaal te mag ervaar?

Nee, hierdie stryd is ‘n oorlog in my kop, in my hart en binne my gemoed waarmee ek gebore is en my lewe lank voor veg – meestal sneuwel die hart eerste… Die hart verdrink in die moeras van ervaringe in die stryd om liefde uit haar vrugbare grond voort te bring. Te veel liefde gee sonder om water en versorging te ontvang – maak my met die tyd sieker en sieker en my liefde word die einste gif wat my versmoor.

Die eie ek en die ek wie ek wil wees en wie ek moet wees verdring mekaar om spasie en erkening en om te weer die lig te sien. Net sodra een die lig sien, dwing die ander sy swart wortels dieper en dieper dat ek nie meer weet wie ek is nie. My wortels word gevoed deur die swart are van wie ek moet wees…en my siel verarm, ondervoed deur my eie wortel sisteem – oorgeneem deur die parasiet van moet wees en nie wil wees nie!

Dit is dan wanneer die gees sy eie deuntjie neurie – “wees net…wees net…wees net wie jy is!”

Ek skree en skree maar dit is net ‘n gefluister in my gemoed…”ek kan nie…ek kan nie…ek kan nie – want ek weet nie wie ek is nie!”

Vertel my dan wie ek is!

Alles wat bevryding bied laat my vryloos gebonde aan dit wat so deel van die eie ek geword het. Dit is al wat ek ken en wie ek is! Soveel so, dat selfs die vryheid self my gebonde hou teen dit wat vir altyd vryloos in my siel is en my gees kelder – My hart is lankal dood en haar stof verblind die weg!

Hoe ongenaakbaar wreed dan hierdie drie-dimensionele onvrugbaarheid wat die sielswater brak maak en die grond dom?

Saad skiet net om te verwelk en die fluisterstem roep my naam! Kreatiwiteit blom net om nog ‘n droeë rangskikking in ‘n hoek te word. Om vir ‘n oomblik te lag tot die trane loop en loop en loop om weer met die alombekende innerlike hartseer te versoen – soos altyd.

Om vir ‘n oombkik in die son te staan – om net weer deur verduistering met die alomteenwoordige donker te dans – ‘n wals teen die muur van tyd!

Hoe vertel mens dit alles, dat selfs jou stomheid die lewe -wat kan hoor met tydelike doofheid slaan en jou skreeuende hulp krete ‘n klankdigte gehoor tref – en mense net terugstaar deur die eenrigting glas?

Hoe vertel ek dat hierdie oorlog nooit ‘n vredeslied sal opper nie?

Die wreedheid en moorde is alomheersend en dit is slegs in my kop – die soldate elk ‘n stukkie van myself. Dit is ‘n oorlog wat niemand ken nie, diegene naaste aan my weet nie watter stryd ek voer nie. Diegene wat dink hulle verstaan verwag enige oomblik ‘n triomflike oorwinning. Dit sou beteken ek moet verloor om te oorwin, en te wen om te verloor. Dit is ‘n oorlog wat lewe, dood, lewe – keer op keer, en dit is net ek met myself. Tussendeur skree die stemme my naam – maar ek weet nie of die, die wen of verloor ondersteun nie!

Begryp jy dan nie?

Verstaan jy dan nie dat hierdie oorlog nie beheer word deur daaglikse gebeure in my lewe nie? Die lewe beinvloed nie die oorlog nie. Want hoe versmoor jy dit wat reeds dood is?

Ek kan biddend uitroep na God – Jy mag dalk vra waar God is – Hy is daar. Hy het my vryheid in keuses gegee. Hoe dan – hoekom God gee U my dan nie ‘n goeie en swakker keuse in my lewe nie?

Hoekom word ek met blindheid geslaan as ek net die oorlog binne myself kan sien, omring deur swak keuses? Selfs sou ‘n beter keuse voor my staan – ek siende-blind staar en dit nie aanraak  nie – want dit is onbekend en die waagstuk te groot want ek ken nie hierdie keuse nie.

Dit is ‘n mynveld van wrede lewensbomme wat my omring. Elke bom is gevaarlik al is hulle almal reeds deur God onskadelik vir my gestel.

Hierdie onwerklikhede is vir my elkeen ‘n werklikheid wat uitgeleef word. Begryp jy dan nie my onwerklike werklikheid nie?

Ek loop gepanser deur die dag – niemand sien my kaal-naaktheid raak nie!

Daar woed ‘n woorde en gedagtes-oorlog in my kop. Die monsters en donker-mense loop deur my drome. Ek smeek om hulp – veg teen hulle gees, veg om net nog ‘n dag te sien.

Die dag kom wel – dag na dag, maar die donkerte in my gemoed sien nooit meer die lig nie…

As die donker droom mense my slaap terug gee – kom hulle altyd môre weer terug.

Die donker dinge in my verlede laat my nie met rus  nie, ondanks die vergifenis – Die hoekom, waarom en wat is en wat as…gedagtes word sterker en sterker totdat die tornado van totale duisternis weer toeslaan en uitwis wat voorkom…selfs ek myself…vir ‘n wyle,

Dan is dit weer opstaan en herbou…altyd vanuit die verlede en dit wat oorgebly het…nooit van nuut af met nuwe gedagtes nie – die vashou aan onthou is sterker as die wil en krag om voor te begin en nuwe gedagtes voort te bring.

My hart sal nooit aanvaar wat sy nie ken nie – my eens vernielde hart bly dood!

Verstaan jy die nood van stilte? Begryp jy dat ek nooit die pad van hierdie gedagtes-tornado kan peil nie? Ook nie die sterkte en graad van verwoesting nie?

Hierdie tornado van donkerte woed ongenaakbaar voort. Hierdie oorlog woed ongenaakbaar voort. Hierdie hart is lankal dood en die gees het steeds die siel verloën en sou hierdie liggaam waarin dit alles woon tot niet sou gaan – selfs dan sou hierdie oorlog nooit gewonne wees nie. Verstaan jy dat ek nou weet dat selfs die dood sou my nie kan bevry nie!

Sou ek vir ‘n oomblk my liggaam kon verlaat en na myself sou kyk – sou ek ‘n oomblik biddend stilstaan en vra; “Help haar” – maar my oorlog is nie verby nie – dit het nou net weer begin!

Op ‘n stille dag wanneer ek die son kan sien en die warm strale voel , die koelte van ‘n pragboom geniet…voel ek opreg skuldig dat ek soms dit alles met ondankbaarheid laat verby gaan en ek dus nie daarop mag aanspraak nie. Dat ek weer terugkeer na die lewensoorlog in my gemoed waar hartseer my son word. Trane die warmte van die strale en die geveg binne my gemoed die koelte waaronder ek kan rus!

Begryp jy wat jy hier lees?

Dit is my depressie,

Dit is my gewonde hart, siel en gees.

Dit is ook ek…my…en myself vir wie ek is en sal wees. Net soos in “Die maskers van die erns” deur NP van Wyk Louw, skryf hy en stel  opreg die vraag gestel in sy  die artikel “Filosofeer” en  ek haal aan…”Hierdie proses waarby on gees die verhoog is waarop idees hulle rolle kom speel en verdwyn…” en dan sê hy…:dink – streng dink en omvattend dink…”

Ek het streng en omvattend gedink… en weet nou Depressie is ‘n doodsvonnis vir die siel.

Dis al.