Profile photo of VozSola

by

Moer-by-pot

Junie 20, 2014 in Uncategorized

 

Jy sê dis net jou eie spook wat hier in die hede loop, maar…

Hulle fluiter diè woorde agter jou rug, dis slegs nèt jy, jouse gedagtes-moord… Die pilleboks bepaal jou nood, letter-beloftes op vou-papier, die waarskuwing daarop word afgeskuur met elke oopmaak weer en weer.

Moeder fluister ‘ n woord van troos. Pappa dink homself voos. Sussie sluk net nòg een weg, sy’s nie lus vir ‘n bekgeveg.

Jou groot dors na iets word bitter droog. ‘n Helse hunkering na iets los jou ongeanker. Die hitte van binne brand verdomp so seer en verdwaalde druppels op jou wimpers, die spieël bestoom.

Kyk maar voort, kyk maar deur jou blinde oog, die siende een kyk meestal skeef. Luister, luister maar met jou dowe oor want die ander een wil niks meer hoor. Strompel, strompel maar die stofpad af al sit jou spore in die modder vas.

Sing jy ook breëbors saam – al het die woorde in die vacuum opgegaan? Bevryding bring benyding van wat bevryding vir ander bring. Dit laat jou gedagtes onvry.

Jy en jouself is nie wipplank bevriend en hierdie speelgrond wat jou so is verniel, so onverdiend.

Dat ‘n wasem-gedagte soos ‘n rots kan weeg en die tweede gedagte ‘n berg kan wegsteek en ‘n wasem-woord ‘n moord kan pleeg. As slaap eers jou wakker word, jou helder gedagtes, slaapwandel word. Bedrieg jy vinnig die langpad kort, met jou GPS is daar weinig skort, dis net jy en nog ‘n nuwe adres aan’t word.

Mettertyd word jy siende blind en hoor jy doof terwyl net jou eie wiel bly draai al het die speke lankal daai wiel verraai.

Miskien is hierdie net die brabbel van ‘n malle mens of dalk net uitbindig ‘n babbel van ‘n malle wens om dalk eendag ten volle soos ‘n mens te wens.

Dat ware woorde uit ‘n pen sal bloei en nie soos stof binne ‘n klip te stoei. Sand is sand en stof is stof…intussen sit jy binne ‘n hart wat bloei met ander se oë wat jou bietjie-bietjie gedagtes met hul sonskyn skroei. Hierdie gedagtes is unstoppable en die detour soms forcible. Dis alles so unbelievable!

Meestal skuldig bevind aan gedagtes-moord wat hierdie baster-siel ontbloot, om dit nou anders te bewoord maak hierdie insanity swaader as lood.

‘n Nuwe galaxy met ‘n opgefokte wentelbaan wat alles buite balans aan jou siel ophang. En skielik is jy alleen in daai donker gang waar gister se spoke jou maar weer kom vang. Elke keer is jy weer-weer bang.

Hoe leef jy dan as ander jou woorde deur ‘n sif opvang en elke tweede woord met niks vervang? Meng my oor, vrugbaar smooth, want hiedie woorde-cocktail lyk bra boos! Maak my woorde onvrugbaar nou, voor ek ‘n woordemonster baar, maar ‘n woord-aborsie laat die hart onwaar!

As is skynbaar verbrande hout maar die kruis wat ons dra is soms gemaak uit goud. Te duur om te bêre en te gevaarlik om weg te steek. Miskien word dit die monument van ons legacy.

Koester en kasty is ‘n tweeling van die hart. Soos liefde en haat aan die weegskaal hang – een met ‘n boetie van reg en ‘n sussie van verkeerd. Hierdie saak gaan die skaal verniel want dit dra ‘n vrag, onweegbaar swaar.

As swaartekrag net ‘n fraksie swig sal almal anders ook opdraande loop en die res teen die afdraande kruip. As die wind van voor en agter jou gelyk tot stilstand dwing, sal die hemel nou jou aarde word?

Die woord het mag en lê al sluimerend op wag, maar ‘n gedagte wat tref slaan jou waarheid morsdood. So word die dood alomteenwoordig in jou gedagtes-nood, soos ‘n hoeksteen gelê – slegs vir ‘n ander se daagse brood.

Soos ‘n hartelose kreet vanuit ‘n vlamlose brand is dit net dit – niks anders as niks. ‘n Vloek in ‘n vreemde-verdwaal-wêreld na trappe van donker en duister, lê jy veragtelik onselfstandig in die kamer van jou gemoed met mure van wit, gloelampe van swart. Sal jy dan met ‘n wit skadu jouself probeer vang? Of sal jou skadu binne in jouself verdwyn?

Die weemoed knaag en word ‘n lofgedig. Soos Simon sing, “Hallo Darkness” toe eers het Van Gogh se ster geblink, maar die kraaie…wel die kraaie, hul sit nog steeds.

Soms dink ek dat God toe-oog staar, met ‘n gesuis in Sy ore slaap. Dalk is ek slegs deurskynend sigbaar en bid ek net te hoorbaar sag – waar ek hier geduldig maar vlambaar wag…

Nog ‘n woord is dood. Hierdie pen se bloed word droog, gestol op ‘n bladsy uit pure nood. Die slikdam-lewe het nou-net nog ‘n droom ‘n vesteek!

© SueEè (June 2014)

4 antwoorde op Moer-by-pot

  1. tina10 het gesê op Junie 21, 2014

    Ontstellend … wat van HOOP?

    Lekker om jou te sien

  2. @onbeperk
    Wat ‘n lekker pot! Dankie.
    Netjies gesê:
    “Koester en kasty is ‘n tweeling van die hart. Soos liefde en haat aan die weegskaal hang – een met ‘n boetie van reg en ‘n sussie van verkeerd. Hierdie saak gaan die skaal verniel want dit dra ‘n vrag, onweegbaar swaar”.
    Groete

  3. Eina,jy verwoord jou smart op ‘n besonderse manier.Sterkte!

  4. vega het gesê op Junie 22, 2014

    Sjoe. Ek was so bly om te sien jy blog weer. Aangrypend. As jy so kan skryf kan jy ook by die lig aan die einde van die tonnel kom. Sterkte

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.