Jy blaai in die argief vir 2013 April.

Profile photo of VozSola

by VozSola

Ekke dink….

April 22, 2013 in Uncategorized

…ekke moet weer meer kom inloer soos voorheen….

Ek mis dit om net te griffel. Ek het baie baie maande laas geskrywe soos ek voorheen gedoen het. Nodeloos om te sê, die donkerman het my mos gevange gehou… en sy kettings strek steeds nie ver genoeg vir oor die muur klim nie.

Maar ek mis skryf. Dit was maar nog altyd die enigste manier wat ek ken om te kommunikeer, veral by die ongesegte dinge… Ek glo niks is so waar en eg en opreg soos die unspoken word nie. Dws. Wat ek skryf sal ek nooit hardop uiter nie…

Ekke het vandag my tweede werk in 23 jaar begin. Jaaaaaaa. Ek het na 23 jaar by my eerste werk bedank. En het vandag ‘n nuwe deeltjie van my lewe begin. “n Nuwe werk. Dieselfde industry – Hotelwese…maar anders. Dit is lekker om so ‘n verandering te maak. Ek sou nooit gedink het ek sou dit ooit kan doen nie. Ek is ‘n hardcore taurus en verandering kom selde en word selde aanvaar. Maar hierdie keer het dit so vinnig gebeur. Letterlik binne 24 uur het daardie opsig en deeltjie van my lewe verander. Tot dusver ten goede. Uiteindelik…

Ander dinge is ook besig om te verander…maar later hieroor.

Groetnis vir eers tot ek weer woorde kan vind.

dis al.

Profile photo of VozSola

by VozSola

Die donkerman het ‘n naam gekry…

April 20, 2013 in Uncategorized

*DEPRESSIE”

 

Ek weet nie presies wanneer dit gebeur het nie. Ek weet ook nie presies hoe dit gebeur het nie. Ek weet ook nie presies hoekom dit gebeur het  nie. Maar dit het.

 

Hoe meer ek terug kyk, hoe minder verstaan ek dit met my verstand…maar ek weet my hart verstaan dit…dit wat ek nie kan verduidelik nie.

 

Dalk was my hele lewe tot dusver tot voorbereiding vir dit wat nog voorlê? Nog seerkry, nog hartseer? Of dalk geluk wat net soveel meer waardeer sal word?

 

My lewe is twee keer in ses maande tot stilstand geruk. Ek het hard geval die eerste keer, nog harder teen die grond die tweede keer…Die tweede keer was ‘n diep donker gat met serpe te lank en bome te kort…en drome van galgtoue en koue liefde wat baie seer maak…diep, baie diep binne my. ‘n Swart spieël volg self-drogbeelde.

 

En dan…I don’t have to lie no more… I don’t have to hide no more…I don’t have to be silent no more…and I don’t have to pretend no more… Broken is what I am. My knieë eeldte soos ek vir 40 jaar deur die lewe gekruip het, en hande nerfaf soos ek gegryp het na enige iets om aan vas te hou…en dit keer op keer uit my hande gly…en dit waarna ek die meeste gegryp het, was hoop…maar dit was net ‘n mirage op die horison van valse geluk.

 

Hierdie ‘ding’ het elke dag aan‘n ander naam in my gedagtes geboorte gegee. Ek moes dit grootmaak, koester, liefhê en respekteer. Geduld, seer, haat, eina, skuld, skuldgevoel, selfhaat en vele vele ander…elkeen het grootgemaak en leer liefkry as deel van myself. Dit het deel geword van my…dit het EK geword.

 

Ek het die donker gat self geword. Ek het die serp geword. Ek het die boom geword. Ek is die galgtou vir myself…en is koue liefde en skielik het ek besef, ek is ook die warm haat wat ek ontken het,,,Onkenning vervreem jou van realiteit…maar dit neem dit nie weg nie…nooit nie, dit verdraai net jou insig en uitsig…maar realiteit sal steeds daar wees.

 

As kind het ek ontken. As tiener het ek ontken. As grootmens het ek ontken…en vandag as volwassene moes ek erken.Die afgelope jaar moes ek baie baie dinge erken.Ek moes leer om myself te verken en te erken en aanvaar. Het ek dit suksesvol reggekry? Nee. Myself vergewe? Nee.Het ek alles verstaan? Nee.

 

Ek het my hart uit die lewe ontneem, sodat sy nie verder moes seerkry nie. Ek het slegs met ‘n halwe oor en ‘n stil stem deur die lewe gegaan. Ek het myself so bekerm dat ek my van enige klein geluk ontneem het, want ek verdien dit nie…en het meer as skuldig gevoel dat ek soms nog spontaan kon glimlag terwyl ek skuldig voel oor my saak en ek het selfs woede en haat weggehou…so ook die krane van hartseer toegedraai. Want ek is nie geregtig op die skoon was sout water wat die hart kan genees nie. My beste vriend was vrees en ek het gemaklik gevoel in sy geselskap. Vrees vir wat was en vrees vir wat is, en konstante vrees vir dit wat nog sal wees…en dit was altyd dieselfde…vrees.

 

Ek het geskrik toe ek emosioneel in ‘n hoek gedruk was en moes praat oor die dinge wat my stom gelaat het…ek het geskrik vir my eie stem. Ek het geskrik vir dit wat my hart wou sê. Ek het geskrik vir die klop van my eie hart! Sy het so hard en dringend geklop en ek was nog meer in vrees gedompel. Ek was bang vir myself!

 

Ek was bang vir hierdie kind binne my. Ek is steeds. Ek moes myself toelaat om haar te sien. Ek moes myself toelaat om nader aan haar te kom. Ek moes voor haar staan en ‘hallo’ sê. Maar ek is steeds stom gelaat. Ek het probeer…en probeer…en probeer…maar ek dink nie ek is goed genoeg vir haar nie. Ek is haar nie waardig nie. Ek verdien nice haar brose en ongeskonde siel nie.

 

Ek kan nie verander wat met my gebeur het nie. Ek kan nie my kinderjare beter en onskuldig maak vir diegene wat dit bevlek het nie…ek kan nie my grootmens lewe oorhê en verander sodat ek ongeskonde van daardie donnker dinge wat ‘n eentonige konstant in my lewe geword het nie. Dit wat ek nie wou erken nie. Dit wat so seergemaak het, dat dit so normaal gevoel het nie. Ek het blind gestaar teen die kanker wat ek bly voed het deur my stilte en onaanvaarbare aanvaarding van alles wat abnormaal normaal was.

 

Ek het ‘n hartkloppende dooie geword. Ek het gedink dit is normaal, want ek ken niks anders as dit nie. Hoe sou ek dan weet dit is nie reg nie? As ek nog net altyd ‘reg’ gesien het, hoe sal ek dan weet wat ‘verkeed’ is? As ek nog net altyd die trappe van donker en donkerste geken het, hoe sal ek dan weet wat lig is?

 

Net soos ek gedink het geloof, hoop en liefde is presies dieselfde ding met ander name…net soos ek geleer het, liefde is seerkry, geloof ‘n negotiation skill en hoop ‘n valse woord…

 

Ek het myself nog altyd ervaar as Chirsten. En as Chirsten mag jy nie kla nie. Jy moet verdra en dankie sê, veral in tye van seerkry…en gebede was klaagliedere vol hoekom’s, waarom’s en onderhandelinge vir die dag wat dit gaan ophou.

 

Ek was trots omdat ek dit alles kon verduur. Ek was so trots op my ewige geduld en my deursettings vermoeë, ondanks my eie ondergang. Ek was trots omdat ek niemand vertel het wat alles binne my aan die omloop is nie. Trots omdat ek myself en my denke met niemand gedeel het nie, want daarmee sou verwerping kom. Sou vrese ‘n werklikheid word en ek sou in skaamte wegkwyn in die moeras van skuld en haat en woede en trane…en die groot waarheid dat ek ‘n totale mislukking is, in alles wat ek tot dusver in my lewe gedoen en gedink het…Alles wat ek is…is eintlik niks. Dit alles is nie eers ‘n gedagte werd nie.

 

Meeste gedagtes het ek so diep wegggebêre dat elke dag wergkruipertjie met myself moes speel, om dit weggesteek te hou…Net soos ek elke ander dag met ondervindings  moes doen…steek dinge vir myself weg…so goed dat ek dit nie moes kry nie.

 

Tot eendag…en vir talle dae in gesprekke daarna. Skielik het die wegsteek goed name gekry…Name wat soms uit skok soms seerder gemaak het, as hoe ek dit ervaar het, of onthou het…en ek moes al daai wegsteek goed gaan soek het, uitgooi en daarna kyk en erken dat dit deel is van wie ek is, maar moes leer dat dit nie MY maak nie, maar slegs deeltjies van my is. Ek moes die MY in myself vind. Ek het…maar ek hou steeds nie van die MY wat ek gesien het nie. Ek is kwaad vir die MY. Kwaad omdat ek toegelaat het dat dinge met MY gebeur. Kwaad omdat ek nie vir Myself baklei het nie. Kwaad omdat ek kwaad is vir Myself.

 

Omdat die dinge binne MY  name gegee is. Depressie, mishandeling, verkragting…dinge wat ek nie so ervaar het nie, omdat die dinge in soveel konstante gebeurtenisse gebeur het, dat ek nooit besef het dat elke ondervinding deel vorm van een van die dinge nie…want dit was maar net dinge wat gebeur soos dit moes gebeur…dit was die lewe…en dit was my weggsteek goed…

 

My kas van maskers het so vol geraak dat ek soms drie of vier maskers in ‘n dag moes saamdra, net om ‘normaal’ deur die dag te kom, sonder om onraad te wek en ander mense se aandag op my vestig…want ek het gedink dit is wat almal doen.

 

Hierdie is ‘n lang pad. ‘n Moeilike een as jy eers besef dinge het name en daardie name beteken jy is op verkeerde pad. Het in die verkeerde lyn gestaan toe die ‘wonderlike’ lewe aan almal uitgedeel is…en nooit besef het dat jy die wonder gemis het nie. Hierdie pad is gitswart donker by tye..meeste van die tye en jy leer om maar kol-kol voort te gaan waar die lig ookal vir ‘n wyle op die pad mag val, maar nooit genoeg lig, om die hele pad te verlig sodat jy presies kan sien waar jy gaan loop nie…Jy sien niks voorentoe nie. Jy sien niks agter jou nie…en nog minder waar jy tans loop.

 

Jy verstik aan hierdie donker soos jy dit inasem…en dit as skuldgevoel aan jou binneste kom kleef…want jy glo jy verdien elke asemteug van selfverdriet want dit is JY wat op hierdie donker pad wandel – niemand anders nie…Dit is JOU skuld.

 

Hierdie donker kom kleef soos gom aan jou siel…dit kruip soms deur jou siel en kom as donker bang maak drome wat jou vir dae en nagte daarna laat wakker lê, te bang om te slaap, te bang om te dink, te bang om te voel…tot jy dae later van blote uitputting aan die slaap raak…en vir ‘n paar uur ‘n dankbare ontvlugting kry, uit blote moegheid…en dan kom kruip die donker weer…

 

Soms kom skyn die son…maar dan lieg dit ook vir jou…want na so dag is jy seergebrand…en kruip maar weer terug na die koue donker…dankbaar dat jy weer in die valse veiligheid van jou donker-vriend se arms kan lê, steeds gevoed deur vrees…vrees vir die brandende gevoel wat lig op jou gelaat het…

 

Jy word beroof van jou ‘sinne’ – letterlik. Jy word beroof van JOUself…en die helse versekering se uitbetaling is om juis die donker met donker te vervang…

 

Ek het sukkel nog om hierdie pad te verlaat, maar ek sien die ander pad…en die mense wat met glimlagte verby loop…en ek kry seer…so seer…want al kan ek dit sien, kan ek dit nog nie bereik nie…want ek het nog nie hierdie pad verlaat nie…maar is tans besig om onnodige bagasie en swaar tasse agter te laat…sodat ek vinniger kan loop…al loop ek steeds in die donker.

 

Hierdie dinge is nie maklik nie…en die moelikste les tot dusver…dit is nie MY skuld nie…en soms wil ek dit so graag glo…..soms laat ek Myself nie toe om dit te glo nie…want dit klink so bitter onregverdig om myself te veronskuldig…want EK het al hierdie dinge toegelaat…ingelaat…

 

Maar die genade wat ek tans ontvang is ongevraagd en onverdiend en ek weet nie hoe om dankie te sê en dit te aanvaar sonder die omklemde hand van my vriend Vrees nie…want Vrees glo, as dit so goed en onverdiend is…sal dit weer weggeneem word…

 

Ek is amper genoodsaak op Vrees te glo…want dit is al wat ek ken…Selfs Ek is van Myself weggeneem…en ek soek nog steeds…

Miskien eendag as Vrees weggaan, sal Genade my toelaat om weer Myself te vind.

 

Tot dan…loop ek bietjie ligter sonder te veel bagasie steeds deur die donker oppad na die lig…êrens, eendag… miskien dalk môre? Is dit wat hoop beteken?

Miskien dalk môre sal ek myself vind en omhels…Is dit wat liefde beteken?

Miskien dalk môre sal ek weet dat alles sal uitwerk…Is dit wat geloof beteken?