Profile photo of VozSola

by

Skoene – sonder die voete…

Mei 24, 2010 in Sonder kategorie

Ek het al my storie hier vertel…

Ek mag dit seker maar weer vertel…

16 jaar oud! Skoolvakansie by Ouma en Oupa op Hartswater. Dit is hier waar ek my groot geskenk gekry het. My Liewe Jesus-sandale!

 

Verlede maand was dit hierdie sandale se mondigwording. 21 jaar oud! ‘n Leeftyd van ondervindinge en ervarings. ‘n Kwart-lewe deurgeloop tussen jeug, grootword tot halfpad volwaardig mens word.

 

Nie net is alles sigbaar onder die sool ingetrap nie, maar die lewe bo die sool is deurgetrap. ‘n Voetsool ingeëts. Dit is tasbaar. Dit is tasbaar kosbaar. Dit is tasbaar gemaklik, soos diep binne jou eie vel, is hierdie sandale, tasbaar die eie ek. My tweede sool van die lewensloop.

 

As hierdie sandale kon praat, sou ek lang wintersnagte in kort oomblikke van herinneringe verander. Van simpel tienergeluk en stout wees tot verby die verlore grootmensdrome. Van vakansies, kampe en romanse tot by die koue hartseernagte van eensaamheid. Van honeymoon in die Kaap tot die hiking in die Oos-Transvaal tot by die seëninge jare later toe hierdie einste sandale die enigste skoene was wat perfek aan preggy-geswelde voete gepas het …

 

Kyk, dit is verseker nie fancy nie. Nee, nie eens mooi nie! Dit het geen bekende naam nie, dit kom verseker nie uit Italië nie, maar glo my, dit is opregte ontwerpersskoene! Individueel soolgesny volgens my destydse 16-jarige voetgrootte. Handgemaak deur iemand met ‘n hart en siel – met liefde aan my gegee.

 

Die tweede grootste seëning (blessing in disguise, eerder) wat ek saam met hierdie sandale ontvang het, is dat my voete daarna nooit weer een millimeter verder gegroei het nie, met ontvangs is ‘n permanente skoengrootte dus vasgevang in my jeug! Die grootste geskenk en seën was dat Jesus so saam-saam met hierdie sandale gekom het!

 

Ja, ja, ek dra hulle steeds, elke naweek en die hele somer deur.

 

Ek het hulle Saterdag ook aangehad!

 

 

5 antwoorde op Skoene – sonder die voete…

  1. MarianaF het gesê op Mei 24, 2010

    Lekker skoene is ‘n vreugde. Jy het dit mooi geskryf

  2. VozSola het gesê op Mei 24, 2010

    Jip!!!
    😉

  3. VozSola het gesê op Mei 24, 2010

    Haai dankie!

  4. VozSola het gesê op Mei 24, 2010

    Dit is die lekkerste skoene!
    …en dankie!

  5. wynvdm het gesê op Mei 24, 2010

    Lekkerleespos!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.