Profile photo of VozSola

by

Ag Here, help tog asseblief!

Mei 13, 2010 in Sonder kategorie

Ek het geklim en geklim en geklim.

Ek het ver geloop tot waar ek vandag is. Here, hier waar ek vanaand by die eerste base-camp afpak…is ek so bitter moeg. Ek kry koud. My asem is dun. My bors pyn. My hart is seer. Trane is fyn-fyn poeier-ys teen my wang. Ek het dit nie eers besef ek het gehuil nie.

Op die langpad hierheen het ek dikwels om my gekyk en die mooi raakgesien, die sonsondergang met respek in totale stilte waardeer.  Die glinster van elke ster tot ek van blote moegheid aan die slaap raak. Ek het die sagte aanraaking van die volmaan se wye lig oor die landskap gevoel en gesien – net-net as ek gedink het ek kan nie meer in die donker stap nie.

Ek het blomme gepluk en dit voor ander se deure gaan neerlê. Uitgedroogte plante water gegee en versorg. Die pad skoongemaak en versorg sodat ander nie oor klippe stuikel nie.

Sover ek gestap en die berg begin klim het…het ek oor selfs die kleinste klippie gestruikel en geval…later het ek geleer om die klein klippies uit die pad te rol. Maar dan hard geval oor die groter klippe. Seergekry en opgestaan.

Ek is deur dorings gekrap en het gebloei. Ek het ‘n hele paar keer van die berge afgerol en gekneus onder beland…heel dikwels het ek daar in hopeloosheid tyd verwyl totdat ek weer sterk genoeg en genoegsame moed gehad het om weer te probeer.

 In hierdie tyd het ek die dorheid van die lewe ook raakgesien. Die kant van die berg waar die son se strale nooit bereik nie en die naghemel sterreloos in ‘n donker gat verdwyn. Die grond was uitgetrap en platgetrap deur die menige ander wat voor my daar was. Daar is ook tekens van ‘n verlore stryd wat te vroeg ongewonne opgegee is. Ook is daar tekens van nuwe lewe wat deur hierdie ongenaakbare verdorre aarde deurdring. Die saadjies van hoop wat ander daar geplant het. Slegs as jy mooi kyk, sal hierdie groenigheid van hoop ‘n nuwe pad na die berg vir jou aanwys.

Ek het geleer, ervaar en aanvaar dat my pad vir my deur so baie ander aangewys word. Die kronkels en kortpad – soms die hasepad en meeste kere die langpad… Soms lees ek die aanwysings verkeerd en verdwaal tot by die volgende afdraai.

Vanoggend kon ek base-camp vir die eerste keer in die verte raaksien. Ek was alreeds so moeg…maar ek moes deurdruk en aangaan. Ek het myself belowe as ek vanaand by hierdie mylpaal bestemming kan uitkom – dat ek berusting sal vind. Dat ek vir ‘n rukkie daar sal vertoef. Die nuwe omgewing leer ken. Uitrus en nuwe kragte opbou. Ek was so opgewonde!

Vanmiddag met sonsak het ek tot stilstand gekom. Ek het omgedraai en terug gekyk na die pad wat ek geloop het. Blink spore het in die oranje son weerkaats – ‘n doolhof van sirkels en draaie, links en regs en oorkruis…voorentoe en agtertoe…en toe skielik reguit voorentoe…

Nou dat ek uitgepak terugsit op die berg en die donkerte instaar – voel ek die eerste keer in my lewe alleen. Niemand in my lewe het saam met my gestap nie. Sommige het begin en langs die pad afgedwaal terug na waar hulle vandaan kom. Ander wou nie eers saamstap nie. Meeste het gesê ek’s mal. Terwyl ander nie eers waarvel kom sê het nie.

Ek is kwaad omdat ek alleen moes loop. Is so bitter moeg. My hart is seer. My siel is gekneus en my liggaam trek uitmekaar. Ek skree en skree en skree…maar tussen hierdie berge is geen eggo wat dit beaam nie…ook nie om terug te antwoord nie.

Here, hoekom as ek so ver gekom het tot hier – is daar geen vreugde nie. Hoekom voel hierdie rusplek langs die pad soos ‘n gevangenis vir emosies – straf en harde werk – juis vir die verwerking daarvan? Hoekom voel ek vasgevang binne myself – sonder sintuie. Sonder woorde – maar met oorweldigende denke… Sonder oë – maar siende in helder drome.

Ek staan vanaand hier in die donker. Die enigste geluide is die geluide van daaglikse ondraaglike gebeurtenisse wat van die berg af opslaan. Die minder aangename dinge wat jou lewe vergesel – want dit is immers steeds deel van jou…

Ek het tot hier gekom Here, met genade, liefde, hoop en geloof… Ek was op my knieë uit dankbaarheid.

Maar vanaand Here, is ek weer op my knieë…hierdie keer Here, vergewe my as ek skree…vergewe my Here, as ek huil. Vergewe my Here, as ek nie vanaand verstaan nie.

Ek vra vir genade en insig om te verstaan. Ek vra vir liefde teenoor die wat ek langs hierdie pad agtergelaat het – maar steeds ‘n ander pad saam met hulle stap. Ek vra vir hoop dat ek môre die son sal sien. Ek vra vir geloof dat ek kan glo dat ek eendag bo sal kom.

Ek vra vir vergifnis omdat ek vanaand nie verstaan nie.

20 antwoorde op Ag Here, help tog asseblief!

  1. Wat kan ek sê? Sterkte.

  2. wynvdm het gesê op Mei 14, 2010

    Niemand van ons is ooit heeltemal alleen nie. Maak net jou oë toe dan sien jy almal wat reg is om jou op te tel as jy val. Wanneer jou oë oop is sien jy dit net nie altyd nie want jy fokus op die klippe? Baie sterkte!!
    P.S. Jy skryf vreeslik mooi!

  3. So baie van ons voel alleen op die strompelpad na bo. Wat ons so selde besef is dat daar vele klimmers is wat saam sou kon klim maar almal kyk so uit vir die klippers dat hulle mekaar nie raaksien.

  4. VozSola het gesê op Mei 14, 2010

    xxx

  5. VozSola het gesê op Mei 14, 2010

    baie waar. dankie.

  6. VozSola het gesê op Mei 14, 2010

    Dankie.
    ps. Dankie.

  7. VozSola het gesê op Mei 14, 2010

    😉

  8. VozSola het gesê op Mei 14, 2010

    Dankie…

  9. louisna het gesê op Mei 14, 2010

    Baie hartseer in soveel mooi woorde. Baie sterkte tot by die piek. Plak jou vlag heelbo en skaats af. Jy gaan die reis tog so geniet.

  10. VozSola het gesê op Mei 14, 2010

    Sjoe, dankie Ouboet. Ek waardeer dit.

  11. Sterkte vir jou!

  12. DallaSePa het gesê op Mei 14, 2010

    !!!

  13. iduplessis het gesê op Mei 14, 2010

    Ag, ek dink jy’s vergewe.

    Hey luister, jy moet meer sulke sketse en artikels skryf. Jy doen dit naais.

    O ja, kom mark toe. Ek het ‘n vriend wat ek aan jou wil voorstel. Jy behoort hom heel interessant te vind. Hy’s ‘n uitgewer. Gee onder andere die Pomp Joernaal uit. Het ook al ‘n klompie bekende nuwe goed gedoen.

    Jy kan laat slaap en eers so 11h00 kom. Dis reg. Ag toe, dit sal lekker wees om jou te sien.

    En sorrie, ek het nie geweet jy het hierdie week verjaar nie. Ek sal opmaak daarvoor as jy mark toe kom more.

  14. VozSola het gesê op Mei 14, 2010

    😉
    Dankie…
    sien jou môre – hou die koffie warm.

  15. louisna het gesê op Mei 15, 2010

    Plesier.

  16. HeavyHenry het gesê op Mei 15, 2010

    Agge Nee!

    Waar’s die harde klip nou?

    Dis altyd die donkerste net voor dagbreek. – Hou net koers.

  17. VozSola het gesê op Mei 15, 2010

    Dankie

  18. VozSola het gesê op Mei 15, 2010

    ???
    ek’s nie goed met !!! nie…

  19. VozSola het gesê op Mei 15, 2010

    Hi Henry,
    Harde klip word so stuk-stuk opgekou…
    😉

  20. nico het gesê op Julie 28, 2016

    My trane loop vryelik. Ek kon self nie beter besktyf hoe ek voel en wat my huidige belewenis is nie. Mag Hemelse Vader tog die verandering bring. Liewe Here vergewe my ongeloof wat so dikwels na vore tree.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.