Welkom

Jy is baie welkom op my blog.

Net ‘n effense waarskuwing: hier gaan jy nie diep filosofiese of hogere skryfkuns raakloop nie, tensy dit ongesiens by my onderbewussyn verbyglip. Ek raak nie sommer by kontroversie betrokke nie. Daar is te veel geroeste wrakke in Blogland. Dis beter om te konsentreer op dinge wat ons in gemeen het, as om gemeen te wees.

Ek het oorspronklik begin blog om my ietwat oudmodiese “Afrikaanse baadjie” uit die kas te sleep en die motbolle uit te skud. Daar is heelwat gate en ‘n mens kan dit nie meer in goeie geselskap dra nie. Die rede hoekom ek nie ophou blog het nie, ten spyte van probleme met litnet, is omdat ek soveel nuwe vriende gemaak het. Deur die jare het ek heelwat van julle ontmoet, en dit is vir my kosbaar.

Ek blog sporadies. Daar is nie honderde idees in my brein wat wag om geskep te word nie. My inskrywings is meestal ‘n tipe joernaal, met brokkies nuus en grepies herinneringe. Ek lees ander blogs wanneer iets my oog vang. Ek lewer nie altyd kommentaar nie. Daar is min tyd.

My storie begin in Masjonaland, voormalige Rhodesië, en kronkel deur Touwsrivier, Usakos, Omaruru, Oshakati, Malmesbury, Pretoria, Mafikeng, en sedert 1991 woon ons hier in Sussex. Ek reis graag, kuier graag, en is op my gelukkigste met ‘n rugsak op my rug iewers op ‘n staproete.

En hier is ons nou op WordPress. Wel, dit lyk baie belowend en ek is vol moed dat ons gemeenskappie die paal gaan haal. Moenie skaam wees nie, klop aan en stel jouself bekend. Ek sit solank die ketel aan.

DSC04711

 

Laat 'n Antwoord

Jy moet aangemeld inwees om kommentaar te lewer.