Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

Profile photo of gidivet

by gidivet

Husky man

Oktober 19, 2010 in Uncategorized

Sy loopbaan het gepiek in die 1970s en -80s. Toe het hy elke husky resies wat die moeite werd is gewen met sy span. Gereeld ook oorsee meegeding.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

So ‘n paar weke terug hier aangekom met sy wit paneelwa. Hy woon eintlik in Skotland, maar sy aksent is maar van hier rond. Die hond-reuk loop so ‘n paar treë voor hom uit. Krommerig, dun, driedagoudstoppels sweterig.

Mens kon sweer hy woon in ‘n hondehok.

Is eintlik op pad Frankryk toe met sy honde. Hy wys hulle vir my uit: hierdie een was verlede jaar nog ‘n kampioen. Daardie een het ‘n hele paar kampioene geteel. Hulle moet paspoorte kry om Europa toe te gaan. Ek moet die hondsdolheid inentings en bloedtoetse doen. Lekker om met hierdie honde te werk. Niks foefies nie. Seningrige atlete. Sterk STERK hondereuk. Net die baas ruik erger. Maar hulle staan stil vir my ondersoekende hande, glimlag nou nie eintlik nie, maar so nou en dan sal ‘n grinnik vir ‘n splitsekonde deurslaan.

Goeie besigheid dié. Ek het onlangs een van sy vriende ook gehelp en sy vriend het hom aangestuur na my toe.

Laasweek ‘n hond se been met krammetjies toegezip – net ‘n bietjie lokale verdowing en die hond staan soos ‘n standbeeld. Bietjie soos hulle baas. Dit was laasweek.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Die oudste van die huskies is 9 jaar oud. Hardloop nog steeds gereeld saam in die tuig. Hier in die woude by ons trek hulle ‘n karretjie met wiele. In Skotland het hulle genoeg sneeu in die winter vir ‘n slee.

“Waar gaan jy tuis meneer?”

Nee wat, hy is maar hier by vriende.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Hierdie een het kanker, kan nie saamgaan Frankryk toe nie. Sy’s eintlik die ma van dáárdie een wat ook ‘n kampioen is. Die kanker het al versprei. Frankryk toe kan sy nie saamgaan nie.

-o0o-

Ons dra haar op ‘n stretcher agter by die gebou uit. Regs onder die afdak deur. Hy’t die wit paneelwa doer uit die pad uit getrek waar die mense nie kan sien nie. Dan is ons op die gruisklippies en die volgende oomblik glip sy voet en lê hy verdwaas op sy rug met die hond half bo-op hom.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Dan kry ons darem weer die hond so half op die stretcher en kom by die wit wa. Stoot hy die sydeur oop. Op die voorste sitplek sit ‘n jongetjie, baie wakker, vriendelik maar nie juis emosie nie. Agter in die wa sit die hokke met so ‘n stuk of sewe ander honde. Teen die een kant af ‘n matras. Ketel, rugsak, harnas. ‘n Brood.

‘n Ou hond wat nie saamgaan Frankryk toe nie. Vanaand begrawe hulle haar in die woud waar die honde oefen.

Profile photo of gidivet

by gidivet

Badza

Julie 3, 2008 in Uncategorized

Op my foto is ek 10 jaar oud, met ‘n badza oor die skouer. Dis nou ‘n “hoe” of “skoffelpik” as jy dit uit die shona vertaal. My pa het ons aangese om duwweltjies uit te skoffel op die grasperk. By die strandhuis wat pas klaargebou is. Onder wink die see. My uitdrukking spreek boekdele. My pa het my ‘n moerige seun genoem. My ouma was ‘n bietjie meer genadig: “Sy pa se hy’s tog so ‘n moedige kind.”

Nou die dag staan ek weer in die stoorkamer. Ons het gou kom kuier uit Engeland. Die badza is sowaar nog daar. Na my pa se dood is die stoorkamer onverstoord. Die buurman plant ‘n bietjie groente agter in die tuin, maar op die oomblik is daar net brandnetels. Dit het ‘n badza nodig. Hy’s geroes, maar die kop sit nog stewig. Ek wonder wanneer laas het iemand hom gebruik. Dalk was dit nog ek, donkiesjaar gelede.

Vir 18 jaar is ons in Engeland; ‘n halwe leeftyd. Ek hoor nou ‘n nuwe generasie se Afrikaans. Ezile se baldadige blog is ‘n inspirasie.

Dalk moet ek daai badza weer uithaal en hom swaai.