Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

Profile photo of gidivet

by gidivet

Ons het verskuif

Augustus 18, 2017 in Uncategorized

Ek het so pas my ou blogargiewe oorgeskuif na my WordPress blog. Ek beplan nie om hierdie blog te sluit nie, maar ek gaan van nou af probeer om eerder die WordPress blog te gebruik.

Kom loer gerus hier in:

vetweet

Profile photo of gidivet

by gidivet

Amper daar

April 21, 2014 in Uncategorized

Goeienaand vrinne. Ons is amper daar. Ek vlieg Woensdagoggend baie vroeg Bordeaux toe, ry trein vandaar tot in Saint-Jean-Pied-de-Port, en begin stap DV Donderdagoggend.

Hier is 2 blogs om in te haal:

Three days to go

Why?

Lekker slaap, die van julle wat nou op pad bed toe is.

Profile photo of gidivet

by gidivet

Nog ‘n paar foto’s

April 9, 2014 in Uncategorized

Ek het gister lekker ver gestap en nog ‘n paar foto’s geneem.

Hier is die skakel:

 

Spring

Profile photo of gidivet

by gidivet

Tussen die bome

April 6, 2014 in Uncategorized

Die bloggery in Afrikaans en in Engels smokkel met my kop.
Daar’s nou minder as drie weke oor voor die groot stap begin.
Ek het tot dusver baie gelees, baie gestap en elke item in my rugsak is geweeg tot op die gram. So ken julle my mos. Ek raak so vasgestrengel in die detail dat ek nie die eintlike punt kan insien nie.

Gelukkig bly ek die afgelope paar dae op ‘n bizarre plek. Dis ‘n motel op ‘n snelweg, iets soos ‘n Ultracity. Jy sou dink dis raserig, maar ek kan amper glad nie die karre hoor nie, en die kamer is grafstil. Ek sit net hier met my gedagtes, en dink oor die reis wat voorlê. En lees boeke. In die dag werk ek as locum by ‘n nuwe praktyk wat nog nie amptelik oop is nie. Daar is heelwat tyd tussen afsprake. Baie tyd vir gedagtes om te dwaal.

Dis amper soos om in ‘n tydkapsule opgesluit te wees. Onder die grond. Dis asof alle ander geraas geabsorbeer word en hier binne is dit baie, baie stil.

Maar dit kan mens mos nie lekker in Engels skryf nie, so dis wat ek eintlik geskryf het:

Through the trees

 

 

Profile photo of gidivet

by gidivet

Training

Maart 16, 2014 in Uncategorized

Ek het gister gaan stap in ‘n baie mooi natuurreservaat hier naby ons.

Die foto’s is hier geblog:

http://gidivet.wordpress.com/2014/03/16/training/

Ek beplan om met my iPad mini te stap en om al my blogs op die spesiale “gidivet camino” blog te pos. Dit maak nie sin om werk te dupliseer nie, maar ek sal probeer om die skakels hier te plaas.

wpid-Photo-20140316073834.jpg

Profile photo of gidivet

by gidivet

‘n Klein begin

Maart 14, 2014 in Uncategorized

Iewers moet 'n mens 'n begin maak, want van uitstel kom afstel. Dus het ek die afgelope paar dae bietjie gedink en beplan, en my eerste bloginskrywing gemaak op my nuwe camino blog.

 

Gaan loer bietjie hier:

 

http://gidivet.wordpress.com

 

Die van julle wat blog experts is is welkom om raad te gee met die uitleg, of vrae te vra wat dalk mettertyd mag lei na 'n blog inskrywing.

 

Profile photo of gidivet

by gidivet

Voetstappe

Maart 7, 2014 in Uncategorized

Sy voetstappe weerklink hol in die leë gang af. Die reuk van muwwe papier draal in die lug.

 

Hy klop aan by sy ou kantoor. Geen antwoord. ‘n Ligte drukkie teen die deur en dit kraak oop. Spinnerakke maak interessante patroontjies in die hoeke, dowwe lig val deur die stowwerige ruite tot op die lessenaar.

Die dagboek lê oop by 4 September 2013. Genugtig! So lank gelede. Dit voel soos nou die dag dat hy hier uitgestap het. Sommer blindelings die nag in.

 

Eish, dit lyk my die skoonmakers het ook ander weivelde gaan soek.

 

En tog, iewers in die gebou is ‘n dowwe geruis. Dalk is die ander in die kantien. Hy stap verder in die gang af, en jou wrintiewaar, daar’s ‘n skrefie lig onder die deur en hy ruik koffie…

 

-o0o-

Jip, dis ekke. Die hare is bietjie minder, maar dis nog dieselfde ekke. Of dalk is daar ‘n subtiele verandering:

Ek het my praktyk hierdie week verkoop.

Ek het een van daardie verjaarsdae met die nulle gehad.

En ek maak reg om die Camino de Santiago te gaan stap.

Ek wonder of iemand ‘n ietsie daaroor wil hoor.

 

Profile photo of gidivet

by gidivet

Uilhuis

September 4, 2013 in Uncategorized

1-DSC01199
wyse man versteen
tussen sementkamele
vra steeds hoekom tog

 

Profile photo of gidivet

by gidivet

Braai ten alle koste?

Junie 1, 2013 in Uncategorized

Ons is so pas terug van die SA Gemeente Dankfees naby Tonbridge. Ek was nie eers bewus van die byeenkoms nie, tot ‘n mede-blogger my uitgenooi het. Die ou bloggers sal weet wie die man is, wat by wyse van spreke eerder sy tabak kou. Ons het deur die jare slegs enkele van hierdie dae bygewoon, miskien omdat ons nie so nou inskakel by die SA Gemeente nie. Baie mense kampeer daar vir die hele naweek; ek en die seuns het net deurgery vir die dag.

Daar was darem een ander gesin wat ons ken, anders was ons totale vreemdelinge in Jerusalem. Die stalletjies is amper deur die bank bedryf deur plaaslike Suid-Afrikaanse besighede, met net ‘n paar van die meer tradisionele “bazaar” aktiwiteite, byvoorbeeld ‘n teetuin met tuisgebak.

Die seuns het vandag kans gekry om vir die eerste keer met ‘n regte windbuks en pyl-en-boog te skiet. As ek terug dink het ek op hulle ouderdom al met ‘n .22 gejag en as my pa saam was, met sy 303 geskiet. My eie windbuks was sommer ‘n goedkoop een wat ek vir R19 by die groothandelaar op Oshakati gekoop het, met my eie sakgeld. Dit was maar ‘n pieperige dingetjie, maar ons het baie lekker skyfgeskiet daarmee.

“Uh, ok, hoe hou ek nou weer hierdie ding vas?”

 

Ongelukkig is alle ingevoerde produkte ekstra duur, en selfs die plaaslik gemaakte biltong en droewors staan ook nie terug nie.

Ons het sooooo die wereld sit kyk en gefilosofeer oor ‘n koppie kitskoffie. Daar is byvoorbeeld baie minder Suid-Afrikaners hier as in die dae toe derduisende jongmense nog ingestroom het met hulle vakansie-werk visums. Griekeland se ekonomie het ook ter sprake gekom, en die toekoms van die Verenigde Koninkryk, indien hulle sou besluit om uit die Europese Unie te tree. Malligheid.

Dan laat ek julle met die vraag: hoe graag braai jy, en wat is jy bereid om te betaal vir ‘n tjoppie op regte mopanie-hout? Ek het die volgende foto by een van die stalletjies geneem:

Wat dink jy?

Profile photo of gidivet

by gidivet

Ceilidh

Maart 24, 2013 in Uncategorized

In my notaboekie is daar ‘n bladsy genaamd “Nice things”. Ja ek hou van lysies maak. Daar’s ‘n paar dinge wat baie mense mee sal saamstem, byvoorbeeld:

  • biltong
  • boerewors

Dan is daar ‘n paar persoonlike goed wat miskien nie vir jou so sal saak maak as vir my nie: en ja, my notaboekie is in Engels, meeste van die tyd.

  • solitude
  • people (in small doses)
  • listening to my children making music
  • talking to the author of a book I’ve just read
  • knowing that it’s ok to be an introvert
  • going on a journey
  • getting a handwritten thank-you card
  • meeting like-minded people

So twee naweke gelede het ek sommer ‘n klomp van die lekker dinge op my lysie gedoen. Die geleentheid was die VCF* National Conference. Die Donderdag al was ek af by die werk. Daar was baie dinge om reg te kry vir die trippie. Eerstens moes die kar stilgemaak word. So twee dae vantevore het die agterste stuk uitlaatpyp in die pad afgeval. Teen die middag was ek amper £200 armer en die kar se bek was stil. Daarna die kar binne en buite behoorlik skoongemaak. Ek moes passasiers optel.

Die volgende lekker ding was om die Vrydagoggend douvoordag in die pad te val. Hier teen 11:00 was ek al in Birmingham International Station se karpark. Hulle het ‘n mono-rail treintjie wat jou met die lughawe verbind. Kabelkarretjies en treintjies is deel van die pret.

Die enigste vlieg-in-die salf daardie dag was die barista by die Costa-koffie restaurant. Sowat  van suur het ek lanklaas in ‘n mens se gesig gesien. Ek dog toe by myself: “Jou dag sal ook baie beter wees as jy jou klante met ‘n glimlag groet.” Maar ag, wat weet ek tog van die stomme man se frustrasies. Dalk is daar sterfte in die familie. Ek is op reis, ek hoef nie saam met hom te werk nie. Die lekker koffie en Tiffin het daarvoor opgemaak.

Brian en Sandra was my passasiers. Hulle vlug van Belfast af het vroeg geland, en dit was nie lank nie of ons vat die pad. Hulle is al lank lede van die VCF, maar dit was ook hulle eerste keer by die konferensie. Ons gesels baie lekker in die kar. Hy’s ook ‘n veearts (en sy vrou Sandra is ‘n mens). Ons was reeds baie vroeg die middag by die Hayes konferensiesentrum. Dus kies ons koers in die dorpie (Swanwick) in en oor ‘n glasie bier en ‘n baie lekker middagete leer ons mekaar beter ken.

So een vir een begin die mense opdaag, en daar is vanjaar sommer baie studente ook. Wat ‘n heerlike geleentheid, as die jonges en oues (en moet nie die middeljariges vergeet nie), almal kan saam konferensie hou. Reeds teen die eerste aand wonder ek hardop oor hoekom ek al twintig jaar in Engeland bly en nog nooit die spesifieke geleentheid bygewoon het nie.

Peter Comont is die spreker. Hy’s ‘n veearts, maar die Here het hom op ander paadjies gelei. Vandag lei hy ‘n kerk in Oxford UK, en ons het die voorreg om saam met hom deur Esra te werk.

En toe die Saterdagaand is die ceilidh. Die wiki-artikel beskryf dit so:

 In modern usage, a céilidh or ceilidh /ˈklɪ/ is a traditional Gaelic social gathering, which usually involves playing Gaelic folk music and dancing. It originated in Ireland and Scotland, but is now common throughout the Irish and Scottish diasporas

Dis seker die naaste aan ‘n sokkie-jol, maar daar word groepsdanse gedoen. Miskien nader aan volkspele dan, maar dis baie gewild by die studente. Ek sal probeer om ‘n video wat ek die aand geneem het hier te plaas. Die fotonemery is eintlik ‘n verskoning om uit te sit en te rus. Die gerondspringery is uitputtend.

 

 

Natuurlik kom alle goeie dinge ook tot ‘n einde. Maar daar was die Sondagoggend nog een baie spesiale geleentheid:

Nagmaal met 140 veeartse en studente. Die konneksie tussen werk en geloof.

Dan maar weer die lang pad huis toe aanpak. Hier is ons twee weke later, en die spesiale oomblike leef voort in die onthou.

 

Na die naweek wonder ek toe hoekom my elmboge en kniege so pyn!

 

*Kliek op die skakels