Profile photo of gidivet

by

Hoe dit hier gaan – vir Katrina

November 18, 2012 in Uncategorized

Katrina vra toe so mooi vanaand dat ons tog moet sê hoe dit met ons gaan. Ek sit nou al ‘n hele paar dae en wonder waaroor om te skryf en of dit die moeite werd is om oor party dinge te praat. Nou gaan ek net sit en my kop leegskryf, sommer net gesels. Ek hoop nie jy gee om nie. Dis nie ‘n blog met ‘n logiese begin, 3 hoofpunte logies uiteen gesit, en ‘n einde wat alles mooi saamvat nie. Ek gooi net so ‘n paar gedagtes uit, en vir die wat lees tot by die einde, gaan ek ‘n vraag vra waarvoor ek ‘n eerlike antwoord soek. Party van julle ken my mos al lank genoeg.

Eerstens, ja dit gaan baie goed hier. In die dinge wat regtig saak maak soos my gesin, my werk en my gesondheid gaan dit uitstekend.

Natuurlik is dit Sondagaand en ek verlang vanaand onomwonde na die mense wat nie hier kan wees nie. My pa sou hierdie week 77 jaar oud gewees het as hy gelewe het. Ek dink ek mis hom nog net so baie vandag. Ek verlang na my sus (bekend aan baie van julle as ezile, en my ma op Jongensfontein. Maar dis hoe dit is en ons beweeg aan.

O ja, dan is daar nog ‘n paar ander nuusdinge soos Movember. Hierdie jaar neem ek ook deel. Miskien later meer daaroor, in ‘n ander blog.

Dan is daar die minder belangrike goed wat my gedagtes en aandag besig hou. Die klein jakkalsies. Dis die goed waaroor ek voel om te skryf maar nie weet of dit gepas is nie. My pa het altyd gewaarsku: “Small things amuse small minds”. Ek het altyd die ander kant van die geldstuk gesien, naamlik “A man’s accomplishments in life are the cumulative effect of his attention to detail.” (John Foster Dulles). Die probleem is natuurlik watter detail ‘n mens aan aandag gee. En hier loop dit vir my skeef.

Ek is die koning van uitstel. Baie makliker om op die internet rond te drentel (of selfs die blogs – sonder om ‘n bydrae te lewer), as om die skottelgoed te gaan was, of daardie belangrike artikel te gaan lees, of in die koue op my fiets te gaan ry vir oefening. Dit kos inspanning om te beplan en dan deur te voer, om die regte hoeveelheid aandag aan die belangrike details te gee. Dan is daar natuurlik die vrees vir mislukking. Ek was altyd ‘n “alles of niks” tipe mens. Vind dit moeilik om iets aan te pak wat ek nie maklik kan klaar kry nie, is te bang om iets groots aan te pak wat ek dalk nie suksesvol kan deurvoer nie. Nou moet ek sê dit het ‘n verlammende uitwerking gehad.

Dit is nog nie jaareinde nie, maar ek sit en dink oor my lewe en oor beplanning. Die aanhaling gaan mos: “He who fails to plan is planning to fail.” Hierdie woorde word aan verskeie individuë toegeskryf, maar veral aan Winston Churchill, tydens die 2de Wêreldoorlog.

Nou dis waar ek vanaand is. Ek het baie nagelees oor beplanning, nie van die volgende projek nie, maar oor die lewe. MY lewe. Ek besef dat besluite wat ek neem baie ander mense beïnvloed, regstrees of onregstreeks. Ek is nie meer die sorgelose outjie wat matriek geskryf het nie. Ja oor ‘n paar jaar is my oudste seun reeds klaar met skool. Daar is mense by die werk wat na my opkyk vir leierskap. Nog steeds ‘n vreemde gedagte.

Wel, ek werk daaraan. Al hierdie dinge. Ek kyk dit in die oë.

So die beste wat ek tot dusver teëgekom het is Michael Hyatt. Ek het sy blogs begin lees en vind dit ter selfdertyd vreesaanjaend en tog ‘n groot uitdaging. Ek gaan probeer. Te minste dit ‘n kans gee. Dalk net kan ek bietjie meer orde en prioriteit in my lewe kry. Ek het sy gratis e-boek “Creating your personal Life Plan” afgelaai en gelees.

Nou ja vrinne, hier is die vraag waaroor ek gepraat het. Ek het deesdae ‘n nuwe metgesel. Sy deel ons slaapkamer. Met my vrou se goedkeuring. Ek vermoed sy gaan vir die res van my lewe daardie posisie inneem. Ek wil graag jou eerlike opinie daaroor hê.

Hier kom dit. Hierdie metgesel is darem nie vlees en bloed nie. Nee, dis ‘n CPAP masjien.

En dis bleddie ongemaklik.

Mevrou Gidi het my dokter toe gestuur. Dit was ‘n ultimatum. Behalwe ‘n leeftyd se gesnork het sy haar dood bekommer oor die ophou asemhaal ding. En hier is ons nou. Ek is gediagnoseer met slaap apnee.

Die vraag is of ek daaroor moet of kan blog. My blogs was nog altyd persoonlik, maar ek het probeer om weg te bly van skete en kwale. Tog voel ek, daar is ‘n pad om te loop, en dalk ‘n storie om te vertel waarby iemand mag baatvind. Die fantastiese feit is natuurlik dat dit nie iets baie meer ernstig is nie.

Na 2 weke met die masjien is ek besig om wakkerder te word. So glo ek. Nou wonder ek wat ek die laaste 10 jaar gedoen het terwyl ek geslaapwandel het. Soos ‘n ware Rip van Winkel. En of ek behoorlik gaan wakkerword en bykom in die lewe. Want as dit nie werk nie is my verskoning geblaas.

“Busted”

Ja die lewe is ‘n reis. En my passie is om op reis te gaan. En John Pierpont Morgan sê mos:

“The first step towards getting somewhere is to decide you’re not going
to stay where you are.”

29 antwoorde op Hoe dit hier gaan – vir Katrina

  1. Vertel gerus, Gidi! Ek wil graag meer weet en ek weet baie ander sal ook daarby baat om meer van slaap-apnee te weet. Ek is bly jy het by ‘n oplossing uitgekom. En as jy tot nou toe aan die slaap was, wil ek nie weet hoe kookwater jy gaan wees noudat jy wakker is nie!

  2. maryna het gesê op November 19, 2012

    Beste besluit wat julle kon maak. Dit gaan jou lewe ten goede verander, maar wag en kyk self. Jy gaan soos ‘n nuwe mens voel. Ek is skoon opgewonde vir jou part – jou vrou gaan ook nou ‘n beter nagrus inkry. Sterkte!

  3. Dirkie het gesê op November 19, 2012

    *****
    Dis sterre nie miertjies nie!

  4. katrina het gesê op November 19, 2012

    En toe spoor ek sowaar ‘n nuwe term op – daar op my werfie sê dit ek het 1 Terugspoor, nogal 🙂 Ek dink dis meer ‘n geval dat ons gesoute spoorsnyers nodig het vir hierdie navigasie. Ek sweer ek kom elke keer op ‘n ander manier by die ander bloggers uit!

  5. JA?! En hier het ek nog al die jare gedink ek sit met die uitstel septer in die hand.

    Ha, toe jy van ‘n sleeping partner praat, dag ek die ding het vier pote & hare!

    Verbeel ek my of is die slaap-apnee ding meer geneig om by manne voor te kom? Ek weet my pa het so gesnork-hap in die nag maar my ma het hom net altyd ‘n pomp in die ribbekas gegee.

    • gidivet het gesê op November 19, 2012

      My pa het erg daaraan gely toe hy ouer was. Kon later nie meer lê en slaap nie. Ek dink jy is reg oor mans wat meer geneig is daartoe. Hulle was ook verbaas dat ek dit het en nie oorgewig is nie.

  6. katrina het gesê op November 19, 2012

    Ek het lekker gelees! En ja, natuurlik kan jy oor so iets blogs. Trouens, ‘n mens mag mos oor enigiets blog en as die ander nie daarvan hou nie , hoef hulle nie te lees nie. Dis ‘n bietjie soos die ou tydverdryf van briefskryf – sulke dinge is interessant. Uitsteller: dis ek ook. Ek werk elke jaar daaraan en soms is ek beter daarmee as ander kere. PS. Dis hoekom ek nooit ‘n goeie sekretaresse sou kon wees nie!

  7. Aha ek is altyd so bly as mense ‘n slim oplossing vir ‘n probleem kry. Jy kan gerus meer vertel want ek weet baie min daarvan

  8. Bly om te hoor dit gaan goed met jou en jou gesin, en by die werk.
    Daar is oulike ondersteunings groepe vir mense wat CPAP’s gebruik, met nuusbriewe en forums. (Iemand wat ek baie goed ken gebruik een, onthou net om al die odds ‘n sods intepak as jy oorslaap. Ons moes een ounag ry om haar man te ontmoet langs die pad sodat ons ‘n deel van die CPAP kon optel wat sy vergeet het, en Essex toe kon saamneem die volgende oggend. Sy moes regop sit en slaap die aand.)

    • gidivet het gesê op November 19, 2012

      Ek het die masjien op die trein saamgesleep London toe vir twee nagte laas week. Dit werk ok. Ek was nog altyd die een wat wou lig reis, maar nou ja, daar is erger goed om saam te sleep as ‘n CPAP.

      Groete vir julle twee.

  9. @vetweet – ja blog daaroor…hoekom nie.

    Ja jy moet maar as jy weer in SA is net sê dan gaan drink ons ‘n ietsie

  10. @gidivet . Op litnet se wordpress blogs mag enige een oor enigiets blog – natuurlik mag jy dan oor persoonlike dinge blog wat ook feite oor geite mag insluit . Jou beweegrede dat iemand anders dan daarby kan baatvind is benydenswaardig . Die bekende spreekwoord dat mens met voorbeeld moet lei is hier toepaslik.

    Ek word egter al hoe meer ongemaklik om oor sekere dinge hier te blog en selfs om kommentaar iewers te lewer, weens die duidelike bevooroordeelde wan-interpretasies wat sekere medebloggers toenemend aan mekaar se menings wil heg.

  11. Het nou lekker gekuier hier by jou, maar wat ek deesdae agterkom, hoe minder ek beplan hoe meer kry ek gedoen, dis asof die een ding na die volgende lei en dan is daar geen druk en verwagting nie, en mens geniet wat jy doen meer en die dag vlieg verby en as jy weer sien het mens baie verrig, sonder dat dit gevoel het na werk. Miskien moet jy dit probeer.Doelwitte maak mens moeg nog voor jy begin het……

  12. Ezile, jou suster!
    Ek weet nie hoekom ek so verbaas is nie.
    Min van vandag se bloggers sal haar ken/onthou, maar sy staan helder voor my oog! Een van my allergunstelinge in Blogville.

    Dalk moet ek die boek ook lees, want ek het oral lysies en dit help net mooi NIKS. Daar gebeur altyd iets wat mens laat uitstel.

    Ek weet niks van slaap apnee nie, maar is dankbaar dat die behandeling vir jou werk. Hoop jy het ‘n heerlike, goed-beplande week! ; )

Laat 'n Antwoord

Jy moet aangemeld inwees om kommentaar te lewer.