Profile photo of gidivet

by

Die gróót knyp

Oktober 25, 2012 in Uncategorized

Jan Twak se storie “Eersteplek vir ‘n natuurroep”  laat my nou weer terugdink aan my eerste skoolvakansie in standerd 6. Ons praat nou van die laat sewentigerjare. My ouers sit op Oshakati, en ek is in die koshuis op Malmesbury in die Kaap. My pa, in sy wysheid, besluit toe ek moet sommer die skoolbus vat uit die Paarl tot in Windhoek, dan sal hy my daar kom haal dat ons die laaste ent tot in Oshakati kan saam ry. Om die waarheid te sê ek sukkel om detail van daardie busrit te onthou, heel moontlik omdat my onderbewussyn die ervaring nie lekker kan verwerk nie en dit eerder onder ‘n klomp stowwerige planke in die kelder wil wegsteek.

Nietemin, Jan het my aangespoor en ek sal probeer om dit daar onder die planke uit te sleep.

Volgens Google Maps is die Paarl en Oshakati 2161 km uit mekaar, die busrit uit die Paarl tot in Windhoek 1445 km, en daarvandaan nog ‘n goeie stootjie van so 715 km tot in Oshakati. So ‘n dag of wat voor die skole sou sluit word ek uit die hok losgelaat om solank by die huis uit te kom. Dis nou sodat ek saam met die ander kinders die eintlike vakansie kan begin. Dus, hier laatmiddag trek ons weg by Hoërskool Gimnasium. My ouma is byderhand met ‘n kassie druiwe wat ek kwansuis moet saamvat. Ek onthou met die opryslag Windhoek toe het ek voor in die bus plekgekry. Dit was warm. En daar was nie ‘n toilet nie. Die bus ry stadig. Hy stop net twee keer al die pad tot in Windhoek. Eers op Vanrhynsdorp. Dan weer in Keetmans. Die busbestuurder het net een tape wat hy al die pad speel, deur die nag, oor en oor. Abba. Ek kan nou nog nie na Abba luister sonder om daardie typie so oor die enjin se gebulder in die pikdonker te hoor uiblêr nie: “There was something in the air that night The stars were bright, Fernandoooo…”, en veral “…Every hour every minute seemed to last eternally…”

En tog, miskien het die opgewondenheid om na ‘n hele paar maande vir die eerste keer huis toe te gaan gehelp. Want ek onthou nie die groot knyp nie. So al die pad met Fernando saam kom ons toe darem uiteindelik in Windhoek aan. My pa is daar met sy bakkie en ons ry. Ek dink ons het iewers gestop vir middagete, dalk was dit Otjiwarongo. Maar ek onthou sonder enige twyfel dit was Wiener Schnitzel. En heerlik daarby. Dit het ‘n groot indruk gemaak, hierdie ver pad alleen saam met my pa. Kopstukke gesels.

Van die vakansie onthou ek ook nie veel nie, en kort voorlank is dit tyd om die lang pad terug te vat. Ons is in Windhoek vir ‘n byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Raad vir Blindes. Ek was so opgewonde om vir William Rowland te ontmoet. Ek vra hom toe ook terstond vir sy handtekening, en daar haal hy sy els uit en skryf sy naam in Braille.

⠠⠺⠊⠇⠇⠊⠁⠍ ⠠⠗⠪⠇⠯

Maar aan alle goeie dinge kom ‘n einde. Die busse vertrek. Ja daar was twee. Hierdie keer is ek toe sommer vroeg al daar en gaan sit heelwat verder agtertoe. Tussen die groot kinders. Alles goed tot in Keetmanshoop. Dis toe al goed donker toe die twee busse daar insleep. Ons gaan gou in die kafee in terwyl ons bus se tenk volgemaak word. Maar die draailopery is nie ‘n grap nie. Daar is lang rye, selfs by die “gents”. Dis met groot verligting wat ek so in die halfdonker terugklim in die bus en sommer bietjie op die sitplek gaan lê. Kort voor lank begin die ander kinders inklim en ek begin lont ruik. Die bus start op en ek besef hier is fout: dis die verkeerde bus. Terwyl ons in die kafee was het die busse by die pomp omgeruil. Jy moes my sien suiker van die een bus na die ander, ook net betyds voor hy wegtrek. Dan probeer ‘n mens mos so nonchalant as moontlik drentel tot by jou sitplek, terwyl jou hart uit jou borskas probeer spring.

En die pad tot in Vanrhynsdorp is ver. En deur die nag druis “Fernando” al weer. Hier toe ons oor die Oranjerivier ry is die knypery al erg. Jy weet mos. Party van die groot kinders ken van in bottels piepie. Het ek al gesê daar’s nie ‘n toilet op hierdie ou skoolbusse nie. Hierdie skaam standerd sessie sal mos nooit in gemengde geselskap in ‘n bottel piepie nie. Forget it. Al is dit donker. So knyp en knyp dit deur tot uiteindelik in Vanryhnsdorp.

Weer ‘n lang ry by die toilette, in rangorde, die kleinstes kom laaste. Wat ‘n verligting. Dan……niks……stage fright……al die knyp het die kraantjies toegedraai. Jip.

Nou jare later kan ek net die pyn onthou, die verligting gemeng met die konsternasie.

So het ons uiteindelik in die Paarl aangekom. Maar dit was die laaste busrit. Van die volgende vakansie af het ons maar gevlieg. Hiervan vertel ek later.

20 antwoorde op Die gróót knyp

  1. Van knyp en byt kan ek ‘n paar stories vertel. Sal dalk so een of twee opsit. Maar ek lag eindelik vir die stukkie waar jy in die verkeerde bus geklim het. Sorry daaroor.

  2. Jan Twak het gesê op Oktober 27, 2012

    Hahaha! Dankie vir die opgrawe. Ek glo “Waterloo” sal gepaste musiek wees vir daai oomblik van verligting. Nou sit ek en wonder hoe het jy agtergekom jy is op die verkeerde bus – Die ou het seker ‘n Elvis tape gespeel?

  3. Dirkie het gesê op Oktober 25, 2012

    Lekker gelees…. Het jy geweet William Rowland het ‘n kinderboek geskryf? Ek kan net onthou al die illustrasies van die boek kon jy so voel met jou vingers(beperkte opgawe) .Hoekom dink ek die naam is ” My huis het baie vensters ” of was dalk ander publikasie.

  4. as ek nie NOU nie, hoef ek nie meer nie ….

  5. Son het gesê op Oktober 25, 2012

    Ek dink almal van ons wat tieners in die 70’s was, het iewers ‘n knou gekry met ‘n ABBA tape LOL!

  6. Latino het gesê op Oktober 25, 2012

    Nagmerrie, wat die werklikheid is.

  7. ezile het gesê op Oktober 25, 2012

    Jou lekker vertel het baie herinneringe opgeroep. Daar was ook al ‘n paar sulke knype in my verlede. Onthou jy die benoude handgebare van agter uit die bakkie as jou sussie NOU moet stop…

  8. katrina het gesê op Oktober 25, 2012

    O, wou nog noem dat jou mooi foto hier my inspireer om ook ‘n bietjie lewe op my blog te skep. Maar eers later, anders is ek laat vir skool!

  9. katrina het gesê op Oktober 25, 2012

    Sjoe, dit moes regtig ‘n ongenadiglike lang rit vir so ‘n jong laaitie gewees het! Gelukkig dat ‘n mens tog alles oorleef 🙂

  10. Dit was voorwaar die groot knyp daardie

Laat 'n Antwoord

Jy moet aangemeld inwees om kommentaar te lewer.