by

Van huis tot huis

April 30, 2009 in Sonder kategorie

Ek wou nog altyd net in ‘n lekker huis gaan bly het, met die klem op BLY. Trekvoëls is ons ongelukkig nou maar. Ek ken al die tekens, en vanaand is die aand. Ons bly al weer amper 18 maande in hierdie kasarm van ‘n bungalow, wat eintlik gelyk gemaak met die aarde en oorgebou moet word. Die hele week is mevrou gidivet al besig om muurpapier af te stroop, en elke aand as ek by die huis kom lyk dit meer na ‘n episode van 60 Minute Makeover. Hier is strepe ambagsmanne wat een vir een hulle aanloop neem vir kwotasies. En jy weet hier kom ‘n ding as hulle die voorkop so op ‘n plooi trek, die hand onder die ken gestut, en die lug so stadig deur die voortanne insuig terwyl hulle na die krake in die mure kyk. Hier kom ‘n ding met £££-tekens voor en nulletjies agter.

Môre kom die “boilerman” om die ou “backboiler” uit die sitkamerkaggel te ruk, en ‘n splinternuwe supergroen “condensing boiler” te installeer, in die dakspasie nogal. Ons gaan ‘n heerlike warm huis hê, in die somer. Dus moet daar vroeg opgestaan word vir die seremoniële laaste bad met die ou boiler. Dit nou op my af dag, waarop ek eintlik laat wou slaap.

En hiervandaan is dit net afdraand. Stof, stukkies pleister in die Weetabix. My arme rekenaars kreun saam.

Natuurlik pluk ons die vrugte hiervan. ‘n Maand of drie later is die huis pragtig reggemaak en ‘n mens kan nou net terugsit om die nuwe leefspasie te geniet. Ongelukkig nie te lank nie, want die verkoopbordjie sal reeds langs die splinternuwe oprit staangemaak wees.

Mevrou gidivet is versot op huise, hoe vuiler en “afvalliger” hoe beter. Sy verrig wondere met die goed. Haar man is ‘n dier van ‘n ander kleur. Soek bietjie stabiliteit.

Dus, my bloggervriende (julle is mos né?), as daar oor ‘n paar dae ‘n stowwerige vent met ‘n gehawende kartonkoffertjie op jou voordeurklokkie lê, moenie jou honde gaan roep nie.  Ek kom bly net vir ‘n paar dae.

Ek belowe. Net tot die stof gaan lê het.

Hierdie is die vorige projek in 2006

21 antwoorde op Van huis tot huis

  1. gidivet het gesê op Mei 8, 2009

    Kelkiewyn, beplan julle om Engeland toe te kom!? Laat weet as julle in die omtrek is. Ek sien uit na my eerste MOB.

  2. Trakie het gesê op Mei 7, 2009

    Jy’s meer as welkom om op ons voordeurklokkie te kom lê. Kan ek oor so ‘n maand of drie julle s’n kom druk?

  3. gidivet het gesê op Mei 4, 2009

    Mevrou G weet van my ambisie om soos ‘n normale mens in ‘n normale huis te bly. (ok skrap die “normale mens”). Dankie vir die uitnodiging.

  4. Joanna Graham het gesê op Mei 4, 2009

    Sterkte, maat! Ek kan dink dat dit lekker kan wees om ‘n plek op te dollie, maar dit klink vir my jy wil nou bietjie lekker bly in een van daai opgedolliede plekke. (Miskien moet jy maar vir Mev.Gidi inlig dat sy weet….so nie, kom pak gerus ‘n paar dae af voor ons lekker vuurtjie…(as dit koud genoeg is vir ene.)

  5. gidivet het gesê op April 30, 2009

    PmP jy verstaan.

  6. veralda het gesê op April 30, 2009

    ek is glad nie goed met restourasie of opknappingswerk terwyl ek in die huis bly nie. my man is ‘n bouer so daar is altyd een of ander projek. toe ons die badkamervloer oorgedoen het, het ek vir die twee dae getrek en daar was nie eens stof nie… ek is aan jou kant

  7. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Innige dank DK. Gaan darem nie te sleg tot dusver nie. Sal seker vir ‘n dag of twee moet water kook om te bad. Voel bietjie soos Afrika of Indië.

  8. DroomKind het gesê op April 30, 2009

    Ja neewat, vir so ‘n vent maak ‘n mens plek! 🙂

  9. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Dankie Tweeling. Ek waardeer die gasvryheid.

  10. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Bly om jou te sien Ludwig. Lyk my ek sal ‘n rooster moet opstel vir die volgende paar weke. Alles virtueel natuurlik, want in die werklike lewe moet ek werk toe gaan.

  11. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Hallo Willemien. Jy en frênd moet lekker kuier.

  12. He,he,he shame, welkom!

  13. Lekker lag ek nou … Welkom …

  14. wild1 het gesê op April 30, 2009

    “stowwerige vent met ‘n gehawende kartonkoffertjie op jou voordeurklokkie lê”, shame dis SO cute!:)

  15. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Zeppie jy’s baie gaaf. Sien jou oor 5 minute…………….

    …………..grappie!

  16. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Baie dankie. Ek moet bietjie eendag gaan tel op hoeveel verskillende plekke ons al gebly het.

  17. zephur het gesê op April 30, 2009

    Sterkte met die renowerings

    Ja sal ‘n plekkie kan oopskrop vir jou in ons huis.

  18. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Ek’t gehoop jy vra nie. Ongelukkig nie van die voltooide produk nie. Maar dit was nogal mooi. Sal harder probeer dié keer.

  19. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Ek waardeer jou mooi woorde. Geniet jou werk vandag. Die werksmense is reeds hier om my en rondom my. Hulle sal seker die rekenaar toetsbord onder my vingers uithaal halfpad deur die bl….

  20. gidivet het gesê op April 30, 2009

    Ja Kobus. Voëls van eenderse vere. Die klaar produk is altyd mooi, maar ek kry nie vir baie lank die voordeel daaruit nie. Miskien is hierdie ‘n metafoor vir die lewe: ons is ook onder konstruksie en nooit klaar nie. Tot eendag!

  21. Moet sê dat ek nie daarvoor kans sien nie. Ek is nie ‘n restoureerder nie. Gee vir my die klaarding. Maar sterkte vir julle.

Laat 'n Antwoord

Jy moet aangemeld inwees om kommentaar te lewer.