by

Tsamma?

November 24, 2008 in Sonder kategorie

Ek het lankal vrede gemaak met die “bly-of-gly” debat en my eie gedagtes gedag. Nou’t murphmuurprop dit weer kom oopkrap deur ‘n aanhaling op sy blog.

Toe, wat maak ‘n mens daarmee? Murph se vriend spekuleer dat dit beter is om jou bek te hou oor Suid-Afrika se probleme as jy in die buiteland sit en nie self iets daadwerkliks daaraan wil/kan doen nie. Ek’t toe maar gou-gou ‘n eiertjie gaan lê op die blog, maar intussen bly my gedagtes besig met hierdie idee.

Eers moet ek my konteks bring: Ons is landuit in 1990, voor die 1994 verkiesing, en die omwenteling in Suid-Afrika. Ons het nie landuit gevlug nie, slegs ‘n werkie hier kom soek om die studieskuld af te betaal. Die beginjare was bietjie swaar, veral omdat die telefoonoproepe huis toe so duur was en my eerste werk nie juis ‘n sondagskoolpiekniek nie. Ek is seker die meeste “glyers” is hiermee goed bekend.

Tog was ons reeds in daardie tyd gesteld daarop om deel te raak van ons nuwe samelewing. Ek het in ‘n koor gesing en die fantastiese ervaring gehad om onder andere Verdi se Requiem in die Guildford- en Chichester katedrale te sing, saam met 200 ander musikante, party al die pad uit Holland. Niks kan ‘n mens voorberei op die amper gewelddadige effek wat die “Dies irae” met sy donderende stortvloed van klank op jou liggaam het nie. Dit, wat jou soos ‘n stroomversnelling meesleur, en jou uitgemergelde siel in ‘n amper oorverdowende vakuum van stilte op die oorkantse wal van die rivier uitspoeg as die laaste note wegsterf. Dis baie beter as ‘n sessie in die gim.

Ons het London toe gery vir die Suid-Afrikaanse kerk, maar baie gou besef ons moet plaaslik inskakel. Dus het ons ‘n telefoonboek gevat en die dominees gebel, en toevallig in ‘n heel ander kerkstroom beland, waar ons nou nog gelukkig is. Dit gaan om die gemeenskap. Die mense het ons aanvaar al het hulle oorspronklik gedink ons is “refugees” en vir ons komberse aangedra. Saam met ons nuwe vriende het ons geleer om gebrande worsies, hamburgers en hoendervlerkies op brikette gebraai, te eet. Ons het saam gaan kamp en pret gehad. Hulle het hulle verwonder aan ons vreemde gewoontes en snaakse kosse, maar tog huiwerig kom proe.

Suid-Afrika se politiek het in die agtergrond vervaag, alhoewel ons tog met groeiende verwondering en ‘n groot trots die 1994 verkiesing meegemaak het en Mandela se eerste toespraak met ‘n knop in die keel geluister het. ‘n Nuwe, grondwetlike, vrye nasie.

Natuurlik is dinge ver van ideaal vandag. Ek’t veral nou met die bloggery die voorreg om weer ‘n bietjie in te skakel op my land van oorsprong. En gelukkig weerspieël die blogs ‘n hele spektrum van opinies en word hulle so meesterlik weergegee.

Ook hier het ons weer ‘n paar Suid-Afrikaanse vriende raakgeloop, by wie ons ‘n bietjie kuier, en kan gesels sonder om dinge te moet verduidelik. Ons maak soms ons eie biltong en gooi Miesies Balls se blatjang oor ons steak’n kidney pie. Ons het Skype, en Facebook, en telefoonoproepe na Suid-Afrika is nou so goodkoop dat ons sommer ‘n uur met ons geliefdes kan klets.

Die wêreld voel deesdae soos drywende ys. Een oomblik spring jy sommer oor die krake. Anderdag dryf ‘n snerpende ideologiese wind jou sommer myle weg van jou medemens. Dan is dit maar weer jou buurman op wie jy aangewese is, hy wat op dieselde stukkie ys saamdryf. 

En dis hoe ek by die Tsamma uitgekom het. Dis mos maar waar my hart is, in die woestyne van my herkoms. En tog het ek dit al die jare misverstaan, en sodoende vrede gemaak met die potplant-model. Ons is in Suid-Afrika opgetel en hier staangemaak. Nou moet ons maar vrede maak met die plaaslike plantluise. Toe nie.

Uiteindelik het die waarheid by my begin posvat, dat my wortels maar kan bly waar hulle hoort, terug in die Kalahari. Ek is nie ‘n potplant nie, eerder ‘n rankplant. Miskien ‘n tsamma, wat sy arms ver en wyd laat kronkel, en in die felle middagson ‘n waatlemoentjie kan uitstoot sodat mens en dier se dors geles kan word.

Hopelik.

Of is ek ‘n aarbeirank, wat sy worteltjies orals neerplak, en waar jy hom probeer skuif kry jy hom dalk nog weer uit die grond gelig, maar stukkies grond kom saam. En sy stam gaan jy wragtig nie gebreek kry nie. Vir hom moet jy omtrent met ‘n mes of ‘n sker afsny.

23 antwoorde op Tsamma?

  1. ek lees altyd die blyers/glyers se menings en half beny ek die glyers, en wonder oor my eie verknogtheid aan hierdie land.
    Maar, ek het tot die besef gekom : dit is in die Suid-Afrikaners se gene om trekkers te wees van Jan van Riebeeck se tyd, Hugenote, Setlaars, die inheemse volke …. altyd op trek na groener weivelde.

  2. gidivet het gesê op Desember 5, 2008

    Cerneels, jy’s baie welkom hier. Ek stem saam met jou, geen nut daarin om te baklei nie, die SA gemeenskap moet saamstaan, al bly hulle waar ookal in die wereld. London is maar net ‘n voorstad van Pretoria….
    Mmmm, kaktus, dis interessant. Cerneels, kammakazi, kaktusse. Sover nog almal woestynplante.

  3. Cerneels het gesê op Desember 5, 2008

    Hello Gidivet! Nie seker of jy my nog sal onthou nie – dink ons het mekaar laas op ezile se troue gesien (was julle toe al weg en net terug vir die troue, of nog oppad? Kannie meer onthou nie.) Ewentewel, jou tsamma storie vat aan die hart – ‘n eerlike verhandeling sonder om te verdedig of aan te val. Die oor-en-weer ge-jouery oor oseane heen krap somtyds aan my. Ons maak almal keuses, en wat ook al die motivering vir bly of gly, dit bly ‘n persoonlike keuse en uit daardie keuse sal daar seker maar altyd ‘n opinie wees. PS. Hmmmm, ek sal graag wil dink ek is ‘n namakwalandse daisy wat blom as dit op my reen, maar wat, ek dink volgens algemene publike opinie sal ek seker maar ‘n kaktus wees – jy weet, ons dink mos maar almal ons is ouliker as wat die wereld dink ons is. PPS. Groete vir vroulief. Julle seuns is pragtig – wel gedaan!

  4. gidivet het gesê op Desember 4, 2008

    Dankie Ludwig. Hoop dit gaan goed met jou. Ek sal nog eendag weer bietjie bykom met almal se blogs…..

  5. Hierdie is geskryf uit die hart uit. Baie mooi. Verduidelik ook bietjie hoe mense voel aan die anderkant van die spektrum…

  6. gidivet het gesê op November 30, 2008

    Ai Lorinda, lekker om jou weer terug te sien. Dankie.

  7. Ceara het gesê op November 30, 2008

    Gidivet hierdie is pragtig geskryf!

  8. gidivet het gesê op November 29, 2008

    kammakazi kaktus. Nog ‘n plant wat water dra! Ja Annesu gelees en volg haar blog.

  9. gidivet het gesê op November 28, 2008

    kammakazi, jy kan maar hier rondhang hoor, dankie vir die “joke of the day”! Het jy al gewonder watter soort plant jy is? Of moet ons nie hierdie turksvy op die blog aanpak nie?

  10. gidivet het gesê op November 27, 2008

    Joanna, dankie. Jy’t ‘n gawe om jou gedagtes baie netjies uiteen te sit. Ek’t jou stukkie ons mense in die buiteland waardeer.

  11. Hierdie stukkie skryfwerk is ‘n ware juweeltjie, Gideon! Ek het dit sommer vir die lekker ‘n PAAR keer gelees. En ek gaan weer. Jou beeldspraak is raak en uitstekend. Die tsamma en die aarbei….jy. En jy KAN albei wees. Baie mense is deesdae wereldburgers. Die wereld is ‘n kleiner plekkie deesdae. Ons is Suid-Afrikaners, en Afrikaners WAAR ons ookal is, en ons landjie se probleme en prestasies raak ons almal diep, of ons nou midde-in dit alles sit, of van ver af (soms met groot heimwee) toekyk.

  12. gidivet het gesê op November 26, 2008

    Ezile, soos altyd ‘n plesier om jou te sien. Ek’s bly jy’t dit geniet.

  13. gidivet het gesê op November 26, 2008

    Monica H, nou dat ek nie meer in kore sing nie sal ek maar moet probeer om ‘n slag weer van die goete te gaan luister. Maar daar is min dinge so lekker as om saam musiek te maak wat ander mense graag wil hoor nie. Oor verandering: my hart is onbetroubaar by tye, so ek laat hom nie maklik sy eie kop volg nie…..

  14. gidivet het gesê op November 26, 2008

    Annesu, sjoe! Ek’t ook die Faure gesing, self pragtig in sy eenvoud. Deesdae kan ek skaars ‘n noot uitkry. Een van my kosbare dinge is die volledige Verdi Requiem, met Atlanta Symphony Orchestra & Chorus, met Robert Shaw. Dankie vir die inloer hier.

  15. gidivet het gesê op November 26, 2008

    Katrina, dankie, ek’t ook baie lekker gelees aan jou blogs, veral “Dusk”. As jy baie ver teruggaan tot my eerste blogs sal jy my ou skoolgediggie oor sonsonder ook kry. Ek ken natuurlik die Wes Transvaal redelik goed. Ook reg dat ons parallel loop en saam kan gesels.

  16. gidivet het gesê op November 26, 2008

    Lou – dankie, jou goeie wense word waardeer. Ek’t ‘n heerlike besige werkdag gehad dankie.

  17. ezile het gesê op November 25, 2008

    Dis baie goed geskryf. Ek hou so van die tsamma-beeld. Dis raak beskryf, die wortels, die ranke en die vruggie wat mens (en dier!) se dors kan les. Baie mooi, ook die beskrywing van die koor se klanke. Sjoe, kry sommer hoendervleis.

  18. annesu het gesê op November 24, 2008

    Dit is te pragtig vir woorde hierdie, Gidi! Ekself sou tienduisend myl reis om te kan deel wees van so ‘n koor! Die Verdi Requiem is een van my gunstelinge: as gromberige tiener het ek mos Requiems versamel 🙂 … die Verdi, Brahms, Berlioz, Mozart, Faure, Durufle, Beethoven se Missa Solemnis – you name it, I listened to it, sometimes running the vinyl ragged by playing the same thing ten times in a row on a Sunday. Nou ja, dis wel beslis beter as heavy metal! Die mooiste van alles – al is dit nie streng gesproke ‘n requiem nie, bly dit heilige musiek – is en bly nog steeds vir my Mahler se Opstandingsimfonie Nr. 2, die koorgedeelte “Der Herr der Ernte Geht und sammelt Garben, uns ein, die Starben” – ek sou bereid wees om na die einde van die aarde te vlieg om in die koor te kan wees wat dit sing! “Die Here van die Oes gaan uit, en versamel soos gerwe, ons, die gestorwenes …”

    Jy inspireer my nou sommer om vir my ‘n koor te soek hier plaaslik, want het mos jare gelede in SA ook in sulke kore gesing, die Bach-koor in Johannesburg onder andere. Dis een van die tragiese dinge van ons huidige situasie dat dit moeilik sou wees om ‘n behoorlike koor te vind om aan te behoort as mens vandag daar in JHB sou woon waar ek gewoon het … ‘n tragedie op wiele is wat ek dit noem hoor!

    Wat jou skerp insigte betref, die uitgediende standpunt van diegene wat so graag seur dat ons wat in die buiteland woon, nie ‘n opinie mag bydra nie want ons is nou hier en daarmee eindig ons betrokkenheid, is nou juis net dit: uitgedien. Te veel van ons is met hart en siel by die old country betrokke, vir enigiemand om dit nog ernstig te kan opneem dat ons kwansuis nie ‘n straaltjie mag bysit nie want ons het nou verkas … dis die absoluutste nonsens. Niemand in Delhi vertel dit vir hul Indiese familie hier in Kanada, dat hulle nou maar van Delhi/Mumbai/Kashmir/hul Asiatiese wortels moet vergeet nie! Ek vertel dit juis die ander dag vir my eiendomsagent, Usha, juis afkomstig van daardie land, en ek kon agterkom sy kon nie eens begryp waarvan ek praat, toe ek probeer verduidelik dat sommige mense in ons old country ons nie eintlik die hierwees/of die daarwees in hart en siel “for that matter,” wil gun nie!

    Niemand in Moskou vertel vir hul Russiese familie hier dat hulle nou maar moet vergeet van Rusland want hul selfsugtige sterte is mos nou hier in Kanada … hierdie soort snert hoor ons NET uit ons landjie. My reistas rus, Gidi, hy rus: en my wortels kan *ook* maar in die Karoo bly sit, hulle is gelukkig waar hulle is, en ek is gelukkig waar ek is ook 🙂 … dankie hiervoor, vir die insig dat mens sonder jou wortels kan lewe … dis kostelik!

    A

  19. Ek het eenkeer Brahms se Requim gesing saam met 80 stemme en orkes en ek sal dit nooit in my hele lewe vergeet nie, so ek kan net dink 200!!!
    Wat die wortels betref ons lewe nou in sulke veranderende tye, niks wat vandag is gaan noodwendig more ook wees nie, so mens moet nou net doen wat jou hart sê basta met die verstand.

  20. katrina het gesê op November 24, 2008

    Sjoe, ‘n mooi inskrywing hierdie, met ‘n paar goeie vergelykings, veral van die ervaring van koorklanke in die katedrale. Terwyl ek lees, dink ek hoe goed dit is dat ons kan sien wat in mekaar se harte aangaan en parallel kan loop, nie teenoor mekaar staan omdat ons verskillende paaie gekies het nie. Dankie vir die deel!

  21. More!
    Hoop jy’t ‘n heerlike dag daar in, vir ons, die vreemde.
    Jy’t heerlike skrywes gepos die naweek.

Laat 'n Antwoord

Jy moet aangemeld inwees om kommentaar te lewer.