My eie Juffrou

March 8, 2017 in Uncategorized

Juffrou Badenhorst is ʼn mooi vrou, ʼn bitterlike mooi vrou.  Sy dra haar middeljare bruingebrand op haar atletiese kuite en haar stywe rokke verkondig openlik aan die heelal haar stywe borste en boude.

Sy het rooiblonde hare met sproete op haar neus en haar oë, haar groen, groen oë vertel verhale en gelykenisse van geheime en verlate en verlore plekke en mense.

Haar oë vertel van ʼn koel wintersoggend op ʼn dek langs ʼn meer in die berge tussen bome.  Verhale van hoe jy langs hierdie meer verlore kan raak in die natuur en een word met die bome en water en hoe ʼn sonsopkoms die water in seksuele ekstase kus.

In Juffrou Badenhorst se groen oë kan jy reis na kristalgolwe in die meditireen op seiljagte tot langs Malta en Ciprus.

In haar oë is enige werk en aktiwiteit moontlik.  Enige vriendskap en verhouding werk uit. In haar oë sien jy jouself as perfek en jou houthuis in die Drakensberg het ʼn biblioteek en kaggel waar jy elke naweek kan sit en opgewek lees en net weer verdrink in haar oë.

Juffrou Badenhorst se streel is hipnoties en breek mure en geleenthede en faam en vreugde is ongekend.

 

Juffrou Badenhorst is die naam wat ek vir my verbeelding gegee het en sy kom kuier elke dag vir my.  Soms sit ek tussen mense en gesels dan stap sy in en kom sit op my skoot en kyk in my oë en sonder dat enige iemand raaksien raak ek opnuut verlief op haar en sy ontvoer my na die mooiste en mees idilliese plekke denkbaar waar boheemse karakters in maskers my ontmoet met stroperige drankies en hedonistiese kuiers.  Soms is ek alleen wanneer Juffrou Badenhorst kom kuier en wanneer sy by my kom sit dan gesels ons oor dwerge en berge en doele en suksesse.

 

Dit is egter net tot die son sak en die sterre kom tent opslaan wat sy so sexy is  In die na-nag verander die sexy nimf in ʼn Koshuismatrone.  ʼn Kort mollige, strakgesig vrou met ʼn bolla op haar kop.  ʼn Reëlgerigte boksmens wat my kom haal en deur lang koshuisgange laat stap en deure van kamers oopmaak vir my om in te loer.  Sy dwing my kyk en inloop in verbeeldingskamers van my verlede en waar ervarings van seer en ongeluk en woede en pyn ʼn verwronge sirkustent opslaan en ek as toeskouer voor in die sirkel sit en hierdie blatante tentoonstelling aanskou tot die vreugde van die Juffrou.

 

In kamer een is die artieste wat met kleurvolle vlae en skamele, blou rokkies die tent binnekom.  Die voorste arties se naam is Gail.  Sy is blond met lang hare wat oor haar skouers hang.  Gail het werk gekry by die sirkus omdat sy die hartseerste gesig ooit het.  Sy is mooi maar fokken hartseer.  Gail het haarself as kind verwerp omdat haar pa en ma te kwaai was met haar en toe sy een middag tydens Egoli haar HB potlood in die hond se neus opdruk toe sny haar pa sy pols en haar ma vlug gestig toe.  Gail is aangeneem deur ʼn pragtige Portugese familie wat groente in Coligny verkoop het en die dag toe die tamaties vrek weens swartryp toe skrik Gail so groot sy hardloop sirkus toe en trou opslag met ʼn Somaliese inboorling wat haar in die aande raakvat tot sy kerm soos ʼn kat met ʼn brandwond.  Gail kon op al wat swaai is swaai en kon vlae wapper en rokdanse dans maar desondanks alles,  was haar gesig nog steeds hartseer.  Die eerste keer toe ek vir Gail sien toe het ek opslag begin treur oor haar hartseer gesig.  Een aand het sy haar pols gesny en pille gedrink en ek het haar hygende sterwende asem in my nek voel brand terwyl die Somaliër saam met Gail se maaitjies op die Joolplaas gekuier het.

 

Gail se dagboek was langs haar bed.

Op die voorkant van haar dagboek was daar ʼn foto van ʼn prinses met ʼn met ʼn glimlag.

 

Juffrou Badenhorst stap soms lang ente saam met my in die gange af waar sy kamers oopruk en my onder protes die kamers instoot en die deure toemaak.

 

Een kamer is donker en daar is ʼn klein dwergnar met baie potensiaal wat op ʼn stoel sit en met passie begin om met my te gesels.  Ek noem dit gesels maar eintlik luister ek net want hy spoeg sy sinne soos ʼn masjiengeweer.  Hy spoegvertel van sy dae op die plaas in die Noord-Kaap toe hy skape opgepas het saam met die ander coloured laaities en hoe hy altyd hulle albasters gesteel het.  Skaap-oppas was eers sy passie en hy het elke skaapsiekte in die kontrei gesien en hy wou homself later kwalifiseer as ʼn Jakkalsvanger en Skaapoppasser.  Hy het Jesus verstaan vertel hy.  Jesus het ook skape geken maar nie die Dorpers in die Noord-Kaap nie sê hy.  Jesus was awe my brah maar Jesus het gedink skaaploop en Jakkalsvang gebeur in groen se graste.  Jesus sou nog eendag by hom kom loop leer praat hy trots.

Hy het sy droom om jakkals te vang en skaap te lei laat vaar toe sy ma hom in ʼn swart sak loop sit het en in die garbage truck loop gooi het.  Hy het toe self maar na Jesus toe loop gaan en besluit om maar ʼn clown te word want lag is seerder in ander se oë.  In a way lei ek steeds skape, sê hy.  Ek laat hulle net lag en vergeet want as hulle vergeet dan vergeet ek.

 

Die gang wat Juffrou soms stap is lank en die kamers aan die einde van die gange is vol tiere en leeus en verskrikte bobbejane met vuil hare en dooie oë.

 

Hulle is nie mooi nie.

 

Hulle is maer van sirkuslewe en sweepmerke is sketse op hulle ribbes.  Hulle tande is al stukkend gebyt teen die tralies van hul hokke en hulle naelmerke is graffiti teen die mure.

 

Juffrou Badenhorst weier dat hulle uitkom.  Hulle moet op die koue vloere bly sit tot ek vir hulle kyk en hulle verstaan, sê sy.  Juffrou Badenhorst se stem is elke keer kil wanneer sy my na die sirkuskamers toe vat.  Ek is bang wanneer sy my met hulle dreig want de leeus en tiere en veral die bobbejane is ervarings wat liefs toegesluit moet bly.  Wanneer Juffrou Badenhorst in die rigting van die kamers begin mik dan trek my keel toe en my asem raak min.  My bors verstyf en sweet slaan my voorkop uit want ek hou nie van sulke sirkusdiere nie.  Niemand hou van sulke verwaarloosde sirkusdiere nie.  Niemand nie.  My diere is net meer verwaarloos en gevaarlik as ander sin.  My bobbejane spoeg skuim en hulle klosse bosluishare lê rond.  Juffrou Badenhorst het my eendag aan die een van die bobbejane se familie voorgestel.  Mamma Bobbejaan het dieselfde kleur hare gehad.

 

In een van die kamers is ʼn tier op ʼn treinspoor.  Ek kyk nie vir hom nie.

 

In een rus ʼn bebloede leeuwyfie onder ʼn stikdonker kombers en hyg wellus en in ʼn ander sit ʼn tier vol teleurstelling.

Juffrou Badenhorst is ʼn doos in die aand en sy spaar my niks.

 

Meestal hunker ek na sonlig en redding maar nagte saam met juffrou Badenhorst word lank en eentonig en baie eensaam.

 

Ek struikel in gange rond en vermy kamers met gesigte in.  Ek kyk leeus in die oë en tackle tiere.  Ek gesels met narre en hulle gebroke drome en teleurstellings lei my na waterstrome waar daar min rus is.

 

Elke oggend maak Juffrou Badenhorst egter haar bolla los en trek haar sexy stywe rok oor haar boude en dan is ek weer van voor af verlief op haar oë, en sy verlei my

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *