Triool

March 8, 2017 in Uncategorized

Ek kon nie help om op hierdie Goeie Vrydag terug te dink aan my skooljare nie en spesifiek aan drie outjies wat saam met my in standerd 8 was.
Standerd 8 was moeilik weens die droogte, politiek en puberteit en veral op ‘n klein dorpie soos Ventersdorp kon dinge nogal ingewikkeld raak. Die dorpie het baie mense met snaakse gene gehad en meeste van die tyd het nie eens praaitjies vir die snaakse gene gewerk nie.

Nou die 3 waarna ek verwys was Wyn van Wyk, Pietie Moller en Haantjie vanner Westhuizen.

Haantjie en sy ma het in ‘n spoorweghuis bo in Carmichaelstraat gewoon en voor op die stoep was daar sulke baksteenpotte wat vol hartseer geplant was. Haantjie was ‘n tangbaba en het gegroei tot hy langer as Paasnaweek was en sy ma het sulke lang nagrokke gedra met ‘n mussie op haar kop. Di3 nagrokke het sy van stortgordyne gemaak en sy het net in die aand uitgekom om lose draws by die garage te gaan bedel. Sy het dan oppie stoep gaan sit en gekyk hoe die hartseer groei terwyl sy aan die Kannas vryf.
Sy was blykbaar een of ander skoonheidskoningin as jongeling maar alles is opgefok toe sy een Dingaansdag op ‘n vlot verby die Uniegebou gesleep is. Die polisie-orkes was daardie jaar op sy stukke en elke keer as hulle sou lostrek met die Vlaglied dan het die Afrikaner-Nasionaliteit in haar gedreun en sy het haar been soos ‘n flamink opgetel en haar Kanna vir die Broederbond gewys. Sy is deur die kerk geskors en het toe ‘n los nekvel gegroei waarvan net die dominee van gehou het. Dominee Smit het baie keer in die laataand oorgekom by Haantjie se ma se kannas.

Pietie Moller was die tweede een in die driemanskap en hy is twee keer in kakie gedoop. Een keer deur die Ystergarde en een keer deur Ds. Andries Treurnicht. Pietie se pa was in die Broederbond en het ook Haantjie se ma se Kanna gesien. Pietie was die stil tipe en het vir die derde span losskakel gespeel. Hy het een wedstryd teen Koster ‘n 20 sent op die kwartlyn opgetel en weggeloop om te gaan Pacman speel by die Libanees se kafee langs die kerk. Niemand het agtergekom dat die stille Pietie ooit weg was nie, so stil was hy rerag. Sy Broederbond pa het hom soms in ‘n bottel brannweyn in bekommer oor Pietie.

Wayne (Wyn) van Wyk was die leierfiguur van die drie want hy was die eerste een van die drie wat pram gevoel het. Dit was wel sy sussie se pramme maar dit het in hulle oë getel en hy is opgehef tot Boereheld in hulle bende. Wyn is gebore met ‘n moerse tong. Sy tong was opgerol en hy kon rekeningkunde praat in die Tswana klas. Elke keer wanneer hy sy tong ontplooi het dan het tannie Poppie Beukes gekerm soos ‘n kat met ‘n brandwond en Blydskap Botha haar till by die kooperasie gelos om te gaan bad. Die vrouefederasie het ‘n stalletjie by die Boeredag opgeslaan om vir Wyn te bid en niemand weet tot nou toe of sy tong vir die susters ‘n seën of ‘n vloek was nie. Wyn se pa was te tegniese gebore om verder te leer en hy was ‘n treindrywer. Sy ma het grimering gedoen en almal wat haar kwas geproe het se gesigte het gelyk soos ‘n Tjarra god in Phoenix. Sy was ‘n harde werker en het stannerd 5 deur die pos gedoen. Die dag toe FW die volk verraai het, was kwaai op haar niere en sy het boeliebief in die tuin begrawe en in ‘n karavaan by die skietbaan gaan bly. Sy het nooit klaar gestannerd 5 nie.

Nou die drie het groot planne gehad. Wyn wou in die CNA gaan werk en saam met sy sussie en haar pramme intrek in ‘n Hillbrow flat en Pietie en Haantjie wou army toe om geweer te kan skiet. Elke dubbelperiode in laergraad wiskunde het hulle hul drome op die T.O.D bankies met ‘n mes uitgekerf.
Wyn se sussie se pramme het egter ander planne gehad en hulle het een Dinsdagmiddag vir die drie vertel van ACDC en boomrook en die drie het begin spaar vir ‘n plaat en ‘n boom.

Wyn se tong het die meeste geld ingebring en een swart Dinsdag het die drie hulself in Pietie se pa se Broederbond se garage toegesluit met die plaat en die boom.
Angus Young se kitaar het gehuil en die drie druk deur en pluk toe die boom ban goed en kwaad.

Tussen Pietie se pa se broederbond se spanners het ‘n ghries-Scope met ‘n tannie op ‘n vlot se Kanna innie middel gelê maar hulle het nie meer geworry nie, want hulle was 16 en skielik sonder ‘n toekoms.

 

My eie Juffrou

March 8, 2017 in Uncategorized

Juffrou Badenhorst is ʼn mooi vrou, ʼn bitterlike mooi vrou.  Sy dra haar middeljare bruingebrand op haar atletiese kuite en haar stywe rokke verkondig openlik aan die heelal haar stywe borste en boude.

Sy het rooiblonde hare met sproete op haar neus en haar oë, haar groen, groen oë vertel verhale en gelykenisse van geheime en verlate en verlore plekke en mense.

Haar oë vertel van ʼn koel wintersoggend op ʼn dek langs ʼn meer in die berge tussen bome.  Verhale van hoe jy langs hierdie meer verlore kan raak in die natuur en een word met die bome en water en hoe ʼn sonsopkoms die water in seksuele ekstase kus.

In Juffrou Badenhorst se groen oë kan jy reis na kristalgolwe in die meditireen op seiljagte tot langs Malta en Ciprus.

In haar oë is enige werk en aktiwiteit moontlik.  Enige vriendskap en verhouding werk uit. In haar oë sien jy jouself as perfek en jou houthuis in die Drakensberg het ʼn biblioteek en kaggel waar jy elke naweek kan sit en opgewek lees en net weer verdrink in haar oë.

Juffrou Badenhorst se streel is hipnoties en breek mure en geleenthede en faam en vreugde is ongekend.

 

Juffrou Badenhorst is die naam wat ek vir my verbeelding gegee het en sy kom kuier elke dag vir my.  Soms sit ek tussen mense en gesels dan stap sy in en kom sit op my skoot en kyk in my oë en sonder dat enige iemand raaksien raak ek opnuut verlief op haar en sy ontvoer my na die mooiste en mees idilliese plekke denkbaar waar boheemse karakters in maskers my ontmoet met stroperige drankies en hedonistiese kuiers.  Soms is ek alleen wanneer Juffrou Badenhorst kom kuier en wanneer sy by my kom sit dan gesels ons oor dwerge en berge en doele en suksesse.

 

Dit is egter net tot die son sak en die sterre kom tent opslaan wat sy so sexy is  In die na-nag verander die sexy nimf in ʼn Koshuismatrone.  ʼn Kort mollige, strakgesig vrou met ʼn bolla op haar kop.  ʼn Reëlgerigte boksmens wat my kom haal en deur lang koshuisgange laat stap en deure van kamers oopmaak vir my om in te loer.  Sy dwing my kyk en inloop in verbeeldingskamers van my verlede en waar ervarings van seer en ongeluk en woede en pyn ʼn verwronge sirkustent opslaan en ek as toeskouer voor in die sirkel sit en hierdie blatante tentoonstelling aanskou tot die vreugde van die Juffrou.

 

In kamer een is die artieste wat met kleurvolle vlae en skamele, blou rokkies die tent binnekom.  Die voorste arties se naam is Gail.  Sy is blond met lang hare wat oor haar skouers hang.  Gail het werk gekry by die sirkus omdat sy die hartseerste gesig ooit het.  Sy is mooi maar fokken hartseer.  Gail het haarself as kind verwerp omdat haar pa en ma te kwaai was met haar en toe sy een middag tydens Egoli haar HB potlood in die hond se neus opdruk toe sny haar pa sy pols en haar ma vlug gestig toe.  Gail is aangeneem deur ʼn pragtige Portugese familie wat groente in Coligny verkoop het en die dag toe die tamaties vrek weens swartryp toe skrik Gail so groot sy hardloop sirkus toe en trou opslag met ʼn Somaliese inboorling wat haar in die aande raakvat tot sy kerm soos ʼn kat met ʼn brandwond.  Gail kon op al wat swaai is swaai en kon vlae wapper en rokdanse dans maar desondanks alles,  was haar gesig nog steeds hartseer.  Die eerste keer toe ek vir Gail sien toe het ek opslag begin treur oor haar hartseer gesig.  Een aand het sy haar pols gesny en pille gedrink en ek het haar hygende sterwende asem in my nek voel brand terwyl die Somaliër saam met Gail se maaitjies op die Joolplaas gekuier het.

 

Gail se dagboek was langs haar bed.

Op die voorkant van haar dagboek was daar ʼn foto van ʼn prinses met ʼn met ʼn glimlag.

 

Juffrou Badenhorst stap soms lang ente saam met my in die gange af waar sy kamers oopruk en my onder protes die kamers instoot en die deure toemaak.

 

Een kamer is donker en daar is ʼn klein dwergnar met baie potensiaal wat op ʼn stoel sit en met passie begin om met my te gesels.  Ek noem dit gesels maar eintlik luister ek net want hy spoeg sy sinne soos ʼn masjiengeweer.  Hy spoegvertel van sy dae op die plaas in die Noord-Kaap toe hy skape opgepas het saam met die ander coloured laaities en hoe hy altyd hulle albasters gesteel het.  Skaap-oppas was eers sy passie en hy het elke skaapsiekte in die kontrei gesien en hy wou homself later kwalifiseer as ʼn Jakkalsvanger en Skaapoppasser.  Hy het Jesus verstaan vertel hy.  Jesus het ook skape geken maar nie die Dorpers in die Noord-Kaap nie sê hy.  Jesus was awe my brah maar Jesus het gedink skaaploop en Jakkalsvang gebeur in groen se graste.  Jesus sou nog eendag by hom kom loop leer praat hy trots.

Hy het sy droom om jakkals te vang en skaap te lei laat vaar toe sy ma hom in ʼn swart sak loop sit het en in die garbage truck loop gooi het.  Hy het toe self maar na Jesus toe loop gaan en besluit om maar ʼn clown te word want lag is seerder in ander se oë.  In a way lei ek steeds skape, sê hy.  Ek laat hulle net lag en vergeet want as hulle vergeet dan vergeet ek.

 

Die gang wat Juffrou soms stap is lank en die kamers aan die einde van die gange is vol tiere en leeus en verskrikte bobbejane met vuil hare en dooie oë.

 

Hulle is nie mooi nie.

 

Hulle is maer van sirkuslewe en sweepmerke is sketse op hulle ribbes.  Hulle tande is al stukkend gebyt teen die tralies van hul hokke en hulle naelmerke is graffiti teen die mure.

 

Juffrou Badenhorst weier dat hulle uitkom.  Hulle moet op die koue vloere bly sit tot ek vir hulle kyk en hulle verstaan, sê sy.  Juffrou Badenhorst se stem is elke keer kil wanneer sy my na die sirkuskamers toe vat.  Ek is bang wanneer sy my met hulle dreig want de leeus en tiere en veral die bobbejane is ervarings wat liefs toegesluit moet bly.  Wanneer Juffrou Badenhorst in die rigting van die kamers begin mik dan trek my keel toe en my asem raak min.  My bors verstyf en sweet slaan my voorkop uit want ek hou nie van sulke sirkusdiere nie.  Niemand hou van sulke verwaarloosde sirkusdiere nie.  Niemand nie.  My diere is net meer verwaarloos en gevaarlik as ander sin.  My bobbejane spoeg skuim en hulle klosse bosluishare lê rond.  Juffrou Badenhorst het my eendag aan die een van die bobbejane se familie voorgestel.  Mamma Bobbejaan het dieselfde kleur hare gehad.

 

In een van die kamers is ʼn tier op ʼn treinspoor.  Ek kyk nie vir hom nie.

 

In een rus ʼn bebloede leeuwyfie onder ʼn stikdonker kombers en hyg wellus en in ʼn ander sit ʼn tier vol teleurstelling.

Juffrou Badenhorst is ʼn doos in die aand en sy spaar my niks.

 

Meestal hunker ek na sonlig en redding maar nagte saam met juffrou Badenhorst word lank en eentonig en baie eensaam.

 

Ek struikel in gange rond en vermy kamers met gesigte in.  Ek kyk leeus in die oë en tackle tiere.  Ek gesels met narre en hulle gebroke drome en teleurstellings lei my na waterstrome waar daar min rus is.

 

Elke oggend maak Juffrou Badenhorst egter haar bolla los en trek haar sexy stywe rok oor haar boude en dan is ek weer van voor af verlief op haar oë, en sy verlei my

Kleurloos

March 8, 2017 in Uncategorized

die vroegdag skenk elke oggend geboorte aan ʼn dooie bestaan waar kleur net ‘n vlietende gedagte is wat vaal vervaag wanneer ek met my kleurlose kar saam met kleurlose mense in kleurlose verkeer drukgang na ‘n kleurlose werk waar kleurlose gedagtegange kleurlose bevele blaf om kleurlose take met kleurlose eentonigheid kleurloos te verrig en waar ek weet dat die kleurlose aanvaarding van ‘n kleurlose lewe my kleurloos in ‘n grou graf sal dompel waar my drome reeds deur kleurlose geleenthede begrawe is en soms strompel ek kleurloos verby ‘n groen en ‘n geel en ‘n blou en ‘n blos rooi en palet van kreatiwiteit en potensiaal en met wellus begeer ek die groen gras aan die ander kant van die draad

Kersfees 2016

March 8, 2017 in Uncategorized

Die pas afgelope week het ek en my gesin die voorreg gehad om die Liggiefees by die Abram Kriel Kinderhuis mee te maak en wat ʼn pragervaring was dit nie!!  Die Liggiefees word hoogs aan te beveel en elke Potchefstromer moet dit as sy plig sien om die Liggiefees te besoek.

So sit ek daar by die Liggiefees, pannekoek en Coke Zero in die hand (het ek genoem die pannekoekbakker se hande is deur ʼn engel gesoen want die pannekoeke is absolute juwele), en ek sit vir die mense en kyk, my gunsteling tydverdryf.  By die Liggiefees is daar hierdie groot liggiehart waarin jy kan staan en dan kan jy foto’s van jouself en jou geliefde binne in die hart neem en maak of dit romanties is.  Die ry na die hart is lank en veral die vrouens is baie opgewonde oor die foto’tjies wat dan natuurlik hulle nuwe Whatsapp profielfoto’s gaan word en ʼn Facebook status update gaan word met iets soos #liefdevanmylewe, #liggiefees, #lekkerstepannekoekooit.  Die manne wat in die rye moet staan lyk minder opgewonde.  Weet nie hoekom nie want ek was baie opgewonde om ʼn foto saam met my vrou te neem, #ekskryfvirpunte.

Groot, klein, maer, vet, oud, jonk, geleerd en ongeleerd staan almal in die ellelange ry en wag ongeduldig vir die ry om korter te word sodat die Facebook status update gepost kan word, en terwyl hulle wag loer die mense vir mekaar.  Party loere was jaloers, party venynig, sommige in bewondering van iemand maar bitterlik min kyke en loere na die mede-hashtagmodelle was in liefde en omgee.

Nie in die gees van die Kersfees en die Liggiefees nie wonder ek met nog ʼn smul pannekoek saam.

Nou ek kom al 42 jaar saam met Kersfees en ek het op ʼn plaas grootgeword in Ventersdorp waar Kersfees gekenmerk is deur boerdery.  Desembermaande en Kersfeeste was tye vir wolkekyk en diepe gebed.  Tyd waar ploegskare en planters kersgesange van hoop moes sing.  Tyd waar stofwolke, donker bankbalanse en produksielenings soos wolwe agter Vader Krismis gelê en loer het.

My ma het egter altyd geglo aan ʼn egte kersboom.  Nie hierdie gekoopte Checkers bome met die sneeu oppie punte nie.  Egte boom, oor en uit.  Nou kersboompies groei nie eintlik in Ventersdorp in die morge nie en word nie gemeet aan kersbome gestroop per ton nie, so elke Kersfees is my ma met ʼn saag die plaas in en het met ʼn stuk dennetak die huis binnegestrompel en die ding is dan opgemaak vir ʼn kersboom.  Die boom/tak was altyd maar blerrie baie gebuig en het skeef in die sitkamer gelê en ek het altyd maar met skaamte en oordeel na die tak geloer en die Checkers-bome begeer.  Die Checkers-bome was so mooi en reguit.  Hy het soveel van ʼn perfekte Kersfees gesimboliseer waar daar nie droogtes was of gebreekte ratkaste nie en waar produksielenings iemand anders se probleem was.  Die Checkers boompies was so idillies en ek het so na die Checkers plastic boom gehoop dat ons eie, ons egte, ons plaasboom sy geur verloor het.  ʼn Regte, egte boom wat na den ruik wou ek vervang met ʼn stuk Made in China plastic kersboom?????

My punt is eenvoudig…

Ons kyk so baie na al die ander mense rondom ons dat ons vergeet wie en wat ons is en waarmee ons geseënd is.  Sosiale media oortuig ons dat dit goed gaan met almal want net hoogtepunte kry hashtags en ons werk so hard om ons eie lewens mooi te laat lyk net sodat ons net met ʼn hashtag of twee kan spog.  Ons vergeet dat elke mens sy eie kruis moet dra maar dit is soveel makliker om te oordeel want dan lyk ons eie bome glad nie meer so skeef nie.

Ons het sulke mooi egte bome in ons huise waarvoor ons dankbaar moet wees.  Kom ons los bietjie die plastic bome van sosiale media en van ander se dinge uit en ruik bietjie hoe ʼn dankbaarheidsden werklik ruik.  Kom ons fokus hierdie Kersfees op onsself en ons eie bome.  Elkeen op sy eie boom.  Nie ander se mooi of lelike bome nie.  Nie die bome van die waarmee dit klaarblyklik mee goed gaan nie en ook nie die bome van die waarmee dit sleg gaan en wie struikel en val oor die hekkies in hulle lewens nie.

Gun ander mense hul seëninge want deur dit te doen sien ons eintlik hoe geseënd ons werklik is.  Laat die toe wat struikel om te struikel sonder ons oordeel want struikel is moeilik en seer genoeg.

Laat die wat wil trou, trou en die wat alleen wil wees toe om alleen te wees.  Los die wat te veel eet om te veel te eet en die wat te min eet om dit te doen.  Los ander se beroepskeuses uit en los oom Gert wat ʼn doppie drink uit dat hy hierdie Kersfees sy doppie kan drink.  As jy nie van iemand se godsdienskeuse, seksuele orientasie of lewenswyse hou nie, moenie dit beofen nie.

Laat die enkelma toe om haar kinders met haar eie hartseer groot te maak en laat die weeskind toe om na sy eie liggies te kyk.  Laat al hierdie dinge gebeur met ʼn kyk van liefde want almal van ons se bome is gebuig, maar steeds ruik hulle na egte bome.  Kersfeesbome.

Ek hoop ek sien en ruik hierdie Kersfees net my eie skewe boom.

Die Ontmoeting

March 8, 2017 in Uncategorized

Die koffiekroeg spoeg rookdonker skadu’s uit in die laatmiddag waar ons ontmoet.

ʼn Magic Slim album klank die klein kroegie en ʼn boheemse skoonheid bedien drankies.  Ek kry die drie waar hulle in die hoek van die kroegie by ʼn dik houttafel sit en skaak speel en gesels.  Op die tafel is liefdesodes met ʼn mes uitgekrap met hartjies en pyltjies en die drie lag kliphard toe die een met die vuilblou jeans ʼn grappie vertel.

Vuilblou Jeans staan in algemene spraaktaal bekend as Jesus.  Die Christus. JC. Hy lyk glad nie soos die kinderbybelkarakter nie en benewens sy blou Jeans, ACDC T-hemp en Harley bootse, is sy gesig hard. Daar is ʼn groot litteken op sy regteroog wat hy in ʼn kroeggeveg opgedoen.  Sy hare is stompkort en sy baard is lank maar versorg.  My baard is my trots, lag hy en met sketse in sy oë vertel hy van die litteken op sy oog waar iemand hom met ʼn poolstok geslaan het.

Die ander twee karakters is ewe kleurvol.

Mohammed, Die Profeet of Mo, het ʼn netjiese Polo hemp en Guess jean aan met ʼn paar Kenneth Cole Brogues .  Sy asem ruik na droë whiskey en hy rook ‘n Arturo Fuente Opus, Kubaanse sigaar .

Buddha (Brah B) is duidelik obees.  Oefen is nie vir my nie verklaar hy toe ek loer na sy ken.  Sy magie val oor sy broek soos Afrikaner skuldgevoelens en sy dik bril skuifel oor sy neus.  Sy gesig is rond en sy hare is vol Amla oil.  Ek verkoop karre en selfone in my spare time reken hy en druk ʼn olierige besigheidskaartjie in my hand.  Atthisukha Motors – Jou geluk is jou Eienaarskap.

“Geloof is stadig en ʼn man moet vat wat hy kry.  Ek kan nie net op die verkope van Facebook-posters en Happiness-flatcaps vertrou nie!  Ek het ook verpligtinge en kinders. Baie kinders.   Privaatskole in Durban is duur en Tata Motors se nuwe sedan is nogal befok so ek maak maar my geldjie met alles”.

JC en Mo krul toe Brah B praat van Tata motors.   “Tata is kak giggel JC.  Koop liewer Mo se ou Merc.  Hy is fucked up gespyker maar steeds in goeie toestand.” Mo lig sy whiskey glas en roep die Boheemse waitress vir nog enetjie.  JC bestel ʼn Black Label en drie Sambuca’s. Brah B is op die Brannas vanaand en JC bestel vir my ʼn koffie met koue melk.  “Drink jy nog Sambuca na 1992 se Intervarsity”, smile hy.   Elkeen steek ʼn sigaret aan en raak ernstig toe ek met die vrae begin.

Jesus, JC val hy my in die rede, noem my JC.  JC dan. Jy beweer jy is die Seun van God en hier sit jy saam met jou kompetisie en drink?  Hoe werk jy dit uit?

JC se gesig is strak.  Jy weet ou Jakkals, dinge op die aarde is moer erg verdraai.  Almal dink ek is hierdie groot kwaai ou man wat net bliksem en donner maar dit is nie so nie.

“Kak man, val Mo hom in die rede, jy bliksem en donner baie in bar fights. JC was lank ʼn bouncer in sy jong dae, het jy geweet?” Nee, bely ek hardop. Ek het nie geweet dat JC ʼn bouncer was nie.

“True that, sê JC maar dit is wanneer ek iemand beskerm of vir die weerlose opstaan.  Ek bliksem en donner nie om mense te straf nie.  Ek is liefdevol, genuine, genuine, liefdevol en ek het ʼn moerse klein hartjie.  Agter hierdie baard en vuil t-shirt is daar iemand wat genuine omgee.  Omgee vir klein hondjies en hoere.  Omgee vir swakkes en onderdruktes.  Ek het egter fokkol tyd vir boelies. Fokkol.  Ek sal altyd opstaan teen die boelie.  Dit is deel van my struktuur.  Ek is die tipiese INFJ, staan op vir die swakke en fight die boelie maar ek ontstel ook vreeslik as mense my slegsê.

Mo knik instemmend.  “JC hou nogal van mense.  Hy kyk na ons. Ek en Brah B hou meer van geld en besigheid.  Brah B is meer in die karre en kak in maar aandele en hoere is my game.   Jesus beskerm altyd my hoere, JC is soos die super bouncer.” “Ek het baie geld gemaak uit 9/11 uit”, sê Mo.  “Almal was histeries dat die koelies die wêreld gaan oorneem en almal wou net oorlog maak. Ek het voor 9/11 belê in #WapensVirDieDommes en ons het miljoene pistole in Amerika verkoop.  Fokkon fortuin gemaak. Ek vlieg juis nou na hierdie onderhoud weer Benoni toe vir bussiness.”

Hoe voel jou volgeling as jy so baie geld maak uit oorlog uit, vra ek.  Die Jihad wat jy so verkondig.

“Jy sien ou Jakkals, my mense like fight.  Hulle fight enige fokkon iets, selfs hullesef.  Vra maar vir JC. JC ken die geskiedenis, van die Bybelse tyd af fight hulle.  Israel, Amerika, Sirië, Egipte, Frankryk, Die Amalakiete, Die Vrystaat Feministiese Vereniging vir Vrye Vroue van die Vlaktes. Enige iets.  Hulle soek net kak.

Kyk nou maar vir ISIS.  Hulle het die woordjie Jihad op Twitter raakgelees en nou spat die kak alle kante toe en wie dink jy score??  Pappa Mo sê ek jou. Pappa Mo en sy hoere.  Pappa Mo en sy Mercs.   Mercedez is deur my mense begin, weet jy?” Nee, bieg ek weer.  Ek het nie geweet nie maar ek is nie verbaas nie, julle tjarras is mos orals. Pappa Mo lag.  Hy lag nie net nie, hy krul.

“Jy moet ophou met jou kak Mo, berispe JC.” “Een van die dae gaan ons nog erg koppe stamp”.

“Ek weet JC, ek weet JC”. “Jou boek praat mos van daai fight”.  Jy moenie ons koelies onderskat nie.

JC vryf sy baard.

“Wag, wag kêrels, nog ʼn dop, nog ‘n dop.  Julle is te ernstig.  Vrede vir almal”, slukdrink Brah B.  “Gooi bietjie Nirvana op die Jukebox Niggie,” skreeu hy vir die waitress.

“Ek het al duisend keer vir julle gesê, as julle fight dan kak Tata se pryse en dit is onaanvaarbaar. Dit kan nie weer gebeur nie, kan nie weer gebeur nie, sê ek julle.” Brah B is skoon angstig terwyl sy vingers vroetel na nog ʼn sigaret.

JC bestel nog ʼn Black Label en stuur die Boheemse waitress om te gaan pyle koop by die Total garage oorkant die pad. “Stuyvesant Filter asb my Bok.” “Twee pakkies 20, die soft packs”.

Mo het stil geraak en staar voor hom en Brah B krap op sy Facebook rond. “Jy kan nie in Tata wees as Tata nie in jou is nie”, prewelbid hy.

“Chill Mo”, sê JC. Los die toekoms waar hy is………..in die toekoms.  Dit help nie ons stres nou oor goed wat nog nie gebeur het nie. Daar is IPL kontrakte wat jy moet teken en Hoere om te gaan haal.”

Mo se smile kom stadig terug.  “Jy is reg JC. IPL is om die draai en Amla kort nog kontrak”.

JC kyk diep in my oë. “Jy is nogal stil ou Jakkals? Ons ken jou goed ou Jakkals.  Ons ken jou bitterlik goed.” Ek krap my naels en slurp my koffie soos my oupa. Ek haat dit as mense agter my mure kyk.

Ek bestel nog ‘n koffie en loer verbaas hoe die drie begin politiek praat.  Nie ordentlike Nat en Sap politiek nie, hulle gesels Openbaringspolitiek. Mo kyk na die Skaakbord en skuif Trump nader aan Afrika.  JC protesteer maar vat die skuif op die ken.  Sy pionne is immers reg vir nog diamante in Angola, vrede in Kanada en ʼn kabinetslapie vir oom Zuma .

Bra B  huil oor die foon oor Delareyville Tata se kak verkope.

So gaan dit aan terwyl my laaste sluk koffie in die koppie gaan lê. Skuif vir skuif op die skaakbord.  Grappies.  Lag.  Skater.  Vloek.  Sigarette en drank.

Ek staan op om te loop en bedank die drie.  Ek stap uit na my bakkie toe en ek hoor hoe Nirvana se Territorial Pissings begin speel op die Jukebox.  Die drie begin stry. Stry oor die Presidenteleksie in Duitsland, ʼn egskeiding in Bloemfontein en maagwerkings vir Xi Jinping.

Daar is iets van elkeen van hulle in my, mediteer ek in my loop.

Iets van elkeen.

Behalwe Tata.

Alles behalwe Tata.

Hello world!

March 8, 2017 in Uncategorized

Welcome to LitNet Blogs. This is your first post. Edit or delete it, then start blogging!