“Want ons is lief vir hulle”

‘Laaste groot jagter’ Toppie Kruiper sterf in sy slaap – Netwerk24

En net nou die dag het ek oor jou en jou broer John geskryf.

Sal ek ooit jou woorde destyds aan my vergeet toe een van die ander gidse jou kennis oor jou eie wêreld bevraagteken het?

Só het ek nog daaroor geskryf:

Gids van die Wilderness Leadership School: “Dis ’n toktokkie.”

Kelkie: “Kan nie wees nie, hy’s te plat. Toppie, wat’s dit dié?”

Toppie, die Boesmangids: “Dis ’n platanna.”

Wilderness Leadership School-gids: “Die boek sê dan dis ’n toktokkie.” Hy staan op om die boek te gaan haal.

Kelkie aan Toppie: “As jy sê dis ’n platanna, dan ís dit ’n platanna.”

Toppie: “Ja, want ons is lief vir hulle.”

 

En die wenner van die prys vir beste akteur ……

 

images

………  DIE VELDLIKKEWAAN !!!

Afgeneem in die hartjie van ons bosveld.

Ander genomineerdes: klipdassie, gebande muishond, lepelaar, rooibok, waterbok, blouwildebees, bontsebra, blesbok.

Vasbyt ouens, dalk volgende keer. Mits julle natuurlik gaan opdaag wanneer ek die volgende een wil skiet.

Waarskuwing: Hierdie video is glad nie geskik vir ONsensitiewe kykers nie. Dit bevat geen tonele van seks en geweld nie, slegs speelsheid, vreeTsaamheid en ‘n ligte vryery.

 

Elke druppel tel

Draai ‘n kraan oop en daar kom skoon water uit. Dís mos hoe ons grootgeword het. Maar vir hoe lank nog?

35879_398500968021_1195279_n (1)

**********

waterbobbejaan 1 (HAT): Soort otter.

waterbobbejaan 2 (HAT): Soort waterkraffie.

waterbobbejaan 3 (in my kop): Iemand wat leef asof skoon water altyd in oorvloed tot ons beskikking sal wees.

Terug by die HAT.

bobbejaan 1: Groot aap met donker hare, vooruitstekende snoet, groot wangsakke, slagtande en eeltagtige, onbehaarde sitplek.

bobbejaan 2: Dom mens.

Apologie dus aan bobbejaan 1 wat, anders as die mensDOM, slim genoeg is om níé met kosbare water te mors nie.

**********

‘n Tyd gelede bevind ek my dapper en stapper in die Kgalagadi-oorgrenspark saam met vier medetoeriste en vier gidse van wie twee Gauteng- en twee Kgalagadiboorlinge. Sandduine onder die oop hemelruim is ons weeklange woning. Vir drink, was en kosmaak is daar ‘n paar waterkanne, volgemaak by die motorhawe kort duskant waar die water brak sou begin raak.

35879_398496728021_7136037_n (1)

Dis verbasend hoe lank die nege van ons met net dié kanne water kon klaarkom met die laaste een teen huistoegaantyd selfs nog halfvol. Een van die Gauteng-gidse laat die oortollige water toe sommer in die dorre woestynsand leegloop. Hoekom dit dan nou al die pad in die kan terugkarwei?

Vir die twee Kgalagadiboorlinge was dit egter een te veel. Daarom roep hulle almal bymekaar en steek summier ’n preek af oor hoe kosbaar water nou eintlik is. En hulle wéét waarvan hul praat.

35879_398497503021_3894564_n

Nou dít, tesame met ander wilderniservarings wat hier en hier te lese is, het my finaal tot ’n punt gebring waar ek uiters spaarsamig met water omgaan. Om nie eens te praat van die al hoe groterwordende waterkrisis wat ons in die gesig staar nie.

Die dat daar deesdae hier by ons in elke badkamer ’n emmer of twee gereedstaan om die water op te vang wat in die stort of wasbak se drein sou wegspoel tot warm genoeg na smaak.

IMG_5614

Na die tyd word dit in die bad geledig vir my om later net warm water by te tap vir ’n lekker luukse bad. Van daar word dit dan grasperksproeier toe uitgepomp.

Bakke in die groente- en opwasbak vang al die water op van groente en vrugte wat afgespoel word, halwe glase water wat nie gedrink word nie, voedselverwerker-toerusting wat skoongespoel word (mits dit net groente en vrugte is wat verwerk is) en so meer. Dié opvangwater is bestem vir die stoepplante en tuin.

IMG_5594IMG_5599

Verder het ons drupbesproeiïng in die groentetuin laat aanbring sodat die water diep onder by die wortels kan uitkom pleks van bolangs opdam waar dit gou weer verdamp. Twee groot tenks vang reënwater op en word tydens die droë maande met behulp van dieselfde draagbare pomp wat vir die badwater gebruik word, groentetuin toe gepomp.

Elke kosbare druppel uit lekkende krane word ook opgevang tot tyd en wyl dit reggemaak kan word.

Tree ons dalk oordrewe en voortydig op? Nee. Dis nou een bobbejaan wat mens maar gerus vroegtydig agter die bult kan gaan haal.

Die kom en gaan van strydlustigheid

muskiet

Somer. Reën. En die uitbroei van verfoeilike muskiete. Dís mos hoe dit elke jaar gaan.

Maar dié seisoen was ek, die een met die mees aptytlike bloed in die huis, goed voorbereid. Met ‘n oulike skokapparaat in die vorm van ‘n rakket, het ek die gulsige bloedsuiers een vir een begin afmaai.

Aand na aand het ek rakket in die hand voor die televisie stelling ingeneem. Sodra die beweging van ‘n  muskiet voor die lig van die televisie my aandag trek, het ek blitsig opgespring en die rakket verwoed soontoe geswaai. En weer genoeglik in die stoel teruggesak sodra die die kenmerkende tzt-geluid vanuit die doodsnare opgeklink het. Tot die volgende muskiet haar opwagting gemaak het.

Nie lank nie, of ek was nie meer tevrede met muskietejag so voor die televisie nie. Nie as ek hulle sommer direk by hul gunsteling uithangplek saans teen die plafon kon gaan doodskok nie. En om daar by te kom, het ek my met ‘n stewige hoogtrap van die linkerbeen op die koffietafel gelig om na die tyd weer met ‘n dieptrap van die regterbeen op die vloer te lande te kom. Dieselfde proses is later die aand in die slaapkamer herhaal met die bed as bykomplek.

So het ek elke aand ‘n hele klompie muskiete se kort lewentjies nóg korter geknip. Totdat dít ook nie meer genoeg was nie. Nee, ek moes ook smôrens die rakket in al wat donker potensiële muskietslaaphoekie is, loop druk om hul verskrik te laat opvlieg – reg in die dodelike kake van die skokmasjien.

Maar soos dit in die lewe gaan, móét segetogte een of ander tyd tot ‘n einde kom. En het ek een oggend met ‘n steekpyn in my knie wakkergeword. Die regterknie. Die knieg van die been waarmee ek so knaend vanaf die koffietafel en bed vloer toe gedieptrap het. My landingsbeen.

Net daar het ek my fut vir muskietejag verloor. Mens het immers net één lewe. Met één regterknieg.

Ek het my toe maar weer soos van ouds met insek-weerder begin smeer met die vaste wete dat ‘n desperate muskiet kort voor lank ‘n oorgeslaande kolletjie sou uitsnuffel waar sy haar bloedlus kon bevredig. Maar ten minste het my knie mettertyd beter geword.

En die doodsrakket?

Dié lê op die bedkassie vir ‘n vinnige raakgryp in die donker om blindelings bo my gesig rond te swaai. Met die uitsluitlike doel om ‘n uiters irriterende zzzoei so vinnig moontlik in ‘n hoogs bevredigende tzt te laat eindig.

Helloooo …. anybody home?

Aangesien die eens digbeblogde Blogville so te sê in ’n spookdorp verander het, ’n spookasempie van my kant af.

’n Paar jaar gelede, tydens ’n veldstappie, kom ons op ‘n kleinerige kerkhof af. Nou ek’s nie vreeslik gaande oor begraafplase nie (te hard en kil na my sin), maar hierdie een het heel vrolik gelyk – danksy die natuurlike voorkoms van heelparty grafte.

Kerkhof 1

 

Dié een het behoorlik my hart gesteel:

kerkhof 2

Ten spyte daarvan dat die boom op die oog af beter dae geken het, dien dit steeds as veilige hawe vir ‘n verskeidenheid diertjies en goggas.

Een van die strak grafte, hoewel droë gras en blare dit tog bietjie versag:

kerkhof 4“GEB. 1 NOV. 1868, OORL. 5 AUG. 1956”.

Hierdie het ek sommer nou die dag op die internet raakgeloop:

kerkhof 3

Oulike manier van ‘n natuurlike bydraetjie tot Moeder Aarde. So vir oulaas..

Lees hier meer daaroor.

Volgende keer skryf ek oor dít waarin ek glo, naamlik lewe voor die dood.

Jeug- en kinderboeke

Naomi vra watter boeke ons van jongs af bybly. Vir my ongetwyfeld Die Uile-reeks. As jong kind het dié vierstuks bendelede my verbeelding behoorlik aangegryp. Ander jeugkarakters soos Saartjie en haar vriendinne asook die Maasdorpmeisies kon maar gaan slaap.

Nou op ‘n kindernoot: ‘n Tydjie gelede het ek op ‘n baie oulike groep afgekom wat met hul boeke (en films) wegbreek van die stereotipering van meisies. Hier kry alle kinders die geleentheid om boeke te lees en films te sien met positiewe boodskappe oor meisies en hul diverse vermoëns. Meisies hoef dus nie verban te word na die rol van hulpverlener of meisie in nood nie. Hulle kan ook leiers, heldinne, kampioene en uitvinders wees. Anders as die passiewe prinsesse wat so knaend deur dapper jong mans gered moet word, word meisies eerder aangemoedig om te groei en na drome wat hul self kan kies, te streef.

Net die ding vir ‘n nuwe generasie kinders.

Loer gerus hier.

10006292_656835737686076_1399438307_n

Ja OK, daar was dan tóg een verhaal waar die prins deur ‘n prinses gered moes word. Maar van alle dinge met ‘n sóén.

 

 

Roes, roes, roesemoes

(Tina se uitdaging)

Roesemoes (HAT): Verwarring, warboel. ‘n Roesemoes wat ontstaan as daar nie sterk leiding is nie. Vgl. geroesemoes. roesemoesig.

Roes, roes, roeseMOERIG.

Hierdie het darem gehelp om af te koel:

O ja, en nog iets:

29582_10152235931694705_332477485_n

Veral op ‘n Maandagmiddag.

Was dit nie vir DelaDap nie ….

 

Woord, woorder, woordste

Op ‘n stadium bevind ek my mos in die Dikhololo-vakansieoord, smoorverlief op my taal en heel moerig vir my man.

Dit het alles begin by die Dikdikkie Restaurant waar ons vroeër die dag ‘n draai gaan maak het. Dié plek is vernoem na die Damara-dikdikkiebok van Namibië, sien ek later die middag in ons natuurlewe-gids. En dis toe dat ek op een na die ander halfvergete woordjuweel afkom.

Bidsprinkaan, klopkloppie, naakslak, glimwurm …

“Daai Ferrari gaan die Mercedes vang!” Dis my man wat na die tweede Grand Prix-byeenkoms van die seisoen kyk. “Watch nou, dit neem hulle net ‘n paar sekondes om wiele om te ruil en brandstof in te gooi!”

Ek kyk vir ‘n paar sekondes op, neem ‘n slukkie rooiwyn, en druk my neus terug in die boek.

Vlamdoring, wildedagga, kierieklapper, raasblaar. Laat my nogal aan sommige van ons bloggers dink. Stekelkoggelmander, kleinblafgeitjie … hemel, nóú raak dit interessant!

“Die Finne is meedoënloos … iets in hulle gene. Ferrari rem beter en is vinniger op die reguit stukke. Iemand moet net ‘n fout maak!”

Ek blaai om. Skurwejantjie: ‘n bedreigde reuse-akkedis wat ook bekend staan as ouvolk of sonkyker. Sommige mense praat van skurwejaantjie met ‘n dubbel-a, soos in bobbejaantjie.

Ek kom by die voëls uit. ‘n Diederikkie roep “diee-diee-diee-dieederik” en kom wydversprei voor, ook in voorstede. En soortgelyk aan dié koekoek is mooimeisie en meitjie.

“Daar wen die eerste Mercedes!” dring ‘n stem van ver af tot my deur. “Nou vir die tweede plek …. Yesss! Mercedes is ook twééde!”

Kokkewiet, bokmakierie, vleiloerie, donkernaguil. Kan nogal met laasgenoemde identifiseer – was nog nooit ‘n oggendmens nie.

Spookvoël: nie skugter nie, maar boer in skuiling, lees ek. Ai, ons skuilnamers tog!

Jangroentjie. Voor my geestesoog sien ek ‘n kollega vir wie dié skoen alte netjies pas. Ek grynslag breed terwyl ek ook ‘n klippie binne-in die skoen visualiseer.

Langbeklewerik, dikbekwewer, spekvreter (diés wat aan spekskieters se lippe hang?), dubbelsnip …

“Jy’t nie ‘n woord gehoor wat ek nou net gesê het nie!”

Huh?

Nou moet ek vinnig dink.

“Jy’t nog laas van deurmekaar volksliedere gepraat,” vat ek ‘n vet kans. “Iets van “God save the Queen” wat gespeel word vir die Spaanse ou wat met die Duitse renmotor gewen het. Of is ek nou deurmekaar met ‘n vorige Grand Prix? Nee, jissie, nou weet ek nie meer nie.”

“Nee maar dis reg,” kalahariwipstert hy hom vir my, “ek sal dit onthou!”

Hy loop bromvoël-bromvoël daar weg.

“Skryf dit dan maar in jou swart boekie! Ek’s g’n hier om heeltyd net op jóú te fokus nie,” dubbelsnip ek hom agterna.

Verontwaardig vat ek ‘n ekstra groot sluk uit my kelkiewyn. Maar ek weet ook dat die dikbekwewer kort voor lank sal plek maak vir die hofsanger vlei-uil. En in die donkernag sal ons twee weer styf teenmekaar lepelaar-lê.

Op ‘n G-noot

IMG_8220

Reg langs die ingang van Cinema Nouveau sien ek vir die eerste keer ‘n musiekwinkel raak. Ek neem aan dis nuut, want wat ookal voorheen daar was, het nooit my aandag getrek nie.

Ek besluit om sommer ‘n nuwe G-snaar vir my kitaar te koop. ‘n Heel snaar is net die ding om my vingers weer los te maak.

As kind het ek my eie akroniem uitgedink om die volgorde van die oopsnare (E B G D A E) te onthou: Ek Bring Gou Die Ander Een.

Op die rak sien ek slegs staalsnare en ek wend my tot die man agter die toonbank: “I’m looking for a nylon G-string.”

Die man draai om om vir my een te gaan haal.

Met die dat my woorde nog so in my eggogeheue talm, kry my giggelspiere skielik lewe. En vang my oog dié van ‘n mede-koper wat vir my breed staan en glimlag.