Enigiets, net nie die boeke nie

Met die dat die matrieks weer ernstig aan’t eindeksamen skryf is, dink ek terug aan die drie spanningsvolle matriekeksamens wat ek moes aandurf. Een keer op my eie, een keer saam met my meisiekind en ‘n derde keer saam met my seunskind.

My laaste eindeksamen was mooitjies in ’n wêreldbekerrugbyjaar. En hoekom daar wêreldbekerrugby gespeel word in seuns se matriekeksamens, gaan my verstand te bowe.

In ieder geval, hier aan die begin van die eksamen, die dag voor ons vir ’n heel laaste keer skoolfisika sou skryf, sit ek mos voor my lessenaar en peins links verby my rekenaarskerm by die venster uit. Dis toe dat ’n rare beweging vir daardie tyd van die dag my oog vang. Ek knipper my oë en kyk weer. Ja, ek síén wat ek sien. Seun is besig om blare van die swembad af te skep. Vrywillig, sonder dat Pa hom moes dreig.

Maar dis nie ál nie. Toe elke enkele blaar afgeskep is, neem hierdie einste voormalige onwilligaard die Kreepy Krauly se werk totaal uit sy suierhande uit. Stukkie vir stukkie vee hy die bodem van die swembad skoon. Op die outydse manier vóór luimanstegnologie.

Dis toe dat ek van agter my lessenaar opspring en na sy kamer toe draf om te sien wat die stand van lessenaarsake is. Die lampie gooi darem al lig oor ’n oop fisikaboek wat in spanning wag om uit geleer te word. En ek wonder vir ’n oomblik of Seun dalk ’n broodnodige ruskans weg van sy boeke af vat. Maar dit kan nie wees nie. Want netnou het hy nog voor die TV gesit en kyk hoe Japan teen Fiji wêreldbekerrugby verloor. En voor dit het hy gestort. En net voor dit was hy een met sy bed. Reeds van gisteraand vróégslapenstyd af.

Ek neem ’n diep asemteug en loop terug studeerkamer toe. Maar die moedersenuwees knáág. Want links verby die rekenaarskerm duur die swembadbedrywighede onverpoos voort. En ek swyg soos die graf, want ek weet wat goed is vir my.

’n Paar dae ná die swembadskoonmakery rek ek in ’n stadium bene weg van my rekenaar af. Dis die dag voor ons wiskunde moet skryf. In die TV-kamer word ernstig na ’n lewensbelangrike wêreldbekerrugbytoets gekyk

Nou terwyl ek so in die gang af stap, kyk ek in die verbyloop vlugtig links oor my skouer by ’n sekere seun se kamer in. Ek stop, retireer, en kyk weer.

Ons seunskamer is só netjies, dit lyk of ’n vreemdeling daar ingetrek het. Geen vuil koffiebekers wat rondstaan nie, geen klere wat rondgesaai lê nie. Daar lê nie eers skoene in die middel van die vloer om oor te struikel nie.

Dis toe dat die klerekas waarvan die deure ewe skielik so geheimsinnig toe is, my aandag trek. Hoogs suspisieus beweeg ek soontoe en maak dit versigtig oop. Ek koes by voorbaat so half eenkant toe, maar niks peul uit nie. En ek gaap die inhoud oopmond aan.

Binne-in die hangkas, gestroop van alle muisnes-binnegoed, pryk elke ding op sy plek. Soort by soort, kleur by kleur. En heel onder in ’n reguit skoenry staan twee swart skoolskoene so en blink dat Seun op pad eksamenlokaal toe met elke tree se weerkaatsing van bo-af sal kan sien of sy gejelde hare nog net so lyk soos toe hy by die huis weg is.

Pa wat altyd so kla oor seunshande in hierdie huis wat nie uit moue gesteek word nie, sluk daardie hele eindeksamen lank swaar aan sy eie woorde. Want nog vreemde verskynsels sou gedurende daardie tyd plaasvind.

Hoe dit toe met die eksamenskrywery sélf gegaan het, sou ons eers na Kersfees saam met die res van die bevolking se matriekouers uitvind – ten spyte daarvan dat ek so knaend voor die tyd probeer uitvind het.

Want sien, elke keer wanneer ek ná so ’n skrywery gevra het hoe dit gegaan het, is ek kort en kragtig meegedeel: “Oukei.” Net dit. Geen gemor oor onregverdige vraestelle nie, geen verligting oor vrae wat raakgespot is nie. En ek moet maar verder my ore spits vir leidrade soos die klap van deure of ’n gefluit onder die stort. Maar van een ding was ek dóódseker. Die Engelse vraestel kon nie te moeilik gewees het nie. Dáárvoor het Seun homself reeds lank voor die tyd deeglik voorberei deur knaend voor die TV te sit en na al wat Engelse program is te kyk.

***********

So tussen hakies, Seunskind het sy eindeksamen toe met vlieënde vaandels geslaag.

Trippe trappe trolle

Elke huis het sy kruis en elke blog sy trol. So het die trolle dan destyds ook by Litnetblogs hul verskyning gemaak.

Ek self was nie juis geteiken nie, so agter-die-skerm gruwelverhale kan ek nou nie vertel nie. Op die koop toe sien ek dikwels die humor in situasies wat nie noodwendig vir ander snaaks is nie. Dié dat ek ‘n paar keer ‘n knipoog-emoticon by ‘n trolverdagte se ‘regte’ profiel gaan los het elke keer wat ek gereken het het hy het iemand getrol. Net dit. ‘n Onheilspellende ‘I know what you did last summer’-knipoog. Of so het ek gedink. Kan jy jou dié persoon, wat tien teen een onskuldig was, se interpretasie indink elke keer wanneer so ‘n knipoog uit die bloute daar by hom opgeduik het? Orige vroumens!

Iedergeval, die enigste keer wat ék onder ‘n trol deurgeloop het, darem net met ‘n enkele inskrywing, het ek skertsend teruggereageer. Knipoog en al. En het ek die idee gekry dié trol was self ‘n trolslagoffer wat my van trollery begin verdink het en my toe wou terugtrol. Of so iets.

So het almal toe nou vir almal verdink en is daar ‘n trol agter elke bos uitgeskop.

Wat my by die keer bring toe ek wél iemand probeer trol het.

Tydens een van die talle vurige debatte het iemand ‘n ander persoon oor godsdiens aangevat. Ek as nie-gelowige het met die aanvatter se siening saamgestem, maar aangesien hy die vroulike anatomie as kragwoord ingespan het, het die feminis in my na vore gespring. Ek het besluit om hom voor stok te kry, maar was ietwat lugtig. Hy wás immers berug. Daarom het ek nog ‘n profiel geskep. Zumba, onthou ek die naam. En ek vat hom onder dié naam aan. Vir wat moet die vroulike anatomie wat niks met die prys van eiers te doen het nie, dan nou so by ‘n geskil ingesleep word? A nee a!

Soos die noodlot dit wou hê en omdat ek nie gewoond was aan meer as een profiel nie, raak ek toe deurmekaar en lewer ‘n opvolgkommentaar onder verkeerde naam. Ek kon seker asem opgehou het met die hoop dat niemand sou agterkom nie, maar getrou aan my eerlike selwers kom ek toe met die hele sakkie patats na vore. En is dit die einde van kortstondige Zumba.

Na dese kan ek sê ek het ‘n trol (só het sy teenstaanders hom beskou) probeer trol. En sou ‘n poniekoerant dit as volg teen lamppale kon uitbasuin: “Trol trol trol!”

Dit dan, my liewe nasaat, was my trollestorie. Soos belowe.

trippe trappe trolle
hou den bek ten volle
en jaagt ons niet op holle

Ghaap, O Ghaap!

Met die dat daar nou ‘n Facebook-groep vir oud-Litnetbloggers gestig is, hou ons op hierdie stadium tog te lekker jolifikasie en reünie. En word daar natuurlik ook oor sekere gewese bloggers gegons.

Soos Ghaap. Ghaap met sy seksblog. Ghaap wat eintlik baie moed aan die dag gelê het en op die koop toe interessante besprekings ontlok het. En wie se blog vir lank bo-aan die lys van mees geleesde blogs gepryk het.

Ten spyte van sy poging tot neutraliteit, het sy inskrywings dikwels oorgehel na die manlike perspektiewelike sy. Toe ek hom op die eensydigheid van een so ‘n plasing wys, het hy egter moeite gedoen om die balans met ‘n volgende inskrywing te herstel.

Maar ja, seks bly ‘n sensitiewe onderwerp en sommige vroue het mettertyd wantrouig teenoor hom geraak.

So het dit toe nou ook gebeur dat Ghaap vroue aangemoedig het om foto’s van hul cleavages te plaas vir borskankerbewustheidsmaand. Goedbedoel glo ek, maar heel onvanpas. Met die gevolg dat vroue hom daar en dan aangevat het.

Vir my het die hele gedoente ‘n war between the sexes-kleurtjie begin kry en ek onthou nog een van die mans se verontwaardigde reaksie op iemand se sarkastiese voorstel dat mans soortgelyke foto’s van hul testikels moet plaas vir testikulêre kankerbewustheidsmaand.

Nog iets wat my opgeval het, was ‘n klompie vroue by die Engelse blogs wat nie die bohaai aan LitNetkant kon verstaan nie en in reaksie foto’s van húl cleavages daar by hulle begin plaas het. Heel rustig en ietwat uit die hoogte. Pure buitestaanders.

Eintlik het Ghaap deur die jare baie moeite met sy blog gedoen en ook ‘n punt daarvan gemaak om ander blogs te besoek en kommentaar te lewer. Immer hoflike Ghaap.

Die uitvee van sy blog – gebreke en al, net soos die res van ons s’n – was eintlik ‘n verlies vir die bloggemeenskap. En die skielike verdwyning van veral die bekgevegkommentare ‘n moewiese teleurstelling vir my. Daar was dan nog sóveel tussen die lyne te lese en herkoue, verdomp!

Die onthou vlam dikwels op

Lewensvieringe. So anders as die ou, tradisionele begrafnisse. Geen verwysings na gode, hemele of helle nie. Slegs kosbare, plat-op-die-aarde herinneringe wat met hartseer sowel as humor met mekaar gedeel word.

So het ek ‘n jaar gelede die lewensviering bygewoon van goeie vriend en oud-medeblogger Douwe van der Zee wat in ‘n motorongeluk dood is.

Ons paadjies het elf jaar tevore gekruis toe ek ‘n onderhoud met dié gesoute speelspesialis, wat ek vroeër op SêNet raakgelees het, gevoer het. As vryskutjoernalis het ek daarna die kans behoorlik aangegryp om ook deel te neem aan speelwerkswinkels, wildernisstaptogte (die veelsydige man was ook ‘n wildernisgids) en ander interessanthede om oor te skryf.

Natuurlik het ek en Douwe ook ons verskille gehad en só het hy dit heel humoristies opgesom onder die bedankings in sy boek From Intellect to Intelligence:

‘n Klompie jare later het Douwe Kaap toe verhuis, maar het gereeld vir ‘n paar dae by my en Wederhelf kom oorbly wanneer hy hom in Gauteng bevind het. Dit was tydens een van dié kuiers dat hy ‘n groentetuin vir ons uitgelê het waaroor ek nog op ‘n stadium sal skryf. Organiese boerdery was ook een van sy passies.

Maar toe, skielik, is hy weg.

En is dit slegs die herinneringe wat oorbly.

Saam met mede-speelspesialis Fred Donaldson by die St Vincent Skool vir Dowes in Johannesburg..

Op daardie stadium was daar wêreldwyd slegs ‘n handjievol speelspesialiste.

Op toer in Alexandra.

Douwe het hom nie tweemaal laat nooi toe ek hom uitdaag om vir dié foto te poseer nie.

Altyd ‘n bok vir sports.

In Lesotho, kort voor ons vertrek na Thaba Ntlenyana, die hoogste piek in Suider Afrika.

Bo-op die hoogste piek in Suider-Afrika.

By die herdershut waarin die groep oornag het voor die tog terug ondertoe.

Aan’t mediteer in Pilanesberg.

‘n Ondeunde Douwe met ‘n bol olifantmis. Ook op die boomstomp is Fred Donaldson, skrywer van Playing by Heart, wat ‘n groot invloed op Douwe se lewe gehad het.

“The fear of death follows from the fear of life. A man who lives fully is prepared to die at any time.” – Mark Twain.

Voluit leef, dié het Douwe beslis.

Onthou tog net volgende keer

Die voordeel daarvan om relatief naby Pilanesberg Nasionale Park te woon, is dat jy, gewapen met jou kamera en piekniekmandjie, vroegoggend soontoe kan deurry en dan weer laatmiddag, net voor die hekke toemaak, kan terugtjaila huistoe.

Maar net omdat dit slegs ‘n daguitstappie ver is, kan jy dit nou nie die vorige aand só rustig vat dat jy skoon nalaat om sekere voorbereidings te tref nie.

Soos om dúbbel sekker te maak al jou kamerabatterye is volgelaai.

Maar nouja, as jy jouself eers in die boendes bevind, is daar aan gedane sake (of is dit nou vergete sake?) geen keer nie.

Dan val jy noodgedwonge terug op jou ou, halfstukkende camcorder wat jy genadiglik op die laaste nippertjie ook ingepak het. En jou selfoon. Jou immerteenwoordige, staatmaker selfoon.

En moenie dink die swakker kwaliteit tonele verdien níé na die tyd ‘n plekkie in ‘n video nie. O nee.

 

Hoop nie die kraaie gaap ooit weer so nie

warm klein

Met die dat dit so heerlik nat en koel is hier by ons, dink ek weer terug aan die bloedigwarm somer van 2015/16. Tydens daardie Desembervakansie het ons onsself in ‘n kampplek in Thabazimbi-(van alle plekke!)-omgewing bevind, want as gesoute kampeerders wat reeds elke seisoen getroef het, het ons gereken ook dié kampervaring sou heel aangenaam wees. Hoe dan nou anders op ‘n vyfster kampeerterrein met jou eie privaat badkamer en kombuisie?

Wat ‘n ontnugtering. Pleks van luilekker uitspan en net so af en toe iewers heen ry, moes ons elke oggend hier teen tienuur, wanneer die humeure wil-wil vlamvat, ons toevlug neem tot ons voertuig met sy lugverkoeler om die res van die dag noodgedwonge die omgewing plat te ry. Enigiets om tog net die ondraaglike hitte vry te spring. Nie eens een ou middagslapie was ons beskore nie.

As troos was die lieflike Marakele Nasionale Wildreservaat darem in die omtrek en die wild volop.

En anders as óns het die diere temperature van tot diep in die veertig heel waardig hanteer.

Moet sê, was dit nie vir daardie warmste somer in myseheugenis nie, sou ek seker nie hierdie jaar se koeler weer so waardeer het nie.

 

Soos net ‘n pou kan pronk …. of nie

Ons het onlangs ‘n draai by die Willow Feather Farm gaan maak waar ek so gelukkig was om dié mannetjiespou se imposante hofmakery met my selfoon te kon vasvang. Om nie eens te praat van nog ‘n pou se kostelike, lomp vertoninkie direk daarna nie 🙂

Ongelukkig weet ek nie of die tweede een ‘n wyfie of ‘n onervare jong mannetjie is nie. Laasgenoemde kry eers op drie jaar tydens die broeiseisoen ‘n indrukwekkende stertveredos terwyl wyfies volgens een bron blykbaar soms ‘n mannetjie se vertoning probeer naboots.

 

Jasmyn, jasmyn, my liefde vir jou is aan die kwyn

Vandag het ons gasverwarmer langs die TV amptelik plek gemaak vir die waaier. Nie dat die verwarmer hierdie winter vreeslik in gebruik was nie. Ook is die geurige jasmynblomme waarna eens gretig uitgesien was, se bloeitydperk nou haas verby. Anders as vorige jare se geleidelike oorgang van pienk na wit so tussen die lowergroen blare, het die pienk botsels die keer aanhou opkrop en op die ou end in ‘n soortvan wit ontploffing opgeëindig. Bietjie van ‘n anti-klimaks aangesien die kleurvolle tussenstadium van bitter korte duur was en die eindresultaat op ‘n manier ‘n vaal wintergevoel aangewakker het.

Ek het nietemin foto’s geneem en hier en daar ook blatant gekroek.

Creative Control Mode - Expressive

Creative Control Mode – Expressive

Creative Control Mode - Impressive Art

Creative Control Mode – Impressive Art

Inderwaarheid maar aan die vaal kant. Selfs die groen van die blare word heeltemal deur die wit oordonder.

Panorama Shot Mode

Panorama Shot Mode

 

Só het dit verlede jaar gelyk:

12 Augustus 2015

Dalk is die lentedemper in my gemoed te wyte aan die feit dat ek dié keer nie heeltemal so reikhalsend na die nuwe seisoen uitgesien het nie. Nie met ‘n moontlike herhaling van verlede somer se bloedige hitte in die vooruitsig nie.

Op ‘n ligter noot :

 

Dis tyd vir aanbeweeg

Here's to strong women

Vrouedag is mos die dag waarop allerlei mooi boodskappies op sosiale media verskyn oor hoe vroue dan nou éíntlik behandel moet word.

Nee oukei, nie rêrig nie. Dis in elk geval nie hoe dit veronderstel is om te wees nie. Tog voel dit vir my of dié dag, anders as die oorspronklike bedoeling, vroue juis terughou. As lydendes, verontregtes, swakkeres. Die arme, arme slagoffers.

Soos met ‘n Facebook-inskrywing wat verlede week in my newsfeed verskyn het: “Vandag is Internasionale Vrouebewustheidsdag. Kom ons dink ‘n bietjie aan vroue – veral met betrekking tot lyding,” waarop die persoon ‘n paar mitologiese figure as voorbeelde gebruik (Lilith, Eva, Rut, Asjera, Tamar, Maria) en so bietjie oor sommiges uitwei – met die klem op hoe hulle geLY het. Dan sluit hy af: “Mag óns vroue beter hanteer.”

Dis alles goed en wel en ek kan verstaan dat sekeres as lydendes voorgehou word. Maar Lilith? LILITH? Adam se eerste vrou wat (in die persoon se eie woorde) net te veel vitaliteit en dryfkrag vir Adam gehad het? En met wie hy nie kon byhou nie, daarom is sy verwerp en het sy uit die prentjie verdwyn?!

Nee my magtag. ‘n Sterk, dinamiese vrou soos Lilith het tog sekerlik self besluit genoeg is genoeg waarop sy toe self haar goed gevat en geloop het.

Ek kan my wel ‘arme’ Adam se treurmares na die tyd indink. Dit was immers ook hy wat later, toe hy en sy tweede vrou (Eva) deur hul God voor stok gekry is, glad nie verantwoordelikheid vir sy dade wou aanvaar nie en die skuld vierkantig op sy nuwe vrou se skouers gepak het.

Oukei, Eva het ook iemand anders beskuldig, maar ten minste was dit ‘n pratende slang en nie haar geliefde lewensmaat nie.

Maar laat ek nou nie té vurig raak nie. Dit ís na alles net mitologie.

“Dankie vir bietjie onthou van vroue. Ons leef stil voort,” was die kommentaar van ‘n vrou kort na die verskyning van die Facebook-inskrywing.

Ai.

Dít, my liewe nasaat, het maar net weer bevestig dat slagoffermentaliteit onder vroue nog lank nie verby is nie. Netjies in stand gehou deur diegene wat eintlik maar net beter oor hulself wil voel. Sonder lydendes kan geen man immers ridder speel nie.

Ek hoop van harte Vrouedag gaan in jou leeftyd reeds iets van die verlede wees.

 

Where have all the young girls gone?

Vlugtelinge

Die vlugtelingkrisis as gevolg van konflik in die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Dís die tydperk waarin ons ons nou bevind. En teen die tyd dat jy hier lees, sal alles reeds in jul geskiedenisboeke opgeteken wees en beskik julle dus reeds oor die agternakennis – anders as ons wat nog so onseker oor die toekoms is.

Op ‘n stadium het als vir my soos die derde wêreldoorlog begin voel, maar sedert Rusland twee weke gelede lugaanvalle teen die Islamitiese Staat in Sirië begin uitvoer het, vestig ek my hoop daarop dat hulle, anders as Amerika wat nie juis hond haaraf kon maak nie, in samewerking met die Siriese regering terreurgroepe die finale nekslag sal toedien. Nie dat die Siriese regering so onskuldig is nie, maar onder omstandighede is dit die beste uitweg. IS móét gestuit word. Net soos die Nazis van destyds.

Ek gaan nou nie uitwei oor IS se barbaarsheid nie (ontstel my te veel, veral hul wreedhede teenoor kinders), maar wil wel ‘n paar vlugtelingbrokkies wat nou nie juis die hoofnuus gehaal het nie, met jou deel.

Eerstens: Some myths about the refugees – aangesien ek ‘n kleintjie dood het aan mense wat, nes destyds met die rooi gevaar, mekaar opsweep met propaganda soos die: The most shocking VIDEO you wil every(sic) watch!

Meer in my lyn: Whenever you think of migrants arriving in Europe, think of this image.

En dan: Germany opens arms for refugees from Syria – dalk omdat hulle wil opmaak vir hul Nazi-verlede en ook uit hul foute geleer het? Dink jou die verligting van hierdie vlugtelinge in – veral na al die trauma wat hulle tot dusver moes deurmaak.

Tog is die lewe nie so eenvoudig nie: Refugees unwelcome: The fight over Germany’s surge in refugees.

Hierdie help ook nou nie juis nie: Islamophobic Britain: Where Muslim women are spat on, punched and covered in faeces

Hungarian camera woman caught on video kicking and tripping migrants. Booooo!

Tripped Syrian asylum seeker scores football coaching job in Spain. Yay!

Refugee kicked by Hungarian camerawoman was member of terror group, Kurdish party claims. OK, ook dít is toe nou nie so eenvoudig nie. Nie dat die kameravrou se optrede geregverdig kan word nie. Of dat die man noodwendig ‘n terroris is nie.

Bob Geldof offers to take four refugee families into his home ‘immediately’ as he condemns humanitarian crisis as a ‘f**king disgrace’. Ek weet omstandighede is anders, tog herinner dit my aan diegene wat tydens die Tweede Wêreldoorlog bereid was om skuiling in hul huise aan Joodse vlugtelinge te bied.

The nations that sent the most arms to Syria have accepted the fewest refugees. Ironies.

Trying to follow what is going on in Syria and why? This comic will get you there in 5 minutes. OK, hierdie een het duidelik ‘n global warming-agenda. Tog is die benadering vanuit ‘n klimaatsveranderingshoek vir my interessant, veral na aanleiding van die Britse dokumentêre reeks “Man on Earth”. Dit gaan oor die effek van klimaatsveranderinge oor 200 000 jaar op die mens se geskiedenis en ek kan nie help om te wonder wat mense oor duisende jare (indien ons spesie nog so lank sal voortbestaan) se bevindinge oor die huidige tydperk sal wees nie.

Op ligter noot: Reporter gets angry and tells us the REAL news. Satire en parodie sal áltyd met ons wees.

Russia constructs first foreign camp in Syria for internal refugees – nogal slim om op die manier hulp te verleen sonder om hulself bloot te stel aan die toestroming van Midde-Oosterse vlugtelinge. Hulle sit immers reeds met ‘n swetterjoel vlugtelinge uit Ukraïne.

This great map lets you explore the history of migration for every country in the world.

Laastens: Record numbers of desperate child refugees (boys) are escaping to Europe alone. En dit bring my by my vraag: Where have all the young girls gone?

 

Niemand gaan jou kom red nie. Hierdie lewe van jou is 100% jou eie verantwoordelikheid.

Vanoggend in die dokter se wagkamer vertel die ontvangsdame my dat daar twee dae tevore by die praktyk ingebreek is. Al die rekenaars en eksterne hardeskywe – backups die lot – is gesteel. Nou moet hulle álles oordoen.

Natuurlik spreek ek my verbasing uit oor die feit dat die rugsteunskywe op dieselfde plek as die rekenaars gehou is. Boonop is al die pasiënte se besonderhede nou in vreemde hande en kan nie eens passwords tegnologiekenners verhoed om daarby uit te kom nie. En daar’s niks wat mens nou daaraan kan doen nie. Ek ken die gevoel van magteloosheid, het self al onder inbrekers deurgeloop.

In die spreekkamer spreek ook die dokter haar frustrasie uit en noem dat iemand vroeër die oggend vir haar ‘n mooi boodskap gestuur het. Sy tel haar selfoon op, soek ‘n rukkie rond en begin dan voorlees.

‘n Bybelversie. Sug.

“Ek’s die verkeerde een om dit voor te lees,” knip ek haar kort. “Ek’s ongelowig.”

Sy kyk my verontwaardig aan. “Dit bied vir my troos.”

“Dan soek jy mos troos by die een wat dit alles in die eerste plek toegelaat het.”

Sy dink vir ‘n oomblik na. “Waaraan glo jy?”

“Ek’s ‘n volbloed ateïs. ‘n Humanis. Vrydenker. Glo aan geen supernatural gods nie.

“Vir hoe lank al?”

“Al vir jare. ‘n Reuse las het van my skouers afgeval toe ek godsdiens vaarwel toegeroep het. Nou glo ek aan lewe vóór die dood, maak die beste van hierdie een lewe tot my beskikking.”

Ek kan sien sy’s ge-rattle. Gelukkig is ek net daar vir ‘n herhalingsvoorskrif.

Toe ek opstaan is sy skoon bewoë en ek wens haar sterkte toe. Ek voel werklik jammer vir haar. In die wagkamer wens ek ook die ander personeellede sterkte toe. Meer kan ek nie vir hulle doen nie.

Twee lekker belewenisse

Ai my liewe nasaat, ek sou darem nou wát wou gee om te weet wat julle stand van kultuursake gaan wees teen die tyd dat jy hierdie onder oë kry.

Die afgelope week het ek twee besonder lewenslustige vertonings bygewoon. Die eerste was “Die Prinsipaal se Konsert” wat ‘n jaarlikse instelling by die Universiteit van Pretoria is.

In afwagting van die konsert in die Aula.

In afwagting van die konsert in die Aula.

Hierdie jaar se tema, “Suid-Afrika”, het gesorg vir ‘n verskeidenheid goedverteenwoordigende items, hoewel ek tóg ietsie Indies gemis het. Feit bly staan, al die lewenslustige, talentvolle jong deelnemers gee mens sommer weer hoop vir die toekoms. Sou graag iets daarvan vir jou op video wou vasvang, maar enige opnames tydens die vertoning was streng verbode. Sal nietemin uitkyk vir ‘n skakel na ‘n webwerf waar jy dalk iets daarvan te siene kan kry.

‘n Paar dae later het die Radio Kalahari Orkes by die Atterbury Teater aan die beurt gekom en hoewel op heelwat kleiner skaal, net so energiek.

Gelukkig kon ek tydens dié vertoning ‘n videoclip neem, sommer met my iPhone, wat ek later met behulp van iMovie geredigeer het. Ongelukkig kan die program nou nie die klank regtoor nie, maar hierdie behoort jou tog ‘n idee te gee van die lekker vibe daardie aand.

[OK, wat die Prinsipaal se Konsert betref kon ek toe nou dié opspoor, maar ek’s bevrees dit lyk soos foto’s uit ‘n skooljaarblad. Ek kon ook geen professionele video-opnames van enige van die konserte kry nie, so lyk my hierdie jaar s’n is dan nou ook tot daarnatoe. Geen vibes dus vir jou van hierdie geleentheid nie.]

My liewe lawwe nasaat

IMG_0624

Ek het mos hierdie idee in my kop dat een van my nakomelinge eendag met my as eienaardige voorsaat sal identifiseer en dus graag meer oor my en my tydgenote se manewales te wete sal wil kom. Die dat ek hierdie blog nog so getrou in stand hou.

Ses, sewe jaar gelede toe ek hier begn skryf het, was dit glad nie so stil en besadig soos nou nie. Dit het behoorlik gewemel van bedrywighede. Om die ander blogs te lees was soos om ‘n klomp storieboeke gelyktydig te lees met dit tússen die lyne die kersie op die koek.

In daardie dae was daar nog behoorlike interaksie. Ons het oor en weer by mekaar ingeloer en gereelde eiertjies gelê. Op dié manier is hegte leesverbintenisse gesmee. En glo vir my, almal wóú gelees word.

Nou hierdie oor en weer kommentaarlewery het darem nie net by heuningkwaswoorde en smileys gebly nie. Soos dit mos maar met enige gemeenskap gaan het daar kort-kort ook bekgevegte uitgebreek en het sommiges behoorlik uit hul pad gegaan om te stir en sodoende ook húl pond aandag te kry. Dan was daar natuurlik ook die trolle. Wat is ‘n goeie ou blog-gemeenskap dan nou sonder ‘n nare trol? Maar dis ‘n storie vir ‘n ander keer.

Interessante tye gewees daai. Hier waar ek nou al by my derde koppie cappuccino trek, begin die herinneringe nou bokspring en kan my vingers nie meer behoorlik byhou nie. Daarom gaan ek nou vir eers die iPad eekant toe skuif.

Net gou nog iets: Henry het my mos op ‘n stadium weird genoem. Ai, liewe Henry vir wie ek nog altyd ‘n soft spot het. Ons het oor sóveel dinge eenders gedink. Net nie oor lyfstraf nie. Kan jy jou indink dat dit in ons tyd nog aanvaarbaar was om kinders te sláán?! Raak ek nou sommer weer driftig. Iedergeval, nog voor die uitval wat ook nou nie heeltemal ‘n uitval was nie, het hy mos eendag vir my gesê: “Jy is weird, maar op ‘n nice manier.” Waarop ek toe antwoord: “En jy is nice, maar op ‘n weird manier”.

Gawe tye daai. Propvol interaksie. Nou is hier slegs enkele hardnekkiges wie se stemme spookagtig teen die ou ruïnes bly eggo. Was dit nie vir die vooruitsig op ‘n weird nasaat wat moontlik eendag hier sal lees nie, was my laaste storiefluit ook al uit.

Tot ‘n volgende keer,

Jou hardnekkige weird voorsaat.