Geheime Agent KGW

Met die dat ook my jongste uit sy skoolskoene tot binne-in sy studentesloffies gegroei het, wonder ek toe nou wat ek met al die ekstra tyd op hande gaan maak. Want volgens dr Phil het ek na dese die ekwivalent van twéé voltydse werke se vrye tyd tot my beskikking. Dis blykbaar hoeveel tyd grootmaakma’s aan hul kinders bestee. En ek is verbaas dat my gô nie heeltemal uit is nie, want bo en behalwe hierdie twee voltydse werke, het ek al die jare ook deeltyds of vryskut gewerk. As ek my sommetjies reg uitwerk, het ek dus aan die einde van elke harde dag se twee-en-’n-halwe werk nie veel tyd vir slaap oorgehad nie.

So sit ek toe nou met die aanvang van Jongste se eerste Tukkiejaar by die kombuistafel en peins bo-oor my koffiebeker by die venster uit. En ek dink aan al die verlore slaap wat ek gaan inhaal.

Terwyl ek so sit en wonder, vang iets my oog. Ek vlieg op en druk my neus plat teen die ruit om beter te kan sien. ’n Silwer minibus is besig om bure oorkant die straat se swaaihekke met sy plat neus oop te stoot dat die slot doeriekant toe trek. En ewe kordaat ry hy twee rye spore bo-oor die netjiese grasperk tot reg voor die voordeur.

Waar my selfoon hom op daardie spesifieke oomblik bevind, weet nugter alleen. Daarom hol ek gang af landlynfoon toe om buurvrou oorkant die straat by haar werk te bel. Uitasem vertel ek haar wat ek so pas aanskou het. Nes ’n laerskooldogter wat verontwaardig stories by Juffrou aandra. Toe hol ek terug kombuis toe om verder by die venster uit te loer.

Ek kan my oë nie glo nie. Die bussie is besig om ’n jakkalsdraai oor die grasperk te gooi op pad uit! Wat hy gedoen het, het hy sowaar in ’n gangafhol, ’n hygoproep, en ’n gangophol se tyd gedoen! Sy makkers het sweerlik heel oggend alles wat die oog begeer by die voordeur gepak, reg vir oplaai en ry.

Dapper trotseer ek die frustrasie om sonder ’n foon by die venster uit te loer. Vlug van denke kyk ek na die nommerplaat onder verdenking. Ek kry dit net-net gelees voordat dit om die hoek verdwyn. Onwillekeurig maak ek ’n woord van die voorste drie letters. FELIX. Ek gryp naarstiglik na die inkopielys en skryf die nommer neer.

Maar toe kom sit die twyfelduiwel op my linkerskouer. En hy fluister in my oor: “Was dit nie dalk FLK pleks van FLX nie? Wat maak jou so seker dat dit Felix met ’n x is en nie Feliks met ’n k nie? En was dit rêrig ’n silwer bussie? Was dit nie dalk grys nie? Weet jy ooit wat die máák van die bussie is?”

Natuurlik het ek nie die vaagste benul watse maak dit is nie.

Terwyl ek so staan en twyfel, sien ek nóg ’n verdagte in bure oorkant die straat se voortuin. Hy staan sommer so oop en bloot. My loeraksie van agter die kantgordyn word voortgesit. Vlug van denke kyk ek in detail na kleredrag en voorkoms.

O, dis buurman skuins oorkant die straat. En hy staan selfoon in die hand, besig om te bel. Gits ja, met die dat ek niks wou mis nie, het ek nog nie eers kans gekry om die polisie te bel nie.

Met inkopielys in die hand waag ek dit toe na buite om my belangrike ooggetuie-bydrae te gaan lewer. En ek hoor dat buurvrou haar buurman net ná my oproep gebel het. Sonder om te huiwer het dié toe bo-oor die heining gespring om ondersoek te gaan instel. En ek dink so by myselwers dat dit ook maar goed is dat die inbrekers toe reeds pad gevat het.

Die boewe is later daardie selfde dag deur die polisie aangekeer en die meeste van die gesteelde goedere is teruggevind – danksy my flinke neerskrywe van die registrasienommer. En al die mense in ons straat is vreeslik in hul skik met buurvrou se oog agter die kantgordyn.

Gaan slaap maar, Geheime Agent 007! Staan opsy vir Katherina Gertruida Willemse, gebore Benadé.

Want ék, Geheime Agent KGW (gebore KGB), hou almal om my genadeloos dop. Van agter die kantgordyn.

2 thoughts on “Geheime Agent KGW

  1. Hiert jou! Jy was wakker! Baie geluk met jou bydrae om die skelms aan die pen te ry. 🙂 Ons het meer sulke geheime agente nodig. Ekself het al vyf keer onder inbrekers deurgeloop terwyl ek by die werk was. Kry elke keer ‘n baie onaangename verrassing as ek laatmiddag by die huis kom. Nie een buurman/-vrou het ooit iets gesien nie (hulle is almal bedags tuis – afgetree). Jy wil nie dalk regoor my kom intrek nie?

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.