Enigiets, net nie die boeke nie

Met die dat die matrieks weer ernstig aan’t eindeksamen skryf is, dink ek terug aan die drie spanningsvolle matriekeksamens wat ek moes aandurf. Een keer op my eie, een keer saam met my meisiekind en ‘n derde keer saam met my seunskind.

My laaste eindeksamen was mooitjies in ’n wêreldbekerrugbyjaar. En hoekom daar wêreldbekerrugby gespeel word in seuns se matriekeksamens, gaan my verstand te bowe.

In ieder geval, hier aan die begin van die eksamen, die dag voor ons vir ’n heel laaste keer skoolfisika sou skryf, sit ek mos voor my lessenaar en peins links verby my rekenaarskerm by die venster uit. Dis toe dat ’n rare beweging vir daardie tyd van die dag my oog vang. Ek knipper my oë en kyk weer. Ja, ek síén wat ek sien. Seun is besig om blare van die swembad af te skep. Vrywillig, sonder dat Pa hom moes dreig.

Maar dis nie ál nie. Toe elke enkele blaar afgeskep is, neem hierdie einste voormalige onwilligaard die Kreepy Krauly se werk totaal uit sy suierhande uit. Stukkie vir stukkie vee hy die bodem van die swembad skoon. Op die outydse manier vóór luimanstegnologie.

Dis toe dat ek van agter my lessenaar opspring en na sy kamer toe draf om te sien wat die stand van lessenaarsake is. Die lampie gooi darem al lig oor ’n oop fisikaboek wat in spanning wag om uit geleer te word. En ek wonder vir ’n oomblik of Seun dalk ’n broodnodige ruskans weg van sy boeke af vat. Maar dit kan nie wees nie. Want netnou het hy nog voor die TV gesit en kyk hoe Japan teen Fiji wêreldbekerrugby verloor. En voor dit het hy gestort. En net voor dit was hy een met sy bed. Reeds van gisteraand vróégslapenstyd af.

Ek neem ’n diep asemteug en loop terug studeerkamer toe. Maar die moedersenuwees knáág. Want links verby die rekenaarskerm duur die swembadbedrywighede onverpoos voort. En ek swyg soos die graf, want ek weet wat goed is vir my.

’n Paar dae ná die swembadskoonmakery rek ek in ’n stadium bene weg van my rekenaar af. Dis die dag voor ons wiskunde moet skryf. In die TV-kamer word ernstig na ’n lewensbelangrike wêreldbekerrugbytoets gekyk

Nou terwyl ek so in die gang af stap, kyk ek in die verbyloop vlugtig links oor my skouer by ’n sekere seun se kamer in. Ek stop, retireer, en kyk weer.

Ons seunskamer is só netjies, dit lyk of ’n vreemdeling daar ingetrek het. Geen vuil koffiebekers wat rondstaan nie, geen klere wat rondgesaai lê nie. Daar lê nie eers skoene in die middel van die vloer om oor te struikel nie.

Dis toe dat die klerekas waarvan die deure ewe skielik so geheimsinnig toe is, my aandag trek. Hoogs suspisieus beweeg ek soontoe en maak dit versigtig oop. Ek koes by voorbaat so half eenkant toe, maar niks peul uit nie. En ek gaap die inhoud oopmond aan.

Binne-in die hangkas, gestroop van alle muisnes-binnegoed, pryk elke ding op sy plek. Soort by soort, kleur by kleur. En heel onder in ’n reguit skoenry staan twee swart skoolskoene so en blink dat Seun op pad eksamenlokaal toe met elke tree se weerkaatsing van bo-af sal kan sien of sy gejelde hare nog net so lyk soos toe hy by die huis weg is.

Pa wat altyd so kla oor seunshande in hierdie huis wat nie uit moue gesteek word nie, sluk daardie hele eindeksamen lank swaar aan sy eie woorde. Want nog vreemde verskynsels sou gedurende daardie tyd plaasvind.

Hoe dit toe met die eksamenskrywery sélf gegaan het, sou ons eers na Kersfees saam met die res van die bevolking se matriekouers uitvind – ten spyte daarvan dat ek so knaend voor die tyd probeer uitvind het.

Want sien, elke keer wanneer ek ná so ’n skrywery gevra het hoe dit gegaan het, is ek kort en kragtig meegedeel: “Oukei.” Net dit. Geen gemor oor onregverdige vraestelle nie, geen verligting oor vrae wat raakgespot is nie. En ek moet maar verder my ore spits vir leidrade soos die klap van deure of ’n gefluit onder die stort. Maar van een ding was ek dóódseker. Die Engelse vraestel kon nie te moeilik gewees het nie. Dáárvoor het Seun homself reeds lank voor die tyd deeglik voorberei deur knaend voor die TV te sit en na al wat Engelse program is te kyk.

***********

So tussen hakies, Seunskind het sy eindeksamen toe met vlieënde vaandels geslaag.

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.