Trippe trappe trolle

Elke huis het sy kruis en elke blog sy trol. So het die trolle dan destyds ook by Litnetblogs hul verskyning gemaak.

Ek self was nie juis geteiken nie, so agter-die-skerm gruwelverhale kan ek nou nie vertel nie. Op die koop toe sien ek dikwels die humor in situasies wat nie noodwendig vir ander snaaks is nie. Dié dat ek ‘n paar keer ‘n knipoog-emoticon by ‘n trolverdagte se ‘regte’ profiel gaan los het elke keer wat ek gereken het het hy het iemand getrol. Net dit. ‘n Onheilspellende ‘I know what you did last summer’-knipoog. Of so het ek gedink. Kan jy jou dié persoon, wat tien teen een onskuldig was, se interpretasie indink elke keer wanneer so ‘n knipoog uit die bloute daar by hom opgeduik het? Orige vroumens!

Iedergeval, die enigste keer wat ék onder ‘n trol deurgeloop het, darem net met ‘n enkele inskrywing, het ek skertsend teruggereageer. Knipoog en al. En het ek die idee gekry dié trol was self ‘n trolslagoffer wat my van trollery begin verdink het en my toe wou terugtrol. Of so iets.

So het almal toe nou vir almal verdink en is daar ‘n trol agter elke bos uitgeskop.

Wat my by die keer bring toe ek wél iemand probeer trol het.

Tydens een van die talle vurige debatte het iemand ‘n ander persoon oor godsdiens aangevat. Ek as nie-gelowige het met die aanvatter se siening saamgestem, maar aangesien hy die vroulike anatomie as kragwoord ingespan het, het die feminis in my na vore gespring. Ek het besluit om hom voor stok te kry, maar was ietwat lugtig. Hy wás immers berug. Daarom het ek nog ‘n profiel geskep. Zumba, onthou ek die naam. En ek vat hom onder dié naam aan. Vir wat moet die vroulike anatomie wat niks met die prys van eiers te doen het nie, dan nou so by ‘n geskil ingesleep word? A nee a!

Soos die noodlot dit wou hê en omdat ek nie gewoond was aan meer as een profiel nie, raak ek toe deurmekaar en lewer ‘n opvolgkommentaar onder verkeerde naam. Ek kon seker asem opgehou het met die hoop dat niemand sou agterkom nie, maar getrou aan my eerlike selwers kom ek toe met die hele sakkie patats na vore. En is dit die einde van kortstondige Zumba.

Na dese kan ek sê ek het ‘n trol (só het sy teenstaanders hom beskou) probeer trol. En sou ‘n poniekoerant dit as volg teen lamppale kon uitbasuin: “Trol trol trol!”

Dit dan, my liewe nasaat, was my trollestorie. Soos belowe.

trippe trappe trolle
hou den bek ten volle
en jaagt ons niet op holle

4 thoughts on “Trippe trappe trolle

  1. Ek het eenkeer by ‘n baie windgat blogger die kommentaar gelos dat beskeidenheid nie sy grootste deug is nie, hy het lank en ernstig met my daaroor gesels. Ek weet ek was voortvarend om dit te doen, maar sy knaende selfophemeling het my op daardie spesifieke oomblik oor die rand van ordentlikheid gestoot.

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.