Ghaap, O Ghaap!

Met die dat daar nou ‘n Facebook-groep vir oud-Litnetbloggers gestig is, hou ons op hierdie stadium tog te lekker jolifikasie en reünie. En word daar natuurlik ook oor sekere gewese bloggers gegons.

Soos Ghaap. Ghaap met sy seksblog. Ghaap wat eintlik baie moed aan die dag gelê het en op die koop toe interessante besprekings ontlok het. En wie se blog vir lank bo-aan die lys van mees geleesde blogs gepryk het.

Ten spyte van sy poging tot neutraliteit, het sy inskrywings dikwels oorgehel na die manlike perspektiewelike sy. Toe ek hom op die eensydigheid van een so ‘n plasing wys, het hy egter moeite gedoen om die balans met ‘n volgende inskrywing te herstel.

Maar ja, seks bly ‘n sensitiewe onderwerp en sommige vroue het mettertyd wantrouig teenoor hom geraak.

So het dit toe nou ook gebeur dat Ghaap vroue aangemoedig het om foto’s van hul cleavages te plaas vir borskankerbewustheidsmaand. Goedbedoel glo ek, maar heel onvanpas. Met die gevolg dat vroue hom daar en dan aangevat het.

Vir my het die hele gedoente ‘n war between the sexes-kleurtjie begin kry en ek onthou nog een van die mans se verontwaardigde reaksie op iemand se sarkastiese voorstel dat mans soortgelyke foto’s van hul testikels moet plaas vir testikulêre kankerbewustheidsmaand.

Nog iets wat my opgeval het, was ‘n klompie vroue by die Engelse blogs wat nie die bohaai aan LitNetkant kon verstaan nie en in reaksie foto’s van húl cleavages daar by hulle begin plaas het. Heel rustig en ietwat uit die hoogte. Pure buitestaanders.

Eintlik het Ghaap deur die jare baie moeite met sy blog gedoen en ook ‘n punt daarvan gemaak om ander blogs te besoek en kommentaar te lewer. Immer hoflike Ghaap.

Die uitvee van sy blog – gebreke en al, net soos die res van ons s’n – was eintlik ‘n verlies vir die bloggemeenskap. En die skielike verdwyning van veral die bekgevegkommentare ‘n moewiese teleurstelling vir my. Daar was dan nog sóveel tussen die lyne te lese en herkoue, verdomp!

4 thoughts on “Ghaap, O Ghaap!

  1. Almal het te lekker saamgesels op Ghaap se blog maar toe hy te waagmoedig raak loop hy hom vas in ‘n storm van verontwaardiging, so erg dat hy sy blog sluit. Dis jammer, want hy het kwessies aangeroer wat nogal aanvegbaar was maar waaraan die bloggers lusttig deelgeneem het. Ek onthou dat een bloggeres toe gehoor gegee het aan sy versoek om ‘n foto van die ontblote boesem te plaas–sy het egter ‘n mastektomie gehad en die foto het my behoorlik aan die hart gegryp–veel meer as wat ‘n Huisgenoot-artikel oor borskanker sou doen.

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.