My liewe lawwe nasaat

IMG_0624

Ek het mos hierdie idee in my kop dat een van my nakomelinge eendag met my as eienaardige voorsaat sal identifiseer en dus graag meer oor my en my tydgenote se manewales te wete sal wil kom. Die dat ek hierdie blog nog so getrou in stand hou.

Ses, sewe jaar gelede toe ek hier begn skryf het, was dit glad nie so stil en besadig soos nou nie. Dit het behoorlik gewemel van bedrywighede. Om die ander blogs te lees was soos om ‘n klomp storieboeke gelyktydig te lees met dit tússen die lyne die kersie op die koek.

In daardie dae was daar nog behoorlike interaksie. Ons het oor en weer by mekaar ingeloer en gereelde eiertjies gelê. Op dié manier is hegte leesverbintenisse gesmee. En glo vir my, almal wóú gelees word.

Nou hierdie oor en weer kommentaarlewery het darem nie net by heuningkwaswoorde en smileys gebly nie. Soos dit mos maar met enige gemeenskap gaan het daar kort-kort ook bekgevegte uitgebreek en het sommiges behoorlik uit hul pad gegaan om te stir en sodoende ook húl pond aandag te kry. Dan was daar natuurlik ook die trolle. Wat is ‘n goeie ou blog-gemeenskap dan nou sonder ‘n nare trol? Maar dis ‘n storie vir ‘n ander keer.

Interessante tye gewees daai. Hier in Mugg & Bean waar ek nou al by my derde koppie cappuccino trek, begin die herinneringe nou bokspring en kan my vingers nie meer behoorlik byhou nie. Daarom gaan ek nou vir eers die iPad eekant toe stoot.

Net gou nog iets: Henry het my mos op ‘n stadium weird genoem. Ai, liewe Henry vir wie ek nog altyd ‘n soft spot het. Ons het oor sóveel dinge eenders gedink. Net nie oor lyfstraf nie. Kan jy jou indink dat dit in ons tyd nog aanvaarbaar was om kinders te sláán?! Raak ek nou sommer weer driftig. Iedergeval, nog voor die uitval wat ook nou nie heeltemal ‘n uitval was nie, het hy mos eendag vir my gesê: “Jy is weird, maar op ‘n nice manier.” Waarop ek toe antwoord: “En jy is nice, maar op ‘n weird manier”.

Gawe tye daai. Propvol interaksie. Nou is hier slegs enkele hardnekkiges wie se stemme spookagtig teen die ou ruïnes bly eggo. Was dit nie vir die vooruitsig op ‘n weird nasaat wat moontlik eendag hier sal lees nie, was my laaste storiefluit ook al uit.

Tot ‘n volgende keer,

Jou hardnekkige weird voorsaat.

 

5 thoughts on “My liewe lawwe nasaat

  1. Pingback: I’m not insane, my mother had me tested

  2. Blaai ek nou deur my ou blogs nadat ek ‘n skakel na een van my beginnersplasings vir iemand gestuur het, toe sien ek van my foto’s is nou in mindere of meerdere mate versteur en enkeles het selfs heeltemal verdwyn. Seker maar gebeur toe LitNet al die blogs na ‘n nuwe platform toe verskuif het. Sal dit eendag op ‘n reëndag weer met die oorspronklikes vervang en sommer ook die oordrewe spasiëring tussen paragrawe wat ook iewers langs die pad opgetel is, regstel.

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

Jy mag hierdie HTML-merkers en eienskappe gebruik: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>