Die kom en gaan van strydlustigheid

muskiet

Somer. Reën. En die uitbroei van verfoeilike muskiete. Dís mos hoe dit elke jaar gaan.

Maar dié seisoen was ek, die een met die mees aptytlike bloed in die huis, goed voorbereid. Met ‘n oulike skokapparaat in die vorm van ‘n rakket, het ek die gulsige bloedsuiers een vir een begin afmaai.

Aand na aand het ek rakket in die hand voor die televisie stelling ingeneem. Sodra die beweging van ‘n  muskiet voor die lig van die televisie my aandag trek, het ek blitsig opgespring en die rakket verwoed soontoe geswaai. En weer genoeglik in die stoel teruggesak sodra die die kenmerkende tzt-geluid vanuit die doodsnare opgeklink het. Tot die volgende muskiet haar opwagting gemaak het.

Nie lank nie, of ek was nie meer tevrede met muskietejag so voor die televisie nie. Nie as ek hulle sommer direk by hul gunsteling uithangplek saans teen die plafon kon gaan doodskok nie. En om daar by te kom, het ek my met ‘n stewige hoogtrap van die linkerbeen op die koffietafel gelig om na die tyd weer met ‘n dieptrap van die regterbeen op die vloer te lande te kom. Dieselfde proses is later die aand in die slaapkamer herhaal met die bed as bykomplek.

So het ek elke aand ‘n hele klompie muskiete se kort lewentjies nóg korter geknip. Totdat dít ook nie meer genoeg was nie. Nee, ek moes ook smôrens die rakket in al wat donker potensiële muskietslaaphoekie is, loop druk om hul verskrik te laat opvlieg – reg in die dodelike kake van die skokmasjien.

Maar soos dit in die lewe gaan, móét segetogte een of ander tyd tot ‘n einde kom. En het ek een oggend met ‘n steekpyn in my knie wakkergeword. Die regterknie. Die knieg van die been waarmee ek so knaend vanaf die koffietafel en bed vloer toe gedieptrap het. My landingsbeen.

Net daar het ek my fut vir muskietejag verloor. Mens het immers net één lewe. Met één regterknieg.

Ek het my toe maar weer soos van ouds met insek-weerder begin smeer met die vaste wete dat ‘n desperate muskiet kort voor lank ‘n oorgeslaande kolletjie sou uitsnuffel waar sy haar bloedlus kon bevredig. Maar ten minste het my knie mettertyd beter geword.

En die doodsrakket?

Dié lê op die bedkassie vir ‘n vinnige raakgryp in die donker om blindelings bo my gesig rond te swaai. Met die uitsluitlike doel om ‘n uiters irriterende zzzoei so vinnig moontlik in ‘n hoogs bevredigende tzt te laat eindig.

4 thoughts on “Die kom en gaan van strydlustigheid

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.