Woord, woorder, woordste

Op ‘n stadium bevind ek my mos in die Dikhololo-vakansieoord, smoorverlief op my taal en heel moerig vir my man.

Dit het alles begin by die Dikdikkie Restaurant waar ons vroeër die dag ‘n draai gaan maak het. Dié plek is vernoem na die Damara-dikdikkiebok van Namibië, sien ek later die middag in ons natuurlewe-gids. En dis toe dat ek op een na die ander halfvergete woordjuweel afkom.

Bidsprinkaan, klopkloppie, naakslak, glimwurm …

“Daai Ferrari gaan die Mercedes vang!” Dis my man wat na die tweede Grand Prix-byeenkoms van die seisoen kyk. “Watch nou, dit neem hulle net ‘n paar sekondes om wiele om te ruil en brandstof in te gooi!”

Ek kyk vir ‘n paar sekondes op, neem ‘n slukkie rooiwyn, en druk my neus terug in die boek.

Vlamdoring, wildedagga, kierieklapper, raasblaar. Laat my nogal aan sommige van ons bloggers dink. Stekelkoggelmander, kleinblafgeitjie … hemel, nóú raak dit interessant!

“Die Finne is meedoënloos … iets in hulle gene. Ferrari rem beter en is vinniger op die reguit stukke. Iemand moet net ‘n fout maak!”

Ek blaai om. Skurwejantjie: ‘n bedreigde reuse-akkedis wat ook bekend staan as ouvolk of sonkyker. Sommige mense praat van skurwejaantjie met ‘n dubbel-a, soos in bobbejaantjie.

Ek kom by die voëls uit. ‘n Diederikkie roep “diee-diee-diee-dieederik” en kom wydversprei voor, ook in voorstede. En soortgelyk aan dié koekoek is mooimeisie en meitjie.

“Daar wen die eerste Mercedes!” dring ‘n stem van ver af tot my deur. “Nou vir die tweede plek …. Yesss! Mercedes is ook twééde!”

Kokkewiet, bokmakierie, vleiloerie, donkernaguil. Kan nogal met laasgenoemde identifiseer – was nog nooit ‘n oggendmens nie.

Spookvoël: nie skugter nie, maar boer in skuiling, lees ek. Ai, ons skuilnamers tog!

Jangroentjie. Voor my geestesoog sien ek ‘n kollega vir wie dié skoen alte netjies pas. Ek grynslag breed terwyl ek ook ‘n klippie binne-in die skoen visualiseer.

Langbeklewerik, dikbekwewer, spekvreter (diés wat aan spekskieters se lippe hang?), dubbelsnip …

“Jy’t nie ‘n woord gehoor wat ek nou net gesê het nie!”

Huh?

Nou moet ek vinnig dink.

“Jy’t nog laas van deurmekaar volksliedere gepraat,” vat ek ‘n vet kans. “Iets van “God save the Queen” wat gespeel word vir die Spaanse ou wat met die Duitse renmotor gewen het. Of is ek nou deurmekaar met ‘n vorige Grand Prix? Nee, jissie, nou weet ek nie meer nie.”

“Nee maar dis reg,” kalahariwipstert hy hom vir my, “ek sal dit onthou!”

Hy loop bromvoël-bromvoël daar weg.

“Skryf dit dan maar in jou swart boekie! Ek’s g’n hier om heeltyd net op jóú te fokus nie,” dubbelsnip ek hom agterna.

Verontwaardig vat ek ‘n ekstra groot sluk uit my kelkiewyn. Maar ek weet ook dat die dikbekwewer kort voor lank sal plek maak vir die hofsanger vlei-uil. En in die donkernag sal ons twee weer styf teenmekaar lepelaar-lê.

24 thoughts on “Woord, woorder, woordste

  1. Dikdikkie .. in Meyerton is daar ‘n straat met die mooie naam. Iewers -lank gelede het ek iets daaroor gesels, dink die ewige naamveranderings was tersprake, sou so graag my straat so wou noem “Dirkie van Dikdikkiestraat” Heerlik gelees.

Los ’n antwoord vir Henry @kompethenry. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.