by tfbe

Nie meer is ek geskok

Augustus 11, 2020 in Uncategorized

Nie meer is ek geskok
deur die ondade
van hartseer mense
nie

maar

my hart by seer
vir hulle wat
swaar dra
aan die swaar sake
van swaar lewens
in ‘n swaar wêreld.

Tog koer die duiwe
steeds
met dankbaarheid
sonder ophou
wanneer die môreson
weer dagsê

want die môreson
kom immer weer
sonder twyfel
sonder saak
met hoe donker die nag was.

by tfbe

As daar maar net ‘n kuur was

Augustus 11, 2020 in Uncategorized

As daar maar net

‘n kuur was

vir die siek wat

mense dra

in harte…

in psige…

As daar maar net

geloof was

in die goedheid van

alledaagse dade

goed bedoel…

sonder verwagting…

Want ‘n bitterheid in die oȅ

verklein jou wȇreld tot ‘n

donker kis

wat wag om ses voet diep

gelaat sak te word.

En wanneer die ewige stilte

kom

loop jy steeds rond

in harte…

in psige…

(van díe wat graag nog glimlag)

as herinnering

van dit wat nie hoort nie.

by tfbe

Jou goedheid is jou ondergang

Augustus 10, 2020 in Uncategorized

Jou goedheid is jou ondergang…
Effens onbewus,
effens kind so met jou grys hare.

Seer kom. Weer en weer.

Met tyd en hoop kom die strale
van onse môreson

om te heel dit wat so diep
letsels sal laat.

Maar jy moet leer

want jou goedheid is jou ondergang.

by tfbe

Herinnering

September 6, 2012 in Uncategorized

Ja, daagliks loop ek met my eie voete.

Heen en weer,

amper doelloos.

Met my eie voete voel ek die sandkorrels,

hier waar ek al jare lank heen en weer loop,

so asof ek elkeen onthou.

Ek kyk, ja , ek tuur lank die herinneringe in van tye wat verlore is.

Met my eie voete plant ek myself,

reg om te begin groei.

by tfbe

..

Julie 27, 2012 in Uncategorized

Laag op laag lê die vlaktes oor die dorre uitkyk van wie ek is.

Sonder twyfel benoem ek myself.

Doelloos lê die spore, met geen rigting.

Blind, ja blind loer ek deur die krake.

Skaars skaars sien ek die effense lig.

by tfbe

Junie 15, 2012 in Uncategorized

Skerp skiet die son oor die berge my oë tot skrefies. Dit is dag.

Soet verlang ek na die donker van die nag. Dit was koud.

Glimlag op glimlag karjakker op die gesig van my gedagtes.

Dit is dag.

by tfbe

Rus.

April 26, 2012 in Sonder kategorie

nag word heilig verklaar.

donker rus die maan op die skouers van duisende trane.

stilte word gebreek deur die verskietende ster wat ruisloos verby vlieg.

rus sag, dag kom weer.

dag word heilig verklaar.

sag sag soen die son die rooi oë tot rus.

selfs die wind slaap stil.

rus sag, nag kom weer.

by tfbe

Goeie dag, my lief

April 25, 2012 in Sonder kategorie

Die son wys toe sy gesig oor die naaldpunt bergpieke. Uhg! Ek wil nie opstaan nie.

Motors jaag verby, mense begin die vroegoggend vroetels, soos dit maar hoort.

Maar ek wil hier bly lê, net hier.

Dit is knus langs jou. Lekker warm.

Voetstappe in die gang af klop in my kop soos die wêkker se sekondewyser.

Tyd. Wat is dit nou werklik.

Wat ookal die antwoord, ek wil dit met jou deel.

Oplaas, ek het opgestaan.

Die komberse is weer mooi reg getrek, netjies soos ek geleer is.

Gee my jou sloop.

Ma het altyd gesê ‘n mens moet elke vyfde dag die kussings se slope was.

Toe, gee my jou sloop.

Ja, naak lê jy nou op die plat gestrykte komberse.

Goeie dag, my lief.

Vanaand sien ek jou weer.

by tfbe

Dit is vroeg.

April 12, 2012 in Sonder kategorie

Stilte hang oor die dorp…

Die nag is oud.

Windloos seil ek, met rasende gedagtes deur die strate

…opsoek na ‘n antwoord.

Ek skop ‘n klippie.

Stilte borrel oor my lippe.

Die nag is oud.

Ysig groet die oggendster my met glinster in die oog.

Ek fluit ‘n deuntjie.

Stilte raas met oponthoud deur my oë.

Die nag is oud.

doeksag breek die lig deur die lense van my kykers..

blind.

vasgekeer in ‘n grenslose vlakte

bewend

roekeloos aan die wandel,

traandam in my hande.

by tfbe

Lank lank gelede…

September 9, 2011 in Sonder kategorie

Soms wens ek my lewe was ‘n sprokiesverhaal…dit moet begin met Lank lank gelede, en dit moet eindig waar die koets wegry met die volgende woorde agter op : just married.

Almal is gelukkig, niemand het ‘n kwaal of klagte nie, die goed oorheers.

Toe ek nog ‘n jong seuntjie was het ek daagliks verlore geraak in my verbeelingwêreld, ‘n wêreld waar ek kon maak en breek soos ek wou, ‘n veilige plek waar ek altyd die held was. Partykeer wonder ek of ek nie soms steeds daardie held probeer wees nie. Dalk nie my verbeeldingwêreld nie, maar in die volwasse wêreld waar ek myself bevind. Dog is my pogings power en onsuksesvol.

Lank lank gelede was ek gelukkig, nou is ek minder gelukkig. Ek probeer werklik hard, ek doen. Tog is die vloek van intellek en ouderdom die inhibeerder van dit wat geluk laat geskied.

Shit!

Dit is so dat ek dag na dag maar net voort beweeg deur dit wat ander as die lewe sien, amper blindelings, maar bestendig. Dit is seker goed genoeg.