LAG

August 14, 2016 in Uncategorized

LAG

Die houtkerfwoordjie in wynrooi is op my mikrogolf oond se regter voorste hoek vasgeplak. Net links van die stoof wat nooit aan is nie. Ja ek kook, elke dag, maar verkies die elektroniese induksietipe stofie. Wonderlike masjientjie. Lag, voorste regter hoek. Fokus my kind. Lag.

My moeder het daardie houtkerfwoordjie in wynrooi vir my gekoop in ‘n tyd wat dit die enigste lag in my lewe was. Net daardie een. Troos! Die lag het intussen weer teruggekom, so bietjie. Jy sien, iemand het my lag kom steel kan jy glo? Die slim mense sê niemand kan jou lag kom steel nie, nie sonder jou toestemming nie. Slim mense.Verbeel jou. Nou reg meneer slim mens, kom ons ruil gou skoene om en gesels dan weer?

LAG.

So is die lag uit ‘n lewe kom steel. Die lagdief het nie eens geweet dit is gedoen nie, tot vandag toe nog bly dit ‘n misterie, die lagdief ontken dit natuurlik tot sterwens toe dat só daad ooit plaasgevind het. Meeste lagdiewe is skynbaar stokblind ook. So kom ek toe lagloos agter hoe ongelooflik baie laglose mense daar om my bestaan. Sommiges s’n is gesteel, ander het hulle s’n verplaas of verloor. Daar is selfs diegene wat hul lag weggegee, weggegooi of sommer net weggedrink het. Hoe dit ookal sy, daar is ‘n menigte lagloses naby en vêr.

LAG.

Johannesburg se Noordelike voorstede bied nou “lagklasse” aan, vir díe wat dit kan bekostig. Aha, koop n lag. “Wie s’n?” wonder ek? Hulle sit in ‘n sirkel, na jou fooitjie jou gepooitjie het en die lagmeester begin lag. Hy lag waansinnig uit sy maag uit, en almal weet dat ‘n lag, soos ‘n gaap, aansteeklik is. O die mensies lag al te lekker! Afstootlik eerder, hulle “melk” die lag. Ekskuus mevrou Sandton, jy flous my nie in jou stywe pienk lagpakkie nie. As jy daar uitstap hou die lagdwelms nie juis lank nie. Ek ken die fisiologie.

LAG.

“Vreemde sit-u-asie” sou ‘n vorige kennis,  meester en berugte lagdief gesê het.

Nouja, na ‘n paar jaar se laglose dae en nagte kan mens mos nie so voortploeter nie en jou ma koop al wynrooi houtkerfwoordjies in die hoop dat weer sal terugkom. Dit is toe dat ek besef dat dit wel moontlik is om dit terug te kry en al sê meeste “feelgood” predikers, “soek dit net binne jou”, is my antwoord aan hulle ‘n paar kortstondige dog kragtige woorde wat jy self kan raai om my misnoëe aan so ‘n belaglike teorie te toon. Die lag, ‘n nuwe een, moes ek gaan soek, en vind toe dit is nie ‘n enkele deel nie, nee, dit is duisende dele wat die lag opmaak. Sommiges reusagtig groot, maar meeste klein, klein, piepklein. Meestal vind ek ook met die nuwe lag, dat hy graag wil wegloop, selfs gesteel wíl raak, so ‘n mens moet hom versigtig oppas en naby hou,  heeltyd die stukkies van hom gloeiend hou soos ‘n Sekelbos vuur in die bosveldlapa laat in die nag aangeblaas word.

LAG.

Dit is my voorreg om weer ‘n lag te mag hê. Die oomblikke koester ek, meeste van ons weet immers hoe dit voel as ‘n lag weg is. Vanaand het my “lagklas” begin met ‘n prentjie van ‘n haas wat hyg na asem. My lag-kameraad en ek moes sekerlik vyf minute neem om die onkeerbare golwe wat net weer en weer terugkom te laat bedaar voor die storie kon voortgaan, net om op die volgende bladsy ‘n lam hoender te sien…

LAG. Die houtkerfwoordjie het ‘n persoon geword en elke keer as ek weer lag, is daar mense by betrokke. Die smaak daarvan die aangenaamste Kaapse rooiwyn. “Dis die dinge wat jy weggee wat jou ryk maak.” het Lucas Maree gesing. Daarom be-ywer ek my om my lag nooit weer te laat steel nie, nooit ooit weer nie, maar sal ek hom weggee aan diegene wat dit nodig het, maar veral diegene wat dit verdien. My persoonlike “lagmeester” vra nie geld vir klasse nie, sit nie in sirkels en lag waansinnig nie, bied nie vals hoop  aan vreemde mense nie, nee. Mý lagmeester lag maar net omdat dit snaaks is, dit is aansteeklik en nie ingekleur met valsheid of pretensie nie. Hy weet nie hoe goed hy daarmee is om lag uit te deel nie. “Hy moet skatryk wees” dink ek. ‘n Absolute meester van die kuns. Nie sleg as mens dink dat hy net agt jaar oud is nie.

 

 

 

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *