“Is jy daar? Hoe vêr bly jy van Jhb lughawe af?
1986. Ons is tien jaar oud hy en ek. Ma laat my Saterdae oggende laatslaap want in hierdie Natal Suidkus dorpie hoef niks vinnig te gebeur nie, veral omdat die dorpenaars Vrydae-aande graag kuier. Nee. “Kuier” is ‘n woord wat sy ware betekenis verloor het en skielik dronkdrink beteken, ek haat dit. Nee ‘n mens “verneem hoe dit gaan”, tot laatnag toe. Hierdie Saterdag oggend is ek half geïrriteerd. In die sitkamer van ons staatshuis waar Ma, my ouer suster en ek woon met die dun asbesmure, is daar alweer reeds gaste. Ek draai om en slaap verder en kan my nie steur aan hulle gesprek nie. Dit is nie koud nie, dit is nooit koud daar nie en die weer is pragtig vanoggend. Selfs die wind waai nie en dit is noemenswaardig vir ‘n winderige stranddorp. Onheilspellend selfs vir só mooi oggend. Ek, ek slaap egter nog ‘n bietjie ten spyte van die vroegoggend mense.
“Hey, So 45km. Julle op pad?”
“Ek’t nounet geland maar ek’s oppad London toe. Was in die Kaap vir 5 dae. Ek vlieg 8 uur. Sorry vir die short notice. Net gedink on the off chance dat jy available is kan ons gou meet.”
Ek wonder of hy met ‘n Britse aksent die woorde tik. Sewentien jaar laas het ons mekaar gesien in Durban as jong mans. Hy woon nou in London vir die afgelope 13 jaar en slaap snags langs sy pragtige rooikop Franse vroutjie en twee seuntjies met rooikoppe. Hulle lyk so gelukkig op foto’s die gesin wat so van mekaar hou en reis en familievakansies hou en Britse pond verdien. Dit is pragtig. Ek gun hom sulke geluk sonder ‘n sweempie afguns of afgrys.
Ons is 10 jaar oud, in die fleur van kindwees. Die dae is te kort en die nagte soms te lank. Elke naweek slaap ons oor by mekaar. Hy nooi my altyd en ek gaan graag want hulle het ‘n nuwe swembad. Hy het meer LEGO. Hy het nog ‘n ma én ‘n pa en geen boeties of sussies nie. Christiaan wat ‘n jaar jonger is wie se pa saam met sy pa ‘n aanklaer by die hof is en ek is sy “broers”. Ons speel lekkerder by sy huis, Hy het meer speelgoed in hul nuwe huis met die twee garages waarin Die Benz staan. Oh ek is mal oor Duitse motors! Hulle yskas is nogals vol. Hy laat my altyd op sy bed slaap, hy slaap op die matras op die grond. Ons gesels mekaar aan die slaap en kyk mekaar wakker soggens. In die oë. Dis ons manier. Hy troos my en soek my pompie vir my as ek dikwels in die middel van die nag asma aanvalle kry. Tussen die twee van ons het ons al ‘n paar rooi BMX fietse se bande opgery in die dorp. Baie halfgeboude huise in hul buurt is verbeeldings-blokhuise waarin menigte “crook” sterf. Sekere valle, bloedwonde en speelplekke word nooit aan ons ouers bekendgemaak nie, dit sal net boudwonde en minder speeltyd veroorsaak. Die glas eetkamertafel is eendag tydens ‘n binnenshuiste “lasergeweer fight” amper vermorsel. Sy ma se versameling skulpe is verwoes. Nou nog sien ek hoe hulle in slow motion deur die lug trek en uitmekaarspat teen die sitkamer muur. Nimmer weet hoe die glasblad oorleef het. Die tannie was nodeloos om te sê woedend. Gelukkig het ons darem op ons rug geslaap daardie aand. Saam bou ons LEGO paleise en ruimte stralers met laser gewere wat ons op M-Net se kinderprogramme sien by hulle huis in die tweede sitkamer. Die dorpsmense noem ons Laurel and Hardy, ek is die een wat ‘n paar etes voor is. Hy deel sy sakgeld graag vir skelm soetgoed by die hoekwinkel naby die kerk.
“Hoelaat board jy?” Die iPhone wys 16:45 in regterkantste boonste hoekie.
“Die vlug is 8:20 so ek moet 7:20 gaan” Berekend en versigtig soos altyd.
“As ek nou ry kan ek net na 18:00 daar wees. Vind solank ‘n spot ek is op pad.”
“Cool man. ek is hier by die eet area Steers, spur etc.”
“Awesome. Vrou en kinders by jou?”
“Net ek.”
“Ek ry summier. Sien na 18:00”
“Ek wil jou nie uitsit nie. Ek nie gedink sal so lank vat nie, sorry man”
“Jy doen nie! Só kans gaan ek nie misloop nie”
“Okay cool sien jou soon.”
Die daglig raak nou te veel en ek moet opstaan. Dankie tog die mense is weg. Dit sal vreemd wees om so voor die dag nog eintlik begin het en die son al water trek te verskyn voor mense in my ou pajamas, al ken ons hulle goed. “Wil jy koffie hê?”, “Ja dankie mamma.” Mamma maak die lekkerste koffie, enige koffie wat iemand vir jou bring smaak net beter. Sy bederf my weer vanoggend. My suster het uitgeslaap by vriende. Sy slaap maar min tuis naweke, tienermeisies en hul ma’s skree baie op mekaar. Die sitkamerstel van hout met die fake fluweel rooi materiaalkussings glim in die son wat van die stoep af inskyn. Dit is veilig hier en die gordyne hoef nie juis baie lig uit te hou nie, die vriendelike oggendson skyn sommer regdeur. Die banke se springs breek nou deesdae een na die ander en dan kom die spons stukkies onder uit. Vandag moet ek weer een of twee inhaak in die klampies, hulle spring altyd uit tydens ‘n fliek op tv dan skrik ons ons katswink en lag vir mekaar ons drie. Goed regmaak in die huis is my werk alleen. Jitte maar die koffie is soet vanoggend. Lekker. Dit is so stil in die huis nou. Lekker. Ek hou van stilte. Mamma hurk voor my en sit haar hande op my knieë. “Seuna, ek het vir jou slegte nuusies.” Snaaks hoe ons Afrikaanses verkleining gebruik vir versagting is dit nie? “Wat?”, my pols jaag reeds en die Suidkus was lanklaas so koud. “Jou beste maatjie se ma is dood.”, “Hoe?”. Mamma haal diep asem, sy weet my jong koppie werk vinnig met inligting wat liefs moet reguit vlieg. “Sy het…………”. Die koffie raak oombliklik bitter.
Dit neem moeite om uit Pretoria te kom in spitstyd maar ten einde laaste is die lang neus van die blou halfbetaalde Duitse diesel op pad lughawe toe. Een uur. Wat sê mens na 17 jaar en ‘n leeftyd se gebeure in een uur?
Ek gaan beslis nie koffie bestel nie. Steeds hou ek nie van hierdie provinsie nie en is frustreerd omdat die aanwysings op die inligtingsborde mens net halfpad reghelp. Die parkerings bo het die minste motors. Dit is stil daar. Ek hou van stilte. Af. Af by die roltrappe tot op die winkelvlak. Regsdraai. Lang gang terwyl winkeltjies en stalletjies wat dasse, handsakke en sigaret aanstekers verkoop. Apteek en banke links dan die eetplekke. Linksdraai. Ek sien hom nog nie. Gou by die badkamer in.
“Waar sit jy? Ek kom nou uit loo tussen Spur en wimpy uit.” tik ek.
Voor my kom die ewebeeld van sy moeder aangestap na my. Skraal soos ‘n riet, lank, en die vriendelike oë nes die van die tannie wat ons hare soveel keer lieftallig gesny het in Scott straat. Sy hare is kort, swart en effens gryswordend aan die kante. Ons word veertig binnekort ons albei. Hy skud blad en ek omhels. In die Spur praat ek soos altyd die meeste maar ons verneem waarlik hoe dit gaan. Dit gaan goed met sy pa. My ma woon weer in Natal naby my suster-hulle en geniet om naby mekaar te wees. Selfoon fotos van die kinders word aan mekaar gewys. Hy praat steeds vlot Afrikaans. Die britse aksent bestaan toe nie. Hoe is jou werk en hoe is jou werk? Mens wil mos maar altyd beter. Beslis. Ons was nog nooit terug dorp toe regtig nie, net toe my pa dood is was ek daar gewees maar het nie verby die asbesmuur of hulle ou huis in die Suidekant van die dorp gery nie. Sy pa woon waaragtig nog daar en tree uiteindelik af. Christiaan is ‘n baie suksesvolle hotelbestuurder in London, hy bestuur ook langkap Duits. Die woorde vlieg en hy loer loer op sy horlosie die heeltyd. Tyd. Tyd! maar ‘n uur gaan vinnig verby. Hy betaal soos nog altyd vir die eetgoed. Saam saam stap ons tot by die instaphek vir Internasionale vlugte. “Soek my op as jy in London kom.”, “Jy weet ek sal, as ek daar uitkom, geluk met jou seuntjie se verjaardag vandag!”, “I’ll hold you to it, baie dankie. Totsiens.” Hierdie keer skud ons net blad.
In die bed wemel my kop met herinnering soos altyd na noemenswaardige gebeure soos vanaand. “Onthou hy ook alles terwyl die straler noord oor Afrika vlieg?” wonder ek. Noodwendig uit my aard draai dit diepkantdink toe en word ek bewus van iets wat ek nooit besef het tot vanaand toe nie. Van die dag wat die koffie bitter geraak het, het ons nooit weer mekaar aan die slaap gepraat nie, en nooit weer wakker gekyk nie. Vanaand was die eerste keer dat ons mekaar weer waarlik in die oë gekyk het, in daardie een oomblik terwyl ons gepraat het was daardie Saterdag oggend skielik tussen ons, in ons waterige oë te bespeur, en ek wonder wie het vir wie die meeste getroos toe ons tien jaar oud was.
_____________________________________________________________________________________________________________________
Recent Comments