Goue gras en Veldblomme

Maart 8, 2013 in Uncategorized

My kar het gister hier aan gekom met een van daai laaaang lorries. Nog net so pragtig en oulik soos ek hom onthou. Daar vat ek toe die pad Potch toe want my swaer wat hier was vir ‘n week vlieg môre huis toe en ek wil ‘n pakkie vir my ma stuur. Sommer net oor ek so na haar verlang en oor dit te danke aan haar is dat ek uiteindelik ‘n kar het OM mee Potch toe te ry.

 

Ek het net oor die beautiful Vaal gery en dit voel ek weer kan asemhaal. Ek gooi my hare los en draai die vensters wyd oop. VARS lug.  Nie Bellville lug nie. Vry, in my eie kar, met my eie pas, met my eie eindbestemming. Nie ‘n bedel-geleentheid nie.

 

Die son se wimpers hang al laag oor haar oë en voor my is die mooiste oop wat ek nog gesien het. Grashalms langs die pad skyn goud soos die kant wat ek elke dag op trourokke vaswerk. Elkeen so mooi en ek besef hoe God ook hulle langs die pad gestrooi het asof dit kant blommetjies op ‘n bruids-rok is. Die miellies lyk soos fluweel-matte en reuse vries-beeste staan lui in die velde in wei. As mens vinnig kyk lyk dit of daar oral banke vanuit die spur tussen die lang grasse staan. Dis SO mooi en vir die eerste keer begin ek dink…”HIERDIE kan ek dalk eendag huis noem.

 

Net buite Potch wag ek langs die pad vir ‘n kêrel in sy blou kar om my deur  die dorp te kom begelei na waar my swaer vir my staan en wag. Terwyl ek tyd het om die oomblik in te drink trippel ek die veld in met hoe hakke en satyn romp na waar die kalfies langs die heining nuskierig loer na die meisie in die wit kar. Die boer kom ook nader en ons gesels oor sy oulike babatjies en sê ek mag maar van die veldblomme pluk as ek wil, hulle is dan sò mooi! Toe Len my kry staan ek en glimlag vir die lug met ‘n bos vol blomme in my hand, en vrede in my hart. Ek is gelukkig. Die lewe gebeur terwyl jy besig is om dit te beplan.

Oor boontjie plante en verlang

Februarie 11, 2013 in Uncategorized

Gisteraand krul ek myself in ‘n klein bondeltjie op en verlang huis toe. Ek huil sommer oor my arm, my berg en my ma. Ek huil oor my soortvan liefde wat nou ook nie eers meer soortvan is nie. Ek begin wonder hoekom ek ooit getrek het terwyl ek eintlik so gelukkig was daar waar ek was. “mens moet groei sonnet.” ek weet ja maar ek was nog nie reg nie!!  “mens is nooit reg vir groot word nie.” Dis seker waar… “jy WAS gelukkig maar nie die gelukigste wat jy kan wees nie.”

Die lug het my getroos deur toe te trek soos dit tipies in die Kaap sou maak. Sulke grys wattes wat saam pluis en net liggies drup sonder ophou soos ‘n ma wat huil oor ‘n verlore kind. Ek het gewens die gedrup hou nooit op nie. Waarna is dit wat ek tog so na verlang? Wat is dit wat vir my so verlore voel? 

Vanoggend staan ek op, ek trek my blou rok aan, en sug terwyl ek ‘n paar plat skoene aan my voete glip. Ek het so uitgesien na die hakke en nou is dit ook taboe voor ek hulle nog kon BEGIN dra. Tog, ten minste het ek skoene.  Ek begin dink aan gister se verlang en besef dit sal ook weer beter raak. Verlang ek regtig huis toe of verlang ek net na die idee van die huis, van sekerheid? Verlang ek nie dalk net na ‘n heel arm, ‘n heel hart en na bene wat werk nie? mis ek nie dalk net die wete van “alles sal ok wees” nie? Parys is so goed vir my gewees tot nou toe. Mense wat opreg omgee en uit hul pad gaan om my te help. Tog, ek mis my onafhanklikheid en die wete dat ek self KAN reg kom. Ek mis dit om self in my kar te kan spring en te kan ry waarheen ek wil. Ek mis dit om verder as 300m te kan stap. Ek mis mooi skoene, en ek mis dit om te kan skilder en te kan naaldwerk doen. Ek mis dit om terug te gee en sukkel om te ontvang.

“Dis alles deel van groei sonnet” ek WIL nie groei nie. Ek wil net wees. “jy skuld dit aan jouself en al aan die mense wat so onggelooflik baie vertroue in jou het.” Kan ek nie maar nog so biedjie lê en myself jammer kry nie?

So ‘n week terug kom daar ‘n dogtertjie haar blomme-meisie rok pas. In haar hand hou sy ‘n boontjie plant vas wat uit die klam wattetjies onkiem het. Sy wys vir my hoe die boondjie wat veilig in watte toegemaak is sy dop oop gebreek het en begin het om ‘n plantjie te word. Ek besef skielik vandag terwyl ek so sit en myself jammer kry dat ek ook ‘n boontjie is. Vir 24 jaar is ek in watte toegedraai, deur God se hand natgemaak en versorg deur mense en ervaringe waarmee Hy my water gegee het.  met groei kom groei pyne en dit is nie altyd maklik nie, maar ek weet dis tyd dat ek my dop agter laat en my groen laat uitloop.

Sal jy my asseblief onthou??

Februarie 10, 2013 in Uncategorized

Wanneer jy aan my dink, kan ek vra dat jy my onthou waar ek vir jou kos maak en bestanddele oor die hele kombuis rond gooi? Kan jy onthou dat ek so gelukkig was wanneer dit reg geproe het vir jou. Wanneer jy aan my dink, sal jy dink aan my blom koppies, die meel op my rok, hoe ek kaalvoet in die kombuis rond gedans het, en sal jy vergeet van die keer toe ons baklei het oor ons nie kon besluit waar om aandete te kry nie? Sal jy my so onthou en my so vergeet?

 

Wanneer jy aan my dink, sal jy dink aan hoe lief vir musiek ek is? Hoe ek altyd die radio of rekenaar, of plate speler aangehad het. Sal jy al die kere onthou wat ek saam met jou kitaar gesing het asof môre nie weer sou kom nie, en sal jy vergeet hoe my sigarette soms my stem weg geneem het? Sal jy dink aan die kere wat ek op al die verkeerdste plekke my lyf begin rondswaai het, hoe ek ritme gehou het van note met my vingers op jou been. Sal jy onthou hoe dom ek was met my eie kitaar maar so graag wou probeer het net sodat ek kon deel hê aan musiek maak.

 

Wanneer jy iemand hoor lag, sal jy my ook hoor lag, my weer sien glimlag? Sal jy onthou hoe jy die sterre in my oë laat dans het, en hoe snaaks jou grappies vir my was. Sal jy onthou hoe ons mekaar verstaan het wanneer niemand anders die woorde tussen die lyne raak gelees het nie? Sal jy onthou hoe gelukkig ek jou gemaak het, hoe gelukkig jy my gemaak het, en sal jy van al my trane vergeet? Sal jy onthou hoe ek my lip kon kou. Hoe my oë na die vloer sou dwaal of na die regterkanse kant van die dak wanneer ek geglimlag het van moedeloos raak. Sal jy onthou hoe jy my altyd kon troos, my weer kon laat beter voel, en hoe ek net myself by jou kon wees. Sal jy onthou van al die kere wat ek na jou gehardloop het as ek nie meer geweet het waarheen nie, en sal jy vergeet hoe ek nou weghardloop van jou?

 

Wanneer jy aan my dink, sal jy onthou hoe sag ek jou soms sou soen. My lippe gevul met liefde teen jou wang, jou kaak en jou mondhoeke. Sal jy onthou hoe my hand in joune gevoel het, en onthou hoe jy my in jou arms sou toevou. Sal jy dink aan die kere wat jy my met jou hart lief gehad het en vergeet van toe jou kop besluit het dit is tyd om my te groet? Sal jy onthou van skoenlappers, pienk tandeborsels, en my logitec muis? Sal jy onthou van wit boordjie misdade, niel caFrey, en oros in coke glase? Sal jy vergeet van Vishoek en liewer onthou van Paternoster, van Gordonsbaai, van vas gedruk word in winkels en van my blou oë wat vir jou lag. Sal jy onthou van rond dwaal in die waterfront, liggies kyk van langs die berg, en drive thru by Mc Donalds? Sal jy onthou van rustig wees, van onstuimig wees, maar meeste dat ek by jou kon wèès? Sal jy onthou hoe ek die eerste keer vir jou gesê het ek het jou lief, en vergeet van die eerste keer wat ek jou uit my lewe uit gewens het? Sal jy onthou van my… voor jy my vergeet?

Rugsakke

Februarie 9, 2013 in Uncategorized

Ek weet nie eers waar om te begin skryf nie, dit voel soos jare wat verby is. Dit is presies ‘n maand vandat ek die Kaap en almal wat ek daar lief het agter gelaat het en sak en pak Parys, Vrystaat toe getrek het. (Ek moet skielik leer om traaaak te sê in plaas van trêêêêk.) Daar het so baie gebeur wat so baie verander het van wie ek is en wat saak maak in die lewe. Hier werk ek nou vir ‘n trou-en aandrok ontwerper en is dol gelukkig om omring te word met die mooiste lappe wat jy jou kan indink. Saam met dit werk ek ook heeldag met die mooiste mense, en my kolegas het almal diep in my hart gekruip. Die kilometers wat hul sal stap om die nuwe aanpassing vir my makliker te maak verstom my.

 

Dis ook ‘n maand sedert ek laas geskryf het. Ek kyk vanaand na die laaste stuk wat ek op die skerm agtergelaat het om te ferminteer. Gedagtes wat hier geplant is om ryp te word. Dit is assof my oë skielik oopgaan vir hoe baie werklik verander het vandat ek hier kom nes skop het. Ten spyte van ‘n operasie wat ek moes deurgaan ‘n week nadat ek hier aangeland het, voel ek binne myself sterker en meer seker van dit wat ek wil wees. Van dit wat ek KAN wees. Met my 24ste verjaarsdag partytjie het my suster my toegewens dat ek die beste weergawe van “ek” moontlik kan wees. Dat ek (weereens…. aaaaak en nie êêêêk nie) myself sal omhels en al die moontlikhede wat binne my lê mag ontgin. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel dit moontlik. Ek sien kans daarvoor. Ek sien kans vir ontdek, vir aanbeweeg, heel raak en agterlaat.

 

Ek kyk vroeër vandag ‘n fliek van George C, “up in the air” waar hy motiverings praatjies lewer oor die bagasie wat ons saam met ons dra. Hy vra dat mens alles in jou lewe, van jou badkamer kassie, jou huis, en al die mense in jou lewe in ‘n rugsak pak en voel hoe swaar dit is om saam met jou te dra. Dit het my baie laat dink oor dit wat in my rugsak is. Fisies het ek niks by my wat ek besit nie behalwe drie vurke, ‘n naaldwerk masjien, my rekenaar en ‘n kas vol klere. Toe het ek begin dink aan die mense in my lewe. Daar is so baie en ek het hul almal so innig lief. Tog, daar is ‘n definitiewe onderskeid tussen die wat ek saam met my dra, en die wat my help dra. Die wat my help dra is absolute steun pilare in my lewe en ek hoop opreg dat ek net so baie vir hul kan beteken soos wat hulle vir my doen. Die wat ek gekies het om saam te dra; vir een of ander rede het ek duidelik sentiment oor hulle. Tog, dit voel vir my asof ek by ‘n rivier gekom het wat ek moet oorsteek. ‘n Stroom water wat my skei van ‘n plek waar ek kan werk aan die beste weergawe van myself. Dit is tyd vir my om uit te pak en afskeid te neem, dalk nie van mense nie, maar van idees oor hulle. So moeilik soos wat dit is het die tyd ryp geword vir aanbeweeg. Dit het tyd geword om te evalueer wat dit is wat EK wil hê, en tyd geword om myself eers self te versorg. Dit beteken wel dat sekere van die mense in my rugsak wat altyd help dra het, nou bagasie moet word, en dat van my bagasie moet agter gelaat word en verander na ‘n foto in ‘n album.

 

Hoekom vashou aan dooie gewig? Behalwe dat ek ongelooflik skuldig voel oor ek so aan myself dink, is die werklikheid ook dat totsiens en afskeid so ongelooflik moeilik kan wees. Soms is mens nog nie reg om heeltemal te laat gaan nie. Soms het mens nog die idee van iemand nodig soos ‘n troos kombers, ‘n plek van veiligheid waar jy weet jy eens op ‘n tyd gelukkig was. Dan dra jy dit saam met jou sodat jy weer daaraan kan proe, ruik , en kan voel wanneer die “nou” te veel raak.

 

Tog, dit is ook belangrik om te onthou wat ‘n wonderlike voorreg dit is om ‘n rugsak te hê. Om mense te gehad het wat getuies was van jou lewe, en mense te hê wat saam met jou lewe. Dit is so ‘n voorreg om te kan onthou, om te kan voel, en te kan  nostalgies raak. Dit is belangrik om sentiment te hou, om foto’s te neem, en om te onthou. Dit alles vorm deel van daardie beste weergawe van jouself. Liewers swaar dra aan ‘n rugsak vol onthou, as om te lewe sonder dat iemand geweet het dat jy was. Selfs al het dit tyd geraak om mense in my rugsak te pak, kan ek steeds dankbaar wees vir toe hulle my gedra het.

 

Vergeet:

 

Ek wil jou nog nie vergeet nie

Ek wil jou nog so rukkie vashou

Aan die droom van jou

Die moontlikheid

Van ‘n geleentheid

Dat jy my dalk eendag

Weer kan onthou

 

Daar is soveel mooi om my

Wat ek wil wys vir die mooi van jou

Wat ek wil deel

Met daai hart van jou

 

Ek wil jou nie vergeet nie

Ek wil nie aan beweeg nie

Wil nie ophou

Droom van jou

Ek wil nie sonder jou nie

Ek wil nie

Van jou vergeet nie

Tyd vir Totsiens

Januarie 7, 2013 in Uncategorized

Dis ʼn nuwe jaar met nuwe dinge, en soos ek gereeld deesdae vertel word, ʼn nuwe hoofstuk in my lewe.  2012 was ʼn ongelooflike jaar van emosionele groei en grootword, maar 2013 sal ek moet sien of ek steeds kan wees sonder alles om my wat my so veilig laat voel het in 2012.

Ek loop vanoggend vir oulaas na my pick a pay in Boston verby die parkie en die bergies. Die bome gooi skadu’s oor my oë en ek stap verby werkers wat besig is om bokse bymekaar te maak. Waar was die blerrie bokse tog twee weke terug?? Ek dink ek soek dalk net redes om vies te wees.

Gisteraand het my soort van liefde my kom optel om my vir oulaas uit te neem. Hy het my die vorige aand kom verras saam met al my vriende en die vir wie ek lief is, om afskeid te neem van die skone Kaap. My ouers sê mens sal sweer ek gaan Irak toe met al die melodramatiese afskeide maar vir my is dit ʼn bietjie van ʼn oorlog sone wat ek nou betree. Waarteen ek moet gaan baklei weet ek nog nie heeltemal nie, maar ek vermoed dit is so bietjie teen myself en my eie gemak met wie ek is. As mens te gemaklik raak, groei mens nie.

Ek het gedink hy kom eers die 6de terug van sy vakansie maar daar staan hy toe ‘n dag vroeër, heel nonchalant teen my kombuis muur. Ek het my arms om sy nek gegooi en onthou hoe ek gedink het ek wil hom nooit laat gaan nie. Hoe verloor ek elke keer my hart so vinnig?

Hy kom tel my toe gisteraand op. Ek het verskeie kere die vakansie vir hom genoem hy moet mooi gaan dink oor ons en of dit regtig is wat hy wil hê. My hart verdien om te weet. Ons ry vishoek toe sodat ek veroulaas my tone in die see kan natmaak. Ek weet ons moet daai praat vanaand praat maar teen my beter wete smeek my hart my logika om net stil te bly sodat ek net nog ʼn rukkie myself kan dom hou vir dit wat ek weet kom.  Ek weet net soos hy dat hierdie nie vir altyd kan werk nie en met my wat nou na my huis verruil vir ʼn nuwe era is daar eintlik geen sin om dit onnodig uit te rek nie. Maar my binneste wil dit nie glo nie. Die mens wat my voete vol staan gaan nie na my kop luister nie, maar my kop weet dat as SY lippe dit sê sal ek geen ander keuse hê as om dit te aanvaar nie.   

Dis drieuur  die oggend en ek probeer myself in so ‘n klein as moontlik bondeltjie bymekaar maak sodat die pyn nie so verskriklik groot voel nie. Hy het toe vir my die onvermydelike vertel en eers het my hart soos ʼn vuurhoutjie geknak. Ek sweer ek weer dieselfde “snap” geluid gehoor soos vroeër vanjaar toe my arm gebreek het.  Daardie oogknip waarin jy besef dat iets heel is nou net stukkend. Daarna het ek weer besef my hart ʼn spier. Nie iets wat kan breek nie. Dis meer asof hy eenkant toe geslinger is en in ʼn modderige paadjie beland het waaroor menigte mense nou masseer met pyn wat nie wil ophou nie. HOE het ek dit alweer reg gekry dat my hart alweer so stukkend in die slag bly lê het??

Ek verstaan nie hoekom ek elke keer dieselfde fout begaan nie. Ek het mos voor my SIEL geweet een of ander stadium sal hierdie kêrel, so goed soos wat sy hart is, OOK besef ‘n lewe saam met my is nie volhoubaar nie. Dis kleurvol en uitbundig en op en af, maar dis moer uitputtend. Dis vermaaklik en interessant en dis nuut en verfrissend, maar een of ander tyd besef hul altyd hul soek iets anders. Iets vreedsaam. Hul soek rustig en minder onvoorspelbaar, en dis dan wanneer die vertoning klaar is en hul huis toe gaan.

Die gordyn is gesak en begin stadig maar seker my kostuum uittrek en die verhoog opruim, en begin myself voorberei vir wanneer die volgende kêrel by die deur instap opsoek na iets wat sy asem sal wegslaan en inspireer om verder op sy reis te gaan om die magic in sy alledaagse lewe te gaan soek.

Nou sit ek met my gebreekte hart en probeer my laaste goedjies bymekaar maak vir more oggend se vlug. Ek was nie gister reg vir totsiens nie, maar ek besef nou ek gaan ook nie môre wees nie. Ek gaan baie verlang na my soort van liefde, na my familie, en die see. Tog, ek besef van hier is dit oë toeknyp en voorentoe gaan en en een dag sal ek wakker word en besef. Nou is ek weer ok…

Oor Tyd, Verganklikheid, en Totosiens

Desember 16, 2012 in Uncategorized

“Life is not about the amount of breaths you take, but the amount of moments that takes your breath away.”  – dankie dokter Hitch. Jou fliek was vermaaklik en jou lewenslesse waar.

 

Ek dink gereeld aan hierdie woorde waneer my lewe begin verval in rotines en gewoonstes wat nie werklik waarde tot my lewe toevoeg nie. Dan wonder ek by myself of dit werklik sin maak om my tyd hierop te mors. Lewe behoort asemrowend te wees, nie bloot ‘n gewoonte nie. Lewe elke dag en fokus daarop om elke sekonde in te drink. Jy sal nooit weer dieselfde eenkanoor hê nie. Every moment only come once in a lifetime, so embrace it!

 

Ek en my suster het ‘n paar dae, weke en maande terug ‘n lang gesprek gehad oor verganglikheid. Ons gooi menings heen en weer en sy vertel my toe die volgende:  “God het ons almal op die aarde geplaas met die ongelooflike voorreg dat ons met ons tydkanmaak nes ons goed dink. Jou tyd, jou keuse. Die enigste trick is dat ons almal se tyd tot ‘n einde sal kom en dat ons aardse bestaan net tydelik is, so don’t get attached…tog, wat doen ons??” Ek dink baie oor wat sy daardie dag vir my gesê het. Ons almal is sterwend van die oomblik wat ons gebore word.  Ons elkeen het ‘n dag minder oor tot ons doodsdag elke aand waneer die son gaan sak.  “ek is een dag armer, in watter opsig het ek ryker geword?” is die vraag wat ons ons self behoort af te vra. Doen ons dit?

 

Tyd is min en en totsiense is onvermeidelik. Ek het dit hierdie week weer beleef.

 

Laas Saterdag is dit tyd gewees vir ons afskeids partydjie vir my chreche in die plakkerskamp. Ek leen my vriendin se vito en voor die skool word die kinders op geline sodat tannie Elsabe hul een vir een, baie versigtig, soos tetris blokkies in die veto kan pas.  Sy skree na elke kind neer gessit is oor haar shouers : “kleienrige kind!” ek gee aan: “een met groot boude!” sy word voorentoe gestoor. “lang bene!” hy word na vore gestuur. So gaan dit aan tot ons uiteindelik die 4 jufrouens en 25 kinders tussen die twee voertuie verdeel het. Ons gaan na Bugz Playpark.

 

Dit was ‘n ongelooflike dag en te danke aan almal wat gehelp het, ry ek laat die midag met ‘n kar vol moeë tetris kinders terug plakkerskamp toe. My juffrouens wat saam met my in die vito is sing vir my al my gunsteling gesange in Xhosa. Hulle klink soos engele, regtig!! By die skool gee ons die laaste lekkergoed pakkies uit en die kinders druk my vir ou laas. Hulle weet nie ek is oppad nie. Ek groet my Jufrouens en maak seker hulle weet hoe baie ek hul gaan mis. Hardseer ry ek toe die middag terug na my huis. Dit was ‘n jaar van baie swaarkry, moedeloosheid, en drama, maar dit was ook ‘n jaar van hard werk, onthou, en gevul met dinge om te leer. Ek is dankbaar daarvoor, en ek weet ek gaan nog baie terug verlang na my kinders wat vol drukkies is en my naam al juigend skree as die golf voor die skool stop. I felt needed and THAT felt good.

 

Die res van die week kom ek ook by ‘n paar mense uit wat ek weet ek nou vir lang tye nie gaan sien nie. Almal wens my voorspoed en sukses toe. My lewe is gevul met wonderlike mense. EK is so dankbaar daarvoor!

 

Donderdag is dan natuurlik my laaste dag by die werk. My hart is seer oor ek my amper-kinders moet groet en ek weet nie mooi hoe om dit te doen nie. Tog, ek is deeglik bewus dat alles tot ‘n einde moet kom een of ander tyd. Niks is vir ewig nie, en dis oukei. Ek sit en werk myself nog so op toe die foon lui en ek tannie Elsabe se stem aan die ander kant van die lyn hoor. Rienie is vanoggend dood. Sy het moeg geraak by die werk, ‘n tydjie gaan lê en net nooit weer op gestaan nie.

 

Rienie. James se Rienie. James wat my containers dag na dag versorg het sonder dat ek ooit gevra het of ‘n sent hoef te gebetaal het. Rienie. Rienie wie ek vroer die jaar gevat het om te gaan shop vir haar dogter se troue.  Rienie wie se dogter ek leer kar ry het in die stof strate vfan die plakkerskamp. Rienie by wie se huis ek my photoshoot gehou het vir my finale Mode-projek. Rienie wat nog laasweek vir my koffie gemaak het…Dood. Weg. Totsiens vir altyd.

 

Ek gaan met ‘n seer hart werk toe en ek besluit doel bewus om Rienie by die huis te los. Hierie totsiens verdien al my aandag.  Mieke is klaar vreemd toe ek by die huis ingeloop kom en Ludic spring my onderstebo. Ek tel hom op, deeglik bewus van hoe groot hy geraak het, en gly my vingers deur sy pragtige blonde lokke. Dan gaan swem ons met ‘n roomys. “ek is lief vir jou Ludic.” “ek vir jou ook Mimi.” Ek glimlag en weet dat alhoewel ek my kids nooit salkanvergeet nie, daar ‘nkansis dat ek oor ‘n paar maande van nou nie enigsins meer as ‘n naam vir hom gaan wees nie.

 

Miekie is afsydig en ek dink ons altwee sien ewe veel op na die totsiens wat soos ‘n berg voor ons staan. ‘n paar wek terug was dit dan nog vêr op die horizon. Hoe het dit so naby gekom? Ek gaan laai haar af by ‘n maatjie en belowe om haar oor twee ure weer te kom optel as ek en Luds klaar by die winkels was. Op pad terug van die winkels bel my baas my. Mikie gaan sommer oorslaap, ek hoef haar nie te gaan optel nie. Dalk beter so. Vir ons altwee. Hierdie meisie kind het hopeloos te veel soos my eie iets geword. Sy was lankal nie meer net werk nie, maar in my hart my kind.

 

Na donderdag op die rug is is ek al behoorlik gespanne. Ek is besonders sleg met afskeid neem en hierdie week raak nou net te intens. Ek vermy van my mense aspris net sodat ek nie nog ‘n keer daardie ongemaklike lang drukkies hoef te gee nie, en nie nog ‘n keer my oë met my mou hoef droog te vee nie. Ek wil nie meer groet nie en ek wens ekkannou op die vliegtuig klim en weg wees, sodat ekkansien dit is nie so erg nie.

 

Van Vrydag oggend is ek op vakansie maar ek voel meer gespanne as voor dit. Ek gaan eet ontbyt saam met my vriende, maar sukkel deesdae om enige aktiwiteit te geniet want ek staan met ‘n uurglas in my hand. By die huis  moet ek ernstig begin pak en vanand neem my soortvan liefde my uit vir ete. Ek dink hy sukkel die meeste want al my spanning waaraan ek klou weerspieël direk in my tyd saam met hom. Dis seker die nadeeel daarvan as iemand te gemaklik raak om jou. Jy is die persoon wat moet deal met al die crap wat hul nie op ander mense wil uithaal nie. Arme man. Hy verdien dit nie, en ek weet dit. Ek voel NOG meer tense.

 

Saterdag is die afsluitings partydjie vir ons groep bejaardes. Vroeg oggend maak ons al die piekniek plek reg langs blouberg strand terwyl die Taxi wat ons gehuur het die bejaardes gaan optel in Greenpark. 20 Baie ogewonde tata’s en mama’s skoffel skoffel by die taxi uit en die kliek geluide loop oor. Dis ‘n heerlike dag en die een tata vertel my hoe dit die eerste keer in 53 jaar is wat hy die see sien. Die nedersetting waar hul woon is langs Kaapstad lughawe geleë. 53 Jaar.

My vel is weer stukkend gebrand maar aan die einde van die dag ry ek en tannie Elsabe weer tevrede terug Greenpark toe al agter die Taxi aan. Terug in Greenpark deel ons vir die mense kos hampers uit, ‘n sak vol lekker goedjies, en ‘n sakkie vol basiese toiletware. Die mense sing vir ons, druk ons, en wens my ‘n mooi toekoms toe. Tevrede loop die mense terug huis toe. Die laaste tata, Tatat Mlilo, kom gee vir my ‘n groot druk en vertel my hoe baie ek gemis gaan word. Sy kleinkinders sien elke oggend uit om chreche toe te gaan en Ayolatjie praat heeldag van Sonnet. Ek moet asb ‘n foto vir hom van my bring soda thy en Mama Mlilo dit bo hul bedkanplak en hul vir mykanbid waneer ek weg is. Ek druk my Tata vas en sukkel om te laat gaan. Ons waai veroulaas, skree seënwense vir mekaar en dan verdwyn hy om die hoek. Ek knyp my oë vir so paar sekondes toe, en toe ek dit oopmaak sien ek James om die draai kom op sy kruke. Die krane is oop. Ek hardloop hom tegemoed en val hom om die nek en huil onbedaardelik. Assof dit my vrou is wat nooit van die werk af terug gekom het nie.

 

Ek James, Tannie Elsabe, en Tata Thembi gaan sit in die Container. James vertel ons die hele storie en wil weet of ons dalk vir hom ‘n tafel of tweekanleen vir Saterdag se begrafnis. Natuurlik. Ek kyk net af na my vuil voete terwyl daar steeds riviere oor my wange loop.

 

Terug by die die huis is my hart nog nie weer heel nie. Ek staan in die stort en huis sodat die trane saam met die water in die dreinkanverdwyn. Ek voel so alleen en verlate date k my arms om myself vou en styf vashou. Myself sale k darm altyd hê.

 

“Life is not about the amount of breaths you take, but the amount of moments that takes your breath away.”

 

Geen van hierdie totsiense sou vir my so erg gewees het as dit nie memories was wat die moeite werd was om aan vas te hou nie. Dit sou nie vir my so swaar gewees het om my kids, my vriende, my oumense, of my soortvan liefde te moes groet  as my tye saam met hulle nie my asem weg geslaan het nie.  It’s gonna be hard, but it’s gonna be worth it. Want liewer hierdie ongelooflike tye saam met hul, as ‘n lewe sonder totsiens, sonder dit.

tyd om van my kinders afskeid te neem

Desember 12, 2012 in Uncategorized

Ek wil vanand my moerigheid uitvee met letters. My hardseer  wil ek met woorde vervang en sinne maak sodat ek onslae kan raak van die angs. More is dit tyd om my amper kinders te groet en my laaste dag by die werk. HOE gaan ek dit doen?

 

Soos julle al seker teen hierdie tyd weet is ek die laaste twee jaar al ‘n Au Pair. Ek help skaaf aan twee pragtige kinders terwyl ek kyk hoe hul voor my oe mense word. Regte mense.

 

Dis anders as enige ander werk. Vir twee jaar al luister ek na hul stories, raak saam met hul opgewonde oor nuwe ontdekkings, troos hulle waneer hulle ontroosbaar is, gee raad as hul moedeloos voel, en is lief vir hulle assof hul my eie is.

 

Nou moet ek groet. HOE?? Dit is wat ek jou vra. Hulle is al so deel van my lewe dat ek nie weet hoe om nie oor hul bekommerd te wees nie.

 

Ek het vanmidag voor ek huis toe is vir my miekie kind belowe ek gaan nie more huil nie. “ek is mos al mooi groot.” het ek ewe laggend geterg. Nou sit ek hier soos ‘n regte tjank balie en huil my oe uit op my soortvan nuwe liefde se bank terwyl hy aan sy werksgoed peuter.

 

My hart is gebreek en dit voel of ek more ‘n groot hap uit my siel moet agterlaat. Hopelik kan hul optel, DIT wat ek voel ek verloor het. Miskien kan hulle vashou aan iets wat ek hul geleer het. Dalk eendag sal hul onthou van die meisie met die blou oe en die rooi lippe en hoe sy by gedra het tot hul lewens, want dit wat ek by hulle geleer het sal ek nooit vergeet nie.

 

36 dae

Desember 4, 2012 in Uncategorized

Ek het uit eindelik begin pak. Bokse by mekaar gemaak, duck-tape gaan koop, en een vir een my besittings begin toe draai in blaaie uit die huisgenoot. (Ek moet tog onthou om vir my ma te se die Huisgenoot is tog goed vir iets.) Daarna het ek afskeid geneem en al hierdie stukkies van versamel diep weg gebere en die bokse toe geplak. My liewe broer het my aandag soveel moontlik af getrek en die proses darm ligter gemaak, maar met elke stukkie besitting wat nou vir ‘n onbepaalde tyd in bokse gaan woon was dit assof ek ‘n persoon of herhindering toe draai en weg bere met die hoop dat dit vir my sal wag. Met die hoop dat my verhouding met ‘n persoon of plek nie sal verander nie, maar net so sal wees waneer ek dalk terug kom.

Ek het hierdie week besef, alhoewel ek die mense in my lewe so baie gaan mis is dit nie wat vir my die moeilikste gaan wees nie. Daar is deesdae soveel maniere om in kontak te bly dat dit ‘n skande is as ‘n verhouding versleg as gevolg van Afstand. Wat ek wel gaan mis is my siels plekke. My Plakkerskamp en die mammas en kinders wat ek daar lief gekry het. Ek gaan verlang na die naaldwerk winkel oorkant die pad sonder wie ek in die eerste plek nooit my kwalifikasie sou kry nie. Ek gaan verlang na my Pick a Pay, na die tannies wat in die Quick Shop by die engin werk, my goeie verhoudinge met die sukiriteitswagte by my werk en na die liggies teen tafelberg se heup. Daar is vir my soveel sekuriteit in KFM, die sushi winkel om die draai, en in die automatiese draaie wat die pad maak werk toe.

Dis nog 36 dae voor die vliegtuig opstyg en ek van vooraf moet begin soek na gemakzones. Ek is opgewonde, maar eintlik ook vrek bang. Wat as ek NIE regtig groot geword het die laaste paar jaar nie. Wat as ek WEL verveeld raak na ‘n maand of twee. Wat IS my 5 jaar plan. Hierdie trek is ‘n stepping stone na WAT?

Ek het al twee bokse in gepak. En die twee bly ook net so in my gang staan. Ek is nog nie braaf genoeg om hul weg te ry nie, want dan sal ek weereens moet besef dit is regtig. Maar herhinder ek myself: “‘n skip in die hawe is veilig, Maar skepe is nie gebou om in die Hawe te bly nie.”

 

Dis tyd vir my om my vlerke te sprei en te toets wat ek al soveel jare in teorie preek.

‘n Gas op my Blog:Van my vriendin Karin

November 28, 2012 in Uncategorized

Die maan hang  in die swart nag. Ek sit my twee kinders in die bed en met hulle handjies warm in myne, se ons dankie vir die dag en sing saam: “I see the moon and the moon sees me, God bless the moon and God bless me.” Ons loer vir oulaas na die blink maan en ek kan sweer hy knipoog vir ons.

 

Ek moet tog onthou om die verhaal van ‘n seuntjie wat naby die maan op ʼn ver planeet gewoon het, vir my kinders te lees. Die verhaal, wat ‘n tuiste gevind het in die hart en kop van ‘n Franse skrywer, Antione de Saint Exupery, het miljoene lesers op verskeie manier aangeraak. In sy wese ‘n kinderboek, maar  “Le Petit Prince” of “The little Prince” verwoord die oënskynlik en opvallende gedrag van ons menslike natuur en dwing jou tot introspeksie en verwondering. Tydens een van die prins se gesprekke met ‘n jakkals word die eenvoudige vraag gevra van wie ʼn vriend is?  ʼn Verduideliking volg dat dit nie van belang is wie ʼn persoon se ouers is of wat hy doen nie – albei vrae maklik beantwoordbaar – maar waarvan hy hou. Die vraag is eenvoudig, maar ongewoon persoonlik en gestroop van voorgee.

 

En so sit ek onlangs saam ʼn vriendin onder ‘n ou boom waarin die avokadopere soos groen ballonne hang  en ons besin oor vriendskap. Met sjokoladekoek en koffie as “padkos”, stap ons terug op die pad van amper 20 jaar. Wat bind ons saam vir so lank? Omgee? Gedeelde belange? Dit waarvan ons hou?  Dit waaroor ons droom? Waarvoor ons hoop?

 

“The little Prince” herinner ons dat die lewe ʼn storie is, met karakters en ʼn verhoog. En ek dink dat sommige van die rolspelers verdien om beskryf, bespreek en onthou te word. Terwyl ander vinnig vergeet moet word, asof hulle nooit ʼn rol gespeel het nie.

 

Hoe is dit moontlik dat ons te selde hulde bring aan die wat ons lewe verryk, tot ons lewe toevoeg?  Maar tog spandeer ons soveel energie aan die onthou van hulle wat dit nie werd is nie?

 

Vanaand wil ek my wynglas lig en ʼn heildronk drink op een wie op die mees onverwagse manier waarde tot my lewe kom voeg het. Een wat nie die gemaklike grense van my “ouer” bestaan met die nodige respek geëin het nie en vir wie nee selde ʼn aanvaarbare antwoord is. Want die meisie met die rooi lippe en laggende blou oë, ken geen einde nie. Die tempo waarteen sy leef, ervaar en vertel is soms vreesaanjaend, maar altyd fassinerend. En agter haar humorsin en sorgvrye bestaan, skuil ‘n diepte en insig van ʼn deurleefde ou siel.

 

Elke storie het ʼn begin en so ook ons unieke vriendskap. Die maak van meters vlaggies het ons paaie laat kruis en daarna was geen uitdaging te groot of te klein nie. ʼn Plan, ʼn oplossing was te vinde vir alle probleme. Saam met elke projek en elke koppie espresso – en daar was baie – het ʼn groter begrip en waardering gekom vir een wat nie bang is vir leef, omgee of lief hê nie –  ongeag moontlike teleurstelling en seerkry. Want die lewe is immers daar om geleef te word, ervaar te word en onthou te word. En soos Virginia Woolf eens erken het: “ Jy kan nie goed dink, liefhê en slaap as jy nie lekker geëet het nie.”

 

Die blouoog “bokkie” se hart vir mense is bewonderingswaardig. Nie net gee sy van haar tyd en haar geld vir mense in ʼn plakkerskamp nie, maar sy gee veral vir ons wat nie eers altyd besef ons is ook “behoeftig” aan omgee, waardering of bederf nie. ‘n Bos blomme of kaartjies vir ʼn konsert land maklik in iemand se skoot wat dit meer benodig as sy. ʼn Gegewe perd wat aangegee word om troos of geluk te bring.

 

Haar verwoording van haar alledaagse bestaan, is verfrissend, uniek en soms hartseer, maar tog gevul met humor en altyd eerlik, gestroop van voorgee.  Slim soos die houtjie van die galg, begaafde en pragtig, heg sy waarde aan eerlikheid, opregtheid, integriteit en nederigheid. Sy vind vreugde in die kleine – ʼn paar “gevaarlike” hoë hak skoene, ʼn glas whiskey saam met haar ouma, die tandlose lag van een van haar aanneem kinders. Maar sy stort ook onbeskaamd trane oor onreg, ongelykheid en seer. En sy sien engele raak.

 

 Sy is die soort vriendin wat ek hoop my dogter eendag die geleentheid sal hê om te ken en te waardeer. Die kreatiewe, passievolle vrou wat tot ons almal se lewens kan toevoeg – die goeie, die ongewone, die opwindende, die uitdagende – en wegneem die gekonformeerde, veilige en eentonige. Net omdat sy kan.

 

Want sy kan.

Die nuwe Hakke

November 23, 2012 in Uncategorized

Na ‘n jaar van liefdadigheidswerk en kinders oppas brand ek om weer te begin werk in die wonder wêreld van mode. Ek begin op 9 Janurie by ‘n ontwerper in Parys, VRYSTAAT, en kan nie wag om weer omring te wees met alles wat mooi is nie. Daarom, gister, bel ek vir Karin vriendin en laat weet haar ek kort ‘n paar hemel-hoë hakke voor die dag verby is sodat ek weer in beheer kan voel van my lewe.Tussen my en haar oë vind ek toe ‘n paar en hulle is net lieflik!

Ek trek hulle gisteraand dadelik aan toe ek tuis kom en begin regmaak vir my aand uit saam met vriende. Oral klik-klak ek deur my huis op soek na my grimering, na my rekenaar om die klank harder te stel, na die sitkamer om my pragtige skoene vir my huis-maat te gaan wys. Dis so mooi! Heelaand is ek bewus van die selfvertroue wat my skoene vir my gee. My bene voel assof hul nooit ophou nie, en waneer ek loop het ek ‘n ekstra swaai in my boud. Na die aand trek ek hul liefdevol uit en stal hul op die kombuis stoel uit trwyl ek met my geselsery aangaan. “Dankie skoene! ek is so bly ek het julle ontmoed!”

Vanoggend is ek soos ‘n verliefde meisie wat nie genoeg van ‘n nuut-gevonde liefde kan kry nie. Voor ek by die deur uithardloop werk toe stop ek eers by die stoel, tel my skoene meer versigtig af as wat ek my kinders optel, en gly hulle dan aan my voete. My dag het met ‘n hoogtepunt begin.

Toe kom die moeilikheid. My kinders het speletjies-dag, en anders as gewoonlik is dit nie ok as ek net in die kar vir hul sit en wag nie. Ek moet hul tas in die klas gaan soek, dan terug gaan rugbyveld toe, daarna in die ry gaan staan vir kaartjies, en waneer ek daarmee klaar is langs die rugby veld gaan staan en kyk hoe luds vir 5 minute springkateel spring. My baas bel en vra of ek nie gou Miek se roomyskoek kan gaan optel by Milky Lane nie. Ek hardloop deur die sentrum en vinnig weer terug kar toe want die koek mag nie langer as 25 minute uit ‘n vrieskas wees nie. Daarna is dit weer terug skool toe net om oor die hele skoolgrond te loop opsoek na die 6 kinders wat almal moet saamry. Net sodra jy die laaste een gekry het, het die eerste een besluit om weer af te dwaal.

Nou sit ek hier by die rekenaar. Die skoene uitgeskop en my voete op die bank.

HEERLIK!!

Ek sal maar moet begin oefen, want hierdie skoene is nie vir sissies nie hoor!