Skielik begin Groot raak regtig raak

April 6, 2014 in Uncategorized

Hier sit ek weer en ek kan nie glo dit is al amper vier jaar sedert ek gedagtes in woorde hier kom los maak het wanneer hul eenvoudig nie wil ophou om soos borrels in my brein rond te sweef nie. Hier is soveel herinneringe van opgewondenheid, hartseer, lewe en vrae sonder antwoorde. Oomblikke van bessef en tye waar ek geweet het daar is nie meer tyd vir omdraai en weghardloop nie.

 

As ek my laaste paar inskrywings lees wil my hart tot in my skoene sak want daar is bitter min blydskap op hierdie bladsye te sien. Al wat ek raaklees is die gedagtes van ‘n hartseer meisie wat bitter teenoor die lewe geraak het en ek kan myself steeds nie antwoord as ek wonder waar ek haar gelukkige alter-ego verloor het nie.

 

Tog, as ek terugdink oor die laaste jaar en ‘n half is dit meestal gelukkige oomblikke gewees. Groot lewenslesse wat ek geleer het en tye waarin ek so baie van myself werklik ontdek het. Weg van die huis en gedwing om op my eie instinkte staat te maak. Daar is steeds baie vrae wat ‘n raaisel bly maar so baie antwoorde wat ek binne myself gevind het. Maar steeds, my spore laat steeds ‘n hartseer streep na.

 

Dalk is dit oor ek so baie van my naiwiteit hier verloor het. Omdat ek moes leer dat die lewe nie altyd uitwerk soos jy geglo het dit sou nie, en dat jy baie dinge is en NIE is nie, wat jy altyd geglo van jouself. Ek is onkant gevang deur verlange wat ek nie glo ooit sal beter raak nie en na baie jare se gehardloop net sodra alles nie meer maanskyn en rose is nie, moes ek vir die eerste keer gaan stilstaan, omdraai en die harde feite van my bestaan in die gesig staar.

 

Ek moes leer om vrede te maak met dit wat ek altyd wou ontken, vrede maak met planne wat nie deel van my plan was nie. Ek moes leer aanvaar dat  ek nie alles in die regte rigting kan manipuleer nie, en dat daar nie ‘n maklike uitweg vir probleme is nie.

 

En dan, wanneer ek wonder oor die gelukkige naiewe meisie wat eens op ‘n tyd ek was, verstaan ek nou. Die gelukkige meisie wat so ver weg voel is steeds erens binne my, net bang om uit te kom en die lewe in die oe te kyk, want skielik, skielik is haar wereld soveel anders as wat sy onthou.

5 antwoorde op Skielik begin Groot raak regtig raak

  1. tina10 het gesê op April 6, 2014

    Die lwe sal weer lekker word. Elke stadium het maar sy soet en suur.

  2. So ‘n mooi inskrywing – soos ‘n mens van jou te wagte kan wees! Moet tog nie ophou skryf nie…

  3. perdebytjie het gesê op April 7, 2014

    Jou skrywery maak ook dat jy jouself beter leer ken.Dis goeie terapie en die teruglees van ouer skryfsels,laat jou besef hoe ver jy al gevorder het.Hou net aan. 🙂

  4. inadk het gesê op April 7, 2014

    Jy het my gedagtes so mooi verwoord – pragtige blog!

  5. Jy hoefie te bekommer nie…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.