Rooi Bloeisels

Mei 8, 2013 in Uncategorized

Die winter in Parys het net een naweek gekom. Met ‘n groot klomp reën en die koue wat teen jou bene opklim.  Ek het net verlang.  Na my ma wat my altyd vertel het van haar wêreld se koue en hoe sy dit gemis het vandat sy in die Kaap agter gebly het. Na my pa saam met wie ek jafels gemaak het oor die kaggel vuur in my Junie skool vakansies en ons Sondag aand chick flieks voor hy my sou terug neem koshuis toe. Na my boom wat bloed rooi gebloos het en dan al haar blare af gegooi het soos ‘n ontklee danseres.

 

Vir twee dae het dit hard en aaneen gereen soos ‘n tipiese Kaapse storm. Die druppels het teen die vensters gehang van my nuwe klip huisie wat nog so koud en leeg gevoel het. Ek het weer gewonder wat my besiel het om met ‘n tas klere en ‘n tas skoene sak en pak die kaap te verlaat. In my arm het ek gevoel  hoe my sestien skroewe teen die koue probeer oorlog voer met my liggaam wat die pyn moes dra. Sestien. Kon ek nie maar weer sestien wees nie. Toe die lewe nog sin gemaak het, my hart nog heel was, en geen van my ledemate nog gebreek was nie…. Sestien, sodat ek weer kon oor kies, ander keuses kon maak, en my liefde meer versigtig  kon uitdeel…Nou is ek vier en twintig, bly in ‘n koue Vrystaatse dorpie in ‘n kliphuis met my kat en skoene. Wat het ek gedink?

 

Dis skaars twee weke vandat ek van my ma hul af terug gekeer het na die nuwe plek wat ek nou huis moes noem. My arm was seer na die laaste operasie en my siel het terug verlang na die wingerde en die berg. Tog, ek het geweet, hierdie is die lewe wat ek gekies het en ek moet my arms om sy nek gooi en hand aan hand met hom deur die strate van Parys loop.

 

So het nog ʼn week verby gegaan, en voor ek my oe kon uitvee was ek hier. Die lug is kouer as wat dit daardie naweek was, maar my huis en hart was warmer, my kat was besig om ‘n persoonlikheid te ontwikkel en met ‘n koppie rooibos tee in die hand het die mense wat ek hier leer ken het weer stadig maar seker die glimlag in my mondhoeke terug gesit.  Binne my het my mens wees gesing en om my het ek gekyk hoe die bome verkleur.  Ek was gelukkig. Sielsgelukkig. My kliphuisie het in ‘n warm nessie verander waar ek kon kook en droom na hartelus. My werk inspireer my op ‘n daaglikse basis en ek het vriende gemaak wat na my kyk asof ek hul familie is.  Die Vaal rivier wat by my huis verby loop het nie meer geraas nie maar laat middae vir my liefdes ballades gesing en die wilgerbome wat so laag teen die water staan het hul arms om my gevou en aan my vrede geskenk.

 

Bo in die lug, en diep in my hart het God geglimlag en vir my gefluister. “Hier het ek jou geplant my liefste, hier is waar die rooi blomme in jou sal bloei.”

8 antwoorde op Rooi Bloeisels

  1. tina10 het gesê op Mei 8, 2013

    Ek is bly jy het jou voete gevind. Nou moet jy nog net by @blikskottel se winkel gaan inloer!

  2. $Ek is so blydit gaan beter!

  3. exionperfexi het gesê op Mei 8, 2013

    “die huis is waar die hart is” – hier het jy ook mooi geskryf

  4. mnrnel het gesê op Mei 9, 2013

    As ek jou skrywes lees voel dit of ek daar is. Jou woorde kleur ons gedagtes.

  5. riekies het gesê op Mei 9, 2013

    Mia, nig, dis baie besonders – ek het baie dieselfde pad hier in Jozi kom loop.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.