nuwe liefde

Maart 18, 2013 in Uncategorized

Vanoggend vroeg is ek wakker en met die eerste light switch wat in my brein aangaan weet ek ek gaan vandag Kaap toe. Huis toe. Ek le in die donker, byt op my lip en glimlag. Sukkel-sukkel klim ek uit die bed en begin klere stadig en versigtig oor my beseerde lyf gooi. Ek sluit skrikkerig my kamerdeur oop met n kussing in my linker hand.

 

Ek het myself gestrand goed toe gesluit toe ek ‘n vladder in my sitkamer hoor. Ek het nuskierig om die hoek geloer, versigtig rond gekyk, en dit toe gesien…ek het eers gedink dit is ‘n mot, maar na oomlike besef dis als behalwe…ek het genoeg nagmerries as kind oor batman gehad om te weet…motte het nie sambreel-punt vlerke nie!Daarna het ek skreeuend kamer toe gehardloop met gekraakte watokal en al! Niemand wat my kon hoor of troos nie.

 

Die sitkamer is vanoggend dood,  sonder grotbewoners en stil soos die bioskoop waneer net wit name soos franse blindings oor die swart skerm rol. In die hoek staan my tassies reg om ingelaai te word vir waneer die kerel met die blou kar my kom oplaai. Binne my begin dit borrel, nes daai Jesus-liedjie wat ons geleer het in kinderkrans dae. Maar vandag borrel dit in my oor ek huis toe gaan. Oor ek berg toe gaan. Omdat ek na my ouma, my see, en na my Vriendin Karin toe gaan. Oor ek my wonde kan gaan lek terwyl iemand vir my tee aan dra. Ek is seker Jesus sal verstaan.

 

Ek sit opgewonde, bene opgekrul, en wag vir Len om my te kom oplaai en begin dink oor 2013. Tenspyte van twee opperasies in sewe weke is ek gelukkig! DIEP gelukkig! Ek glimlag omdat ek WIL, nie omdat ek weet ek moet nie. Ek het mense leer ken wat omgee, wat liefde gee, wat help, en wat ondersteun sonder enige verwagtinge. Ek het n werk waar ek nodig voel, waar ek gelukkig voel, en meeste van die tyd net VOEL.

 

Na my opperasie sewe weke terug wou ek so graag my tasse pak en huis toe hardloop. Na my ouma, na my berg, my see, en dis juis hoekom ek nie kon nie, wanneer mens hardloop, is daar  gewoonlik iets wat jou jaag. Nou sit ek op Lanseria, drink n snapple en eet ‘n hoender broodjie en wag vir my vliegtuig om te kom. Nie omdat ek wil hardloop nie, maar omdat ek by my huis wil gaan kuier sodat waneer ek klaar my nuwe asem geskep het, ek weer kan voortgaan met die reis waarmee ek besig is. Sodat ek weer met nuwe lewe kan terugkom na die  Vrystaat. Na die werk wat ek lief gekry het, na die oop goue velde wat my inspireer, en na my vriende wat ek hier gemaak het. Sodat ek kan terugom na Andree met haar omgee hart, na Len met sy blou kar en gewillige wese, Sodat ek kan terug kom na die baas wat familie geword het, die huismaat wat my ma geraak het, en die rivier en wilgerbome wat ‘n lafernis vir my siel gebied het. Sodat ek kan terugkom om terug te gee wat ek hier ontvang het. Sodat ek die beste weergawe van Ek kan wees…

 

Stadig maar seker voel ek hoe verlange begin plek maak vir vrede. Vrede met ‘n nuwe tuiste vir my hart. Die Kaap sal Altyd huis bly, maar die vrystaat is besig om my hart te steel soos ‘n Kerel met ‘n bos blomme en ‘n gawe glimlag. Wie weet, dalk sal ek eendag my hart vir hom gee.

 

5 antwoorde op nuwe liefde

  1. Wat’n pragtige uit die hart-inskrywing!

  2. tina10 het gesê op Maart 18, 2013

    Jy moet gou herstel Geniet die kuiertjie tuis

  3. Ja die Kaap sal jou veilige hawe wees….mos altyd

  4. Chris het gesê op Maart 18, 2013

    Ek love jou blogs. Geniet die familie, berg en kuier. Sien uit dat jy terugkom. Ek “stick” jou vir ‘n milkshake by Hoi Poloi 😉

  5. Chrisna het gesê op Maart 18, 2013

    o ja en se groete vir almal daar.. van die vrystaat met liefde xx

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.