Oor boontjie plante en verlang

Februarie 11, 2013 in Uncategorized

Gisteraand krul ek myself in ‘n klein bondeltjie op en verlang huis toe. Ek huil sommer oor my arm, my berg en my ma. Ek huil oor my soortvan liefde wat nou ook nie eers meer soortvan is nie. Ek begin wonder hoekom ek ooit getrek het terwyl ek eintlik so gelukkig was daar waar ek was. “mens moet groei sonnet.” ek weet ja maar ek was nog nie reg nie!!  “mens is nooit reg vir groot word nie.” Dis seker waar… “jy WAS gelukkig maar nie die gelukigste wat jy kan wees nie.”

Die lug het my getroos deur toe te trek soos dit tipies in die Kaap sou maak. Sulke grys wattes wat saam pluis en net liggies drup sonder ophou soos ‘n ma wat huil oor ‘n verlore kind. Ek het gewens die gedrup hou nooit op nie. Waarna is dit wat ek tog so na verlang? Wat is dit wat vir my so verlore voel? 

Vanoggend staan ek op, ek trek my blou rok aan, en sug terwyl ek ‘n paar plat skoene aan my voete glip. Ek het so uitgesien na die hakke en nou is dit ook taboe voor ek hulle nog kon BEGIN dra. Tog, ten minste het ek skoene.  Ek begin dink aan gister se verlang en besef dit sal ook weer beter raak. Verlang ek regtig huis toe of verlang ek net na die idee van die huis, van sekerheid? Verlang ek nie dalk net na ‘n heel arm, ‘n heel hart en na bene wat werk nie? mis ek nie dalk net die wete van “alles sal ok wees” nie? Parys is so goed vir my gewees tot nou toe. Mense wat opreg omgee en uit hul pad gaan om my te help. Tog, ek mis my onafhanklikheid en die wete dat ek self KAN reg kom. Ek mis dit om self in my kar te kan spring en te kan ry waarheen ek wil. Ek mis dit om verder as 300m te kan stap. Ek mis mooi skoene, en ek mis dit om te kan skilder en te kan naaldwerk doen. Ek mis dit om terug te gee en sukkel om te ontvang.

“Dis alles deel van groei sonnet” ek WIL nie groei nie. Ek wil net wees. “jy skuld dit aan jouself en al aan die mense wat so onggelooflik baie vertroue in jou het.” Kan ek nie maar nog so biedjie lê en myself jammer kry nie?

So ‘n week terug kom daar ‘n dogtertjie haar blomme-meisie rok pas. In haar hand hou sy ‘n boontjie plant vas wat uit die klam wattetjies onkiem het. Sy wys vir my hoe die boondjie wat veilig in watte toegemaak is sy dop oop gebreek het en begin het om ‘n plantjie te word. Ek besef skielik vandag terwyl ek so sit en myself jammer kry dat ek ook ‘n boontjie is. Vir 24 jaar is ek in watte toegedraai, deur God se hand natgemaak en versorg deur mense en ervaringe waarmee Hy my water gegee het.  met groei kom groei pyne en dit is nie altyd maklik nie, maar ek weet dis tyd dat ek my dop agter laat en my groen laat uitloop.

4 antwoorde op Oor boontjie plante en verlang

  1. Sterkte!
    Lekker gelees! Goed om van jou te hoor!

  2. PIXIE het gesê op Februarie 12, 2013

    Dis partykeer nodig om “jammer te voel vir jouself”, om te huil oor “niks”, om te verlang “na mense wat jy nog moet ontmoet”. Sodra jy dan uit daardie “bubble” klim, voel jy weer vars en nuut en kan jy weer aangaan.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.