Rugsakke

Februarie 9, 2013 in Uncategorized

Ek weet nie eers waar om te begin skryf nie, dit voel soos jare wat verby is. Dit is presies ‘n maand vandat ek die Kaap en almal wat ek daar lief het agter gelaat het en sak en pak Parys, Vrystaat toe getrek het. (Ek moet skielik leer om traaaak te sê in plaas van trêêêêk.) Daar het so baie gebeur wat so baie verander het van wie ek is en wat saak maak in die lewe. Hier werk ek nou vir ‘n trou-en aandrok ontwerper en is dol gelukkig om omring te word met die mooiste lappe wat jy jou kan indink. Saam met dit werk ek ook heeldag met die mooiste mense, en my kolegas het almal diep in my hart gekruip. Die kilometers wat hul sal stap om die nuwe aanpassing vir my makliker te maak verstom my.

 

Dis ook ‘n maand sedert ek laas geskryf het. Ek kyk vanaand na die laaste stuk wat ek op die skerm agtergelaat het om te ferminteer. Gedagtes wat hier geplant is om ryp te word. Dit is assof my oë skielik oopgaan vir hoe baie werklik verander het vandat ek hier kom nes skop het. Ten spyte van ‘n operasie wat ek moes deurgaan ‘n week nadat ek hier aangeland het, voel ek binne myself sterker en meer seker van dit wat ek wil wees. Van dit wat ek KAN wees. Met my 24ste verjaarsdag partytjie het my suster my toegewens dat ek die beste weergawe van “ek” moontlik kan wees. Dat ek (weereens…. aaaaak en nie êêêêk nie) myself sal omhels en al die moontlikhede wat binne my lê mag ontgin. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel dit moontlik. Ek sien kans daarvoor. Ek sien kans vir ontdek, vir aanbeweeg, heel raak en agterlaat.

 

Ek kyk vroeër vandag ‘n fliek van George C, “up in the air” waar hy motiverings praatjies lewer oor die bagasie wat ons saam met ons dra. Hy vra dat mens alles in jou lewe, van jou badkamer kassie, jou huis, en al die mense in jou lewe in ‘n rugsak pak en voel hoe swaar dit is om saam met jou te dra. Dit het my baie laat dink oor dit wat in my rugsak is. Fisies het ek niks by my wat ek besit nie behalwe drie vurke, ‘n naaldwerk masjien, my rekenaar en ‘n kas vol klere. Toe het ek begin dink aan die mense in my lewe. Daar is so baie en ek het hul almal so innig lief. Tog, daar is ‘n definitiewe onderskeid tussen die wat ek saam met my dra, en die wat my help dra. Die wat my help dra is absolute steun pilare in my lewe en ek hoop opreg dat ek net so baie vir hul kan beteken soos wat hulle vir my doen. Die wat ek gekies het om saam te dra; vir een of ander rede het ek duidelik sentiment oor hulle. Tog, dit voel vir my asof ek by ‘n rivier gekom het wat ek moet oorsteek. ‘n Stroom water wat my skei van ‘n plek waar ek kan werk aan die beste weergawe van myself. Dit is tyd vir my om uit te pak en afskeid te neem, dalk nie van mense nie, maar van idees oor hulle. So moeilik soos wat dit is het die tyd ryp geword vir aanbeweeg. Dit het tyd geword om te evalueer wat dit is wat EK wil hê, en tyd geword om myself eers self te versorg. Dit beteken wel dat sekere van die mense in my rugsak wat altyd help dra het, nou bagasie moet word, en dat van my bagasie moet agter gelaat word en verander na ‘n foto in ‘n album.

 

Hoekom vashou aan dooie gewig? Behalwe dat ek ongelooflik skuldig voel oor ek so aan myself dink, is die werklikheid ook dat totsiens en afskeid so ongelooflik moeilik kan wees. Soms is mens nog nie reg om heeltemal te laat gaan nie. Soms het mens nog die idee van iemand nodig soos ‘n troos kombers, ‘n plek van veiligheid waar jy weet jy eens op ‘n tyd gelukkig was. Dan dra jy dit saam met jou sodat jy weer daaraan kan proe, ruik , en kan voel wanneer die “nou” te veel raak.

 

Tog, dit is ook belangrik om te onthou wat ‘n wonderlike voorreg dit is om ‘n rugsak te hê. Om mense te gehad het wat getuies was van jou lewe, en mense te hê wat saam met jou lewe. Dit is so ‘n voorreg om te kan onthou, om te kan voel, en te kan  nostalgies raak. Dit is belangrik om sentiment te hou, om foto’s te neem, en om te onthou. Dit alles vorm deel van daardie beste weergawe van jouself. Liewers swaar dra aan ‘n rugsak vol onthou, as om te lewe sonder dat iemand geweet het dat jy was. Selfs al het dit tyd geraak om mense in my rugsak te pak, kan ek steeds dankbaar wees vir toe hulle my gedra het.

 

Vergeet:

 

Ek wil jou nog nie vergeet nie

Ek wil jou nog so rukkie vashou

Aan die droom van jou

Die moontlikheid

Van ‘n geleentheid

Dat jy my dalk eendag

Weer kan onthou

 

Daar is soveel mooi om my

Wat ek wil wys vir die mooi van jou

Wat ek wil deel

Met daai hart van jou

 

Ek wil jou nie vergeet nie

Ek wil nie aan beweeg nie

Wil nie ophou

Droom van jou

Ek wil nie sonder jou nie

Ek wil nie

Van jou vergeet nie

11 antwoorde op Rugsakke

  1. Nou ja, ek vermoed mense sal jou moeilik kan vergeet. O, die rivier wat jy moet oorsteek meander so deur jou lewe en jy kom maar telkens weer op sy walle te staan.

    • dankie!dit is seker waar, life is all about the journey. snaaks om te besef dat [aaie en riviere soms sO konkel dat dit weer met jou eie paadjie kruis…

  2. tina10 het gesê op Februarie 10, 2013

    Ek is bly dit gaan goed

  3. My trek is presies die omgekeerde van joune, van Klerksdorp na Hermanus, ongeveer drie weke gelede.

    • AHHH!! Hermanus is een van my gunstelinge!!die ou hawe en stap padjies langs die see. moet net nie te besig raak dat jy dit mis nie. 🙂 Waarvoor sal jy sê kan ek uitkyk hierdie kant?

      • Daar is lekker staproetes in die Koepel en allerhande ekskursies op die rivier–daar is ‘n kroeg in die dorp wat spesialiseer in ingevoerde bier, verder die een antieke winkeltjie na die ander.Ons het so af en toe vir ‘n Saterdag soontoe gegaan. As die nood om ‘n mall te besoek jou oorval, is Potch se Mooirivier Mall ‘n goeie keuse.

  4. Heerlik om van jou te hoor en te weet dat dit goed gaan.
    xx

  5. Ooh Parys is ‘n mooi dorpie – glo jy gaan wel die beste “jy” wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.