Jy blaai in die argief vir 2013 Februarie.

Oor boontjie plante en verlang

Februarie 11, 2013 in Uncategorized

Gisteraand krul ek myself in ‘n klein bondeltjie op en verlang huis toe. Ek huil sommer oor my arm, my berg en my ma. Ek huil oor my soortvan liefde wat nou ook nie eers meer soortvan is nie. Ek begin wonder hoekom ek ooit getrek het terwyl ek eintlik so gelukkig was daar waar ek was. “mens moet groei sonnet.” ek weet ja maar ek was nog nie reg nie!!  “mens is nooit reg vir groot word nie.” Dis seker waar… “jy WAS gelukkig maar nie die gelukigste wat jy kan wees nie.”

Die lug het my getroos deur toe te trek soos dit tipies in die Kaap sou maak. Sulke grys wattes wat saam pluis en net liggies drup sonder ophou soos ‘n ma wat huil oor ‘n verlore kind. Ek het gewens die gedrup hou nooit op nie. Waarna is dit wat ek tog so na verlang? Wat is dit wat vir my so verlore voel? 

Vanoggend staan ek op, ek trek my blou rok aan, en sug terwyl ek ‘n paar plat skoene aan my voete glip. Ek het so uitgesien na die hakke en nou is dit ook taboe voor ek hulle nog kon BEGIN dra. Tog, ten minste het ek skoene.  Ek begin dink aan gister se verlang en besef dit sal ook weer beter raak. Verlang ek regtig huis toe of verlang ek net na die idee van die huis, van sekerheid? Verlang ek nie dalk net na ‘n heel arm, ‘n heel hart en na bene wat werk nie? mis ek nie dalk net die wete van “alles sal ok wees” nie? Parys is so goed vir my gewees tot nou toe. Mense wat opreg omgee en uit hul pad gaan om my te help. Tog, ek mis my onafhanklikheid en die wete dat ek self KAN reg kom. Ek mis dit om self in my kar te kan spring en te kan ry waarheen ek wil. Ek mis dit om verder as 300m te kan stap. Ek mis mooi skoene, en ek mis dit om te kan skilder en te kan naaldwerk doen. Ek mis dit om terug te gee en sukkel om te ontvang.

“Dis alles deel van groei sonnet” ek WIL nie groei nie. Ek wil net wees. “jy skuld dit aan jouself en al aan die mense wat so onggelooflik baie vertroue in jou het.” Kan ek nie maar nog so biedjie lê en myself jammer kry nie?

So ‘n week terug kom daar ‘n dogtertjie haar blomme-meisie rok pas. In haar hand hou sy ‘n boontjie plant vas wat uit die klam wattetjies onkiem het. Sy wys vir my hoe die boondjie wat veilig in watte toegemaak is sy dop oop gebreek het en begin het om ‘n plantjie te word. Ek besef skielik vandag terwyl ek so sit en myself jammer kry dat ek ook ‘n boontjie is. Vir 24 jaar is ek in watte toegedraai, deur God se hand natgemaak en versorg deur mense en ervaringe waarmee Hy my water gegee het.  met groei kom groei pyne en dit is nie altyd maklik nie, maar ek weet dis tyd dat ek my dop agter laat en my groen laat uitloop.

Sal jy my asseblief onthou??

Februarie 10, 2013 in Uncategorized

Wanneer jy aan my dink, kan ek vra dat jy my onthou waar ek vir jou kos maak en bestanddele oor die hele kombuis rond gooi? Kan jy onthou dat ek so gelukkig was wanneer dit reg geproe het vir jou. Wanneer jy aan my dink, sal jy dink aan my blom koppies, die meel op my rok, hoe ek kaalvoet in die kombuis rond gedans het, en sal jy vergeet van die keer toe ons baklei het oor ons nie kon besluit waar om aandete te kry nie? Sal jy my so onthou en my so vergeet?

 

Wanneer jy aan my dink, sal jy dink aan hoe lief vir musiek ek is? Hoe ek altyd die radio of rekenaar, of plate speler aangehad het. Sal jy al die kere onthou wat ek saam met jou kitaar gesing het asof môre nie weer sou kom nie, en sal jy vergeet hoe my sigarette soms my stem weg geneem het? Sal jy dink aan die kere wat ek op al die verkeerdste plekke my lyf begin rondswaai het, hoe ek ritme gehou het van note met my vingers op jou been. Sal jy onthou hoe dom ek was met my eie kitaar maar so graag wou probeer het net sodat ek kon deel hê aan musiek maak.

 

Wanneer jy iemand hoor lag, sal jy my ook hoor lag, my weer sien glimlag? Sal jy onthou hoe jy die sterre in my oë laat dans het, en hoe snaaks jou grappies vir my was. Sal jy onthou hoe ons mekaar verstaan het wanneer niemand anders die woorde tussen die lyne raak gelees het nie? Sal jy onthou hoe gelukkig ek jou gemaak het, hoe gelukkig jy my gemaak het, en sal jy van al my trane vergeet? Sal jy onthou hoe ek my lip kon kou. Hoe my oë na die vloer sou dwaal of na die regterkanse kant van die dak wanneer ek geglimlag het van moedeloos raak. Sal jy onthou hoe jy my altyd kon troos, my weer kon laat beter voel, en hoe ek net myself by jou kon wees. Sal jy onthou van al die kere wat ek na jou gehardloop het as ek nie meer geweet het waarheen nie, en sal jy vergeet hoe ek nou weghardloop van jou?

 

Wanneer jy aan my dink, sal jy onthou hoe sag ek jou soms sou soen. My lippe gevul met liefde teen jou wang, jou kaak en jou mondhoeke. Sal jy onthou hoe my hand in joune gevoel het, en onthou hoe jy my in jou arms sou toevou. Sal jy dink aan die kere wat jy my met jou hart lief gehad het en vergeet van toe jou kop besluit het dit is tyd om my te groet? Sal jy onthou van skoenlappers, pienk tandeborsels, en my logitec muis? Sal jy onthou van wit boordjie misdade, niel caFrey, en oros in coke glase? Sal jy vergeet van Vishoek en liewer onthou van Paternoster, van Gordonsbaai, van vas gedruk word in winkels en van my blou oë wat vir jou lag. Sal jy onthou van rond dwaal in die waterfront, liggies kyk van langs die berg, en drive thru by Mc Donalds? Sal jy onthou van rustig wees, van onstuimig wees, maar meeste dat ek by jou kon wèès? Sal jy onthou hoe ek die eerste keer vir jou gesê het ek het jou lief, en vergeet van die eerste keer wat ek jou uit my lewe uit gewens het? Sal jy onthou van my… voor jy my vergeet?

Rugsakke

Februarie 9, 2013 in Uncategorized

Ek weet nie eers waar om te begin skryf nie, dit voel soos jare wat verby is. Dit is presies ‘n maand vandat ek die Kaap en almal wat ek daar lief het agter gelaat het en sak en pak Parys, Vrystaat toe getrek het. (Ek moet skielik leer om traaaak te sê in plaas van trêêêêk.) Daar het so baie gebeur wat so baie verander het van wie ek is en wat saak maak in die lewe. Hier werk ek nou vir ‘n trou-en aandrok ontwerper en is dol gelukkig om omring te word met die mooiste lappe wat jy jou kan indink. Saam met dit werk ek ook heeldag met die mooiste mense, en my kolegas het almal diep in my hart gekruip. Die kilometers wat hul sal stap om die nuwe aanpassing vir my makliker te maak verstom my.

 

Dis ook ‘n maand sedert ek laas geskryf het. Ek kyk vanaand na die laaste stuk wat ek op die skerm agtergelaat het om te ferminteer. Gedagtes wat hier geplant is om ryp te word. Dit is assof my oë skielik oopgaan vir hoe baie werklik verander het vandat ek hier kom nes skop het. Ten spyte van ‘n operasie wat ek moes deurgaan ‘n week nadat ek hier aangeland het, voel ek binne myself sterker en meer seker van dit wat ek wil wees. Van dit wat ek KAN wees. Met my 24ste verjaarsdag partytjie het my suster my toegewens dat ek die beste weergawe van “ek” moontlik kan wees. Dat ek (weereens…. aaaaak en nie êêêêk nie) myself sal omhels en al die moontlikhede wat binne my lê mag ontgin. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel dit moontlik. Ek sien kans daarvoor. Ek sien kans vir ontdek, vir aanbeweeg, heel raak en agterlaat.

 

Ek kyk vroeër vandag ‘n fliek van George C, “up in the air” waar hy motiverings praatjies lewer oor die bagasie wat ons saam met ons dra. Hy vra dat mens alles in jou lewe, van jou badkamer kassie, jou huis, en al die mense in jou lewe in ‘n rugsak pak en voel hoe swaar dit is om saam met jou te dra. Dit het my baie laat dink oor dit wat in my rugsak is. Fisies het ek niks by my wat ek besit nie behalwe drie vurke, ‘n naaldwerk masjien, my rekenaar en ‘n kas vol klere. Toe het ek begin dink aan die mense in my lewe. Daar is so baie en ek het hul almal so innig lief. Tog, daar is ‘n definitiewe onderskeid tussen die wat ek saam met my dra, en die wat my help dra. Die wat my help dra is absolute steun pilare in my lewe en ek hoop opreg dat ek net so baie vir hul kan beteken soos wat hulle vir my doen. Die wat ek gekies het om saam te dra; vir een of ander rede het ek duidelik sentiment oor hulle. Tog, dit voel vir my asof ek by ‘n rivier gekom het wat ek moet oorsteek. ‘n Stroom water wat my skei van ‘n plek waar ek kan werk aan die beste weergawe van myself. Dit is tyd vir my om uit te pak en afskeid te neem, dalk nie van mense nie, maar van idees oor hulle. So moeilik soos wat dit is het die tyd ryp geword vir aanbeweeg. Dit het tyd geword om te evalueer wat dit is wat EK wil hê, en tyd geword om myself eers self te versorg. Dit beteken wel dat sekere van die mense in my rugsak wat altyd help dra het, nou bagasie moet word, en dat van my bagasie moet agter gelaat word en verander na ‘n foto in ‘n album.

 

Hoekom vashou aan dooie gewig? Behalwe dat ek ongelooflik skuldig voel oor ek so aan myself dink, is die werklikheid ook dat totsiens en afskeid so ongelooflik moeilik kan wees. Soms is mens nog nie reg om heeltemal te laat gaan nie. Soms het mens nog die idee van iemand nodig soos ‘n troos kombers, ‘n plek van veiligheid waar jy weet jy eens op ‘n tyd gelukkig was. Dan dra jy dit saam met jou sodat jy weer daaraan kan proe, ruik , en kan voel wanneer die “nou” te veel raak.

 

Tog, dit is ook belangrik om te onthou wat ‘n wonderlike voorreg dit is om ‘n rugsak te hê. Om mense te gehad het wat getuies was van jou lewe, en mense te hê wat saam met jou lewe. Dit is so ‘n voorreg om te kan onthou, om te kan voel, en te kan  nostalgies raak. Dit is belangrik om sentiment te hou, om foto’s te neem, en om te onthou. Dit alles vorm deel van daardie beste weergawe van jouself. Liewers swaar dra aan ‘n rugsak vol onthou, as om te lewe sonder dat iemand geweet het dat jy was. Selfs al het dit tyd geraak om mense in my rugsak te pak, kan ek steeds dankbaar wees vir toe hulle my gedra het.

 

Vergeet:

 

Ek wil jou nog nie vergeet nie

Ek wil jou nog so rukkie vashou

Aan die droom van jou

Die moontlikheid

Van ‘n geleentheid

Dat jy my dalk eendag

Weer kan onthou

 

Daar is soveel mooi om my

Wat ek wil wys vir die mooi van jou

Wat ek wil deel

Met daai hart van jou

 

Ek wil jou nie vergeet nie

Ek wil nie aan beweeg nie

Wil nie ophou

Droom van jou

Ek wil nie sonder jou nie

Ek wil nie

Van jou vergeet nie