Jy blaai in die argief vir 2013 Januarie.

Tyd vir Totsiens

Januarie 7, 2013 in Uncategorized

Dis ʼn nuwe jaar met nuwe dinge, en soos ek gereeld deesdae vertel word, ʼn nuwe hoofstuk in my lewe.  2012 was ʼn ongelooflike jaar van emosionele groei en grootword, maar 2013 sal ek moet sien of ek steeds kan wees sonder alles om my wat my so veilig laat voel het in 2012.

Ek loop vanoggend vir oulaas na my pick a pay in Boston verby die parkie en die bergies. Die bome gooi skadu’s oor my oë en ek stap verby werkers wat besig is om bokse bymekaar te maak. Waar was die blerrie bokse tog twee weke terug?? Ek dink ek soek dalk net redes om vies te wees.

Gisteraand het my soort van liefde my kom optel om my vir oulaas uit te neem. Hy het my die vorige aand kom verras saam met al my vriende en die vir wie ek lief is, om afskeid te neem van die skone Kaap. My ouers sê mens sal sweer ek gaan Irak toe met al die melodramatiese afskeide maar vir my is dit ʼn bietjie van ʼn oorlog sone wat ek nou betree. Waarteen ek moet gaan baklei weet ek nog nie heeltemal nie, maar ek vermoed dit is so bietjie teen myself en my eie gemak met wie ek is. As mens te gemaklik raak, groei mens nie.

Ek het gedink hy kom eers die 6de terug van sy vakansie maar daar staan hy toe ‘n dag vroeër, heel nonchalant teen my kombuis muur. Ek het my arms om sy nek gegooi en onthou hoe ek gedink het ek wil hom nooit laat gaan nie. Hoe verloor ek elke keer my hart so vinnig?

Hy kom tel my toe gisteraand op. Ek het verskeie kere die vakansie vir hom genoem hy moet mooi gaan dink oor ons en of dit regtig is wat hy wil hê. My hart verdien om te weet. Ons ry vishoek toe sodat ek veroulaas my tone in die see kan natmaak. Ek weet ons moet daai praat vanaand praat maar teen my beter wete smeek my hart my logika om net stil te bly sodat ek net nog ʼn rukkie myself kan dom hou vir dit wat ek weet kom.  Ek weet net soos hy dat hierdie nie vir altyd kan werk nie en met my wat nou na my huis verruil vir ʼn nuwe era is daar eintlik geen sin om dit onnodig uit te rek nie. Maar my binneste wil dit nie glo nie. Die mens wat my voete vol staan gaan nie na my kop luister nie, maar my kop weet dat as SY lippe dit sê sal ek geen ander keuse hê as om dit te aanvaar nie.   

Dis drieuur  die oggend en ek probeer myself in so ‘n klein as moontlik bondeltjie bymekaar maak sodat die pyn nie so verskriklik groot voel nie. Hy het toe vir my die onvermydelike vertel en eers het my hart soos ʼn vuurhoutjie geknak. Ek sweer ek weer dieselfde “snap” geluid gehoor soos vroeër vanjaar toe my arm gebreek het.  Daardie oogknip waarin jy besef dat iets heel is nou net stukkend. Daarna het ek weer besef my hart ʼn spier. Nie iets wat kan breek nie. Dis meer asof hy eenkant toe geslinger is en in ʼn modderige paadjie beland het waaroor menigte mense nou masseer met pyn wat nie wil ophou nie. HOE het ek dit alweer reg gekry dat my hart alweer so stukkend in die slag bly lê het??

Ek verstaan nie hoekom ek elke keer dieselfde fout begaan nie. Ek het mos voor my SIEL geweet een of ander stadium sal hierdie kêrel, so goed soos wat sy hart is, OOK besef ‘n lewe saam met my is nie volhoubaar nie. Dis kleurvol en uitbundig en op en af, maar dis moer uitputtend. Dis vermaaklik en interessant en dis nuut en verfrissend, maar een of ander tyd besef hul altyd hul soek iets anders. Iets vreedsaam. Hul soek rustig en minder onvoorspelbaar, en dis dan wanneer die vertoning klaar is en hul huis toe gaan.

Die gordyn is gesak en begin stadig maar seker my kostuum uittrek en die verhoog opruim, en begin myself voorberei vir wanneer die volgende kêrel by die deur instap opsoek na iets wat sy asem sal wegslaan en inspireer om verder op sy reis te gaan om die magic in sy alledaagse lewe te gaan soek.

Nou sit ek met my gebreekte hart en probeer my laaste goedjies bymekaar maak vir more oggend se vlug. Ek was nie gister reg vir totsiens nie, maar ek besef nou ek gaan ook nie môre wees nie. Ek gaan baie verlang na my soort van liefde, na my familie, en die see. Tog, ek besef van hier is dit oë toeknyp en voorentoe gaan en en een dag sal ek wakker word en besef. Nou is ek weer ok…