‘n Gas op my Blog:Van my vriendin Karin

November 28, 2012 in Uncategorized

Die maan hang  in die swart nag. Ek sit my twee kinders in die bed en met hulle handjies warm in myne, se ons dankie vir die dag en sing saam: “I see the moon and the moon sees me, God bless the moon and God bless me.” Ons loer vir oulaas na die blink maan en ek kan sweer hy knipoog vir ons.

 

Ek moet tog onthou om die verhaal van ‘n seuntjie wat naby die maan op ʼn ver planeet gewoon het, vir my kinders te lees. Die verhaal, wat ‘n tuiste gevind het in die hart en kop van ‘n Franse skrywer, Antione de Saint Exupery, het miljoene lesers op verskeie manier aangeraak. In sy wese ‘n kinderboek, maar  “Le Petit Prince” of “The little Prince” verwoord die oënskynlik en opvallende gedrag van ons menslike natuur en dwing jou tot introspeksie en verwondering. Tydens een van die prins se gesprekke met ‘n jakkals word die eenvoudige vraag gevra van wie ʼn vriend is?  ʼn Verduideliking volg dat dit nie van belang is wie ʼn persoon se ouers is of wat hy doen nie – albei vrae maklik beantwoordbaar – maar waarvan hy hou. Die vraag is eenvoudig, maar ongewoon persoonlik en gestroop van voorgee.

 

En so sit ek onlangs saam ʼn vriendin onder ‘n ou boom waarin die avokadopere soos groen ballonne hang  en ons besin oor vriendskap. Met sjokoladekoek en koffie as “padkos”, stap ons terug op die pad van amper 20 jaar. Wat bind ons saam vir so lank? Omgee? Gedeelde belange? Dit waarvan ons hou?  Dit waaroor ons droom? Waarvoor ons hoop?

 

“The little Prince” herinner ons dat die lewe ʼn storie is, met karakters en ʼn verhoog. En ek dink dat sommige van die rolspelers verdien om beskryf, bespreek en onthou te word. Terwyl ander vinnig vergeet moet word, asof hulle nooit ʼn rol gespeel het nie.

 

Hoe is dit moontlik dat ons te selde hulde bring aan die wat ons lewe verryk, tot ons lewe toevoeg?  Maar tog spandeer ons soveel energie aan die onthou van hulle wat dit nie werd is nie?

 

Vanaand wil ek my wynglas lig en ʼn heildronk drink op een wie op die mees onverwagse manier waarde tot my lewe kom voeg het. Een wat nie die gemaklike grense van my “ouer” bestaan met die nodige respek geëin het nie en vir wie nee selde ʼn aanvaarbare antwoord is. Want die meisie met die rooi lippe en laggende blou oë, ken geen einde nie. Die tempo waarteen sy leef, ervaar en vertel is soms vreesaanjaend, maar altyd fassinerend. En agter haar humorsin en sorgvrye bestaan, skuil ‘n diepte en insig van ʼn deurleefde ou siel.

 

Elke storie het ʼn begin en so ook ons unieke vriendskap. Die maak van meters vlaggies het ons paaie laat kruis en daarna was geen uitdaging te groot of te klein nie. ʼn Plan, ʼn oplossing was te vinde vir alle probleme. Saam met elke projek en elke koppie espresso – en daar was baie – het ʼn groter begrip en waardering gekom vir een wat nie bang is vir leef, omgee of lief hê nie –  ongeag moontlike teleurstelling en seerkry. Want die lewe is immers daar om geleef te word, ervaar te word en onthou te word. En soos Virginia Woolf eens erken het: “ Jy kan nie goed dink, liefhê en slaap as jy nie lekker geëet het nie.”

 

Die blouoog “bokkie” se hart vir mense is bewonderingswaardig. Nie net gee sy van haar tyd en haar geld vir mense in ʼn plakkerskamp nie, maar sy gee veral vir ons wat nie eers altyd besef ons is ook “behoeftig” aan omgee, waardering of bederf nie. ‘n Bos blomme of kaartjies vir ʼn konsert land maklik in iemand se skoot wat dit meer benodig as sy. ʼn Gegewe perd wat aangegee word om troos of geluk te bring.

 

Haar verwoording van haar alledaagse bestaan, is verfrissend, uniek en soms hartseer, maar tog gevul met humor en altyd eerlik, gestroop van voorgee.  Slim soos die houtjie van die galg, begaafde en pragtig, heg sy waarde aan eerlikheid, opregtheid, integriteit en nederigheid. Sy vind vreugde in die kleine – ʼn paar “gevaarlike” hoë hak skoene, ʼn glas whiskey saam met haar ouma, die tandlose lag van een van haar aanneem kinders. Maar sy stort ook onbeskaamd trane oor onreg, ongelykheid en seer. En sy sien engele raak.

 

 Sy is die soort vriendin wat ek hoop my dogter eendag die geleentheid sal hê om te ken en te waardeer. Die kreatiewe, passievolle vrou wat tot ons almal se lewens kan toevoeg – die goeie, die ongewone, die opwindende, die uitdagende – en wegneem die gekonformeerde, veilige en eentonige. Net omdat sy kan.

 

Want sy kan.

5 antwoorde op ‘n Gas op my Blog:Van my vriendin Karin

  1. klink na ‘n juweel van ‘n vriendin!

  2. tina10 het gesê op November 28, 2012

    Ja elkeen het so spesiale persoon nodig…

  3. Aaah haaa – LEKKER om SO vriendin te he! Waardeer haar, ek is seker jy beteken vir haar ook baie!

    Hierdie stukkie is so waar en het my nou goed aan die dink! Mooi dag!

    Hoe is dit moontlik dat ons te selde hulde bring aan die wat ons lewe verryk, tot ons lewe toevoeg? Maar tog spandeer ons soveel energie aan die onthou van hulle wat dit nie werd is nie?

  4. vega het gesê op November 28, 2012

    Pragtig geskryf. ‘n Vriendin soos die is ‘n blessing uit die hemel.

  5. Lyk my die tannie hou nogal van jou…

    🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.