Jy blaai in die argief vir 2012 April.

Vir Johny

April 28, 2012 in Sonder kategorie

 

Ek sit op die nuwe blombank agter in my tuin. Bo my kop rank die bogian villas beautifull en tiepies soos die kaap hang fyn water druppeltjies in die lug. My eie oë is ook nat. Ek was nog nooit goed met totsiens sê nie, maar vandag was selfs moeiliker as gewoonlik. Dalk omdat Johny so spesiale mens in my lewe geword het, en oor ek WEET hoe baie ek hom gaan mis…

 

Dit is ‘n warm en bedompige dag en die 10-jarige dogtertjie wat ek smidae oppas is besig met ‘n Hokkie wedstryd. Ek moet natuurlik op die paviljoen sit en wag vir haar om klaar te maak. Gelukkig is Pick a Pay net langs die skool en ek hardloop gou oor om vir my ‘n tydskrif te gaan koop. Dis toe wat ek hom raak sien en ek skielik weer gekonfronteer word met die 19-jarige weergawe van myself. “Johny?” Sy naam is nog nie eers heeltemal oor my lippe nie en ek is klaar spyt. Ek haat dit om mense vanuit my voorige lewe raak te loop. Nou MOET ek geselskap maak want ek het dan nou die geselskap begin. Hy het 6 jaar terug met my kamermaat uitgegaan wie ek laas gesien het die dag toe ek my tasse uit Stellenbosch gedra het.Ons ruil nommers uit. Ek dink ons altwee voel sekker maar ‘n bietjie verplig. Ek nooi hom sommer daai aand vir ete en 6 ure later kom ek agter ek kuier baie lekkerder as wat ek verwag het.

 

Ek staan op sy stoep ek blaas my siggaret rook uit. Voor my lê Welgemoed golfbaan en ek weet ek gaan na elke siggaret wat al op hierdie stoep gerook is verlang. Die bank waarop ons altyd sou sit staan nou agter by my huis in my tuin.Ons het dit gisteraand gaan aflaai toe die donker net-net begin gesig wys het. Binne staan en probeer hy sy laaste goedjies uitsorteer en ek kan hoor aan die manier wat hy rondbeweeg hier agter my dat hy nie lus het vir hierdie pak nie. Ek kyk om en sien moedeloos hoe hy een vir een ‘n item van die rak afhaal en dan oor die se lot besluit. Ek gaan hom mis.

 

Dis drie dae terug wat ons mekaar raak geloop het en ek wag vir hom om my te kom optel vir kerk. Soos ek langs hom staan besef ek net weer hoe groot hy regtig is. Dis lekker om vir ‘n slag so klein te voel teenoor iemand. Ons besluit om na die tyd by my huis te gaan koffie drink. Hy weet nie of hy moet inkom nie want hy is moeg na sy naweek weg. Die oggend drieuur stap ek toe saam met hom na sy kar toe. Deur my kop hoor ek oor en oor hoe hy my weer vertel van die oproep van die werk vandag. Hy het ‘n bevordering gekry. Hy begin 3 Mei in Pretoria.

 

Ons is klaar gepak en sy bakkie is gelaai. Vir die laaste keer gaan spring ek op sy bed. “cause Im leaaaaving on a jet plane…” Soos oudergewoonte sing ek ‘n liedjie om by die sutsuasie te pas. Hy lag vir oulaas vir my en neem ‘n foto van die lee kamer. Ek kyk om my rond en weet dis laaste keer wat ek op sy bed gaan kan lê terwyl die wêreld buite wag. Die woorde van Karin Hougaard se “totsiens” ry oor en oor soos karre op ‘n snelweg voor my oë verby. ” Los ek my stukkies in jou hande; jou omhelsing; of die klere in jou kas. Los ek my stukkies; om onsigbaar; mikroskopies fyn; te verklik dat ek hier was; dat ek deel was; dat ek was”

 

Ek word wakker en ek sien hom langs my lê. Klein stukkies van gisteraand begin weer stadig terug kom na my. Ek is nie ‘n drinker nie. Ek het lank terug al besluit dat rook ‘n veel beter sonde is om te kies. Tog, vir een of ander rede gister aand het die wyn my bietjie gevang en ek onthou hoe ons by ‘n tafeltjie gesit het in Durbanville en ek geweet het ek wil nou huis toe gaan. Hy sit en gesels met twee pragtige meisies  en ek onthou vaagweg die plan dat ons vanaand vir hom meisies sou gaan opchat. Lyk my dit het gewerk. “Johny, ek voel nie lekker nie…kan ons huis toe gaan?” Ek onthou hoe hy sy drankie neer gesit het, die meisies wat duidelik ander planne gehad het gegroet het, en my huis toe geneem het. En dit was dit. Daar het ek toe veilig gaan slaap tot die storm om my bedaar het en die wêreld weer rustig en in fokus geraak het. Na daai aand  het ek baie na werk in sy bed gaan inklim, oor die liggies van die noordelike stede uitgekyk, en geweier om die wêreld buite te konfronteer. Hy het altyd maar opgeskuif, die ekstra kombers en kussing uitgehaal, en my vir die wêreld weg gesteek tot ek weer reg was om dit aan te durf.

 

Dit REEN toe ons die bakkie moes begin pak. perfek. Net soos die noodlot dit mos maar beplan. Hy vloek en steek nog ‘n sigaret op. Ek lees op sy gesig iets tussen opgewonde en verskrik. Maar dit is die regte skuif vir hom. Hy weet dit, daarom glo ek dit. Ek wonder of ek ooit die skuif sou kon maak? Weg van my see. Hy self is ‘n kus-kind, maar hy sê hy moet weer leer om die see van voor af lief te hê. Ek hoor wat hy sê maar weet ek sal moeilik kans sien vir daai uitdaging.

 

Hy het nie ‘n lekker dag nie. Hy voel skuldig oor een of ander gemors wat hy by die werk aangevang het en ek besef weer watter fantastiese mens hy regtig is. Ek wonder of hy altyd weet? Ek oorreed hom dat dit nie nou gaan help om daaroor te worry nie, kom ons geniet liewer die dag! Ek moet meubels gaan optel vir die plakkerskamp, en hy het ‘n bakkie. Dit begin reen toe ons ry en die admosfeer in die kar is tense. Vir die eerste keer vererg hy homself vir my wat altyd praat en sing en karring, maar voel ommidelik weer sleg daaroor. In Gordonsbaai gaan stop ons eers langs die see voor ons die meubels gaan optel. Ons albei hou blykbaar van die see terwyl dit reen. Ek skuif tot styf teen aan hom en kyk uit oor die see. Net so onrustig soos sy siel. Ek bid vir die Here om vir hom rustig te maak.

 

Daarna ry ons tot by die hawe waar ek met my voete in die water gaan staan. Ek kyk na hoe pragtig die boodjies rondwieg en dink hoe lekker dit sal wees om so enetjie te hê. Koos Kombuis was seker reg toe hy sê dat almal ‘n huisie by die see wil hê. Ek soek net ‘n boodjie. Ek kyk om en sien hoe Johny begin ontspan. Ons gaan tel toe die meubels oop en sit tot hopeloos te laat in Gordonsbaai se Spur. Die kelner het al hoeveel keer kom vra of ons nie wil binne toe skuif nie maar ons geniet die vaal see en die geluid van die druppels op die sink-afdak.

 

Dis amper donker toe ons uiteindelik die rekening kry. Nou moet ons nog die meubels in die donker in die plakkerskamp gaan aflaai en vir een of ander rede het ek my huismaat belowe dat ek vir haar en haar 20 kolegas wat die aand moet laat werk sal kos maak en bring. Ek dink terug aan my blog “geagte Mnr Ex, ek is nie ‘n pretpark nie.”- geen wonder ek maak mense moeg nie! Na die meubels afgelaai is staan ons verwoed in my kombuis en maak Macoroni en kaas in ‘n 26L oond vir die mense. Tussendeur ‘n bak slaai, en smeer broodjies. Ek het hom nie eers gevra om te help nie, net aangeneem hy sal. 45 minute na ons uit Pick a Pay gestap het met die bestandele, laai ons weer die kos in my geel kar en jaag deur Montague Gardens toe. Ek lag in my binneste vir die reuse rugby lyf wat langs my ingeprop sit met piek vatlappe en ‘n bak Macoroni en kaas. Ek wag vir hom om ‘n ontsnap roete te soek. My gedagtes is nog nie eers koud nie toe hy vra: “Gaan ons lank by die plek bly?” ek glimlag. Hoe dan nou anders? “nee, ons kan net aflaai dan kan ons maar weer gaan. Jys seker moeg?”Hy is heel verontwaardig! “nee man…ek wil jou net graag na die tyd vat vir ‘n latenight movie. Jy game?” ek glimlag en kyk hom vas in die oë: “jys ‘n engel!”

 

Dis koud op sy oprit. Ek wag buite terwyl hy die laaste keer die huis sluit. Ek oorweeg dit vir ‘n oomblik om net in my kar te klim en weg te ry. Dan HOEF ek nie te groet nie. Ek weet dit sal nie regverdig wees nie. Oorkant die pad slaan middeljarige mans golfballe rond. Ek dink terug aan die middernag wat ons gaan piekniek hou het en die eendjies gaan voer het. Ek dink terug aan baie oomblikke saam met hierdie pragtige mens wat vir so paar maande my lewe kom opkikker het. Ons naweek in Kalkbaai by my liewe Fani vriendin, ons ontmoeting met Desmond Tutu. Ons aandjie uit in Stellenbosch assof ons nooit daar weg is nie. Die aand wat ons lippe net so perongeluk aan mekaar geraak het en ek gewens het hulle hoef nooit weer te los nie. Ek dink aan elke drukkie, en elke garage pie. Ek dink aan elke grappie wat my so laat lag het, elke kompliment wat my siel geraak het, en elke keer wat ek vir ‘n sekonde my moer gestrip het. Ek dink aan elke gesprek wat as ‘n fight begin, en ‘n paar sekondes sou uitbars in ‘n lag, en ek dink aan hoe baie ek hom gaan mis.

 

Hy kom af by die trappe en ek weet dit is dit. Tyd om te groet. Tyd om totsiens te sê tot ‘n onbepaalde dag. My oë begin klam raak. Ek hou hom vir oulaas styf vas, vertel hom hoe lief ek hom het, en klim dan in my kar. Ek het nog nooit van groet gehou nie, dink ek toe ek vyf minute later op die bank in my tuin lê wat ons twee gisteraand hier af kom laai het. My lewe is nou so bietjie leër met net ‘n sagte sitplek om my te troos. 

 

….

April 19, 2012 in Sonder kategorie

EK het nog steeds nie internet nie….volgens MTN het ek nie ‘n groot genoeg inkomste om ‘n R150 kontrak uit te neem nie….nou sit ek!