‘n Trein rit Kaap toe

Oktober 10, 2011 in Sonder kategorie

Partydae as ek lus het, en ek nie die midag hoef te werk nie, vat ek die trein Kaap toe om te gaan klas bywoon. Dan kyk ek na al die mense met my musiek in my ore, wat dit dan soos ‘n rolprent laat voel.

Daar is  groot mama’s wat met vrugte en siggarette handeldryf, en hul kasregister uit hul bra bedryf. Daar is die mense wat haastig lyk oppad werk toe om net nog ‘n dag in die samelewing te oorleef. Jy kry die mense wat nie na erens spesifiek oppad is nie. Nie met die trein nie, en nie met hul lewens nie. Die verliefde paartjies koer ook graag saam en hul liefde word verbind van een oorfoon na die ander.

Op die trein is daar ook natuurlik ‘n verskeidenheid gedagtes verewig met skrif op die muur. Die Wesbank-bakke laat hul bende teken op verkeie plekke in die trein pronk, terwyl ander skryf hoe lief Jesus jou het. Iemand het ‘n nommer gelos as jy dalk opsoek is na ‘n aand van plesier, terwyl nog iemand hul liefde vir ewig aan ‘n ander verklaar. Een inskrywing tref my soos ‘n bowling bal in die maag. “I hate you, you are the worst mmother in the world.”

Ek kan die pyn en seer agter daardie woorde voel. Hoe die arme ma moet leef met ‘n kind wat soveel haat teeroor haar koester. Ek dink by myself dat die ma se intensies tien teen een goed was, en dit net ‘n verstreurde tiener is wat voel niemand verstaan sy of haar wêreld nie. ‘n Ma wil dan net altyd die beste vir hul kind hê dan nie?

Dit was my eerste gedagte. Seker omdat dit nader aan my verwysings raamwerk is. Maar dan besef ek skielik dat almal se ma’s nie soveel liefde soos my ma het nie. Wat het die vrou aan die kind gedoen? Of is dit juis wat sy nie gedoen het nie? Wat kon hierdie ma gedoen het om ‘n kind met soveel seer na te laat, dat sy die trein se muur as haar enigste toevlug sien?

Die lewe is ‘n vreemde plek. Die trein herhinder my dikwels hieraan. As ek op die Kaapse stasie afklim en die mense om my begin woel, elk op pad na hul eie eindbestemming dan voel ek weer regtig. Soos ‘n regte mens, in ‘n regte wêreld. Nie die wêreld wat ek ken waar alles so te sê perfek is nie, maar een wat druis met die potensiaal van soveel liefde, maar tog gevul bly met soveel haat…

3 antwoorde op ‘n Trein rit Kaap toe

  1. Ek verstaan nie sommige ma’s nie, Sonnet….en ook nie sommige kinders nie!

    Goeie skrywe, hoor.

  2. jjanajj het gesê op Oktober 12, 2011

    ek bere ook my kleingeld in my bra.

    my guy noem dit my money boob.

  3. haha! ek ook…moet net vir niemand sê nie! 😛

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.