Jy blaai in die argief vir 2011 September.

My verjaarsdag in Parys

September 30, 2011 in Sonder kategorie

Die dag kom toe uiteindelik dat ek op die vliegtuig moet klim om Johannesburg toe te vertrek. Heeldag hardloop ek rond soos ’n afkop hoender om alles gereel te kry voor ek 19h00 opstyg. Sesuur die oggend ry ek klas toe, eenuur ry ek werk toe, en vyfuur jaag ek terug huis toe sodat ek 10 oor 5 in my suster se kar kan spring lughawe toe.

 

Andree tel my 21h00 by die lughawe op en ons vat die pad Parys toe. Nog nie eers by die Lughawe weg nie, en ’n speitkop trek ons af. Check haar lesensie en maak nog ewe geselsies. Ek sien net sy bolyf en die nues-ondertoe gedeelte van sy gesig. Ek verwonder my aan die plat afrikaanse klanke wat hy praat, en ek se vir Andree dit klink of hy in daai Bakgat movie speel. Sy se dis lekker om te hoor hoe iemand “ek” se in plaas van “ak”. Sy mis die huis se sy.

 

Ons ry op een of ander graaot pad onderdeur sulke bou brue. Blybaar is dit ’n tiepe van ’n online tolhek? Ek dink dis uiters vreemd. Ek weet net van een tolhek in die Kaap en dit word geregverdig deurdat as jy dit betaal, mag jy deur ’n tonnel ry. Ons ry onder deur twee sulke brue, maar daar is nie ’n tonnel nie?

 

Ons stop by ’n petrol stasie. Ek vra vir die joggie of hy vir my ’n lighter het want ek crave nou al erg. “ek klim nou net van die vliegtuig af so dis al lank na my laaste sigaret.” “mens mag nie rook op die plane nie? Yoh!”

 

Ons ariveer uit eindelik in Parys. Ek en Andree gesels nog so tydjie en dan gaan kruip ons in tussen die lakens. Terwyl ek so le en wag vir die slaap dink ek aan my berg en hoe lief ek vir haar is….ek sal haar so verlang as ek ooit moet weggaan. Die klok slaan twaalf en skielik is ek 23. Nog ’n volle jaar ouer.

 

Vanoggend word ek wakker van voeltjies wat tjirp wysies maak in die tuin. Andree maak reg vir werk en ek drink ’n koppie koffie saam met haar. Nadat sy vertrek het gaan klim ek in die bad. Ek steek ’n kers aan en sing vir myself happy birthday. Dan blaas ek hom weer dood.Vandag gaan ek Parys te voet ontdek en absoluut niks anders doen as ontspan nie. 355 dae van die jaar hardloop ek rond en probeer die wereld verander op een of ander manier. Vandag gaan ek koffie drink en koek eet en tyd kry vir net ’n bietjie alleen wees. En aandag gee aan my wereld.More is dit weer terug na normaal.

 

Ons gaan weer vroeg moet opstaan, terug gaan Johannesburg toe, waar ek dan sal moet begin repeteer vir die fashion show. Some inwerk wat losgekom het, die model probeer ooreed om iets te eet, en rond trippel in my hakskoene en voorgee ek gee om oor die mode industrie. (Ek is mal oor ontwerp en klere werk, maar mode? Seriously! Die bedryf is gevul met oppervlakige miljoene en mense wat nie eet nie. Hoe funksioneer mens in ’n omgewing waar mense nie van kos hou nie?) Dan 13h00 die groot vertoning in Santon fountain square of so iets, waarna ons die resultate sal hoor.

 

Jip ek is opgewonde en bang op die selfde tyd. Ek love my lewe! Regtig! Maar vandag is ek bly om net in vrede te kan wees.

 

Geust blogger: Kaalkop van skaakwyk

September 28, 2011 in Sonder kategorie

Ek sit by sonnet in haar kamer en praat stront soos gewoonlik. Sy sê my toe om op haar blog te post. Wat sal ek skryf?

…….

wie is Sonnet? waar kom sy vandaan?

wel kom ons vind uit……….

sy is die persoon wat jou maak smile, jou boring dag n moontlike adventure kan maak, n normale gesprek wat 7de laan laat lyk soos carte blanche, die een wat altyd nuus het om te deel al is dit irrelevant,maar jy luister nog steeds want net nou mis jy uit op iets.

sy is die een wat vir jou n pink donut bring as jy down is, en jou dit maak eet voor almal……….sy is sonnet sestet

Kaalkop van Skaakwyk

Ouderdom

September 26, 2011 in Sonder kategorie

Ouderdom is ‘n vreemde ding. As jy 5 is wil jy so graag 10 wees, en as jy 10 is wil jy so graag 5 jaar oud wees. So gaan dit ook met jou tiener jare teenoor jou twintiger-jare, en ek is seker met die res van die stadiums in jou lewe ook.

Dan is daar die ander ding van ouderdom. Tot op ‘n sekere ouderdom het die persoon wat net ‘n bietjie meer ouer as jy is, net so bietjie meer gesag, en dan skielik,  tien jaar later, is die ouer persoon nie meer aan die bo-kant van die hiragie nie. Vreemd.

Ek beleef al vir die laaste drie jaar ‘n quater-life crises. Belaglik, ek weet…maar steeds. Ek is nog nie reg om ‘n grootmens te wees nie, en ek sal enige iets doen om dit te vermy. Tog weet ek hy kom nader. Ek voel hom in my kop en sien dit op my gesig die oggend na ‘n laatnag partydjie. Ek voel dit in lyf waneer ek buk om iets onder die bed uit te haal. (Ek hoor hierdie raak selfs erger met elke jaar wat jy bykry) Ek sien hom ry waneer ek ‘n kind wat eers na my tyd op Hoerskool gekom het agter ‘n stuurwiel sien. Ek is besig om ‘n grootmens te word en ek weet nie regtig hoe om een te wees nie!!!!

 

Waar is die dae van skoolbank en kersbrand… (as ek nou vir oom Koos mag aanhaal uit sy liedjie van ‘n slot-lose bicycle) Die dae waar opdaag goed genoeg was. Die dae van ‘n beter, skraler lyf, voor fronse permanent op jou voorkop agter gebly het.

 

Kyk…hierdie krisis van my ouderdom strike elke jaar op sy ergste die tyd van die jaar, waneer my volgende verjaarsdag om die draai is.

 

Vrydag word ek 23. Ek weet oor 5 jaar gaan ek wens ek was weer 23, maar vanaand voel dit vir my vreeslik oud!

 

Tog, hierdie keer pla dit my nie so erg nie. Ek voel steeds 23 is oor die muur maar ek is effe verlig. Jy sien..nou die aand, toe bel my suster my. (net so terloops, toe sy so oud was soos ek was sy reeds ‘n jaar getroud. No wonder ek voel oud nie!)

 

“haai”

 

“haai”

 

“hoe gaan dit?”

 

“goed dankie self?”

 

“Ag ja wat. Goed. Luister, ek wil hê jy moet met my sondagskool klas kom praat. Hulle is 14. Ek dink dis nodig dat iemand met hul praat oor depresie. Jy het dit self gehad, ek kan dit nie so goed vir hul verduidelik soos jy nie. Die kinders praat oor ander kinders wat hul self sny, die ander een is met dagga gevang, en nog een se broer het die week pille gedrink.Kan jy kom?”

 

“Dis nie ‘n hoofstuk in my lewe wat ek graag onthou nie, maar goed. As jy dink ek kan iemand hel.”

 

Die week delf ek toe en is terug by 14. Stadig stap ek weer deur 15, kyk so bietjie terug op 16, lees weer oor 17, en huil weer oor 18. Sondag aand gaan ek toe na my suster se klas toe. Dis ‘n klomp kinders wat voor my sit. Toe ek so oud was was ek oortuig ek weet alles, en as ek na die knders voor my kyk en deur my dagboek van daai jare lees, kom ek vinnig agter dit was net ‘n illusie.

 

Ek vertel hul van my ervaring, en soos ek aangaan besef ek dat dit waarvoor ek so bang was het klaar gebeur. Ek is ‘n groot mens en dank die Vader vir dit. Ek worry nie meer of ek goed genoeg is vir ander nie. Ek worry nie meer wat wie sal sê nie. Ek hoef niemand niks te vra nie. Ek kan my eie besluite neem, self uikom waar ek wil wees, my eie mens wees soos ek wil.

 

Ek is seker van wie ek is, het soortvan ‘n idee waarheen ek oppad is, en ‘n duidelike prentjie van waar ek vandaan kom. Ek het meer sekerheid oor meeste van die dinge wat toe na ontmoontlike vrae gelyk het, en ek het meer selfvertrou to speak up about it. Ek het al soveel meer ervaar, soveel meer gesien, en by soveel meer plekke gewees. Ek het so baie mense ontmoed. (slegte ding van skool is dat die 1 000 kinders in jou skool is soortvan die hele gene pool waaruit jy jou vriende kan kies.) Soveel projekte aangepak, en soveel hoogtes bereik.

 

dankie tog ek raak 23 en nie 14 nie!

 

Maar dan natuurlik, die dag wat ek 28 slaan sal ek seker weer dink…I Pitty the 23-year old version of you…

 

Ouderdom. Ek sê jou, hy is ‘n snaaaaakse ding….

 

 

Vinnige Vragie:

September 24, 2011 in Sonder kategorie

Ek weet ek klink nou seker vreeslik dom, maar ek kan na ses maande steeds nie klein kry hoe om ‘n foto op my blog te post nie! IEMAND!! help asb?

Om stickers te ruil.

September 24, 2011 in Sonder kategorie

Een van die dinge wat ek die meeste geniet van kinders oppas, is hoe baie dit my van die lewe leer. Nee, ek praat nie van dinge soos hoe om eendag ‘n goeie ma te wees nie. Ek praat nou van dinge soos:

1. As jy nie van iemand hou nie, hoekom maak jy assof jy doen? As jy nie bly is om iemand te sien nie, hou op om voor te gee jy is.

2. Môre is nog vrek vêr, waarom worry jy nou al daaroor?

3. Dit maak nie regtig saak of die skoene, sokkies, en broek by mekaar pas nie, as dit jou gunsteling skoene, sokkies en broek is, mag jy hul maar bymekaar aantrek.

4.Die een wat die langste is het die meeste authority.

Die week het ek weer besonders baie geleer rondom die nuutste fad waarmee Miekie haarself mee besig hou. Stickers en Sticker-albums. En soos ek dinge weer leer, leer ke hulle sommer vir Miekie ook sodat sy WEET waneer sy ook eendag groot is.

eerste ding wat ek geleer het:

 

As almal anders in die graad ophou met rekspring en begin stickers versamel; kry so gou moontlik vir jou ‘n sticker album.

 

Wat ek vir Mieke hieruit geleer het:

 

In die “grootmens-wêreld” is dit nie veel anders nie. Dit het ek nou al agtergekom. As jou buurvrou ‘n Au Pair gekry het, is dit baie belangrik dat jy ook een kry. Hierdie gedrags-patroon word opgemerk in verskeie afdelings soos kombuisware, ‘n beroep, winkels en winkel-sentrum, ens.

 

Wat ek graag wil hê Miekie moet hieruit leer:

 

Screw die buurvrou. As jy net altyd wil hê wat hulle het, gaan jy nooit iets hê wat hulle wil hê nie. As jy ‘n trend volg, sal jy nooit een begin nie.

 

Tweede ding wat ek geleer het:

 

My opinie oor watter sticker album cool is, en Miekie se opinie oor watter sticker Album cool is, weeg maar min. Dis die mees gewildste meisie in graad 4 wie se opinie werklik tel.

 

Wat Miekie hieruit geleer het:

 

Om in te pas, moet jy aanpas by die norm wat gestel word deur die leier van die trop.

 

Wat ek graag vir Miekie hier uit wil leer:

 

Dis pret om te behoort en deel te wees van ‘n groep, behalwe as dit ‘n groep is waarvan jy nie natuurlik deel kan wees nie. Ander mense se opinie maak saak, maar dis op die einde jou opinie wat die meeste moet tel.

 

Derde ding wat ek geleer het:

 

Hoe minder daar van ‘n spesifieke sticker is, hoe meer is hy werd in ‘n Sticker currency:

 

Wat Miekie hier uit geleer het:

 

Die waarde van jou sticker verminder elke keer waneer jy vir iemand sê waar jy hom gekoop het. Hoe makliker iets bekombaar is in ons samelewing, hoe minder is hy werd.

 

Wat ek wil hê Miekie hieruit moet leer: (want ek het dit te laat geleer)

 

Hoe makliker jy vir iemand hul sin gee, hoe minder sal dit vir hulle beteken dat jy het.

 

Vierde ding wat ek geleer het:

 

Hoe meer angstig jy is om nie ‘n spesifieke sticker te ruil nie, hoe meer angstig is die ander persoon om hom te kry

 

Wat Miekie hieruit geleer het:

Almal is opsoek na iets wat hul nie kan kry nie. Hoe langer jy aanhou dat jy nie iets wil opgee nie, hoe meer sal mense aanbied sodat jy dit vir hulle sal gee.

Wat ek wil hê Miekie hieruit moet leer:

 

Moenie jouself vir enige blêrrie sticker ruil nie. Ook nie vir enige bêrrie man nie. Maak seker dat as jy eendag groot is, dat jy die sticker is wat onruilbaar is. En ruil jouself net, as jy seker is die sticker wat jy in plaas daarvan kry, geleike waarde het…

 

 

‘n Opwindinde tyd

September 22, 2011 in Sonder kategorie

Somtyds as ek in die verkeer sit oppad huis toe, en een of ander oorspeelde pop-tune van een op ander oorspeelde pop-artist is op die radio, wens ek my lewe was meer opwindend en minder allerdaags. Jy weet, nie so vrek boring soos wat dit op daardie oomblik voel nie. Dan wens ek ek was nie maar soos enige ander 22-jarige nie, en dat my lewe regtig bietjie meer oemf gehad het.

Dit was weer so gewees so tweee weke terug. Elke dag gaan ek maar klas toe, werk toe, winkels toe, na my ouma toe, na my vriende toe, na my huis toe. En die volgende dag weer. So vervelig was dit dat ek uitgesien het om ‘n week lank my Au pair kiddies te gaan oppas terwyl hul ouers Parys toe is vir die week. (In my oë skree hierdie desperasie vir opwinding)

Die week gaan mal. Soggens kinders by die skool aflaai, kos maak, buitemuurse aktiwiteite, bed tyd stories, en dan natuurlik moet ek my eie klasse ook tussendeur bywoon. Teen  Saterdag is ek poot uit en opgewonde vir hul ouers om terug te kom. So uur voor die vliegtuig land loop ek en kleinste toe maar af parkie toe. Ons ruik aan die heerlike lente blomme en sing liedjies.

“jy is so lekker vet, Ek hou daarvan” sê die toe vir my. Verondwaardig sê ek toe vir hom, “ek is nie vet nie”. “jy is ja…maar ek hou daarvan.” Ek laat dit toe maar net gaan. By die parkie sê hy toe weer vir my. “jy is lekker vet. My ander Au Pair was te maer!”  Ek ontken weer aan hom (en seker aan myself ook) “ek is NIE vet nie.” Hy lag vir my. “jy is so vet jy kan nie eers deur die tires pas nie!”

(Jy weet waarvan hy praat. Dit is daai struktuur op ‘n speel park waar hul drie moterbande op mekaar sit, so 50cm uit mekaar, sodat die KINDERS daar deur kan klouter.)

Dis net daar wat ek toe besluit. EK KAN.

Op met die Jungle Gym, en af met die bande met my sonrok. My een been is deur, die ander een volg kort daarna, ek wurm my onderlyf deur die eersteband met my bene half gebuig. My bors en kop nog bo die eersteband. Ek forseer my bene reguit en hul raak nou aan die grond. Enigste probleem, my boude sit tussen band een en twee, maar my oorseende borsmaat sit vas binne band een. My arm nutuurlik hoog in die lug en ek kan nie roer nie. Kleinste lag vir my. “ek gaan jou kom kielie!”

Watter keuses het mens dan?Hy kan my nie kom kielie nie, ek sal myself beseer! Ek sal my self nou net hier moet deur druk.

Lang storie kort, my linkerkant van my lyf is blou, en ek is nog steeds ‘n bietjie styf. Die ouers is terug maar op dag een wat ek my broer hul se huis begin oppas verloor ek hul babahondjie en soek die hele Belville deur met posters wat groot asseblief hulp vra. Gister breek my kar toe, en ek saam met die amerikaanse familie wat tans hier kuier sukkel in mainroad af vir parte, sodat ons die stuk blik kan fix met my naaldwerk tools. Van vanaand tot sondag het ek 3 partydjies, en volgende week vlieg ek op Johannesburg toe om by SA fashion week te gaan deelneem. Tussendeur slaan ek 23 en het ‘n oordosis projekte wat moet ingaan. Erens in volgende week het ek ‘n blind date met ‘n 35-jarie man wat my pa blykbaar vir my gereel het, en my Au Pair mamma het gevra dat ek ekstra skofte werk, want haar maand is besig.

Dis sulke tye wat ek in die verker sit en glimlag. My lewe is weer propvol dinge en geleenthede vir pret. Wie weet wat dit als sal inhou, en wat ek oor ‘n maand sal dink waneer ‘n oorspeelde pop-tune oor die radio speel.

Die reuk van lente

September 7, 2011 in Sonder kategorie

Die familie by wie ek Au Pair se bure groei jasmyn in hul tuin. Ek trek die reuk tot diep binne my neusholtes toe ek vanmidag by die werk aankom. In die Kaap is dit ‘n behoorlike lente dag!

Heeldag ry ek en die kinders met oop vensters, terwyl Miekie by die venster uithang en haar hare in die wind rond fladder. Soos flinders wat opgewonde is oor ‘n nuwe seisoen. Dis die selfde flinders wat in my hart rond vlieg.

Ek ek is lus vir aarbeie op een van my ma se ou oorgetrekte komberse op ‘n gras veld wat die munisipaliteit vergeet het om te kom sny. Een van daais langs ‘n plaasdam waar die gras so hoog staan dat as jy plat lê, geen verbyganger jou sal kan sien nie. Ook seker omdat hul alweer besig is om deur die lewe te jaag sonder om hul te bekommer oor die spoed grens.

Die jasmyn reuk hang in my kar. Elke jaar is ek van voor af verras oor die sterk reuk wat net ‘n paar bloeisels kan afgee. Een van my gunsteling liedjies speel oor my stukende radio, en ek sing so hard dat ek nie die verkeer om my hoor nie.

Net so voor die skemer kom hardloop ek en my kinders straat af parkie toe. Die bure braai en die reuk laat my verlang na sorgelose desember vakansies. Ek hou die soom van my sonrok styf vas en hardloop ssam met my kinders straat af. Die tarrentale skrik selfs.

Jasmyn en braaivleis. Kinders wat lag. Wind wat deur my hare waai. Aarbeie en malvalekkers. Al die sinonieme van jonk wees, dink ek by myself terwyl ek glimlagend verder huppel.

 

Oppad terug van werk stoop ek gou by my oupa se versorgens eenheid net om sy hare te borsel en vir hom lipbalm op te sit. Die gang ryk stiriel en klienies. By kamer 44 draai ek in en daar is dit toe. Die jasmyn in die glas langs sy bed. My ouma het dit seker vir hom gebring…dalk laat dit hom ook weer onthou…

Dis net mis…

September 4, 2011 in Sonder kategorie

Ek lê gisteraand in die groot dubbel bed en dink aan toe jy ook daar gelê het. En toe besef ek, ek mis jou nog. Ek verlang nie regtig meer na jou nie, net mis…

Ek mis om met jou te gesels en diep binne my te lag oor hoe snaaks jy is. Nie noodwendig hoe snaaks die goed is wat jy sê nie, maar hoe snaaks jy IS.

Ek wil jou vertel van die kopstaan wat ek nou die dag moes maak op die skool se rugby veld vir my kiddie se entertainment, toe my top oor my kop sak en my wit lyfie en blou bra daar is vir die wêreld om te sien.

Ek wil jou vertel van my nuwe (selfs gayer) dosent, en van die ander een wat vir my gesê het as hy staigth was sou hy graag met die queen van england wou trou.

Ek wil jou vertel van hoe mooi die aroras in antartica is en hoe ek graag eendag soontoe sal wil gaan.

Ek wil jou vertel oor my blog, oor hoe lekker ek skryf, hoe ek nou kan sê wat ek dink, en hoe ek my eie sielkundige geword het. Ek wil jou  vertel van al die gawe vreemdelinge, en hul gedagtes, en ek wil van JOU denke hoor.

Ek wil jou vertel van Hendrik se meisie, en oor hoe clueless hy is as dit by verhoudings kom, en hoe baie ek lag en dink aan hoe baie min ouens actually weet oor wat meisies wil hê.

Ek wil jou vertel van hoe ek vandag die polo se sleutels verloor het, en toe die deli se sleutels in die deli toegesluit het.

Ek wil vir jou sê dat ek vandag vir Clara met die rekenaar gehelp het, en hoe ek actually nou iets oor die goed weet.Dankie!

Ek wil jou vertel dat ek gekaraoke het.

Ek wil jou vertel oor hoe mooi die maan lyk.

Ek wil jou vertel van hoe ek my speakers met my bra uitmekaar geskroef het.

Ek wil jou vertel dat ek dit mis om met jou te gesels. En hoe ek dit mis dat een van die mense wat vir my so goeie vriend geraak het nou net missing is. En ek wil jou vertel dat ek gelukkig is. Dat dit goed gaan met my. Maar dat ek jou mis. Nie verlang nie. Net mis…