Jy blaai in die argief vir 2011 Augustus.

Almal het ‘n storie…

Augustus 31, 2011 in Sonder kategorie

Ek eet sondag by my ouma in haar aftree oord se eetsaal. Ons is bietjie laat want ons was eers by my oupa om om te kyk of hy dalk nie vandag iets wil eet nie. In die eetsaal ondersoek my ouma al die tafels waar haar vriende sit om te kyk of daar dalk erens twee stoele oop is, maar met geen geluk. Die enigste tafel met twee oop sitplekke is by ‘n tafel vir ses waar twee nder dames reeds sit. “Ek is bevrees vandag het ons nou nie baie sinvolle geselskap nie Sonnet.” Ek glimlag vir my ouma. “Interessant is nie altyd sinvol nie Oumie.”

Die een dame se kop lyk soos ‘n jakkarande-boom in die lente. Die ander dame het ‘n bril so groot dat mens sal dink sy sien deur haar neusgate ook. “waar was hul 50-jaar terug?” wonder ek.

Die dame met die jakkaranda pers – “do” glimlag vriendelik. “Wat is u naam nou weer?” vra sy my ouma. na Ouma haar geandwoord het, haal sy ‘n boekie uit haar sak om na te slaan of hul al voorheen ontmoed het, en waar. 5 minute later kry sy dit? Jul is in huis 46 ne?

Dan begin sy los trek. Sy vertel van haar Personal jokes met Marike de Klerk. Van die tyd toe haar man en ou Pik goeie pelle was. Sy vertel van haar wêreld toere, haar dae van verpleeg, haar seun se fortuin, (elke storie natuurlik gevul met ‘n meer belanrikke persoon as die vorige.) ek luister aandagtig terwyl ek eet. Die tannie met die neus-gat oë probeer elke nou en dan iets in kry, maar die Jakkeranda tannie praat net voort. Oor 1945 se wette. Oor die verskil tussen die nederlandse taal en die vries-mense se taal.dan hou sy skielik op.

“Stel julle belang in my stories of praat ek in die wind?”

Ek verseker haar ek stel belang en dan tel sy weer op.

Aan die einde van die maal bedank ek die dames vir hul heerlike geselskap en ek en my ouma verskoon ons self. “jammer Sonnet. Ek het regtig nie geweet ons gaan nou sulke geselskap hê vandag nie” ek vat my ouma se hand. “Toemaar oumie. Jy vertel my heeldag hoe jy wens jy kon iets terug doen vir al die mense wat jou so ondersteun in die tyd. Jy het dalk nie vir hulle iets gedoen nie, maar jy het die jakkeranda tannie se dag gemaak.”

My suster Jana het my eendag gesê: “Sonnet, almal het ‘n storie om te vertel; hulle soek net iemand om te luister….”

Partykeer is dit al wat mens moet doen. Jou ruit afdraai in plaas daarvan om die bedelaar kwaai aan te kyk. Vir jou kolega opreg vra “hoe gaan dit vandag?” Iemand met wie jy lanklaas kontak gehad het net laat weet jy het hul nog nie vergeet nie.Luister net.

Dalk beteken dit selfs vir jou ook iets. 

Waneer net bene en organe oorbly.

Augustus 23, 2011 in Sonder kategorie

Ek klim vanaand 10 voor 7 in my kar en ry af Louis Leipold hospitaal toe. Besoek tyd begin om 19hoo. My oupa is ‘n week terug uit die ICU na ‘n gewone saal oorgeplaas en ek het uiteindelik die moed bymekaar geskraap om te gaan kuier. Ek is elke aand by my ouma om haar te ondersteun, maar ek het nog nie kans gesien om die eindelike moeilike besoek af te lê nie.

My Ouma hou my darm op hoogte. Dit gaan baie beter met Oupa. Hy is nog net aan twee sakkies en die suurstof masjien gekoppel. Hulle het die staps waarmee hul sy arms vas gebind het ook al afgehaal. Hy is nie meer so aggeresief nie.

Aggresief? Ek kan dit amper nie indink nie. Voor my Oupa twee weke terug geval het was hy reeds gekrimp tot die helfe van wat hy altyd was, met ‘n rug so krom en bene wat soos vuurhoudjies gelyk het.

Die hyser neem my na die 6de vloer. Ek stap vinnig in die gang af en hoor by die toonbank in watter saal ek mnr Maree sal kan kry. “Hier agter jou”, verduidelik die vriendelike verpleegter met ‘n wink na ‘n deur wat soos al die ander lyk. Ek skep asem en klop.

Niks kon my voorberei op wat ek daar sou aantref nie. Op die bed voor my lê ‘n hopie bene wat verwoed bewe soos die Parkisons dit al afgetakel het. My oupa kyk nie eers in my rigting nie. Ek dink nie hy weet van my teenwoordigheid nie. Nee, hy slaap nie. Kyk onrustig na die dak bo hom as of daar insekte is wat hy met sy oe probeer vaspen.

Sy laken is opgetrek tot sy middellyf. Bo dit steek ‘n geraamte wat in ‘n bros vel oorgetrek is uit, bedek in ‘n wit kleedjie. Sy mond bewe. Ek soen hom op sy voorkop. Sy oë soek steeds na iets teen die plofon. ” hallo oupa. ek het verlang!”

Niks.

Ek neem sy hand in myne.

Niks.

Ek vra hom of hy gemaklik is.

Niks.

Net ‘n hopie bene, en organe wat steeds werk.

verder niks.

Alexander Forbes Ad

Augustus 20, 2011 in Sonder kategorie

Ek dink hierdie is die mooiste advertensie. Doen jouself ‘n guns en kyk dit!

http://www.youtube.com/watch?v=L3RmNcJ7fhg

wonder waar my drome is…

‘n Bed uit die goeie ou dae

Augustus 18, 2011 in Sonder kategorie

Ek slaap gisteraand by my ouma oor. My oupa is al van sondag in die hospitaal en moes op 86 ‘n heup vervanging kry na ‘n ernstige val. (Die alzheimers het hom om 02am oorreed dat die advokaat hom in sy sitkamer wil spreek, en toe maak die parkinsons sy bene lam.)

Om 19hoo begin die mense bel om te hoor hoe dit met my oupa gaan. Tussen twee selfone, een landlyn, en die interkom sisteem in die aftree oord sukkel ons om alles geandwoord te kry. Ek wonder of ons generasie ook so baie sal omgee as ek daai ouderdom bereik en of compasion saam met die ou dae gesterwe het?

Na al die oproepe en sms-boodskappe uit eindelik beandwoord is, skuif ons albei na ons kamers. Ek vat ‘n lekker warm stort na ‘n laaaaang dag en doen al die dinge wat gedoen moet word om my so lank as moontlik jonk te laat lyk. Ek woel myself uit my “japon” en trek beweeg bed se kant toe.

Die bed is netjies op gemaak en is nog van die soort wat ‘n deken oor het. Selfs die kussings het hul eie beblomde dekentjie. Haal die van die bed af. Twee perske kleurige-kussings, elk met ‘n kantjie afgerond, wag vir my kop om met dit in een te smelt. Die bed is op gemaak in die “old-school-manner”. ‘n Bypassende perskleurige laken, en ‘n bruin kombers. Ek kriewel dadelik tot tussen die twee lakens. Met ‘n Duvet kan mens dit nie doen nie.

Die probleem het ingekom vanoggend toe ek opstaan:

Hoe maak mens die bed op? Ek weet die laken moet op ‘n manier oor die kombers gevou word soos die plastiek omslag oor ‘n biblioteek boek? Daar is ‘n gewone laken in plaas van ‘n paslaken wat plat gestryk moet word? Dan hoe steek mens die kombers en laken onder die matras in sodat die gedeeltes wat jy nounet ingesteek het, nie weer uit val nie? Moet nie dat ek eers by die manier van dekens om kussings vou kom nie….

Ek kroek toe maar. My ouma het genoeg ander worries. Natuurlik slaap mens lekker in so bed!maar flip, ek raak liewer wakker onder my duvet! 

Koffie

Augustus 17, 2011 in Sonder kategorie

Ek het groot geword in ‘n huis waar koffie niks te doen het met poeir in ‘n blikhouer nie. Vandat ek kan onthou staan my pa se purculator op die sstoof, en DIT alleen is koffie. Nie eers ‘n plunger is voldoende nie.

Dus, die dag toe ek uit die huis trek het ek nie eers probeer gewoond raak aan dit wat alleman as koffie sien nie. Ek besit nooit melk nie, en ook nie suiker nie. Defnintief ook nie ‘n geel blikkie vol poeier nie. Waneer gaste oorkom vra ek my huismaat of ek dalk vir hul van haar koffie mag maak.

Laasweek besluit ek toe vir die eerste keer in vyf jaar dat ek dalk moet begin om my eie koffie aan te hou. Ek koop toe ‘n klein geel blikkie, ‘n houer cremore (dit het gelukkig nie ‘n verval datum nie, en ‘n klein pakkie suiker.

Vanmidag crave ek toe. Ek skakel die ketel aan, gooi ‘n teelepel cremora, ‘n teelepel koffie, en ‘n teelepel suiker in ‘n beker. daarna voeg ek die kookwater by en dis toe wraggies so…koffie in ‘n kits. Ek gaan sit buite in ‘n son kolletjie, steek ‘n lang verlangde siggaret op. (mense sê altyd die twee gaan great saam) en neem ‘n sluk.

Ok, ek sal hieraan gewoond raak. Twee trekke, een sluk.ehhh…nog nie beter nie. Dalk as ek meer rook, proe dit beter.  Nog drie trekke, en nog ‘n sluk. dit proe nie beter nie. Ek proe net kookwater met ‘n na-smaak. Vies druk ek sommer die siggaret ook dood. Dan gaan ek binne toe, gooi die bruin mengsel in die drein af, en verlang na my pa.

Om besig te wees beteken om ‘n slag van jouself te vergeet.

Augustus 16, 2011 in Sonder kategorie

Sjoe…vanaand is die eerste keer in seker ‘n maand wat ek tien uur die aand by die huis om en geen meer werk het nie. Ek is moeg! Ek kla nie vanaand nie, ek noem net…

So baie dinge het die afgelope tyd gebeur! Eers is my werks ure per week amper verdubbel waarna my universiteits-werk die selfde opwaardse kurwe gevolg het.

Daarna hoor ek een van my skeppings is as een van 14 in die land gekies is vir ‘n groot kompetisie by SA Fashion week en erens in Oktober word ek op gevlieg na “daar bo” om hieraan te gaan deelneem en verder my lot te gaan hoor.

My sosiale lewe probeer ek so semi aan die gang hou en verder probeer ek elk van my geliefdes die aandag gee waaraan hul gewoond is terwyl die een persoonlike krisis na die ander op duik.

Erens weet ek moet ek iets na die “tweede prioriteits lysie” skyf, maar wat weet ek nog nie. Hoe kies ek tussen my mode-studies wat ek weet ek gebore is om te doen, en my werk in die plakkerskamp wat my siel lewend hou? Of tussen my werk wat my toelaat om beide bo-genoemde te kan beoefen, en my tyd saam met my familie en vriende? pak ek eers my kamer reg, of probeer my lewe georden hou met die kwart-blad dagboekie in my jean se sak? Sal ek die half-uur wat ek vandag af het aan my kitaar, podlode, blog, of rekenaar spandeer? (wat ‘n televisie is, het ek reeds vergeet)

Tog, dis lekker om so besig te wees. Ek vergeet om te veel te worry oor alles in my kop wat nie sin maak nie, en kry dit wat ek ek wel weet ek wil doen, erens in die 24 uur in my dag in geprop. My vel en hare lei dalk daaronder, maar dit doen my hart goed.

Een ding wat ek wel weet ek wil doen, is ek WIL die wêreld verander. Ek het nie nodig om die hele wêreld te verander nie, net een persoon se wêreld op ‘n slag. Het vandag weer die mooiste uitdrukking gehoor, en het dit dadelik op my bord geskryf waar ek notas maak oor dit wat vir my belangrik is. Dit gaan soos volg:

‘What we do for ourselves dies with us, what we do for others remains immortal’

Dis dan waarop ek die week wat voorlê gaan fokus. In my warrelwind lewe gaan ek my af-vra, “is jy besig om die sutsuasie beter te maak as wat dit was toe jy hier gekom het?”

Kom ons kyk hoe dit gaan!

‘n Skewe Draai

Augustus 8, 2011 in Sonder kategorie

Ek en my geel kar stop gister voor Hobe Educare Centre in Green Park informele nedersetting. ek was seker ‘n maand laas hier! dink ek by myself terwyl ek opkyk net voor ek my deur oopmaak. Die oomblik wat ek die deur-knip na my trek, spring drie kinders op my skoot. Lumka, Anita, en ‘n ander kiddie wie se naam ek nog nie kan uitspreek nie. Toe ek uiteindelik by my kar uitkom gaan ek solank na die klas kamer om pollifiller te begin aansmeer op al die plekke weer die rhino-borde begin ontmoed, terwyl ek vir tannie elsabe wag om te kom. (vir meer inligting oor Tannie elsabe, gaan lees gerus: http://blogs.litnet.co.za/Sonnet_Sestet/tannie-elsabewhat-a-legend )

Kyk…Green park is ‘n ander plek. Nie so anders as my woonbuurt nie, maar tog helemal verskillend. Toe al die pleister werk vir eers klaar is en Tannie Elsabe laat weet het sy brand bietjie vas, speel ek maar die kinders wat so al om my draai. Ek swaai hulle aan hul arms rond en besef weer dat al kominuskasie wat dieselfde in Afrikaans en Xhosa is, is die klank van ekstasiese gelag.

Hul wil in die kar gaan rond ry, word daar vir my beduie. ek laai toe 7 kinders in my reeds oorvol golfie en skakel aan. broem broem broem , maak die een langs my. Ons ry nerens spesifies nie. Ons ry net so bietjie rond in die plakkerskamp om vir al die ander kinders te gaan waai. Terug by die skool is tannie Elsabe daar. Ons moet gou ry om nog rhino-bord te gaan koop.

 

Ek klim in haar Jesus bakkie soos sy hom noem, (Hy kan nie sluit nie, maar is nog nooit probeer steel nie.) en daar gaan ons. Eers brackenfell toe om daar in ‘n scrapyard ‘n “nuwe” venster te gaan koop. Aangesien tannie Elsabe onlangs ‘n hand opperasie gehad het, is haar hand steeds in ‘n stud. Daarom, elke 5 minute, hoor ons iemand toet, en besef dan dis net tannie Elsabe wie se hand nou weer te hard op die stuurwiel leen. Sy voel mos nie wat die stud doen nie. 

 

Van Brackenfell ry ons Parrow toe vir die Rhino-bord. Stop. Klim uit. Koop die bord. Laai dit op dak. Bind dit met toue vas. (nee, die winkel assistent help die vrou met die afhand nie. Maar ons gaan ons nie daardeur laat keer nie.)  van daar, met die borde op die Jesus-bakkie se dak trap ons weer die petrol terug delft se kant toe.

 

2 minute later hoor ons dit.    Doep doep doep doep. Die borde flap op die dak rond. Ag fok tog. tannie Elsabe sê ek moennie so vloek nie. Ons trek af op so dodgy pad erens tussen Parrow en die R300. Is skaars uit die kar toe twee mans met hul winkeltrollie vol ‘n ander man se gemors nader gehardloop kom. Gewoonlik sou ek my veiligheid bevraagteken, maar as jy met overalls en frokkie langs ‘n Jesus-bakkie met rhino-borde op die dak staan, dan bevraagteken jy niks. Jy sê dankie vir die hulp.

 

15 Of wat minute later vat ek en Tannie Elsabe weer die pad. Haar venster is afgerol en sy hou die borde op die dak vas. Ek trek die tou wat by my deur in, en by haar venster uit gaan, styf. Tussen deur toet ons elke 5 minute want tannie elsabe voel steeds nie wat haar hand maak nie, en ons albei clutch ‘n sigaret. Ons is terug in Green Park.

 

Die borde word afgelaai, en word teen die mure ingekap. Dit lyk netjies. Soos ‘n vertrek in ‘n baksteen huis. Sondag oggend gaan koop ons die kleuterskool se kos-vooraad vir ‘n maand met ‘n R1000. Glo dit of nie. 

 

Ek dink skielik aan hoe ek more weer op my hoë-hakke en blomrok in die kaap gaan rond trippel terwyl ek leer hoe om ‘n mode ontwerper te wees. Ek dink aan hoe SA fashion week my genooi het om my werk op hul loop-plank te gaan vertoon, September in Johannesburg. As hul my nou moet sien….

 

My hare is vuil gevat deur klein handjies wat weke laas gewas is. Ek loop in shoprite rond met slippers, overalls vol verf, en ‘n frokkie sonder soom of neklyn. Ek kou my bubblegum onvroulik en blaas borrels. Oor ‘n paar oomblikke sit ek weer plat op my jis en plak mure toe.

Ek dink terug aan so paar maande terug. Het annie Elsabe raakgeloop iewers anders as op ‘n stof-pad vol gate. “sjoe kind maar jy lyk darm móóí. Het jy jou hare gekleur of iets?”… Ek lag…”nee tannie…Ek het net grimering aan.”

Die lewe loop darm snaakse draaie met ‘n mens! 

Keuse

Augustus 5, 2011 in Sonder kategorie

Bos…hier kom ek…

Opsies

Augustus 4, 2011 in Sonder kategorie

Ek maak myself soms moedeloos.  Wat is dit met my?

En seker met party ander mense ook…

Waneer daar ‘n vurk in die pad kom is daar gewoonlik twee opsies. Die een pad is gelyk, reguit, en glad geteer. Aan die einde van die pad sien ek als wat ek amper seker is my gelukig sal maak. Ek weet die pad het nie dorings nie, en dat as ek net op die pad bly sal alles oraaierig uit draai.

Die probleem is, daar is ook altyd ‘n ander pad. Nee ek jok. Meer ‘n paar plat getrapte graspolle wat aandui dat iemand voor jou al wel die moontlikheid gaan ondersoek het. Om hierdie paar plat getrapte graspolle is dit bebos, baie struike, en as jy staan waar ek staan sien jy nie wat 10m verder lê nie.

Die vraag wat ek het: Waarom sal ons altyd deur die bos neuk? Of altans ek…

Nee…ek het nog nie ‘n tree gegee in enige rigting nie. Ek staan en kyk nou maar net na die twee opsies met die wete dat die kronkel pad my hart viniger laat pomp. Ek weet daar is ‘n 99% kans dat ek sal spyt wees as ek hierdie kant toe dôner, maar daar is ook die 1% kans dat hierdie paadjie dalk lei na iets soveel beter is as dit wat ek dink my gelukig sal maak.

Dit maak my moedeloos at ek weet waneer ek klaar gestaan en kyk en oorweeg het, ek die bospad gaan kies, en dat ek GAAN spyt wees. Dit maak my moedeloos dat hierdie keer nie die laaste keer gaan wees nie. Dit maak my moedeloos dat ek WEET dit is ‘n fout…

Maar dalk is dit nie?

Introspeksie

Augustus 4, 2011 in Sonder kategorie

Introspeksie.

Ek dink dis ‘n baie efektiewe woord.

My vriend het dit vanaand gebruik toe hy hier kom eet het. Waneer ek ‘n nuwe woord leer is daar hierdie opgewondenheid wat binne my begin borrel soos ek wonder hoe die woord my lewe gaan verryk! Dis soos ‘n kok wat ‘n nuwe bestandeel ontdek. Soos die krag van vars basil-blare. Pasta maak skielik vir die eerste keer sin.

Introspeksie: Inspeksie na binne. Dis nou soos ek dit verstaan, nie die woordeboek nie.

Ek maak ook vanaand weer vir die eerste keer in ‘n lang tyd ‘n Jesus-email oop. Dink ek ignoreer hul half die laaste tyd oor ek kwaad is. In skaamte moet ek erken, ek was seker ‘n bietjie kwaad vir Hom ook. Net ‘n bietjie. Oor hy nie my pad laat draai het soos ek gedink het hy hom sou laat draai het nie. Nou het ek agter gekom ek sal nooit weet watter kant toe my paadjie gaan nie, en nous ek deurmekaar. soos ek reeds genoem het.

terug by die Jesus-mail. Hy sê toe vir my dat daar geskrywe staan in SY woord:

Jeremiah 29:11  “Ek ken die plan wat Ek vir jou het, verklaar die Here.”

Nou hoef ek nie meer kwaad of deurmekaar te wees nie. My pa sê dan hy weet wat hy doen. (Dink steeds dat more gaan ek nog deurmekaar en kwaai wees, maar tenminste weet ek nou als sal fine wees…Eventually)

Na ete gaan ons Mc’Ds toe vir McFlurry-Poeding. Hy sluit, en maak vir my die deur oop.

Regtig? Mens kry nog kêrels wat dit doen? Hoe fantasties is dit nie?

Teen my kamer muur het ek klomp wit gelamineerde plakaate opgeplak. Dis my skryf bord. Hier skryf ek interessante aanhalings, waardes, gedagtes en dinge neer wat my lyf vol maak. Die dinge wat maak dat ek nie net ‘n lyf met twee blou oë en ‘n groot smile is nie

Nou sit ek in my kamer. Ek doen bietjie introspeksie. Op my bord skryf ek vanaand met groot rooi letters:

GOD WEET WAT HY DOEN EN EK HOU DAARVAN AS KERELS VIR MY DIE KAR DEUR OOP MAAK.