Vir Vadersdag

Junie 21, 2011 in Sonder kategorie

Ek is toe die naweek weg Paternoster toe saam met my ouers, my oudste broer, die se vrou, en hul 4 maande oue baba dogtertjie. ‘n naweek by die see is long overdue en ek het heerlik gelê en niks doen! Foto’s geneem, geteken, gelees, gebrei, geseduko, gepuzzle, gekook.

Ek vra my pa of hy asseblief saam met my sal gaan mossels uithaal. Ek wil Paella maak sondagaand vir Kerel B. Noukeurig hou ons die see dop om te sien waneer die water laag genoeg gesak het sodat ons tot by die rotse kan klim waar die lekker mossels groei. Saterdag om 12am roep my pa my. Die water is nou lekker laag. Ek moet ‘n kortbroek gaan aantrek en vir my en hom elkeen een van die ou paar tekkies in die garage gaan haal.

Saam stap ons strand af na mosselbank met die emmer wat langs my sy swaai. Ons praat oor die week wat verby is, oor sy eerste kleinkind, my kwartaal wat nou tot ‘n einde kom. My planne van volgende jaar, en natuurlik oor kerel B. Toe ons by mosselbank kom klouter hy rats oor die rotse.

Ek voel weer agt. Toe ek ek alewig om my pa gedraai het en net so vinnig agter hom oor die rotse gehardloop het. Vandag is ek nie meer so flink nie. Soos met baie ander dinge besef jy eers waneer jy ouer raak hoe bang jy eintlik moet wees. Ek trap versigtig van rots tot rots terwyl ek kyk hoe my pa oor die bruin stene trippel. Ek wil vir hom sê dat hy vir my moet wag, maar ek weet ek is nou mooi groot en ek het nie meer my pa nodig om my op te pas nie. Hoekom is dit die eerste keer in jare wat ek saam met hom kom? Toe ek kleiner was het ek elke moontlike geleentheid aangegryp om by hom te wees?

Ons kom by die verste rotse waar die grootste mossels groei. Daar waar die rookies nooit kom nie. Ek waag dit nie so vêr in soos hy nie. Ek is mos nou ‘n grootmens met ‘n sin van verandwoordelikheid op my skouers. Ek pluk ‘n paar hier en daar maar nie naastenby so vinnig soos hy nie. terwyl hy met sy vingers om die rotse woel vertel hy my dat ons eendag sy as hier moet kom strooi. Mag daardie dag nooit kom nie. “pa, watter een van jou kinders sal dit so diep in die see in waag om jou as te kom strooi?” hy lag, “dan sal ek dit ook seker maar self moet kom doen”

 

Terwyl ons huis toe stap besef ek dat so dag heelmoontlik in my leeftyd sal kom. Ek weet wat ons by die diens moet sing, ek weet waar ons sy as moet strooi, ek weet wat ons op sy gedenkssteen sal skryf. Maar ek het nog nooit vir hom gevra wat ek met myself moet doen as hy my wêreld sal verlaat nie. Vir so ‘n vraag het jy die leiding van jou pa nodig. Vir omtrent al die vrae in my lewe het ek nog die leiding van my pa nodig! Ek besef dat ek nog nooit langer as 30 dae lank NIE my pa gesien het nie. En selfs dit voel dan oneindig lank, en ons maak elke tweede dag kontak! Ek wil sy hand vashou en vir hom sê dat hy nooit erens heen moet gaan nie, maar ek is nie meer agt nie…

 

Soos ons huis toe stap lê die leë, ookgevlekte swartmossel skulpe oral om my voete. Hul lyk soos vlieë wat gesprekke af luister.

4 antwoorde op Vir Vadersdag

  1. thenack het gesê op Junie 21, 2011

    ‘n Pa en ‘n dogter het ‘n baie belangrike band, baie nice blog!

  2. lora2me het gesê op Junie 21, 2011

    Baie mooi geskryf oor jou spesiale pa. ‘n Pa kan sy dogter se selfbeeld verryk sodat sy eendag ‘n volwaardige, selfstandige vrou kan wees, sonder hangups.

  3. HeavyHenry het gesê op Junie 21, 2011

    Nice. Kyk mooi na die ou, terwyl jy hom nog het.

  4. Great vir jou ,ek hoop jou pa weet wat jy dink.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.