Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

My glamor(Les)’s lewe

Mei 30, 2011 in Sonder kategorie

Meisies vertel my gereeld dat ek hul kinderdae droom leef sodra ek hul vertel dat ek mode-ontwerp studeer. Ek hoor van hoe hul altyd rokke geteken het en van mooi klere hou, maar hoe hul die droom erens langs die pad ingeruil het vir iets meer realisties. (Waarom mode-ontwerp onrealisties is kon ek nooit verstaan nie, maar dis nou weer heel van die punt af.) Ek sien gereeld hoe meisies met sterre in hul oë agterna kyk waneer ek met ‘n maatband om my nek die pick a pay instap, of hoe iemand iets fluister en my verlangend aanstaar as ek met ‘n aandrok wat ek gemaak het na my kar beweeg.

Ek gaan nie jok nie. Voor ek begin studeer het, het ek ook na tiener televisie reekse gekyk waar ‘n hoërskool meisie oornag ‘n bekende ontwerper sou raak, en dit dood eenvoudig nadat sy ‘n paar lappe op ‘n kreatiwe manier op ‘n dummy sou vas steek. Ek het gedink dis fantasties en dis wat ek wil doen. Maar min mense besef dat daar ‘n miljoen meisies is wat mooi lappe op ‘n mooi manier om ‘n pop kan draai. Dit het boggerol met wat ek leer uit te waai. Tiener reekse vertel jou nie van sketse oor en oor en oor doen nie. Dit wys jou nie hoe jy aande omsit en aan opstelle werk oor die geskiedenis van mode nie. Daar word nooit genoem dat jy eers ‘n perfekte patroon moet optrek voor jy ‘n perfekte vorm sal kry nie. Dit reflekteer nie dat talent bitter min met jou sukses uit te waai het nie. Dis juis daarom dat slegs een derde van ons eerste jaars klas hierdie jaar klaar maak. Dis slegs realisties haalbaar met ‘n groot passie en harde werk. Soos meeste ander gewone realistiese opsies. Weer van die punt af…

Ek hoor vandag die nuus dat ek een van tien studente in my klas is wie se werk aan foshini vertoon gaan word, en dat ek dalk die geleentheid sal hê om by Cape Town Fashion Week my werk te wys. Jip. Dis moer exiting, maar ek weet in my wêreld beteken dit maar minimaal. Jy is maar net nog een nommer wat dalk die geleentheid gegun sal word om 10 sekondes van roem te beleef en dan weer vergeet te word. Ek is steeds bly, want dis ‘n persoonlike oorwinning.

So vandag wandel ek weer in die strate van Kaapstad met my hoë hakke, rooi lipstif, portefulje in die een hand, en Garment-bag in die ander oppad na die Fasion Council van Kaapstad om my werk te gaan aflaai vir die kompetisie. Mense kyk na my en my vriendinne en ek kan sien hoe hulle na ons kyk assof ons die droom lewe.

Na ek my werk ingelewer het klim ek in my cute geel karretjie, steek ‘n lang dun sigaret aan om my dag te vier, en blaas rook walms tussen my rooi lippe uit. My Cat Stevens CD speel en trap petrol om by die “puma” kantoor uit te kom waar ek tans ‘n internskap doen. My lewe klink bietjie soos ‘n tiener reeks, ek weet. Bonop gaan ek weer gereeld uit met nuwe, oulike kêrels ek drink cocktails meer gereeld as koeldrank, en word selfs verras met blomme elke nou en dan.

Tog, toe ek die kantoor 17h30 verlaat sit ek in die verkeer terwyl daar water op my sweid boots drup omdat my kar besig is om op te roes. Ek soek alweer ‘n take-away plek wat gesonderige kos verkoop, want deesdae kook ek nie meer nie. Om kos te maak vir een persoon is uiters depresing. Ek wil iemand bel om die goeie nuus van die dag te vertel, maar my selfoon is so in sy dinges in dat hy nie meer klank het nie. Ek kou aan ‘n pizza-skyf waarvan die base so dik soos ‘n sny brood is, en dit is noggals die “thin-base” opsie.

Ja, van buite af lyk my lewe so glamorous, maar saans, waneer al die pret verby is,waneer die laaste vleiende sms deur gekom het, en waneer al die grimering af is, dán is waneer die wêreld moet kyk. Dis hierdie oomblike wat in televisie reekse behoort vas gevang te word. Die oomblike waneer ek ook maar net in my pajamies en pantoffes sit en werk om my realiteit te kan behou.

Ja. Ek is mal oor wat ek doen. Ek ís baie bevooreg om my droom te kan leef. Maar vir elke glamour’s oomblik, is daar 10 glamourLESS oomblikke wat mens eers moet deur werk voor jy daar kan kom. Ons almal se lewens het maar soet saam met ‘n bietjie suur.

Perspektief

Mei 29, 2011 in Sonder kategorie

Laas week was mal. Die een voor dit ook. Daar is nie een aand verby wat ek meer as vier ure se slaap in gekry het nie.Soggens dan rol ek myself fiesies uit die bed sodat ek op die grond val, en dan van ongemak geforseer is om op te staan. Donderdag oggend rol ek myself weer uit die bed, en toe ek die grond tref oorweer ek dit wragtig waar om net daar te bly lê en om nog aan te slaap. Dis dan waneer jy besef,”ek het nodig om te rus.”

Ek moan by my vriendin en sy sê ek moet saam met haar knysna toe om by haar niggie te gaan kuier. Ek het so baie dinge om te doen. Die skool in Green Park het nodig om ‘n slag reg gepak te word, my klas werk is bietjie agter, en my baas wil hê ek moet vrydag aand na die kinders kyk. Dit neem my omtrent 5 sekondes om die besluit te neem, en Vrydag na klas klim ek in my vriendin se kar.

Vrydag aand gaan slaap ons 22h00. Saterdag oggend fladder my oë teen 10h00 op. Die res van die dag gee ons voor ons is toeriste en drentel net deur die dorp. Ons gaan eet midag-ete by die waterfront, gaan drink drankies by die roei-klub, en gaan kyk die uitsig va “the Heads”. Saterdag aand skakel ons  ons lig teen 21h00 af, en ek kan nie onthou waneer laas ek ‘n 11 uur lange dag gehad het nie. Geen selfoon. Geen facebook. Geen E-mails. Geen projekte. Geen petrol wat ek hoef te gebruik. Geen seer hart. Geen “vyf-minute-etens-uur”. Geen kar wat lek. Geen rekrninge om te betaal.

Ek is terug in die Kaap met sy drup-drup weer. Ek raak weer bewus dat my bankrekening leeg is en dat al wat ek die week gaan eet is 2 minute noodles. Daar is ‘n miljoen kenisgewings op facebo0ok, en ‘n boodskap van ‘n huismaat op my foon. Maar dit skeel my min. Ek is uitgerus. Ek is gelukkig. Ek het ‘n warm bed om in te slaap, selfs al moet ek more oggend weer uit hom rol. Maar wat maak dit saak? hoe aaklig sou die lewe gewees het as niemand sou agterkom dat ek net bly lê het nie?

Die Vettie en die Strooi-meisie Rok

Mei 24, 2011 in Sonder kategorie

Lekker lag ek nou! My vriendin kuier vanaand by my want ons moet aan ons mode-geskiedenis projek werk. Natuurlik snuffel ons eers rond op facebook en gaan krap in al die mooi kêrels se foto-albums, soek die nuutste skinder-stories, en met behulp van fotos ruil ons informasie oor ons vriende en familie aan mekaar uit. Ons eindig toe op by my suster se trou-album van 2008 en kyk noukeurig na al die kiekies. Ons stop by ‘n foto van die bruid en haar strooi-meisies, waarvan ek een was. My steen-kleur rok span lekker om my lyffie, en my wangetjies is lekker pof! “Is dit jy daai?” ek lag maar net. In die agt maande na ek by Stellenbosch weg is, voor ek Kaap toe is, het ek vir die eerste keer in ‘n woonstel gebly waar my ma nie vir my kon kook nie, en daar nie iets so gerieflik soos ‘n eetsaal was nie. Dus het ek gelewe op vinnige-voedsel van die Engen-eenstop winkel wat oorkant my woonstel in Welgemoed was. Met ander woorde- Pie’s en Coke.

Haar opmerking laat dink my terug aan ‘n insident waarin ek my laasjaar bevind het:

Verlede jaar was ‘n besige jaar vir my. Ek het vol-tyds studeer, Saam met ‘n vriend ‘n T-hemp maatskapy begin, by liefdadigheids-werk betrokke geraak. Ook het al hoe meer meisies my begin kontak om te hoor of ek nie vir hul aandrokke kan maak nie?

So eindig ‘n meisie weer by my op einde van laasjaar. Sy is ‘n strooi-meisie by haar virendin se troue en sy kort hulp! Ons gesels lekker, ek teken ‘n paar prentjies. (Ek het al agtegekom dat sodra jy ‘n prentjie van ‘n rok teken, dan eers kwalifiseer jy as ‘n ontwerper. Anders dink kliente jy is net ‘n seemstress) Terwyl ek kamer toe beweeg om ‘n paar sommetjies te gaan maak gee ek vir haar die album met foto’s van rokke wat ek al gemaak het sodat sy idees kan kry. Nog iets wat klieente vreeslik beindruk het ek al agter gekom!

Toe ek terug kom na haar en vir haar vra waarvan sy hou wys sy vir my die einste foto waarna ek en Simone vanaand kyk. “Ek hou baie van hierdie rokke, maar ek wil net nie soos hierdie vet enetjie lyk nie.” Ek lag. “Dis ék daai. Dit was my suster se troue laasjaar.” Die frons op haar voorkop sê dat sy nou nie mooi verstaan nie. “Néé man, ek praat van híérdie vettie!” “Dis nog steeds ek. Belowe.” Ek sê dit darm met ‘n lag. Sy raak bloedrooi, en lag dan maar saam. Ek kan myself maklik in haar skoene sit want sulke dinge gebeur daagliks met my! Sy vra hartlik onverskooning. “vir wat, dit is mos ‘n ou vettie op die foto.”

Ek bly altyd verbaas hoe meisies, veral in my industrie, vir mekaar oor hul lywe jok. “Jy is nie vet nie, net groot gebou.” As jy ‘n Size 40 jean dra is jy vet. En wat daarvan? “Wat bedoel jy jy het seluluut? dis net oor dit nou winter is en jou bene wit is” Lieg. ‘n Lemoenskil is ‘n lemoenskil, is ‘n lemoenskil. Wit, of bruin.Ek het regtig nie eers die puisie raak gesien tot jy dit nou vir my uitgewys het nie.” Waarvan praat die vrou tog, ek het daai puisie gesien toe die meisie nog onder in die gang was.

 

Ai, waarom is dit so erg om nie altyd perfek te wees nie? Hoekom is ons so selfbewus en altyd gepla dat ons nie so mooi soos die volgende persoon is nie. En wat maak dit in elk geval saak. Die ekstra 2 cm om jou middellyf bepaal nie jou persoonlikheid nie. Jou skewe voortand maak nie jou glimlag minder bekoorlik nie. Die insuig woolworths denim maak dit nie vir my meer aanloklik om jou vriendin te wees nie.

 

Daardie strooi meisie rok het ek ekstra mooi gemaak. Selfs al het ‘n meisie met so persoonlikheid geen mooi rok nodig nie.

‘n Goeie Afrikaner-Meisie

Mei 23, 2011 in Sonder kategorie

Ek het myself altyd as gelukkig geag om in ‘n afrikaanse huishouding groot te geword het. Vandat ek my toekoms as onderwyserres agter my gesit het, en stad toe getrek het, het my oë werklik oop gegaan vir hoeveel kulture hier in ons wonderlike land groei!

 My realiteit was ‘n groot gesins-ete elke Sondag, waar my pa sou braai, of my ma wat ‘n skaapboud in die oond sou druk. Dis nou as ons terug gekom het van die kerk en klaar saam met die bure tee gedrink het. Ek was van Sub A tot Matriek in die slefde staatskool;die naaste een aan ons huis natuurlik, en saans 7 uur het ons almal stiptelik aangemeld vir aandete by die groot tafel.

Ek is die tweede jongste van vier kinders. My Pa is ‘n Prokereur, my ma ‘n huisvrou. My Ouer broer het sy BRekLLB graad By universiteit Stellenbosch verwep en het tuis gegaan in die selfde koshuis as waar my pa was. My suster se paadjie was soortgelyk. Byde van hulle het getrou op die ouderdom van 22 en bly nou in die Kaapse voorstede met hul eggenote. Die jonste broer is tans in die selfde mans-koshuis as waar my pa, broer en swaer was, en hy hoop vir sy BKom graad.

Hoe begeer ek nie soms dat ek ook hierdie lewe kan hê nie? Nie dat die lewe nie vir hul net maklik gaan nie, maar die prentjie lyk so mooi. Ek aan die anderkant weet; die papier is net té klein vir die prentjie wat ek wil teken. Ek sal nooit ophou wonder wat aangaan daar waar die bladsy eindig nie. Ek sal ewig aanhou loer, en ondersoek, en van die A4 afneuk. Steeds, ek probeer dit doen so “afrikaans” moontlik as wat ek kan. My wortels is vir my hopeloos te belangrik en fantasties om dit vir enige iets anders op sy te skuif. Daar is so baie dinge aan my wonderlike kultuur waarin ek my self so verlustig soos waneer ek my poeding bakkie uitlek.

Ek dink dis amazing hoe ons afrikaners vir iemand kos maak waneer ons nie weet wat om te sê nie. “jammer, ek het perongeluk oor jou kat gery. Hier is vir jou ‘n lasange.” “jammer om te hoor oor jou skoon-ma…melktert?’

Ook die feit dat voor-huwelikse seks erger is as enige ander sonde, insluitend moord. “waarom sal iemand die koei koop as die melk dan verniet is?”

Mens het goeie klere, en goeie breekgoed. Dis vir die Dominee, en vir waneer jou ouma aan jou pa se kant oorkom vir ete.

Die huisgenoot en 7de Laan is kommin. Tog is dit belangrik om elke karakter te ken vir donderdag se tee na die bid-uur, en om op hoogte te bly met Jurrie Else en sy lewe in New Zeeland.

Dan is daar natuurlik ook hierdie een aspek waarvan mens nie kan vergeet nie.

As jy teen 25 nog nie iemand ernstigs in jou lewe het nie, is daar ‘n 90% kans dat jy ‘n oujongnooi gaan word. (Ja, die term bestaan nog.) Saam met hierdie aanhaling vertel ek graag van my interaksie met my Oupa:

My Oupa is 78 en het Alzimers siekte. Dit veroorsaak dat hy nie meer aldag weet wie ek is nie, en om dinge erger te maak, het hy nou nog erg halosonasies ook. Toe hierdie stadium van sy lewe naderkom wou ek nog gaan sit en hardseer wees toe my ouma vir my sê: “As mens oor alles gaan sit en huil wat hardseer is, sal jy nooit by lag uitkom nie.” Dis waar.

Ek gaan maak toe gisteraand my weeklikse draai om te hoor wat nuus is in die aftree oord. Met my aankoms staan daar ‘n gaar skaapkop op die toonbank. Ek weet al wat dit beteken. My ouma kom om die draai gestap terwyl sy haar hande aan haar voorskoot af vee. “hartjie, ek is nie sterk genoeg nie, en ek wil nie eers dink wat jou oupa sal maak as ek hom die opdrag gee nie. Sl jy nie asseblief vir ons die skaapkop oopkap nie?” Ek ril so bietjie, maar weer my gril kry verseker die “kleiner as” teken in vergelyking met wat dit vir my ouma sal beteken.

Ek wat toe maar die hammer en die platbek skroewedraaier, en beweeg met die skaapkop op die hout bord na buite. Ek gaan sit plak op my boude vee my vuil hare uit my gesig terwyl ek my plan van aksie agter mekaar kry. Ek kom nou net van my Au-pair werk af so ek is gelukkig geklee in my kortbroek en t-hemp.

Voor ek die hammer oplig staan my oupa langs my. Sy rug is krom met al die jare wat op sy skouers rus. Ek kan sien hy kom met ‘n belangrike boodskap na aanduiding van hoe die plooie op sy gesig trek.Hy praat saggies, maar ek het al geleer om hom te verstaan: “dogter, jy moet vir ‘n ring daarbinne soek, jou tyd loop uit!”

Wat sê mens dan? “Nee oupa, eks nog nie reg vir man vat nie.” gaan nie werk nie. Ek het weer ‘n “out-of-body-experience” en wonder weereens hoeveel mense se lewe so lukraak soos myne is. “Ja oupa. Ek het nou al oral anders gesoek. As ek nie een hier kry nie, dan sal ons maar ernstig moet begin bid.” My ouma is ook nou by. “Oupa praat nou waarheid. As ‘n meisie so kaalvoet en met kortbroek rondloop, is ‘n skaapkop al waar sy ‘n ring sal kry.”

En ek dog heeltyd dat die goeie klere is net vir die kerk en vir die uitstappies na die Nico Malan?

Die begraafnis en die troue

Mei 22, 2011 in Sonder kategorie

Ek staan donderdag oggend op met die wete dat ek vandag weer na ‘n begrafnis moet gaan.  My bors trek sommer toe terwyl ek die swart klere in my kas deur sif vir iets van pas.

Ek stop voor die kerk waar ek nog die vorige dag my stem laat geld het, en vandag is dit weer tyd om mense met gebreekte harte te probeer laat glo dat die lewe weer sal aangaan. Hoe doen mens dit? Uit ervaring weet ek dat Jou wêreld in eenstort en tyd gaan stil staan, terwyl die res van die wêreld aanhou draai.

My buur-oom het ‘n ryk, vol lewe gehad. Niemand huil hardsverskeurend nie, en sy familie en vriende lag lekker saam, en giggel terwyl hul die herhinderinge aan hom met almal anders deel.

Hy was deeglik, sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy het mense lief gehad en niemand was ooit te onbelangrik om te help nie. Tyd was nie vir hom ‘n faktor nie, Hy het gehou van die lewe, en was altyd regverdig.

Nie eers ek wat so graag huil dat ek vir my ‘n weeklikse huil-sessie inruim het gehuil nie, so dan kan jy maar weet. Hierdie begrafnis was ‘n huldeblyk aan ‘n onglooflike man, wie se tyd nou dood eenvoudig tot ‘n einde gekom het.

Nou gistermidag 13h00 klim ek en twee vriendinne in die kar om die troue te gaan bywoon van ons vorige huis-maat. Ons is so opgewonde want laas jaar het ons nog een-en-twintigstes bygewoon, en nou begin ons vriende al trou.

Die musiek begin speel en al die gaste staan op vir die bruid om in te kom. Voor in die koor stap my beste vriendin van skool. Sy is die “maid of Honour”. Na on laas jaar saam gebly het, het sy hierdie jaar na die vrystaat verhuis om haar praktiese jaar te gaan doen. My oë begin lek soos die kraan in ons agterplaas. Waneer het ons so groot geword? hoe is dit moontlik dat ons al besig is met “die res van ons lewe”?

Die bruid volg kort daarna en ek huil selfs nog harder! Sy lyk soos ‘n grootmens! Sy is seker een? Beide die bruid en bruidegom STRAAL!

By die onthaal staan Marleen op om ‘n heildronk op die bruid en bruidegom in te stel. Sy vertel ons van watter fantastiese vriendin Nadia is, hoe lojaal sy is, en hoe haar lewe verbeter het vandat sy in die lewe gekom het. Ek tjank weer. En dan weer toe die trou-paartjie hul eerste dans dans op ‘n liedjie wat ek onthou van die jaar 2000.

Ek gaan sit buite op die gras, vat ‘n groot sluk rooiwyn, en wonder:

Wat sal mense op my troue en begraafnis sê?

Writers Blog

Mei 20, 2011 in Sonder kategorie

Ek het so baie wat ek wil sê

en dinge wat ek wil vertel

Wat ek voel

wat ek dink

wat ek sluk

Maar tussen my hart en my kop

en my hande

is daar ‘n blok

hoe nou gemaak?

Om iemand te mis

Mei 16, 2011 in Sonder kategorie

Die dag na ek en *Ludic uit is, besluit ek dis tyd vir ‘n radikale verandering. Die enigste probleem: Ek pas nie in die stereotipiese groep van “arty” nie. Eks bang om drastiese veranderinge te maak. So, in plaas daarvan om my hare blou te kleur, of om vir my ‘n tatoo te kry besluit ek toe op ‘n oorbel.

Ek en my goeie vriend *Bernie (die onderwyser) wandel toe deur BaySide mall om ‘n plek te soek wat ‘n oorbel sal inskiet daar bó in my oor. Kry een en ek gaan sit. Dit werk so. Jy koop ‘n stelletjie van twee, en dan skiet hul dit vir jou gratis in. “wat moet ek maak met die ander oorbel?” hul stel voor ek hou hom vir ‘n spaar. Ek weet voor die dag verby is het ek hom weer verloor so ek maak toe die wildste besluit in ‘n lang tyd, “kom ons bêre hom op ‘n veilige plek. Stiet hom ook sommer in.” En dis hoe dit gebeur het dat ek drie oorbele in my regter oor het. Maar wag, ek is van die punt af.

Toe ek toe die dag op daai stoeltjie gaan sit, besluit ek sommer in my kop. As hierdie oorbele gesond is, dan sal ek seker maak my hart is ook

 

Dis nou ook al weer twee maande later. Volgens die juwelier behoort die gaatjies nou eenhonderd persent gesond te wees, en ek is seker hulle is. Ek weier net hom hul uit te haal, en om te ruil vir iets mooiers. Dis amper asof ek glo solank as wat ek hul nog in los, vir so lank kan ek nog aan my seer hart lek. Want, tot hul nie uit is nie, is hul nog nie regtig gesond nie!

 

Honde-redenasie, ek weet. ‘n Hond glo mos as hy jóú nie sien nie, is jy nie daar nie. As ek maak asof my oor nog seer is, mag my hart ook nog wees.

 

Ek het Saterdag vir *Ludic weer die eerste keer gesien. By ‘n vergadering in ‘n kamer met 30 ander mense. My hart het gebreek die oomblik toe ek die vertrek inkom, en ek net groter en groter geglimlag. As mens gelukig lyk, sal niemand mos vrae vrae nie. Maar my hele bors kramp van hartseer. Hoe is dit móóntlik? Ek het dan so mooi gevorder, en amperjies van hom vergeet. Ek het selfs ander ouens begin sien, sy foto’s van my muur begin haal. Op gehou om die plekke waar ons eens gelukig saam gekoer het, te vermy. Ek het weer begin lag, ek het omtrent nooit meer aan hom gedink nie…

 

En toe sien ek hom daar sit. Met sy pragtige donker krulle wat intussen weer kort geknip is. Hy sit en speel met daai mooiste mooiste hande van hom terwyl sy gesig op die gewone plooi trek waneer hy iets ondersoek.

 

Daar gat al my vergeet by die deur uit, en ek mis hom van voor af.

 

Ek verlang nie meer nie…

 

Ek mis hom net. Dalk moet ke maar net my oorbelle uit haal?

 

vergeet

ek wil jou net vergeet.
elke herhindering.
elke soen
elke dag

ek wil jou net vergeet
ek wil nie aan jou dink
ek wil nie oor jou droom
ek wil nie meer
vir jou wag

ek wil ophou dink,
dink oor hoe ek moet
vergeet
van jou
van ons
en ons liefde

ek wil vergeet
hoe om te huil
hoe dit voel
om te wees
in jou mag

ek wil vergeet van jou
soos jy gemaak het met my
en aan beweeg
weer en weer
iemand anders lief kry

ek wil vergeet
hoe gelukkig ons was
sodat ek ‘n slag
weer kan lag

ek wil vergeet
van alles wat jy is
ek wil jou bestaan nie onthou
of nog eenkeer
dink aan jou

ek wil vergeet van jou
want ek mag
ek wil vergeet
hoe ek saans
na jou smag
ek wil vergeet
ek wil vergeet
ek
wil
vergeet
van jou
vandag

Dit sal alles fine wees…

Mei 12, 2011 in Sonder kategorie

Ek krap vanaand deur al my ou “word documents” wat ek deur die jare met my saamsleep, en nou tjank ek.

Laaaaaaahang trane.

Ek lees hierdie briewe wat ‘n onsekere 16 jarige skryf. Oor hoe sy nie weet watter kant toe nie. Oor ‘n vriendin wat haar terleurgestel het. Oor ‘n ma wat haar nie verstaan nie. Oor vakkeuses en oor  sy wat haar lyf haat. Ek lees die gedigte wat sy vir haar kêrel skryf. Oor hoe sy hom innig lief het. Hoe sy vir altyd sal wees. 

“Agter my geslote deur

Sit ek alweer

Afgesonder op my eie

Weg van die stormbuie”

 

 

 

“Ek weet nie maar ek het jou life

Met my hele hart, siel en verstand

En ek sal jou life hê

Solank as ek leef”

 

Ek wil terug gaan na 2004 en vir haar ‘n drukkie gaan gee. Vir haar gaan sê dat alles “fine” sal wees, en dat sy net moet ophou worry. Die lewe is te kort om so confused te wees! Dinge gaan sleg raak, maar hul sal weer beter raak ook.

Ek lees verder en kom agter dat in 2005 dinge nie veel beter gaan nie. Sy voel so alleen, en dit lyk tog assof die wêreld tussen haar en haar beminde gaan kom. Sy het hom steeds innig lief, maar haat hom net soveel.

Die kuns wat gebeur het tussen my en jou

Vir jou wil ek skilder *Bertie
met al die kleure van elke soort
ek wil jou invul met my kwas
sodat jou hart op canvas aan my behoort

 

jou wese wil ek verewig hier
ek wil jou glimlag met my verf na-maak
self die strepies in jou hare plaas
jou lippe vir ou-laas met my vingers aanraak

 

ek wil die passie wat ons verloor het
weer hier op die doek laat leef
ek wil elke herhindering oor die doek laat spoel
teerwyl dit steeds aan my wimpers kleef

 

ek wil jou skilder *Bertie
dit weer herleef deur my hand
sodat waneer ek jou klaar onthou het
ek die kleur van jou kan verbrand

 

Hokaai nou meisie. Vat dit rustig. om verewig saam met *Bertie te wees gaan jou duidelik nie gelukkig maak nie. Fokus liewer op jou skoolwerk, en die regte man sal nog kom. Jy het baie vriende. Baie mense wat lief is vir jou nes jy is. Fokus liewer daarop om hul lief te hê!

In haar graad twaalf jaar skryf die arme kind van hoe sy wil moed opgee. Oor sy niemand het om mee te praat nie. Hoe die lewe nie meer vir haar sin maak nie. Dat die lewe tog een of ander tyd sal moet eindig, waarom nie nou nie? Haar kêrel het haar verneuk. Sy het hopeloos te veel vir haar ouers gejok sodat sy ooit weer kan verwag dat hul haar moet liefhê. Sy het naweke om partydjie gehou en nog niks sinvols met haar lewe bereik nie. Wat is die punt? die wêreld sal aanhou draai sonder haar.

Ek wil terug hardloop so vinnig ek kan en vir haar gaan vashou. Sy moet net vasbyt. Sy moet net met IEMAND praat. moet net nie moed opgee nie!

Sy praat van slaap-pille drink. Van alles wat te veel is. Niks wat meer saak maak nie, en hoe sy haar lyf voel lam raak het. Dis net haar hart wat nie opgehou pyn het nie.

‘n Paar maande later gaan dinge beter. Sy het haar matriek goed deurgekom tenspyte van die depresie, selfmoordpoging en alles anders wat daarmee gepaard gegaan het.

Sy leer om met haarself te leef. Om haarself lief te hê. Dat sy eers moet gelukkig wees op haar eie voor sy saam met iemand anders kan gelukkig wil wees.

Sy rook ‘n sigaret nou elke keer waneer sy haarself wil sny, of wil seer maak. Sy drink nou ander pilletjies elke oggend, en dit wil voorkom assof dit werk.

Sy raak weer verlief. Sy maak weer vriende. Selfs met haar ma. Sy neem groot besluite, verander haar lewens uitkyk. Bid weer vir God.  Sy word weer verlief. Breek weer haar hart. Sy verander haar studie rigting. Sy word meer onafhanklik. Sy waardeur haar ouers selfs nou nog meer. Sy raak weer verlief. breek weer haar hart. Werk harder.Sy wil die wêreld verander. Sy wil mense lief hê. Sy wil ander help. 

Dit gaan so aan tot ek by ‘n inskrywing kom van so paar maande terug. Die meisietjie is gelukkig. Sy is lief vir die lewe, en probeer die lewe vir ander ook beter maak. Sy is weer verlief. En sy dink weer hierdie kêrel is die een wat sy gaan hou.

Om en Om

 

om en om
draai my maag
waneer jy my soen
met jou sagte lippe
en vashou
met jou opregte hande
dan draai my maag
om en om
en om

Ai meisie…waneer sal jy dan tog leer? Maar maak soos jy wil.solank jy net weet dat op die einde, sal alles fine wees…

My Hiperaktiwe saterdag…

Mei 9, 2011 in Sonder kategorie

Vroër die week bel my suster my. Nie sy of my ma kan hierdie saterdag by hul koffie-winkel op Stellenbosch wees nie, sal ek omgee om ‘n ogie te hou? NATUUUUURLIK NIE! (Ek sê alles in die oortreffende trap, op ‘n melodramatiese wyse.) Dit is vir my regtig heerlik om daar rond te hang en na al die mense te kyk. Hier kry ek ‘n slag die geleentheid om mense in sosiale aksie waar te neem wat baie meer opbeurend is as al die enkel mense in hul karre weeksoggende op die N1 tydens verkeer. Dan lyk almal baie depressed, ek seker ingesluit, en staar net met blanko gesigte voor hul uit. Die enigste ander kans wat ek kry om mense waar te neem, behalwe in díé is waneer ek by die koffie winkel is. Hier lyk die mense gelukkig en lag en doen baie meer intresante dinge as wat die mense in hul karre maak.
 
So…Saterdag oggend staan ek op, sit my grimeering aan, trek my platste paar skoene aan (ek het nie een paar skoene sonder ‘n effense hak nie) en klim in my kar. Vandag is saterdag, ek kan ontspan, rustig die koffie winkel bestuur, en het nie te veel konsentrasie nodig nie. Dus los ek my ritalin veilig in sy houertjie, en sien uit na my hiperaktiwe, over-the-top dag.
 
My dag verloop great. Alles gaan goed, en die klieente is entertaining! Ek gaan vlugtig terug kar toe om my selfoon daar te gaan haal wat ek daar vergeet het, en wonder of ek nie maar tog my wonder pil moes pop nie. Ek kuier saam met al die mense wat daar omkom en ek al ken, lag lekker hard en uitbundig, en ek embrace al my ekstra energie.
 
Toe maak tyd kom en ons begin oppak. My kar sleutels is weg. Wag…laat ek liewer sê misplaas want ek was nêrens behalwe in die koffie winkel heel dag nie. Ek soek oral, maar ek weet dit is tefergeefs. As ek ingedagte raak, druk ek goed op allerande plekke in waar ek hul op die vroegste weer oor twee jaar gaan kry. Ek en die een meisie besluit om buite by die badkamer te gaan soek en ek trek die deur toe sodat niemand ons hansakke wat binne lê kan gaps nie.Dis nie daar nie. En ek het vergeet om die sleutel van die winkel saam te bring.
 
Nou is ons handsakke, haar selfoon, en haar karsleutels binne die winkel toe gesluit.
 
Ek is so moedeloos ek hou amper op asemhaal. Ek stamp my voete soos ‘n twee-jarige uit furstrasie. HOE nou gemaak? Ek het my broer so paar minute vroer darm gebel om te vra dat hy asb die spaar sleutel van die kar sal bring. Nou is ek weer terug op die foon, sê hy moet maar terug draai, by my ma-hul se huis gaan inbreek, en haar ekstra sleutel optel, en dan weer terug kom Stellenbosch toe.
 
Ons sit vir 45 minute en wag buite die winkel. Die arme meisie moes al eintlik ‘n uur en ‘n half terug ophou werk het, maar wat kan sy nou maak. Ek kan haar nie terug neem huistoe sonder my kar sleutels nie, en hare is in die koffie winkel toe gesluit.

My wonderlike broer daag toe gelukkig met ‘n spaar sleutel op, vir die koffie-winkel, én vir die kar. Wat ‘n HERO! Die arme jong meisie kry ook toe haar ry, en ek klim in my kar reg vir huis toe gaan.

By elke verskeerslig kyk ek die mense, en wonder…gebeur sulke dinge met hulle ook?

Toe ek vir Grietjie moes laat gaan.

Mei 6, 2011 in Sonder kategorie

Ek is een van die bevoorregte mense wat groot gemaak is met honde om my. Kort na my 13de verjaarsdag het my pa vir my ‘n bokser hond gekoop. “Grietjie” het ek besluit. Hierdie hond was my eerste sielsgenoot. My ma wou ‘n oorval kry, maar saans sou my hond by my in die bed kom klim todat my pa haar kom haal het en buiten toe laat gaan het vir die aand. Die volgende oggend nog voor ek behoorlik wakker was het ek haar weer laat inkom om by my te kom lê terwyl ek reg sou maak vir skool. En na skool sou ek en sy gaan stap. Veeeeeer ente waar ek dan by al wat ‘n vriendin is is sou omgaan en orals langs die pad aan alderande dinge sou dink.
Na my matriek agter die rug was is ek koshuis toe op stellenbosch, en ek moes my hond agterlaat. Soos alle ander vriendskappe het ek stadig maar seker my hond al hoe minder begin mis.
Van Grietjie die eerste keer haar vier pote in ons huis gesit het, het sy begin nonsens aanjaag soos geen ander hond nog ooit gedoen het nie. Sy het die boorpomp in die tuin vernietig, die besproeing-stelsel heel in sy glorrie gekou, die karavaan se bedrading uitmekaar gehaal, en elke aand die creepy crollie uit die swembad gaan haar en dit onder die vyeboom agter die huis gaan begrawe.
Toe my ouers aan die einde van my eerste jaar verhuis is die honde ook saam. Met die trek proses het grietjie erens “Rattex” in die hande gekry en by die dood omgedraai. Ek sal nooit vergeet hoe ek en my ma laat die aand na die 24/7 diere hospitaal gejaag het terwyl my hond al hoe stadiger begin asemhaal het nie. Ek het so gehuil en bid alles op die selfde tyd.
‘n Paar maande later het ek vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd haar leiband afgestof en die ketting weer om haar nek gehang, soos ek jare van tevore gereeld sou maak. Sy sou bly rond getrippel het, reg om die wereld aan te vat en met haar blaf te vernietig. Of so het sy geglo. Skielik het die herhindering deur my hele lyf gespoel. Hoe ek haar met my skrale arms in toom sou probeer hou terwyl die ketting om haar nek nie sterk genoeg was vir die krag wat deur haar are gepomp het nie.

Maar vandag besef ek dinge het werklik verander. Dit is nie net ek wat ouer geword het nie. In die plek van my skou hond het daar vandag ‘n ou dame haar teen my been kom skaar. Kalm soos ek haar nooit sou beskryf het nie. Haar bultende spiere het plek gemaak vir sagter weefsel en waar haar pels altyd sou rys van aderrenalien, het haar haartjies plat op haar rug bly le. My grietjie het oud geword, en die realiteit het skielik haar gees gedemp. My hond is in haar herfs jare, het ek besef.

Toe ek die garage deur oop maak en ek sien hoe sy met jellie agterbene probeer hardloop, het iets op my gesig klam geword. Net soos sy het ek altyd geglo ek sou verewig ‘n kind bly. Ek sou altyd in beheer wees, my hart sou nooit breek nie, lente sou nooit verby gaan nie, en die jasmyn reuk sou verewig in die lug bly hang. Saam sou ons veraltyd skuiling kon vind in die huis waar ons albei ons eerste herhinderinge gevind het. Ons sou ver kon stap sonder dat die opsie van petrol gebruik ooit by ons sou opkom.

Stadig het ons in die nuwe buurt se strate begin loop terwyl die lug grys was en die rooi wingerd blare deur die wind rond gewaai is. Af teen die heuwel na die perde stalle. Soveel herhinderinge het saam met die wind deur my hare gewaai. Ek het afgekyk op die veldjie waar ek eens op ‘n tyd my hart aan *Bertie gegee het. Ek kon nog die bossies en die muwe houd in die herhinderinge van daardie dag ruik. Soos ‘n film wat voor my afgespeel het, het ek my en my jeugtige minnaar daar sien sit. My hare lank en natuurlik. Soveel anders as die rooi bob waarmee ek nou loop, en waaroor ek in daardie jare gedroom het. Sy hand wat ligiies met my vingers speel, en my hart wat mallemeule draai. Min het ek toe geweet dat ek daardie bokspringe van sy hand se aanraking die laaste sou wees nie. Geen ander man se soenne of aanraking het my ooit weer so onskuldig betower nie.

Onder by die stalle gekom is grietjie doodmoeg, en haar bene laat haar kort kort in die steek. Nooit na ons daaglikse 10km sou ek ooit kon dink dat 500m dit aan my hond sal kan doen nie. Ek gaan sit plat op my boude in die stof en omhels my Grieta. Op ‘n manier het toe geweet dit sal onslaaste stap wees en dat ek haar daar moes groet. So terwyl ek sit en afkyk op die veldjie waar ek soveel jaar terug jonk was. “Wie sou dink dat 3000 dae jou so oud kan maak?” wonder ek. “Griet,ek sal altyd lief bly vir jou jong. Jy was my eerste liefde, en ek sal jou nooit vergeet nie, ek belowe.” Grietjie begin tjank toe daar weer trane op my wange verskyn.Ek staan op, kyk vir oulaas terug op my jonk wees, en draai dan my rug.My volwase jare lê nou voor my. Dit is tyd dat ek ophou terug verlang, en begin lewe vir wat daar nog op my wag.

Stadig begin ek terug stap met Grietjie aan my sy. Net voor die pad ‘n styl opwaartse kurwe beging maak gaan staan ek stil. Grietjie is nie lekker nie, ek kan dit voel, maar saam met my gevoel kom die begeerte om vir die laaste keer vry te hardloop saam met my geliefde hond. Sonder om te worry oor wie kyk, en wat waarheen hop. “Kom Griet- baby”, en ons begin hardloop. Ons hardloop so vinnig soos ons ses bene ons kan dra en skielik is ek weer 15 jaar oud. Ek hardloop verby die dood van *Suzette en Amazing grace. Ek hardloop verby en die deel waar *Bertie my hart verpletter het.Verby *Ludic. Ek hardloop verby die jare van depresie , verby al die swak besluite in my vorige jare, verby *Hennie se dood en daardie aaklige dag in daardie begraafplaas. Ek hardloop verby Matriek naweek, verby die tyd war ek op gekop het, en verby al die kere waar ek sutsuasies verkeerd hanteer het. Ek Hardloop verby al die kere waar my hart in stukkies agter gebly het, en verby al die kere waar ek dit aan mekaar probeer plak het. Ek hardloop verby elke hardseer, elke traan, elke dag wat my ma siek was, en skielik is ek bo, en onder aan God se voete.

 Stadig begin ons weer stap. Ek, Grietjie, en God.
Een ry spore in die sand, en een hond wat agterna draf.