ASB SKRYWERSWERKSWINKEL & RIGLYNE VIR AMATEURSKRYWERS

May 7, 2017 in Nuus, Skryf wenke

Deur Ernie Mellet

ASBWATIS (1)

RIGLYNEVOOR (1)

RIGLYNE VIR AMATEURSKRYWERS

 

RIGLYNE VIR AMATEURSKRYWERS is nie ‘n lees-en-neersitboek nie, dit is ‘n WERKboek. Die doel daarvan is nie net om enkelskrywers en -digters te help nie, maar om in groepe bespreek te word deur Lees- en Skrywerskringe, skole, universiteite, ATKV’s en ander vereniginge.            Dit is nie net ‘n handleiding nie, maar ook ‘n boek met Oefeninge en Take om die gebruiker te help om beter op alle vlakke te skryf.                                                                                      ONS LAAT JOU AFRIKAANS SPRANKEL OP PAPIER EN DEUR ELEKTRONIKA!

Die inhoud kan as aanbieding gebruik word in skole, op kampe, by feeste en konserte en in   ander openbare optredes deur jonk en oud. Die Riglyne-deel van die publikasie mag vir opleiding in fisiese of elektroniese vorm gedupliseer en gesirkuleer word, maar net met skrif-telike toestemming van die skrywer. Al die digters en skrywers van skrywes in die Juwele-deel van die publikasie het goedgunstiglik toestemming gegee dat hulle werk vryelik gesirkuleer en gebruik mag word om ons Taal te bevorder. Al wat hulle vra, is dat u hulle, as outeurs, krediet gee by elke optrede en hulle in kennis stel dat u dit wel gebruik het. Die besonderhede van die skrywers verskyn agter in die boek. 

RIGLYNE VIR AMATEURSKRYWERS bestaan uit twee dele: DEEL 1: Riglyne, Wenke, Raad en Oefeninge. DEEL 2: Juwele uit Stowwerige Laaie is ‘n keur van die gedigte, kort-verhale en romans waarby die ASB die afgelope 4 jaar betrokke was. Dit het gekom van meer as 150 skrywers regoor Suid-Afrika en Namibië en verteenwoordig die debuutwerk van meer as 58 nuwe skrywers en digters van alle ouderdomme en uit alle agtergronde. Veral die Juwele-Deel, wat soos ‘n lappieskombers uiteengesit is, het verrassings op elke bladsy en openbaar al die fasette van Afrikaans; van die tragiese tot skrywes wat u sal laat skaterlag. Baie stof is geskik vir openbare optredes, voorlesings, voordra en om toekomstige skrywers touwys te maak oor hoe soepel ons Taal is. Dit benadruk dat Afrikaans nog ORAL GESOND kan bruis! 

 

CAROLLLL!!!     (Verkort)

Uit “Toring van Versoeking”, ‘n selfgepubliseerde roman

Ernie Mellet                                    (Sensitief)

 

Riaan voel goed. Eintlik uitstekend! Ná so baie terugslae, kan hulle Saterdag in hulle nuwe kasteel intrek. Carol is seker al baie opgewonde, peins hy, want dit is vandag al Maandag.

 

Sy hande bewe van opgewondendenheid toe hy die dose gordyne by die sydeur van die kasteel indra. Die gordyne is swaar, maar hy gee nie om nie, want hy weet dat dit hom nader bring om sy droom te verwesenlik. Hy druk die platgevoude gordyne terug in die plastieksak en gooi dit op die sitplek langs hom neer. Dan ry hy om na die ou opstal langs die kasteel se lendelam voordeur.

 

Dis eienaardig, dink hy; waarom het Carol nog nie buitentoe gekom nie? 

 

“Carol, lief, ek’s terug!” roep hy die huis in en sit die pak kantgordyne op die verbleikte tafeldoek op die middeltafel neer. Hy loer half oor sy skouer om seker te maak dat sy nie die ruiker met die eerste oogopslag sal kan sien as sy uit die kombuis kom nie.

                                                                                                                                

“Carol”, herhaal hy. Iets pla hom. Dit is stil. Té stil. Wel, miskien het hy maar net te gewoond geraak aan die geraas van die bouery dat die stilte nou vir hom vreemd is. Sy is nêrens te sien nie. Hy gaan weer die halfdonker, effe muwwe ou huis binne en skakel ligte aan soos hy gaan. Die badkamer se deur is toegesluit toe hy dit probeer oopmaak. Sy sluit dit nooit nie. Hy kry ‘n hol kol op sy maag.

 

‘n Warm gloed spoel deur sy are, klop in sy kop toe hy struikelend oor die bedmatjie op die deur afstorm. Sy skouer tref die hout met ‘n dowwe slag. Dit breek nie en lamheid skok hom terug. Trane brand in sy oë toe hy nogmaals soos ‘n stormram op die deur afstorm. Dié keer is die ou struktuur nie bestand teen die aanslag nie – die slot kraak sy weg oop deur die kosynhout.

 

Carol lê in die bad. Daar is die beduidenis van ‘n tevrede glimlag om haar blouerige lippe. Dit wys ook in die fyn plooitjies aan die hoeke van haar oë. Haar oë is wyd oop. Hulle staar na die reling waaraan een van Proppie se helderkleurige badhanddoeke hang waarop twee kinders vrolik op die strand speel. Maar die groen oë waarop hy verlief geraak het, sien dit nie. Sien niks meer nie. Kan nie meer iets sien nie.

                                               

Toe merk Riaan die bloed op. In die bad, teen die spieël, oor die badrand, voor af en op die vloer. ‘n Bloedbesmeerde oranje matmes is nog in haar regtervuis vasgeklem.

 

Deur die traanwalms wat uit sy oë spoel, sien Riaan dat Carol net in ‘n bikini geklee is; die witte wat hy vir haar gekoop het toe hulle by Hartenbos gaan vakansie hou het net voordat hulle hierheen getrek het. Die bo-stuk is die ene rooi strepe en die broekie wat net effens bokant die water uitsteek, kon net sowel rooi gewees het.

 

Riaan staan lank langs die bad stil, sy hande slap langs sy sye. Geboë, gekrenk, gevries in sy nie-verstaan. “Carol?” sê-vra hy dan. Dit is bloot ‘n geluid. ‘n Preweling wat net hy verstaan. “Meisie… my meisie, jy van alle mense…”

 

‘n Gevoel van paniek klem om sy bors; trek sy ribbes om sy hart vas. Hy buk vooroor, soek die prop in die rooi, trek dit op aan sy verslete ketting en draai met sy ander hand die kraan van die los handstort oop. Hy wag tot die water aangenaam warm teen die agterkant van sy hand sproei en dan rig hy dit op die Carol in die bad. Met behulp van ‘n spons en seep werk hy die bloed stelselmatig na die uitlaatprop toe. Delikaat begin hy ook met die liggaam. Was die rooi uit haar grysswart hare wat oor die badrand gehang het. Dan haar nek en skouers, haar arms en laastens haar bene en voete. Onder sy betasting, voel haar vel nou warmer. Lewendiger.

 

Vasbeslote wurm hy sy arms onderdeur haar willose liggaam en drapeer dit weer oor sy skouer. Die deken flap oop en onthul haar bleek dy. Hy sien dit nie. Ook nie toe hy met hulle gesamentlike gewig op die ruiker trap wat hy gebring het en die rooi roos se kroonblare onder sy skoen verbrysel nie.

 

Die son se bopunt verdwyn net agter Kalmberg toe Riaan by die agterdeur uitstap. Met langsame tred kies hy koersvas rigting na die groot kasteel reg voor hom. ‘n Stuk bouplank wat nog effens bo die grond uitsteek, laat hom amper sy balans verloor, maar hy herwin sy ewewig en sit sy moeisame tog voort na die kasteel.

                                                                                                                                    

Die ring van die boogvoordeur is koud in sy hand toe hy dit oopstoot. Die langhaargangmat is sag onder sy voete toe hy sy vrou, Carol, oor die drumpel dra…

 

“Dis mooi hierbinne,” herhaal hy aan die bondel op sy skouer wat agtertoe kyk en niks sien nie. “Die kleure is soos wat jy dit sou wou gehad het. Die kombuis is olyfgroen, die badkamer ligperske, die sitkamer herfskleure, ons slaapkamer maroen en pienk… Jy moet dit sién!”

 

Riaan wys haar al die vertrekke. Sy sê niks. Aanvaar net wat hy haar aanbied. Gelate. “Die toring is nog nie heeltemaal klaar nie; maar ek sal dit vir jou gaan wys.” Hy beur met haar by die sydeur uit tot in die gang wat na die toring lei. Sy voete klap op die gang se plaveisel. Die muurligte kaats misvormde skadu’s teen die grou mure.

 

Toe hulle die deur na die toring oopmaak, walm sement- en verfreuke hulle tegemoet. Carol hoes nie. Haar bors trek nie toe nie, al verwag hy dit… “Hierdie is ons wegbreekkamer waar ons ons kan afsny van die res van die huis,” praat hy met sy passasier. “Hulle moet nog die mat lê, maar die vloer is nog nie heeltemaal droog nie. Dit kom môre… Haai wag, ek wil jou nog die mooiste uitsig van die hele kasteel wys!” roep hy meteens uit.

 

Hulle stap deur die feitlik leë vertrek waar verfblikke en pakke vloerteëls teen die mure opgestapel staan. Na die nóú deur aan die anderkant daarvan. Daarna sukkel hy met die vinnig swaarderwordende las teen die smal trappies uit. Op… Boontoe tot waar hy die buitedeur oopstamp. Die son se laaste strale verblind hom half en hy keer onwillekeurig daarteen met sy vry hand.

 

Dan is hulle bo. “Kyk, Carol” lig hy haar weer in. “Is dit nie pragtig nie? Kyk, dáár, daar kom die nuwe dam. En dáár oor die oprit, ‘n rankroosheining… die gevlekte pienk en rooi soort. En dáár die nuwe skuur vir die trekkers. Proppie se kamer is daar aan die wintersonkant van die hoofgebou. Langs daardie torinkie. Jou kombuis is op die grondvloer aan die ander kant. Dit is so gebou dat jy die vroegoggendson kan geniet as jy ontbyt voorberei. Saans sal ons in die eetkamer eet…”

 

Haar bleekgroen oë registreer niks. Kritiseer niks. Waardeer niks.                              

 

‘n Oorweldigende moegheid kruip geleidelik deur Riaan se liggaam. Dit begin voel asof elke greintjie gewig van die afgelope uur tegelyk op sy brose skelet neerkom. Sy bene wankel. Hy versit Carol op sy skouer, tas rond en beur dan na die kliptafel en banke wat prominent in die middel van die toringtuin ingebou is. Hy is nie bewus dat hy op pad daarheen op teëls trap waarvan die onder-sement nog nie heeltemaal droog is nie. Dit gee mee onder sy gewig en peul deur die splete na bo. Sommige teëls word skeefgetrap; ‘n bespotting vir die waterpasakkuraatheid waarmee dit gelê is.

 

By die bank laat hy haar stadig van sy aan-die-slaap skouer afgly tot op die koue oppervlak, vou die deken, wat oopgewaai het, weer toe en laat haar teen hom aanleun. Hulle kyk saam hoe die laaste aanduiding van dag wegkwyn in oranje en rooi streepwolkies wat Kalmberg se sykante versier.

 

Meteens ruk ‘n snik deur sy hele liggaam, sy arms span stywer om die figuur langs hom en sy kop sak af op die klam hare. 

 

“O, Carol,” smeek hy, “Carollll!!!!”

EK, SADDUSEëR

 

Ernie Mellet

 

 

O, Heer, ek Sadduseër, was dáár

toe U Seun, verbrysel

verbreek, verydel

die lydensweg moes gaan

 

O, Heer, ek Sadduseër, was dáár

toe Pilatus sy hande rein

en met venyn

U na die kruishout stuur

 

O, Heer, ek Sadduseër, was dáár

om saam te stap ‘wyl sweet se sap

U snel ontneem van al U fut

en U die pyn van dood ervaar

 

O, Heer, ek Sadduseër, was dáár

toe die hamer se klank

en die bloed se stank

die lewe uit U put

 

O, Heer, ek Sadduseër, was dáár

toe hulle U lig en regop beur

die spykers deur U hande skeur

en U van Vader en van mens wegskeur

 

O. Heer, ek Sadduseër, was dáár

toe U vergifnis deurgee

en aan hom, wat so lank soek na vree’,

die sleutels na U hemel skenk

 

O, Heer, ek Sadduseër, was dáár

toe U die lig

asof vir ewig, voor U woord, laat swig

en ons toevou in materiaal van swart

 

O, Heer, ek Sadduseër, was dáár

toe tempelkleed en heiligheid

U nie kon keer na saligheid

om die ewige weg vir ons te baan

 

O, Heer, ek Sadduseër, was dáár

toe ‘n tóé graf U nie kon inhou

en U vertrek het in die blou

om ons te roep na U hemelhuis

 

O, Heer, ek Christen, is híér

U het die pad vir mý gemaak

U rooi en swart het blou geraak

sodat ek ewig U kan dien

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *